Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g 4/06 bl. 25-28
  • Die grootmaak van kinders met spesiale behoeftes

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Die grootmaak van kinders met spesiale behoeftes
  • Ontwaak!—2006
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Wanneer dit slegte nuus is
  • ’n Silwer randjie
  • Moedig groter onafhanklikheid aan
  • Die grootste bron van hulp
  • Voed jou kind van kleins af op
    Die geheim van gesinsgeluk
  • Ouers—Lei julle kinders op met liefde
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2007
  • As jy ’n gestremde kind het
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2013
  • Ouers, beskerm julle kosbare erfenis
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2005
Sien nog
Ontwaak!—2006
g 4/06 bl. 25-28

Die grootmaak van kinders met spesiale behoeftes

DEUR ONTWAAK!-MEDEWERKER IN FINLAND

Die 20-jarige Markus (links) kan nie op sy eie eet, drink of bad nie. Hy slaap sleg en het regdeur die nag aandag nodig. Aangesien hy geneig is om ongelukke te maak, moet hy gereeld eerstehulp ontvang. Maar Markus se ouers het hom baie lief. Hulle waardeer sy sagte, vriendelike en minsame geaardheid. Hulle is trots op hulle seun ten spyte van sy gebreke.

DIE Wêreldgesondheidsorganisasie skat dat bykans 3 persent van die mense in nywerheidslande aan die een of ander vorm van verstandelike vertraging ly. Verswakte verstandelike vermoë kan die gevolg wees van genetiese probleme, geboortebeserings, vroeë breininfeksies en voedingstekorte sowel as van blootstelling aan dwelms, alkohol of chemiese stowwe. In die meeste gevalle is die oorsaak onbekend. Hoe voel dit om die ouers te wees van kinders met spesiale behoeftes? Hoe kan sulke ouers aangemoedig word?

Wanneer dit slegte nuus is

Die uitdaging begin wanneer ouers uitvind dat hulle kind ’n geestesgebrek het. “Toe ek en my man hoor dat ons dogter Down-sindroom het, het dit gevoel asof ons huis op ons ineengestort het en ons begrawe het”, sê Sirkka. Markus se ma, Anne, sê: “Toe daar vir my gesê is dat hy verstandelik gestrem sou wees, het ek gewonder hoe ander hom sou beskou. Daardie stadium is ek gou verby, en ek het my toegespits op sy behoeftes en op wat ek vir hom kan doen.” Irmgard het soortgelyk gereageer. “Toe die dokters ons van ons dogter Eunike se gebrek vertel het”, sê sy, “kon ek net dink aan hoe ek my dogtertjie kan help.” Wat kan ouers soos Sirkka, Anne en Irmgard ná so ’n diagnose doen?

“Een van die eerste dinge wat jy kan doen”, beveel die Amerikaanse Nasionale Inligtingsentrum vir Kinders met Gebreke aan, “is om inligting in te win—inligting oor jou kind se gebrek, oor die dienste wat beskikbaar is en oor die spesifieke dinge wat jy kan doen om jou kind te help om in die volste mate moontlik te ontwikkel.” As jy hierdie inligting toepas, kan jy die versorging van jou kind meer doelgerig maak. Dit is baie soos om gedurende ’n reis jou vordering op ’n kaart aan te dui deur die afstand wat afgelê en die doelwitte wat bereik is, daarop aan te teken.

’n Silwer randjie

Ten spyte van die uitdagings kan die donker wolk van geestesgebreke by kinders ’n silwer randjie hê. Hoe?

Eerstens, ouers kan vertroosting put uit die wete dat die meeste van hierdie kinders nie ly nie. Dr. Robert Isaacson skryf in sy boek The Retarded Child: “Die meeste kan gelukkig wees en kan ander se geselskap asook musiek, sekere sportsoorte, lekker kos en vriendskappe geniet.” Hoewel hulle dalk minder sal bereik en in ’n kleiner wêreld as normale kinders lewe, is hulle dikwels gelukkiger in hulle “huisie” as wat normale kinders in hulle “kasteel” is.

Tweedens, ouers kan trots wees op hulle kinders se prestasies, wat met groot inspanning bereik is. Elke nuwe takie wat bemeester word, is soos ’n groot berg wat geklim is, en die uitsig van bo is ’n beloning vir die ouers sowel as die kind. Bryan ly byvoorbeeld aan tubereuse sklerose, stuiptrekkings en outisme. Hoewel hy intelligent is, kan hy nie praat nie en het hy min beheer oor sy hande. Nogtans het hy met verloop van tyd geleer om uit ’n halfvol koppie te drink sonder om te mors. Die feit dat hy hierdie mate van koördinasie tussen die verstand en liggaam bereik het, stel Bryan in staat om sy gunstelingdrankie—melk—sonder hulp te drink.

