Die blywende aantrekkingskrag van goud
DEUR ONTWAAK!-MEDEWERKER IN AUSTRALIË
DIEP in die Australiese bosveld beur ’n prospekteerder voort, al met ’n droë spruit langs. Die middagson skroei sy rug. Sweet slaan deur sy stowwerige hemp. Ten spyte van die ongerief, hou hy aan ’n lang metaalstaaf vas wat aan ’n toestel so groot soos ’n eetbord geheg is. Hy swaai die gesofistikeerde metaalverklikker heen en weer oor die grond. Die magnetiese veld van die toestel dring deur ’n meter van die klipperige grond. Die oorfone op sy kop ontvang ’n sein van die metaalverklikker en maak ’n reëlmatige hoë fluitgeluid.
Meteens begin sy pols vinniger klop wanneer die hoë fluitgeluid in ’n diep klikkende geluid verander—’n seker teken dat daar ’n stuk metaal in die grond onder sy toestel is. Hy val op sy knieë en begin grawe. Hy breek die harde grond ongeduldig met sy klein pik oop. Die voorwerp is waarskynlik net ’n geroeste spyker. Dalk is dit ’n ou muntstuk. Maar wanneer die gat dieper word, trek hy sy oë op ’n skrefie op soek na enige teken van goud.
’n Voortdurende goudstormloop
Die metodes om goud te vind, het dalk verander, maar deur die geskiedenis heen was die mens nog altyd gretig op soek na hierdie glansende geel metaal. Trouens, volgens die Wêreldgoudraad, is daar oor die laaste 6 000 jaar meer as 125 000 ton goud gemyn.a Hoewel antieke beskawings in Egipte, Ofir en Suid-Amerika beroemd was vir hulle oorvloed van goud, is meer as 90 persent van al die goud wat ooit gemyn is, gedurende die afgelope 150 jaar uit die aarde gehaal.—1 Konings 9:28.
Die bloeityd van die goudbedryf het in 1848 begin, toe goud by Sutter’s Mill, langs die American-rivier, in Kalifornië, VSA, gevind is. Die vonds het iets veroorsaak wat as ’n stormloop bekend geword het—’n eindelose stroom hoopvolle prospekteerders wat op ’n gebied toesak. Almal wat hierheen gekom het, het gehoop dat hulle hulle fortuin onder die Kaliforniese grond sou vind. Baie het misluk, maar party het skitterende sukses behaal. In 1851 alleen is daar 77 ton uit net die Kaliforniese goudvelde gemyn.
Om en by dieselfde tyd is daar goud aan die ander kant van die wêreld, in die bloedjong Australiese kolonie, ontdek. Edward Hargraves, wat waardevolle ondervinding in die Kaliforniese goudvelde opgedoen het, het na Australië toe gekom en goud in ’n stroompie naby die dorpie Bathurst, Nieu-Suid-Wallis, gevind. Gedurende 1851 is groot neerslae ook by Ballarat en Bendigo, in die staat Victoria, ontdek. Toe die nuus van die ontdekkings versprei het, het die stormloop begin. Party van dié wat gekom het, was professionele delwers. Baie was egter plaas- of kantoorwerkers wat nog nooit vantevore ’n mynpik gebruik het nie. ’n Plaaslike koerant het destyds die toneel in een goudstormloopdorp beskryf en gesê: “Bathurst is weer mal. Die waansin van goudkoors is terug en is erger as tevore. Mans kom bymekaar, staar mekaar aan asof hulle in ’n dwaal is, praat in wartaal en wonder wat volgende gaan gebeur.”
