Die resep vir ware geluk
AS JY ’n heerlike maaltyd wil geniet, moet jy nie net ’n goeie resep hê nie, maar ook ’n goeie kok! In sekere sin kan dieselfde gesê word van geluk. Dit is nie die gevolg van ’n enkele faktor nie, maar geluk spruit eerder voort uit ’n kombinasie van baie dinge in die lewe. Dit sluit werk, vermaak, tyd saam met jou gesin en vriende, asook geestelike bedrywighede in. Maar daar is ook minder voor die hand liggende faktore, soos gesindhede, begeertes en doelwitte in die lewe.
Gelukkig hoef ons nie self te probeer vasstel wat die resep vir ware geluk is nie. Waarom nie? Omdat ons Skepper vir ons ’n wonderlike instruksieboek, die Bybel, gegee het, wat nou in sy geheel of gedeeltelik beskikbaar is in 2 377 tale en dialekte—veel meer as enige ander publikasie ter wêreld!
Hierdie indrukwekkende sirkulasie weerspieël God se besorgdheid oor die geluk en geestelike welsyn van alle mense (Handelinge 10:34, 35; 17:26, 27). “[Ek is] die Een wat jou leer om jouself te bevoordeel”, sê God. As ons gehoor gee aan sy gebooie, belowe hy ons rus en vrede, “net soos ’n rivier”.—Jesaja 48:17, 18.
Daardie belofte herinner ons aan Jesus se woorde wat in die vorige artikel aangehaal is: “Gelukkig is dié wat bewus is van hulle geestelike behoefte” (Matteus 5:3). Die geestelikheid waarvan hier gepraat word, is nie oppervlakkige vroomheid nie. Dit beïnvloed eerder ons hele lewe. Dit weerspieël ons bereidwilligheid om na God te luister en deur hom onderrig te word, omdat ons besef dat hy ons veel beter ken as wat ons onsself ken. “Wat my meer as enigiets anders oortuig dat die Bybel van God af kom”, sê Errol, ’n Bybelstudent van meer as 50 jaar, “is dat die raad daarin werk wanneer jy dit toepas!” Kyk byvoorbeeld na die Bybel se uitstekende raad oor dinge soos die najaging van rykdom en genot.
Wyse raad oor geld
“Selfs wanneer iemand oorvloed het”, het Jesus gesê, “spruit sy lewe nie voort uit die dinge wat hy besit nie” (Lukas 12:15). Ja, jou werklike waarde as ’n persoon, veral in God se oë, het niks te doen met hoeveel geld jy in jou bankrekening het nie. Om die waarheid te sê, die najaging van rykdom veroorsaak dikwels meer bekommernisse, wat die vreugde uit die lewe haal en ons minder tyd laat vir belangriker dinge.—Markus 10:25; 1 Timoteus 6:10.
Richard Ryan, ’n sielkundeprofessor in die Verenigde State, sê dat hoe harder mense probeer om tevredenheid in materiële dinge te vind, hoe minder tevredenheid verskaf dit hulle. Die Bybelskrywer Salomo het dit só gestel: “Die mens vir wie geld alles is, het nooit genoeg geld nie; die mens vir wie rykdom alles is, kry nooit genoeg in nie” (Prediker 5:9, Die Bybel, 1983). Die situasie kan vergelyk word met die gejeuk van ’n muskietbyt—hoe meer jy krap, hoe meer jeuk dit, totdat dit ’n oop seer word.
Die Bybel spoor ons aan om hard te werk en om die vrugte van ons arbeid te geniet (Prediker 3:12, 13). Deur dit te doen, vergroot ons ons selfrespek—nog ’n noodsaaklike bestanddeel vir geluk. Dalk kan ons ook van die heilsame en genotvolle dinge in die lewe geniet. Om van die goeie dinge te geniet wat geld kan koop, is egter nie dieselfde as om die najaging van geld die middelpunt van ons lewe te maak nie.
Genot het sy plek
’n Geestelike beskouing van die lewe help ons om die grootste voordeel te trek uit ontspanning, vermaak en ander genietinge. Jesus het gesellighede geniet wat kos en drank ingesluit het (Lukas 5:29; Johannes 2:1-10). Maar dit was beslis nie die dinge wat hom die grootste vreugde in die lewe verskaf het nie. Sy grootste vreugde was eerder geestelike dinge, wat ingesluit het dat hy ander gehelp het om van God en sy voorneme vir die mensdom te leer.—Johannes 4:34.
Koning Salomo het plesier op die proef gestel om te sien of dit die sleutel tot geluk is. “Laat ek my oorgee aan plesier, laat ek die lewe geniet”, het hy gesê. Hierdie ryk koning het dit nie halfhartig gedoen nie. Nee, hy het hom heelhartig daaraan oorgegee! Maar hoe het hy ná die tyd gevoel? “Ook dit het niks opgelewer nie”, het hy geskryf.—Prediker 2:1, Die Bybel, 1983.
Leeg en onvervuld—dit is hoe genotsoekers gewoonlik voel. Trouens, toe navorsers die najaging van genot vergelyk het met dinge soos betekenisvolle werk, geestelike bedrywighede en betrokkenheid by die gesin, het hulle gevind dat genotsug die minste bygedra het tot die proefpersone se algemene geluk.
Wees vrygewig en dankbaar
Gelukkige mense is nie egosentries nie, maar is gewoonlik vrygewig en stel in ander belang. “Dit verskaf groter geluk om te gee as om te ontvang”, het Jesus gesê (Handelinge 20:35). Behalwe dat ons materieel kan gee, kan ons ook van ons tyd en energie gee, wat dalk meer op prys gestel sal word, veral in die gesin. Mans en vrouens moet tyd saam deurbring om hulle huwelik sterk en gelukkig te hou, en ouers moet heelwat tyd vir hulle kinders opsysit en met hulle gesels, liefde teenoor hulle betoon en hulle onderrig. Wanneer gesinslede op hierdie maniere gee, floreer hulle en word hulle huis ’n plek waar geluk gevind kan word.
Maar ‘toon jy dat jy dankbaar is’ wanneer ander vir jou iets gee—hetsy hulle van hulleself gee of op ’n ander manier? (Kolossense 3:15). Dit kan ’n hemelsbreë verskil in ons verhouding met ander maak as ons volgens hierdie woorde lewe, en dit kan ons ook baie gelukkiger maak. Loop jou hart nie oor van vreugde wanneer iemand opregte waardering teenoor jou uitspreek nie?
Die betoning van dankbaarheid maak ons ook meer bewus van die goeie dinge wat met ons gebeur. ’n Navorser by die Universiteit van Kalifornië in Riverside, VSA, het ’n beheerde eksperiment gedoen waarin sy die proefpersone gevra het om ’n “dankbaarheidsdagboek” te hou—’n dagboek waarin hulle dinge opteken waarvoor hulle dankbaar is. Dit is nie verbasend dat die proefpersone oor ’n tydperk van ses weke aansienlik meer tevrede met die lewe gevoel het nie.
Die les? Ongeag in watter situasie jy jou bevind, leer om jou seëninge te tel. Trouens, die Bybel spoor jou aan om dit te doen en sê: “Wees altyd bly. . . . Betuig dank in verband met alles” (1 Tessalonisense 5:16, 18). Om dit te kan doen, moet ons natuurlik ’n doelbewuste poging aanwend om aan die goeie dinge te dink wat ons ervaar. Jy kan dit gerus ’n persoonlike doelwit maak.
Liefde en hoop—noodsaaklik vir geluk
Daar is al tereg gesê dat mense van die wieg tot die graf ’n behoefte aan liefde het. Daarsonder kwyn mense weg. Maar presies wat is liefde? Hoewel die woord deesdae losweg gebruik word, gee die Bybel ’n pragtige beskrywing daarvan: “Die liefde is lankmoedig en goedhartig”, sê dit. “Die liefde is nie jaloers nie, dit praat nie groot nie, raak nie opgeblase nie, gedra hom nie onwelvoeglik nie, soek nie sy eie belang nie, raak nie ergerlik nie. Dit hou nie boek van die kwaad nie. Dit is nie bly oor onregverdigheid nie, maar is bly saam met die waarheid. Dit verdra alles, glo alles, hoop alles, verduur alles.”—1 Korintiërs 13:4-8.
Hoe onselfsugtig is ware liefde tog! Omdat dit “nie sy eie belang [soek] nie”, stel dit ander se geluk eerste. Ongelukkig word hierdie liefde al hoe seldsamer. Trouens, in Jesus se groot profesie oor die einde van die teenswoordige stelsel van dinge het hy gesê dat “die liefde van die meeste [sal] verkoel”.—Matteus 24:3, 12; 2 Timoteus 3:1-5.
Maar hierdie situasie sal nie vir altyd voortduur nie, want dit is ’n belediging vir die Skepper—die verpersoonliking van liefde! (1 Johannes 4:8). God sal binnekort alle mense wat vol haat is en deur hebsug oorheers word, van die aarde verwyder. Hy sal net diegene bewaar wat daarna streef om die soort liefde aan te kweek wat hierbo beskryf word. Gevolglik sal vrede en geluk wêreldwyd heers. Die Bybelse belofte sal beslis vervul word: “Nog net ’n klein rukkie en die goddelose sal daar nie meer wees nie; en jy sal beslis ag gee op sy plek, en hy sal daar nie wees nie. Maar die sagmoediges sal die aarde besit, en hulle sal hulle inderdaad verlustig in die oorvloed van vrede.”—Psalm 37:10, 11.
Stel jou voor dat jy jou in elke dag “verlustig”! Is dit enigsins verbasend dat die Bybel sê: “Verbly julle in die hoop”? (Romeine 12:12). Sal jy graag meer oor die wonderlike hoop wil leer wat God vir gehoorsame mense in die vooruitsig stel? Lees dan gerus die volgende artikel.
[Lokteks op bladsy 7]
“Dit verskaf groter geluk om te gee as om te ontvang.”—Handelinge 20:35
[Venster/Prent op bladsy 5]
Suksesverhale—Hoe waar is hulle?
Soms hoor ons verhale van mense wat in huisgesinne met baie probleme grootgeword het, maar ondanks alles baie ryk geword het. “Sulke verhale word partykeer gebruik om te wys hoe mense die beste van ’n slegte saak gemaak het en suksesvol was ondanks of weens hulle ongelukkige kinderjare”, verduidelik ’n berig oor geluk in die San Francisco Chronicle. “Volgens navorsing is die probleem met hierdie interpretasie dat dinge nie noodwendig so goed uitgewerk het nie. Al wat gebeur het, is dat die mense ryk geword het.”
[Venster/Prent op bladsy 6]
Blymoedigheid bevorder goeie gesondheid
’n Blymoedige geaardheid is goeie medisyne. “Geluk of soortgelyke geestestoestande soos hoopvolheid, optimisme en tevredenheid verminder blykbaar die risiko of beperk die erns van hartvatsiekte, longkwale, suikersiekte, hoë bloeddruk, verkoues en infeksies in die boonste lugweg”, sê ’n berig in die tydskrif Time. Daarbenewens is daar in ’n Nederlandse studie van bejaarde pasiënte bevind dat ’n blymoedige, positiewe gesindheid oor ’n tydperk van nege jaar die risiko om te sterf met ’n ongelooflike 50 persent verminder het!
Dit is nog steeds onduidelik hoe ’n mens se geestestoestand die liggaam beïnvloed. Navorsing wys egter daarop dat positiewe, optimistiese mense laer vlakke het van die streshormoon kortisol, wat die immuunstelsel onderdruk.
[Prent op bladsy 4, 5]
Net soos jy heerlike kos kan maak wanneer jy ’n goeie resep volg, kan jy geluk vind wanneer jy goddelike leiding volg