Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g05 9/8 bl. 18-19
  • Jongmense wat ’n kragtige getuienis gee

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Jongmense wat ’n kragtige getuienis gee
  • Ontwaak!—2005
  • Soortgelyke materiaal
  • Jehovah verseker Daniël van ’n wonderlike beloning
    Gee ag op Daniël se profesie!
  • Die boek Daniël en jy
    Gee ag op Daniël se profesie!
  • Leer uit Daniël se voorbeeld
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan (Studie-uitgawe) – 2023
  • Versterk deur ’n boodskapper van God
    Gee ag op Daniël se profesie!
Sien nog
Ontwaak!—2005
g05 9/8 bl. 18-19

Jongmense wat ’n kragtige getuienis gee

Baie jongmense onder Jehovah se Getuies praat met vrymoedigheid by die skool sowel as in die Christelike bediening oor hulle geloof, en hulle het groot welslae daarmee behaal. Kyk na die volgende voorbeelde.a

“Toe ek in graad drie was”, sê Kristina, “het my juffrou vir elkeen van ons ’n dagboek gegee waarin ons moes skryf wat ons elke dag gedoen het. My juffrou het ons dagboeke gelees en dan vir ons iets teruggeskryf. Ek het besluit om in my dagboek te skryf oor my toespraak wat ek op die Teokratiese Bedieningskool sou hou. Dit het gelyk of my juffrou beïndruk was, en daarom het ek haar uitgenooi om na my toespraak by die Koninkryksaal te kom luister. Sy het nie alleen gekom nie, maar my graadeenjuffrou het ook gekom. My juffrou het by die skool vir die hele klas vertel dat sy my toespraak baie geniet het. Ek was baie bly. Maar dit is nie al nie. Omtrent ’n jaar later het ek my ondervinding by ’n kringbyeenkoms van Jehovah se Getuies vertel, en my juffrou het ook na daardie vergadering toe gekom. Ek en ’n vriendin wat ’n pionier is, het haar later besoek en vir haar die boek Kennis wat tot die ewige lewe lei aangebied. Sy het selfs na een van ons streekbyeenkomste toe gekom!”

Toe Sydnee ses jaar oud was, kon sy reeds met vrymoedigheid met haar klasmaats oor die waarhede van God se Woord praat, insluitende die toestand van die dooies en Jesus se posisie in verhouding tot God. “Sy getuig ywerig en onbevrees”, sê haar ma. Aan die einde van haar eerste skooljaar was Sydnee hartseer. “Ek is bekommerd oor my klasmaats”, het sy gesê. “Hoe gaan hulle van Jehovah leer?” Sydnee het ’n plan gehad. Op die laaste skooldag het sy vir elke leerling ’n toegedraaide geskenk gegee. Dit was die publikasie My boek met Bybelverhale. Sydnee het altesaam 26 boeke uitgedeel en vir die leerlinge gesê dat hulle hulle geskenk by die huis saam met hulle ouers kan oopmaak. Sydnee beskou haar klasmaats as haar persoonlike getuienisgebied. Sy het hulle selfs gebel om te hoor of hulle die boek geniet het. Een meisie het gesê dat sy elke aand haar boek saam met haar ma lees.

Toe Ellen 15 jaar oud was, het sy verskeie nommers van die Ontwaak! vir haar geskiedenisonderwyser gegee. “Hy het baie daarvan gehou”, sê Ellen, “en hy lees die Ontwaak! nou al twee jaar lank.” Ellen sê verder: “Ek het onlangs vir hom die publikasie My boek met Bybelverhale gegee, en hy het vir my gesê dat sy twee dogters dit baie geniet. Ek het toe vir hom die boek Leer by die Groot Onderwyser gegee. Ek het later ’n kaartjie van hom gekry. Dit het gesê: ‘Baie dankie vir die boeke. Ek en my dogters lees dit graag. Dit is ’n riem onder die hart om ’n jongmens te sien wat so bestendig en doelgerig is soos jy. Jou geloof is ’n onvergelyklike gawe. Jy het my meer geleer as wat ek jou ooit kon geleer het!’ Hierdie ondervinding het vir my gewys hoeveel waardering mense vir Bybelwaarheid het wanneer ons die moeite doen om dit aan hulle oor te dra.”

Daniel was ses jaar oud toe hy sy eerste Bybelstudie begin het. “Ek het al saam met my ma op studies gegaan”, sê hy, “maar ek wou self iemand leer.” Daniel het mev. Ratcliff gekies—’n bejaarde vrou by wie hy Bybellektuur gelaat het. “Ek wil vir Tannie my gunstelingboek, My boek met Bybelverhale, wys”, het hy vir haar gesê en bygevoeg: “Kan ek elke week kom en vir Tannie daaruit lees?” Mev. Ratcliff het Daniel se aanbod aanvaar. “Ons het later daardie dag met mev. Ratcliff begin studeer”, sê Laura, Daniel se ma. “Daniel en mev. Ratcliff het beurte gemaak om die paragrawe te lees, en dan het Daniel vir haar gevra om uitgesoekte tekste te lees wat aan die einde van die verhaal verskyn. Ek het saam met Daniel gegaan, maar mev. Ratcliff wou hierdie dinge blykbaar net met hom bespreek!” Daniel en mev. Ratcliff het later die boek Jy kan vir ewig in die Paradys op aarde lewe begin studeer. Teen daardie tyd was Daniel se jonger sussie Natalie oud genoeg om te lees, en sy het ook begin saamgaan. Mev. Ratcliff het baie vrae gehad, en van hulle was nogal ingewikkeld. Maar Daniel en Natalie het die boekie Bybelonderwerpe vir bespreking en die konkordansie agterin die Bybel gebruik om skriftuurlike antwoorde te gee. Mev. Ratcliff, wat haar hele lewe lank ’n Katoliek was, het opgewonde geraak oor die dinge wat sy geleer het. “Ek wens ek het die Bybel jare gelede begin studeer!” het sy aan die einde van een sessie gesê. Ongelukkig is mev. Ratcliff onlangs, op 91-jarige ouderdom, oorlede. Maar deur haar studie van die Bybel het sy kosbare waarhede geleer, insluitende die Bybelse hoop van ’n opstanding op ’n paradysaarde. Daniel is nou tien jaar oud en hou twee Bybelstudies. Natalie, wat nou agt is, studeer die Bybel met ’n jong meisie van haar ouderdom.

Jongmense soos Kristina, Sydnee, Ellen, Daniel en Natalie maak hulle Christenouers se harte bly. Nog belangriker, hulle maak Jehovah se hart bly, en hy sal nie die liefde vergeet wat sulke jongmense vir sy naam toon nie.—Spreuke 27:11; Hebreërs 6:10.

[Voetnoot]

a Alle publikasies waarna daar in hierdie artikel verwys word, word deur Jehovah se Getuies uitgegee.

[Prente op bladsy 18]

Kristina (bo) en Sydnee

[Prent op bladsy 19]

Daniel en Natalie

[Prent op bladsy 19]

Ellen

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel