Vryheid van vrees—Is dit moontlik?
KAN enigiemand wat in vandag se gevaarlike wêreld lewe, heeltemal vry wees van vrees? Nouliks. Selfs mense wat geloof in God stel, kom te staan voor gevare wat angs veroorsaak. Gedurende die eerste eeu G.J. het die apostel Paulus, wat baie gereis het, byvoorbeeld gesê dat hy skipbreuk gely het, asook gevare van riviere, gevare van struikrowers en gevare in die stad ondervind het (2 Korintiërs 11:25-28). Net so kom die meeste van ons vandag ook voor gevaarlike situasies te staan.
Ons kan egter wyse voorsorgmaatreëls tref, en as ons ons risiko’s verminder, kan ons ons angs verminder. Die Bybel sê: “Skerpsinnig is die een wat die rampspoed gesien en hom verberg het, maar die onervarenes het verder gegaan en moet die straf ondergaan” (Spreuke 22:3). Wat is ’n paar praktiese stappe wat ons kan neem?
Tref voorsorg
Dit is interessant dat die Bybel, hoewel dit lank gelede geskryf is, baie beginsels bevat wat vandag nog steeds prakties is om gevare te vermy. Dit sê byvoorbeeld: “Wat die wyse betref, sy oë is in sy kop; maar die sot wandel voort in volslae duisternis” (Prediker 2:14). Dit maak sin om bewus te wees van wie om ons is en om donker plekke sover as moontlik te vermy. Dalk kan jy die mees verligte strate gebruik wanneer jy huis toe stap, al is dit ’n effens langer pad. Die Bybel sê ook: “Twee is beter as een . . . As iemand een alleen sou kon oorweldig, sou twee saam teen hom kon staande bly” (Prediker 4:9, 12). Kan jy, as jy in ’n gevaarlike gebied woon, reël om saam met iemand huis toe te stap?
As ’n straatrower jou voorkeer, is dit wys om te onthou dat jou lewe kosbaarder is as besittings (Matteus 16:26). Dit is ook goed om te onthou dat skares wat vergader om hulle misnoeë te kenne te gee, gevaarlik en onvoorspelbaar is.—Eksodus 23:2.
As jy geteister word deur iemand wat onsedelike voorstelle maak, onwelvoeglike grappe vertel of vatterig raak, is dit die beste om hom duidelik te laat verstaan dat jy sulke gedrag sterk afkeur. Jy sal dalk moet padgee, soos Josef gedoen het toe ’n onsedelike vrou hom gegryp het. Hy het “gevlug en na buite gegaan” (Genesis 39:12). As dit onmoontlik is om jou uit die situasie te verwyder, kan jy sê: “Hou onmiddellik op!” of “Hou jou hande tuis!” of “Ek hou nie van daardie soort praatjies nie”. Vermy, indien moontlik, plekke waar teistering algemeen is.
Hoe om vrees in die huis die hoof te bied
Wat kan jy doen as jy bang is vir jou gewelddadige man? Dit sal dalk verstandig wees om ’n ontsnappingsplan te hê ingeval jou man se gedrag jou gesondheid of jou lewe of dié van jou kinders skielik bedreig.a Die Bybel vertel hoe Jakob versigtig ’n ontsnappingsplan uitgewerk het ingeval sy broer Esau gewelddadig geraak het. Op die ou end was dit nie nodig om die plan uit te voer nie, maar dit was ’n wyse voorsorgmaatreël (Genesis 32:6-8). ’n Ontsnappingsplan kan insluit dat jy iemand het na wie toe jy in ’n noodgeval kan gaan. Jy kan vooraf met daardie persoon bespreek wat jy dalk nodig sal hê. Dit sal moontlik raadsaam wees om belangrike dokumente en ander noodsaaklikhede byderhand te hê.
’n Ander opsie is dalk om jou man se mishandeling by die owerhede aan te meld en hulle beskerming te verkry.b Die Bybel leer dat almal die gevolge van hulle dade moet dra (Galasiërs 6:7). Aangaande regeringsowerhede sê die Bybel: “Hy is God se dienaar vir jou, tot jou beswil. Maar as jy doen wat sleg is, moet jy vrees” (Romeine 13:4). Aanranding is ’n misdaad, hetsy in die huis of op straat. Sluipjagtery word ook in baie lande as ’n misdaad beskou.
As jy die bogenoemde stappe neem, kan dit jou vrees in ’n mate verlig. Maar die Bybel gee nie net praktiese raad nie. Dit is nie bloot ’n selfhelpboek nie. Dit is ’n boek met onfeilbare profesieë wat openbaar wat God nou doen en nog in die toekoms gaan doen. Watter hoop bied die Bybel vir mense wie se omstandighede hulle dwing om in vrees te lewe?
Wat die klimaat van vrees beteken
Die apostel Paulus het interessant genoeg geskryf: “In die laaste dae [sal daar] kritieke tye . . . wees wat moeilik is om deur te kom. Want mense sal liefhebbers van hulleself wees, . . . sonder natuurlike geneentheid, nie bereid tot enige ooreenkoms nie, kwaadsprekers, sonder selfbeheersing, wreedaardig, sonder liefde vir die goeie” (2 Timoteus 3:1-3). Watter vreeswekkende tye beskryf hierdie woorde tog!
Toe Jesus van “die voleinding van die stelsel van dinge” gepraat het, het hy gesê: “Nasie sal teen nasie opstaan en koninkryk teen koninkryk; en daar sal groot aardbewings wees, en op die een plek na die ander pessiektes en voedseltekorte; en daar sal vreesaanjaende gesigte wees, en groot tekens van die hemel af” (Matteus 24:3, 7, 8; Lukas 21:10, 11). Gevolglik moet die “vreesaanjaende gesigte” wat ons al gesien het en wat tot die huidige klimaat van vrees bydra, ons nie verbaas nie. Maar wat beteken dit?
Jesus het gesê: “Wanneer julle hierdie dinge sien gebeur, [moet julle] ook weet dat die koninkryk van God naby is” (Lukas 21:31). In ons tyd kan ons verwag dat ’n regering deur God vanuit die hemel oor die hele mensdom sal heers (Daniël 2:44). Hoe sal die lewe dan wees?
Vryheid van vrees!
Die Bybel beskryf ’n toekomstige tyd van vrede wanneer oorloë sal ophou, kwaaddoeners nie meer daar sal wees nie en die aarde gevul sal wees met mense wat God liefhet. Petrus, ’n apostel van Jesus, het oor ’n toekomstige “dag van die oordeel en van die vernietiging van die goddelose mense” geskryf. Daar sal geen kwaaddoeners wees om te vrees nie, omdat “regverdigheid [in die aarde sal] woon” (2 Petrus 3:7, 9, 13). Stel jou die verligting voor om saam met betroubare mense te lewe wat mekaar waarlik liefhet! Hierdie vooruitsig help ons om die huidige gevaarlike tye in ’n ander lig te beskou. Dit sal nie vir ewig voortduur nie.—Psalm 37:9-11.
Ten behoewe van diegene wat angs ondervind, is daar vir Jehovah se profeet gesê: “Sê vir dié wat angstig van hart is: ‘Wees sterk. Moenie bang wees nie. Kyk! Julle God sal kom met wraak, ja, God met vergelding. Hy sal kom en julle red’” (Jesaja 35:4). Knegte van die ware God kan die toekoms dus met vertroue tegemoetgaan (Filippense 4:6, 7). Vir mense wat in vrees moet lewe, is dit baie bemoedigend om te weet dat Jehovah nie afgesien het van sy oorspronklike voorneme om die aarde te vul met mense wat hom ken en sy liefdevolle eienskappe weerspieël nie.—Genesis 1:26-28; Jesaja 11:9.
Ons weet dat niks Jehovah kan verhinder om sy liefdevolle voornemens met die mensdom te vervul nie (Jesaja 55:10, 11; Romeine 8:35-39). Wanneer ons dít verstaan, neem die woorde van ’n welbekende psalm spesiale betekenis aan. Daar lees ons: “Jehovah is my Herder. . . . My siel verkwik hy. Hy lei my in die spore van regverdigheid ter wille van sy naam. Al wandel ek in die vallei van diep skaduwee, vrees ek niks slegs nie, want u is met my” (Psalm 23:1-4). Hoewel tye nog vreeswekkender kan word, is ’n wêreld vry van vrees op hande, en dit is ’n sekerheid.
[Voetnote]
a Vir ’n bespreking van omstandighede waarin dit dalk in ooreenstemming met Bybelbeginsels is om ’n huweliksmaat te verlaat, sien die Ontwaak! van 8 Februarie 2002, bladsy 10.
b Wat slagoffers van gesinsgeweld betref, sien die Ontwaak! van 8 November 2001, bladsye 3-12, en die Ontwaak! van 8 Februarie 1993, bladsye 3-14.
[Prente op bladsy 8-10]
God sal binnekort ’n wêreld vry van vrees tot stand bring