Bryan se pa en ma beskou hierdie prestasie as nog ’n klein oorwinning oor sy gebreke. “Ons beskou ons seun as ’n hardehoutboom in ’n woud”, sê sy ma, Laurie. “Hoewel ’n hardehoutboom nie so vinnig soos ander bome groei nie, lewer dit hout van groot waarde. Kinders met gebreke ontwikkel ook stadig. Maar vir hulle ouers word hulle soos eike- en kiaatboompies van blywende waarde.”

Derdens, die liefdevolle geaardheid van hulle kind maak baie ouers se harte bly. Irmgard sê: “Eunike hou daarvan om vroeg te gaan slaap en soen altyd elke lid van die gesin voor sy bed toe gaan. As sy bed toe gaan voordat ons tuiskom, sal sy ’n briefie skryf waarin sy om verskoning vra dat sy nie wakker gebly het nie. Sy sal byvoeg dat sy ons liefhet en dat sy daarna uitsien om ons die volgende oggend te sien.”

Markus kan nie praat nie, en tog het hy met groot moeite ’n paar woorde in gebaretaal geleer om vir sy ouers te sê dat hy vir hulle lief is. Die ouers van Tia, wie se ontwikkeling gestrem is, het hulle gevoelens soos volg uitgedruk: “Sy het ons lewe gevul met liefde, hartlikheid, geneentheid, drukkies en soentjies.” Dit is derhalwe vanselfsprekend dat hierdie kinders baie liefde en geneentheid van hulle ouers nodig het—in woord en daad.

Vierdens, dit verskaf Christenouers groot bevrediging wanneer hulle kind geloof in God openbaar. ’n Goeie voorbeeld in dié verband is Juha. By sy pa se begrafnis het hy almal verras deur te vra of hy kan bid. In sy kort gebed het Juha sy vertroue uitgespreek dat sy pa in God se geheue is en dat God hom op die bestemde tyd sal opwek. Hy het God toe gevra om die lede van sy gesin te help en elkeen by name genoem.

Eunike se vertroue op God maak ook haar ouers gelukkig. Eunike kan nie alles verstaan wat sy leer nie. Sy ken byvoorbeeld baie Bybelkarakters, maar sy kan hulle nie met ander feite verbind nie—soos dele van ’n legkaart wat nie ’n volledige prentjie vorm nie. Nietemin verstaan sy die gedagte dat God die Almagtige eendag die aarde van probleme sal bevry. Eunike sien daarna uit om in God se beloofde nuwe wêreld te lewe, waar sy haar volle verstandelike vermoëns sal hê.

Moedig groter onafhanklikheid aan

Verstandelik gestremde kinders bly nie kinders nie—hulle groei en word verstandelik gestremde volwassenes. Dit sal dus goed wees as ouers hulle kinders met spesiale behoeftes help sodat hulle nie meer afhanklik is as wat nodig is nie. Markus se ma, Anne, sê: “Dit was makliker en vinniger vir ons om alles vir Markus te doen. Maar ons het ons bes gedoen om hom te help om soveel dinge moontlik self te doen.” Eunike se ma voeg by: “Eunike het talle innemende eienskappe, maar sy kan hardkoppig wees. Om haar so ver te kry om iets te doen wat sy nie wil doen nie, moet ons ’n beroep doen op haar begeerte om ons gelukkig te maak. Selfs nadat sy ingestem het om ’n taak te verrig, moet ons haar die hele tyd aanmoedig totdat sy dit gedoen het.”

Bryan se ma, Laurie, is voortdurend op soek na maniere om sy lewe sinvoller te maak. Oor ’n tydperk van drie jaar het Laurie en haar man Bryan leer tik. Met groot bevrediging stuur Bryan nou e-pos aan sy vriende en familie. Maar iemand moet sy gewrig ondersteun terwyl hy tik. Sy ouers probeer hom nou help sodat hy uiteindelik net ondersteuning by die elmboog nodig sal hê. Hulle weet dat daardie paar sentimeter van die gewrig tot die elmboog baie meer onafhanklikheid sal beteken.

Nogtans moet ouers nie te veel van hulle kinders verwag of te veel druk op hulle uitoefen nie. Elke kind se potensiaal verskil. Die boek The Special Child stel voor: “Dit is goed om altyd ’n balans te probeer handhaaf deur onafhanklikheid aan te moedig, maar terselfdertyd genoeg bystand te verleen om frustrasie te voorkom.”

Die grootste bron van hulp

Ouers van gestremde kinders het almal baie geduld en volharding nodig. Wanneer die een probleem na die ander ontstaan, ervaar baie ouers tye van wanhoop. Uitputting eis dikwels sy tol. Trane word gestort, en selfbejammering steek soms kop uit. Wat kan gedoen word?

