Van wanhoop tot geluk
SOOS VERTEL DEUR VICENTE GONZÁLEZ
Toe bure gehoor het dat ek myself vier keer geskiet het, maar nie doodgegaan het nie, het hulle my Superman begin noem. Maar ek was beslis nie ’n supermens nie. Laat ek verduidelik waarom ek selfmoord wou pleeg.
EK IS in 1951 in Guayaquil, Ecuador, gebore. My ouers het ’n tuiste vir hulle nege kinders op ’n plek by die see gemaak wat Die Indringings genoem is. Arm gesinne het onwettig in die gebied “ingedring” en huise met bamboesmure en sinkdakke daar gebou. Aangesien die huise op moddervlaktes en in wortelboommoerasse gebou is, het dit op houtpale gestaan. Ons het nie elektrisiteit gehad nie, moes op ’n koolstoof kook en het ’n kilometer in elke rigting gestap om drinkwater te gaan haal.
My ouer broers en susters het op ’n jong ouderdom sekulêr begin werk om die gesin se uitgawes te help dek. Toe ek 16 jaar oud was, het ek reeds die skool verlaat en as ’n boodskapper in ’n fabriek begin werk. Ek en my vriende het begin drink en het ons aan onsedelikheid skuldig gemaak. Wanneer my gewete my gepla het, het ek gaan bieg. Die priester het gewoonlik vir my gesê: “My seun, jy het goed gebieg”, en het my dan weggestuur sonder om enige geestelike hulp te bied. Ek het dus voortgegaan om dieselfde dinge te doen. Uiteindelik het hierdie kringloop, om te sondig en dan te bieg, doelloos begin lyk, en ek het opgehou om kerk toe te gaan. Omtrent dieselfde tyd het ek bewus geword van die maatskaplike onregte rondom my. Die meeste mense was arm en het gesukkel om ’n bestaan te maak, terwyl ’n minderheid ryk was en in weelde geleef het. Die lewe het nie sin gemaak nie. Ek het gevoel dat ek nie ’n toekoms of ’n doel in die lewe het nie.
Eendag het ek ontdek dat vier van my susters publikasies lees wat deur Jehovah se Getuies uitgegee is. Ek het dit ook begin lees. Een boek in die besonder het my aandag getrek, Die waarheid wat lei tot die ewige lewe. Dit het op ’n logiese manier lig gewerp op baie Bybelonderwerpe. Ek onthou nog dat ek vir myself gesê het: ‘Dít is die waarheid!’ Maar soos ek oor die volgende 15 jaar uitgevind het, was dit iets heeltemal anders om die waarheid uit te leef.
Toe ek 22 was, het ek by ’n bank begin werk. Eendag het ’n kollega vir my gewys hoe hy in die geheim geld van die bank “geleen” het en die “lening” later terugbetaal het. Ek het ook “lenings” aan myself begin maak totdat ek soveel geneem het dat ek my misdaad nie meer kon wegsteek nie. Ek het baie mismoedig geraak omdat ek gevoel het dat ek nooit die geld sou kon terugbetaal nie. Daarom het ek besluit om skuld te erken en dan, as ’n uiterste vorm van boetedoening, my lewe te neem.
Nadat ek ’n brief aan die bank geskryf het, het ek ’n kleinkaliberpistool gekoop, na ’n afgeleë deel van die strand gegaan en myself twee keer in die kop en twee keer in die bors geskiet. Hoewel ek ernstig beseer was, het ek nie doodgegaan nie. ’n Fietsryer het my gevind en gou gereël om my by ’n hospitaal te kry. Nadat ek herstel het, is ek weens diefstal verhoor en tronk toe gestuur. Toe ek vrygelaat is, het ek skaam en terneergedruk gevoel omdat ek nou ’n kriminele rekord gehad het. Omdat ek vier skote oorleef het, het bure my Superman begin noem.
’n Geleentheid om te verander
Omstreeks hierdie tyd het Paul Sánchez, ’n sendeling van Jehovah se Getuies, my besoek. Sy groot glimlag was die eerste ding wat ek opgemerk het. Paul was so ’n gelukkige, positiewe mens dat ek sy uitnodiging om ’n persoonlike Bybelstudie te hê, aanvaar het. ‘Miskien kan hy my help om geluk en ’n doel in die lewe te vind’, het ek gedink.
Met Paul se hulp het ek geleer dat God ’n voorneme met die mens het en dat dié wat Hom liefhet en gehoorsaam, eendag op ’n paradysaarde sal woon (Psalm 37:29). Ek het ook geleer dat ongeregtigheid en armoede nie God se skuld is nie, maar dat dit ’n gevolg van die mensdom se opstand teen God is (Deuteronomium 32:4, 5). Hierdie waarhede was soos ’n lig in my lewe. Dit was egter veel moeiliker om my persoonlikheid te verander as om die Bybel te bestudeer.
Ek het ’n kantoorwerk gekry wat vereis het dat ek met maatskappyfondse werk. