Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g05 6/8 bl. 23-27
  • Recife—’n Stad gebou op suiker

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Recife—’n Stad gebou op suiker
  • Ontwaak!—2005
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Die Suikeroorlog
  • Die stad wat Maurits gebou het
  • Betrekkinge tussen Brasilië en Nederland versuur
  • ’n Blik op die verlede
  • Inhoudsopgawe
    Ontwaak!—2005
  • Suikerriet—’n reus onder die grasse
    Ontwaak!—2000
  • Wanneer die reën nie kom nie
    Ontwaak!—1999
  • Die dramatiese geskiedenis van ’n “land van kontraste”
    Ontwaak!—2000
Sien nog
Ontwaak!—2005
g05 6/8 bl. 23-27

Recife—’n Stad gebou op suiker

DEUR ONTWAAK!-MEDEWERKER IN BRASILIË

“GOUD, roem en evangelie” was nie die enigste dryfkrag agter die kolonisasie van die Amerikas nie. Europa se aristokrasie was gretig om suiker in die hande te kry. Sedert die middel van die 15de eeu het inkomste van hierdie duur soetigheid wat op die eilande van die Atlantiese Oseaan gekweek is, in Portugal se staatskoffers ingevloei. In 1516 het die Portugese koning Manuel I dus besluit om in sy Nuwe Wêreld-gebied suiker te begin produseer.

Hoewel die eerste meule in Suid-Brasilië gebou is, het die destydse provinsie Pernambuco,a in die noordooste van Brasilië, die sentrum van ’n nuwe suikergemeenskap geword. Die warm klimaat, hoë reënval, sagte hellings en vrugbare slikgrond was alles gunstige faktore om suikerriet te kweek. Tropiese kuswoude het verdwyn namate suikerplantasies oor die heuwels en plato’s om die Capibaribe-rivierdelta versprei het.

Teen 1537 het ’n klein kolonie van matrose en vissermanne hulle hier gevestig. Dit was geleë aan die punt van die smal ismus suid van Olinda, die destydse hoofstad van Pernambuco. Hierdie natuurlike hawe, met die Capibaribe-rivier aan die westekant en ’n muur van koraalriwwe aan die oostekant wat dit teen die Atlantiese Oseaan beskerm het, het bekend geword as Povo dos Arrecifes (Dorp van riwwe) en later as Recife. Produkte van die suikerplantasies is stroomaf hierheen gebring en geberg totdat dit na Europa verskeep is.

Nuus van Pernambuco se voorspoed het kort voor lank onwelkome besoekers gelok. Recife is eers ingeneem en geplunder deur Franse seerowers in 1561 en daarna, in 1595, deur die Engelse handelaar sir James Lancaster, wat soms ’n seerower genoem word. Lancaster het volgens berig weggeseil met sy eie vloot vol buit en nog 12 skepe wat hy by Franse en Portugese handelaars “geleen” het. Forte is op die ismus tussen Recife en Olinda gebou om verdere aanvalle te voorkom, maar tevergeefs.

Die Suikeroorlog

Vroeg in die 17de eeu was Pernambuco, wat toe onder die Spaanse kroon was, die grootste en rykste suikerproduserende gebied in die wêreld, met 121 meule. Recife het die besigste hawe in Portugees-Amerika geword.

Europa het ’n soet tand ontwikkel vir Brasiliaanse suiker, wat grotendeels in Holland geraffineer is. In 1621 het die vrede tussen Holland en Spanje tot ’n einde gekom, wat hierdie winsgewende bedryf in gevaar gestel het. Die Nederlandse Wes-Indiese Kompanjie (hierna die Kompanjie genoem) is daardie selfde jaar ’n handelsmonopolie met Afrika en Amerika toegeken. Die Kompanjie het ’n oplossing voorgestel in ’n dokument met die onverbloemde titel “Redes waarom die Wes-Indiese Kompanjie so gou moontlik Brasilië uit die hande van die Koning van Spanje moet neem”, tesame met die “Lys van wat Brasilië kan produseer”. Dit het tot die Suikeroorlog gelei!

Op 14 Februarie 1630 het ’n vloot van 65 skepe onder die vlag van die Kompanjie op Pernambuco se horison verskyn, en ná ’n kort stryd is hulle vlag op Brasiliaanse grondgebied geplant. Vir die invallers het Recife met sy forte, nabygeleë eilande en riviere veiliger as Olinda se heuwels en oop vlaktes gelyk. Op 25 November 1631 het die Nederlanders dus Olinda tot die grond toe afgebrand en hulle administratiewe hoofkwartier na Recife verskuif. Dit was ’n keerpunt in Recife se ontwikkeling.

Omdat grond skaars was, het die dorp vertikaal gegroei om die instroming te hanteer. Smal twee- en drieverdiepinghuise, of sobrados, kenmerkend van Europese hoofstede van daardie tyd, is opgerig met boumateriaal wat uit Olinda se ruïnes herwin kon word. Maar teen 1637 was daar feitlik geen onbeboude grond in Recife oor nie. Dit was toe dat die nuwe goewerneur-generaal, die Duitse graaf Johan Maurits van Nassau, daar aangekom het met planne om die mees kosmopolitaanse en vooruitstrewende stad in Suid-Amerika te bou.

Die stad wat Maurits gebou het

Mauricia, soos hy dit genoem het, is binne sewe jaar volgens Europese ontwerp gebou, met geplaveide strate, ’n mark, paleise, ’n dieretuin met diere wat uit Afrika en ander dele van Brasilië ingevoer is, botaniese tuine, die eerste sterrewag in die Amerikas, ’n museum, hospitale en ’n biblioteek. Nassau het sy stad op Antônio Vaz-eiland gebou, ’n paar honderd meter van Recife af, en twee brûe laat oprig—ingenieursprestasies vir daardie tyd—om Recife, Mauricia en die vasteland met mekaar te verbind.—Sien die venster “Maurits van Nassau en die vlieënde koei”.

Nassau was nie sommer net ’n huurling van die kolonie nie; hy het na sy nuwe tuiste verwys as “pragtige Brasilië sonder gelyke onder die hemele”. Sy passie vir die land, wat die Kompanjie hom volmag gegee het om ten volle te ontgin, word weergegee in die skilderye van Frans Post en Albert Eckhout, lede van die kulturele entourage wat Nassau uit Europa laat kom het. Onder sy beskerming het ’n groep van 46 kunstenaars, wetenskaplikes en vakmanne ’n magdom boeke, skilderye en kaarte opgelewer wat Pernambuco se indrukwekkende landskap aan belangstellende Europeërs bekend gemaak het.

Nassau se bestuur het ekonomiese vooruitgang na Mauricia en Recife gebring. Met lenings van die Kompanjie is die suikermeule herbou wat gedurende die inval vernietig is. Kort voor lank het Recife gewemel van Engelse amptenare, Sweedse avonturiers, Skotse handelaars en Duitse en Franse sakemanne—wat almal gelok is deur die handel in slawe, suiker en brasielhout.

Godsdiensverdraagsaamheid onder Nassau se administrasie het ook Joodse beleggers en vlugtelinge uit Europa en Noord-Afrika gelok. Vir ’n kort tydjie het ’n florerende Sefardiese gemeenskap openlik vergader in die eerste twee sinagoges wat in die Amerikas gebou is. Die Joodse teenwoordigheid was so sterk dat die sakesentrum van Recife bekend gestaan het as Rua dos Judeus (Straat van die Jode).

Betrekkinge tussen Brasilië en Nederland versuur

Ondanks Nassau se indrukwekkende rekord as administrateur, het die direkteure van die Kompanjie gekla dat sy geesdrif vir Brasilië sy finansiële oordeel benewel. Die Kompanjie se aandeelhouers het gevoel dat hulle belegging nie veel wins oplewer nie. Nassau het bedank en in Mei 1644 na Holland teruggekeer. Sy vertrek, waaroor selfs die Portugese ontsteld was, het die agteruitgang van Nederlandse Brasilië beteken. Opeenvolgende suikermisoeste, ’n skielike daling in die internasionale suikermark en groot skulde wat met die Kompanjie aangegaan is, het veroorsaak dat eienaars van suikerplantasies ’n opstand beplan het, wat uiteindelik in 1654 tot die verdrywing van die Nederlanders gelei het.b

Nassau se tuine en ’n groot deel van die stad wat hy gebou het, is in die stryd vernietig, maar iets het verander. Weens die Nederlanders se begeerte na suiker het Pernambuco se hoofsentrum verskuif van Olinda na die eilande van die Capibaribe-delta en is die grondslag vir ’n nuwe hoofstad gelê. Recife het ’n stad en ekonomiese sentrum in eie reg geword.

’n Blik op die verlede

Met die eerste oogopslag lyk dit of daar geen ooreenkoms is tussen die klein visserskolonie wat Olinda in die 16de eeu bedien het en moderne Recife nie, wat een van die grootste industriële, finansiële en toeristesentrums in Brasilië is en meer as 1 300 000 inwoners het. Die suikerplantasies langs die oewers van die Capibaribe het lank gelede plek gemaak vir woongebiede, en slegs hulle name en ’n paar pragtige herehuise van plantasie-eienaars het behoue gebly. Recife se handelsentrum, wat bestaan uit die eilande van Recife en Santo Antônio, asook Boa Vista op die vasteland, het baie van sy koloniale argitektuur weens verwaarlosing en aggressiewe modernisering verloor.

Maar die riviere, eilande en koraalriwwe wat die Nederlanders gelok het, vorm nog steeds ’n belangrike deel van die lewe in Recife, en spore van ’n suikerverlede kan gesien word ten spyte van sy moderne voorkoms. Forte do Brum, ’n vierhoekige Nederlandse fort wat aan die waterkant gebou is om die hawe te beskerm, staan vandag ’n ent van die see af weens grondopvullings—’n historiese eiland tussen moderne geboue. Rua dos Judeus, nou Rua do Bom Jesus (Straat van die Goeie Jesus), volg nog steeds sy 16de-eeuse patroon met veelkleurige koloniale sobrados wat stedelike modernisering vrygespring het.

Vir dié wat graag dieper in die geskiedenis van Recife wil delf, is daar uitstallings van Nederlandse kaarte en gedenkwaardighede—soos dié van die Forte das Cinco Pontas, wat in 1630 deur die Kompanjie se huursoldate voltooi is, en die Instituut vir Argeologie, Geskiedenis en Geografie. Die Museum van die Noordoostelike Mens toon die ontwikkeling van die suikerbedryf van sy vroeë begin tot die moderne industriële meule en gee ’n insiggewende blik op die lewe van die slawe, “die hande en voete van die suikermagnate”.

Suiker wek nie meer sulke sterk emosies soos in vorige eeue nie. Die winste wat gierige seerowers en die Wes-Indiese Kompanjie gelok het, is nie meer so groot nie. Min beny die suikergemeenskap hulle erfenis van finansiële, maatskaplike en omgewingsprobleme. Nietemin maak suiker nog steeds ’n belangrike deel uit van die landbou in die kusgebied van Pernambuco. Nie te ver buite Recife nie word uitgestrekte suikerlande deur werkers geoes, byna net soos dit die afgelope vyf eeue die geval was—’n herinnering dat Recife op suiker gebou is.

[Voetnote]

a Koning Jan III van Portugal het Brasilië in 15 provinsies verdeel en erfhere wat donatários genoem is, daaroor aangestel.

b Die stryd om Brasilië is verloor, maar nie die Suikeroorlog nie. Met die kundigheid wat die Nederlanders in die noordooste van Brasilië verwerf het, het hulle plantasies in die Antille aangeplant. Voor die einde van die 17de eeu het goedkoop Wes-Indiese suiker die Europese mark oorstroom en die Portugese suikermonopolie beëindig.

[Venster/Prent op bladsy 25]

Maurits van Nassau en die vlieënde koei

“Aanvanklik is mense met klein bootjies tussen Mauricia en Recife vervoer, maar dit het die handel grootliks belemmer. Die idee om ’n brug te bou, is deur almal verwelkom, en die werk is vinnig voltooi. Die inwydingsfees sou die Sondag gehou word, en die program het ’n item ingesluit wat bedoel was om die publiek se nuuskierigheid te prikkel—’n vlieënde koei!

“Die middag van die viering het musikante musiek gemaak en kon versierings oral in die strate gesien word. Skares het na die brug gestroom. Hoewel hulle beïndruk was met die nuwe brug, was almal gretig om die vlieënde koei te sien. ‘Hoe sal dit lyk?’ het party gevra. ‘Dit is ’n sonde om te sê dat ’n koei kan vlieg soos ’n engel’, het ’n bejaarde vrou gesê.

“Op die bestemde tyd het die vorm van ’n geel koei met horings en ’n lang stert uit die boonste venster van ’n huis op die kaai verskyn. ‘Daar is dit!’ het almal uitgeroep. Edelmanne, gewone burgers en slawe het almal opgekyk. Skielik het hulle uitgebars van die lag. Die koei was net ’n papierballon vol warm lug!

“Prins Maurits van Nassau se grap het die mense vermaak en ook ’n ander nuttige doel bereik. Almal wat die brug oorgesteek het om die vlieënde koei te sien, moes ’n fooitjie betaal, en die geld wat ingesamel is, het grootliks gehelp om sy prysenswaardige projek te finansier.”

[Erkennings]

Terra Pernambucana (Die Land van Pernambuco), deur Mário Sette.

Maurits van Nassau: ACERVO FUNDAÇÃO JOAQUIM NABUCO--RECIFE

[Venster op bladsy 27]

Die Venesië van die Amerikas

“Soos Venesië is Recife ’n stad wat uit water verrys en in water weerkaats word; ’n stad wat die polsslag van die oseaan in sy diepste dele voel.”—Joaquim Nabuco, Brasiliaanse staatsman.

’n Stryd tussen bouers en die see, moerasse en riviere—wat gevoer is sedert die eerste grondopvullings en dyke in die 16de eeu gebou is—het daartoe gelei dat die hoofstad van Pernambuco met 66 kanale verdeel en met 39 brûe verbind is. Moderne Recife lê uitgestrek oor ’n delta wat gevorm word deur die Capibaribe-, Beberibe-, Jiquiá-, Tejipió- en Jaboatão-rivier. Aangesien Recife gemiddeld slegs twee meter bo seevlak is, word party van die hoofstrate elke nou en dan weens ’n hoë gety en swaar reëns oorstroom. Wat ironies is, is dat Ou Recife, die ligging van die oorspronklike nedersetting, wat deur middel van ’n sandstrook eeue lank verbete vasgeklou het aan die vasteland, uiteindelik van die vasteland weggeskeur is toe die hawefasiliteite in 1960 uitgebrei is.

[Prent op bladsy 23]

Bo: Rua do Bom Jesus

[Prent op bladsy 23]

Onder: Rua da Aurora

[Prent op bladsy 24]

Die vloot van die Nederlandse Wes-Indiese Kompanjie val Olinda (regs) en Recife (links) in 1630 aan

[Prent op bladsy 24, 25]

“Soos Venesië is Recife ’n stad wat uit water verrys en in water weerkaats word”

[Prente op bladsy 26]

Forte do Brum en (onder) Forte das Cinco Pontas

[Foto-erkennings op bladsy 23]

Bo: FOTO: NATANAEL GUEDES/P.C.R.; onder: Bruno Veiga/Tyba/socialphotos.com; kaart: Mountain High Maps® Copyright © 1997 Digital Wisdom, Inc.

[Foto-erkennings op bladsy 24]

Vloot: ACERVO FUNDAÇÃO JOAQUIM NABUCO–RECIFE; onder: MUNDOimagem

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel