Die Bybel se beskouing
Wat was die eerste sonde?
HIERDIE vraag is allesbehalwe akademies. Hoe so? Omdat Adam en Eva se ongehoorsaamheid aan God ’n uitwerking op al die geslagte daarna tot in ons dag gehad het. Die Bybel sê: ‘Deur een mens het die sonde in die wêreld ingekom en die dood deur die sonde, en die dood het só tot alle mense deurgedring omdat hulle almal gesondig het’ (Romeine 5:12). Maar hoe het die eenvoudige daad om vrugte van ’n boom af te pluk en te eet sulke tragiese gevolge meegebring?
Toe God Adam en Eva geskep het, het hy hulle in ’n pragtige tuin gevestig wat gevul was met eetbare plante en vrugtebome. Net een boom was verbode—“die boom van die kennis van goed en kwaad”. Aangesien Adam en Eva wilsvryheid gehad het, kon hulle besluit of hulle gehoorsaam of ongehoorsaam aan God sou wees. Adam is egter gewaarsku: “Die dag as jy daarvan [die boom van kennis] eet, sal jy sekerlik sterf.”—Genesis 1:29; 2:17.
’n Redelike beperking
Hierdie enkele beperking het geen ontbering veroorsaak nie; Adam en Eva kon van al die ander boom in die tuin eet (Genesis 2:16). Daarbenewens het die verbod niks onwelvoegliks aan die egpaar toegeskryf nie, en dit het hulle ook nie van hulle waardigheid beroof nie. As God veragtelike dinge soos bestialiteit of moord verbied het, kon party beweer het dat volmaakte mense sekere slegte neigings gehad het wat beteuel moes word. Om te eet, was egter natuurlik en gepas.
Was die verbode vrug geslagsomgang, soos party beweer? Hierdie sienswyse word nie deur die Skrif ondersteun nie. Om maar een ding te noem, Adam was alleen toe God die verbod ingestel het, en dit het klaarblyklik ’n ruk lank so gebly (Genesis 2:23). Tweedens, God het vir Adam en Eva gesê: “Wees vrugbaar en word baie en vul die aarde” (Genesis 1:28). Hy sou hulle tog sekerlik nie beveel om sy wet te verbreek en hulle dan daarvoor ter dood veroordeel nie! (1 Johannes 4:8). Derdens, Eva het vóór Adam van die vrug geëet en later vir haar man daarvan gegee (Genesis 3:6). Dit is duidelik dat die vrug nie geslagsomgang was nie.
’n Poging tot sedelike onafhanklikheid
Die boom van kennis was ’n letterlike boom. Maar dit het God se reg as Heerser verteenwoordig om te besluit wat goed en sleg vir sy menseskepping is. Om van die boom te eet, was dus nie net diefstal nie, oftewel om iets te neem wat aan God behoort nie, maar ook ’n vermetele poging om sedelike onafhanklikheid, die reg om self besluite te neem, te verkry. Let op dat Satan, nadat hy valslik vir Eva gesê het dat sy en haar man ‘sekerlik nie sal sterf’ as hulle van die vrug eet nie, toe beweer het: “Want God weet dat die dag as julle daarvan eet, julle oë sekerlik geopen sal word en julle sekerlik soos God sal word deur goed en kwaad te ken.”—Genesis 3:4, 5.
Toe hulle van die vrug geëet het, het Adam en Eva egter nie goddelike insig verkry in wat goed en kwaad is nie. Trouens, Eva het vir God gesê: “Die slang—hy het my bedrieg” (Genesis 3:13). Sy was nogtans bewus van God se bevel en het dit selfs vir die slang, Satan se mondstuk, herhaal (Openbaring 12:9). Haar daad was dus een van moedswillige ongehoorsaamheid (Genesis 3:1-3). Adam is egter nie bedrieg nie (1 Timoteus 2:14). In plaas van sy Skepper lojaal te gehoorsaam, het hy na sy vrou geluister en haar onafhanklike weg gevolg.—Genesis 3:6, 17.
Deur hulle onafhanklikheid te laat geld, het Adam en Eva onherstelbare skade aan hulle verhouding met Jehovah berokken en die gevolge van sonde oor hulleself gebring, wat selfs ’n uitwerking op hulle genetiese samestelling gehad het. Hulle het weliswaar honderde jare lank gelewe, maar op “die dag” wat hulle gesondig het, het hulle begin doodgaan, soos ’n tak wat van ’n boom afgekap is (Genesis 5:5). Daarbenewens het hulle vir die eerste keer bewus geword van ’n innerlike stryd. Hulle het naak gevoel en vir God probeer wegkruip (Genesis 3:7, 8). Hulle het ook skuldig, onseker en skaam gevoel. Hulle sonde het ’n onstuimigheid in hulle voortgebring, en hulle gewete het hulle van oortreding aangekla.
Om getrou aan homself en aan sy heilige standaarde te wees, het God Adam en Eva tereg die doodsvonnis opgelê en hulle uit die tuin van Eden gesit (Genesis 3:19, 23, 24). Hulle het dus die Paradys, geluk en die ewige lewe verloor, en sonde, lyding en die dood was die gevolg. Wat ’n tragiese verwikkeling vir die mensdom! Maar onmiddellik nadat God die egpaar gevonnis het, het hy belowe om al die skade ongedaan te maak wat hulle sonde tot gevolg gehad het, sonder om sy eie regverdige standaarde te verontagsaam.
Jehovah het hom voorgeneem om dit vir Adam en Eva se nakomelinge moontlik te maak om van die dodelike greep van sonde bevry te word. Hy het dit deur middel van Jesus Christus verwesenlik (Genesis 3:15; Matteus 20:28; Galasiërs 3:16). Deur hom sal God sonde en al die gevolge daarvan uit die weg ruim en die aarde in ’n wêreldwye paradys omskep, net soos hy hom dit aan die begin voorgeneem het.—Lukas 23:43; Johannes 3:16.
HET JY AL GEWONDER?
◼ Hoe weet ons dat die verbode vrug nie geslagsomgang was nie?—Genesis 1:28.
◼ Wat het dit beteken om van die verbode vrug te eet?—Genesis 3:4, 5.
◼ Watter reëling het God gemaak om die gevolge van sonde ongedaan te maak?—Matteus 20:28.
[Lokteks op bladsy 29]
Die verbode vrug was nie geslagsomgang nie
[Prent op bladsy 28, 29]
Eva wou soos God wees deur self te besluit wat goed en kwaad is