Wat het volgende gebeur? Daar was ’n bevolkingsontploffing. In die dekade ná 1851 het die aantal mense in Australië verdubbel, aangesien optimistiese prospekteerders van die uithoeke van die aarde op die land toegesak het. Goud is in verskillende hoeveelhede oral op die vasteland ontdek. Wanneer een stormloop afgeneem het, het ’n ander een begin. In 1856 alleen het Australiese prospekteerders 95 ton goud ontgin. Daarna het myners in 1893 goud naby Kalgoorlie-Boulder, Wes-Australië, begin myn. Sedertdien is meer as 1 300 ton ontgin uit wat beskryf is as “die rykste vierkante myl van goudhoudende grond ter wêreld”. Hierdie area produseer nog steeds goud en spog nou met die wêreld se diepste oopgroefgoudmyn—’n mensgemaakte canyon wat amper twee kilometer wyd, drie kilometer lank en tot 400 meter diep is!
Australië is vandag die derde grootste goudprodusent ter wêreld. Die bedryf verskaf werk aan 60 000 mense en jaarliks word omtrent 300 ton goud ter waarde van R24 miljard ontgin. Die Verenigde State is die wêreld se tweede grootste produsent. Maar Suid-Afrika is nou al meer as honderd jaar lank die wêreld se topgoudprodusent. Byna 40 persent van al die goud wat ooit gemyn is, het van dié land af gekom. Elke jaar word daar wêreldwyd meer as 2 000 ton ontgin. Wat gebeur met al hierdie kosbare metaal?
Rykdom en prag in een
Van die goud word nog steeds gebruik om muntstukke te maak. Die Perth-munt, in Wes-Australië, is tans een van die wêreld se grootste produsente van hierdie soort munte. Hierdie geldstukke is nie in algemene sirkulasie nie, maar word deur versamelaars bymekaargemaak. Daarbenewens is omtrent ’n kwart van al die goud wat ooit gemyn is, gegiet in goudstawe—rykdom in die vorm van soliede blokke—en weggesluit in bankkluise. Die Verenigde State het die meeste van die wêreld se staafgoud in sy bankkluise.
Tans word 80 persent van die goud wat elke jaar gemyn word—omtrent 1 600 ton—gebruik om juweliersware te maak. Die Verenigde State het moontlik die meeste goud in sy banke, maar wanneer juweliersware ingereken word, het Indië die grootste hoeveelheid goud binne sy grense. Benewens die feit dat dit kosbaar en pragtig is, het hierdie sagte metaal eienskappe wat dit hard kan laat werk.
’n Ou metaal met moderne gebruike
Die Farao’s van eertydse Egipte het waarskynlik besef dat goud roesbestand is en daarom het hulle dit gebruik om hulle dodemaskers te maak. Die duursaamheid van goud is bewys toe argeoloë die graf van farao Toetankamen duisende jare ná sy dood oopgemaak het en gevind het dat die jong koning se goue dodemasker glad nie aangeslaan het nie en dat dit nog steeds glansend geel was.
Goud behou sy glans omdat water en lug—die vernietigers van ander metale, soos yster—geen uitwerking daarop het nie. Hierdie roesbestandheid tesame met goud se uitstekende elektriese geleidingsvermoë maak dit ideaal vir gebruik in elektroniese komponente. Elke jaar word omtrent 200 ton goud gebruik in die vervaardiging van TV’s, videomasjiene, selfone en byna 50 miljoen rekenaars. Daarbenewens bevat hoëgehalte-CD’s ’n dun lagie duursame goud om betroubare databerging te verseker.
Dun velletjies goud openbaar ’n paar ongewone eienskappe. Kyk byvoorbeeld na die metaal se interaksie met lig. Wanneer goud tot ultradun plaatjies verwerk is, is dit deursigtig. So ’n dun plaatjie laat groen lig deur, maar weerkaats infrarooi lig. Vensters wat met goud bedek is, laat lig deur, maar weerkaats hitte. Om dié rede word die stuurkajuitvensters van moderne vliegtuie sowel as dié van talle nuwe kantoorgeboue met goud bedek. Verder word maklik beskadigbare dele van ruimtevoertuie met ondeursigtige goudfoelie bedek, wat dit doeltreffend teen intense straling en hitte beskerm.
Goud is ook besonder bestand teen bakterieë. Gevolglik gebruik tandartse dit om beskadigde of bedorwe tande te herbou of te vervang. In onlangse jare is daar gevind dat goud ’n ideale materiaal is om te gebruik in chirurgiese inplantings soos stente—klein draadbuisies wat in die liggaam ingeplant word om beskadigde are of slagare te versterk.
Aangesien goud so veelsydig, kosbaar en pragtig is, sal prospekteerders ongetwyfeld voortgaan om die aarde te deurkruis op soek na hierdie aantreklike metaal.
[Voetnoot]
a Goud het so ’n hoë digtheid dat ’n kubus van die metaal waarvan al die sye 37 sentimeter lank is, omtrent ’n ton sal weeg.
[Venster op bladsy 25]
Waar word goud gevind?
◼ Rotse: Alle stollingsgesteentes bevat klein hoeveelhede goud. In party rotse is die goudkonsentrasie hoog genoeg dat dit vir maatskappye die moeite werd is om dit te myn, te maal en die metaal chemies uit die erts te loog. Hoëgehalte-erts bevat maar net sowat 30 gram goud per ton rots.
◼ Riwwe: In uitsonderlike gevalle word goud in plate of are tussen lae kwarts gevind. Dit staan bekend as rifgoud.
◼ Riviere: Goudhoudende riwwe wat aan die son, reën en wind blootgestel word, breek geleidelik af en stel die goud vry wat daarin vasgevang was, wat dan as klein stukkies of vlokkies in spruitjies en riviere ophoop. In hierdie vorm staan dit bekend as spoelgoud.
◼ Aardoppervlak: Soms vorm goudklonte met onreëlmatige vorms skynbaar na willekeur in die aardoppervlak. Party van hierdie klonte is ontsaglik groot. Die grootste goudklont wat nog ooit in Australië gevind is, is Die Welkome Vreemdeling genoem, en dit weeg omtrent 70 kilogram! Dit is in 1869 in die Australiese staat Victoria ontdek. Australië is die tuiste van groot klonte omdat 23 van die 25 grootste klonte wat nog ooit ontdek is, daar gevind is. Vandag is goudklonte, wat so klein soos die kop van ’n vuurhoutjie kan wees, skaarser as sierdiamante.
[Venster/Prent op bladsy 27]
Hoe werk ’n metaalverklikker?
Die belangrikste komponente in ’n metaalverklikker is gewoonlik twee draadspoele. Elektrisiteit word deur een van die draadspoele gestuur, en dit wek ’n magnetiese veld op. As die metaalverklikker oor ’n metaalvoorwerp beweeg, soos ’n goudklont, induseer dit ’n swak magnetiese veld in daardie voorwerp. Die tweede draadspoel in die metaalverklikker registreer hierdie swak veld en stuur ’n sein aan die operateur deur middel van ’n lig, ’n meter of ’n geluid.
[Prente op bladsy 25]
Die goudstormloop van die middel-1800’s:
1. Sutter’s Mill, Kalifornië, VSA
2. Bendigo Creek, Victoria, Australië
3. Golden Point, Ballarat, Victoria, Australië
[Erkenning]
1: Library of Congress; 2: Gold Museum, Ballarat; 3: La Trobe Picture Collection, State Library of Victoria
[Prente op bladsy 26]
Moderne gebruike van goud
Hoëgehalte-CD’s bevat ’n dun lagie goud
Goudfoelie word op ruimtevoertuie gebruik
Goud word op mikroskyfies gebruik
Vergulde draadjies het uitstekende elektriese geleidingsvermoë
[Erkennings]
NASA photo
Carita Stubbe
Courtesy Tanaka Denshi Kogyo
[Prent op bladsy 26]
Die wêreld se diepste oopgroefgoudmyn, in Kalgoorlie-Boulder, Wes-Australië
[Erkenning]
Courtesy Newmont Mining Corporation
[Foto-erkenning op bladsy 24]
Brasil Gemas, Ouro Preto, MG