Ouers kan God, die “Hoorder van . . . gebed”, aanroep (Psalm 65:2). Hy gee moed, hoop en krag om te volhard (1 Kronieke 29:12; Psalm 27:14). Hy vertroos ons seer harte, en hy wil hê dat ons ons moet “verbly . . . in die hoop” wat die Bybel gee (Romeine 12:12; 15:4, 5; 2 Korintiërs 1:3, 4). Godvrugtige ouers kan daarvan seker wees dat hulle kosbare kind in die toekoms, wanneer ‘die blindes sien, die dowes hoor, die kreupeles loop en die stommes met vreugde uitroep’, ook volmaakte geestes- en fisiese gesondheid sal geniet.—Jesaja 35:5, 6; Psalm 103:2, 3.

WAT OUERS KAN DOEN

◼ Leer meer oor jou kind se gebrek.

◼ Probeer ’n positiewe gesindheid behou.

◼ Help jou kind om sy of haar potensiaal ten opsigte van onafhanklikheid te bereik.

◼ Vra God om moed, hoop en krag.

WAT ANDER KAN DOEN

◼ Praat op ’n intelligente wyse met die kind en wees opreg.

◼ Praat met die ouers oor hulle kind en prys hulle.

◼ Wees sensitief en neem hulle gevoelens .

◼ Neem deel aan bedrywighede saam met die ouers en gesinne van spesiale kinders.

[Venster/Prent op bladsy 26]

Hoe ander kan help

Net soos toeskouers die uithouvermoë van maratonhardlopers bewonder, verwonder jy jou dalk oor die stamina van ouers wat ’n gestremde kind versorg—24 uur per dag, 7 dae per week. Ondersteuners langs ’n maratonroete bied gewoonlik vir atlete bottels water aan om hulle te verkwik. Kan jy verkwikking bied aan ouers wat die lewenslange taak het om ’n spesiale kind te versorg?

Een manier waarop jy kan help, is om eenvoudig met hulle seun of dogter te praat. Jy voel dalk aanvanklik ongemaklik, aangesien daar maar min of geen reaksie is op wat jy sê nie. Hou egter in gedagte dat baie van hierdie kinders dit geniet om te luister en heel waarskynlik diep nadink oor wat jy sê. In sommige gevalle is hulle verstand soos ’n ysberg wat grotendeels onder die oppervlak lê, en hulle gesig weerspieël moontlik nie hulle diep gevoelens nie.a

Kinderneuroloog dr. Annikki Koistinen gee wenke om jou te help om ’n gesprek te voer: “Aanvanklik kan jy oor hulle gesin praat of oor wat hulle gedurende die dag doen doen. Praat met hulle na gelang van hulle ouderdom, nie asof jy met ’n jonger kind praat nie. Praat oor een onderwerp op ’n slag, en gebruik kort sinne. Gee hulle tyd om te dink oor wat jy sê.”

Ouers het ook jou geselskap nodig. Jou empatie vir hulle sal toeneem namate jy meer bewus word van die emosionele uitdagings waarvoor hulle te staan kom. Markus se ma, Anne, smag byvoorbeeld daarna om haar geliefde seun beter te leer ken. Dit maak haar hartseer dat hy nie met haar kan praat en kan verduidelik wat in sy gedagtes omgaan nie. Sy is ook bekommerd dat sy voor haar seun sal sterf en hy dan sonder ’n ma sal wees.

Ongeag hoeveel ouers van hulleself gee in die versorging van hulle verstandelik gestremde kind, hulle voel dikwels dat hulle meer behoort te doen. Laurie, Bryan se ma, blameer haarself vir elke foutjie wat sy in haar versorging van hom maak. Sy voel ook skuldig dat sy nie meer aandag aan haar ander kinders kon gee nie. Jou belangstelling in hierdie ouers en jou respek vir hulle en hulle gevoelens verleen waardigheid aan hulle en hulle kinders en onderskraag hulle. Irmgard sê in hierdie verband: “Ek verwelkom gesprekke oor my dogter. Ek voel aangetrokke tot dié wat bereid is om die lief en leed van my lewe met Eunike te deel.”

En daar is baie ander maniere—groot en klein—waarop jy kan help. Dalk kan jy die ouers en hulle kind na jou huis nooi of hulle vra om by jou gesinsbedrywighede aan te sluit. Dit is miskien ook vir jou moontlik om ’n paar uur met die kind deur te bring terwyl die ouers rus.

[Voetnoot]

a Sien “Loida se stilswye word verbreek”, in die Ontwaak! van 8 Mei 2000.

[Prent op bladsy 26]

Opregte belangstelling verleen waardigheid aan die ouers en kind

[Prent op bladsy 27]

Soos Eunike, het verstandelik gestremde kinders voortdurend liefde nodig terwyl hulle ouer word

[Prent op bladsy 28]

Laurie het haar seun, Bryan, leer tik en hom sodoende aangemoedig om meer onafhanklik te wees

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel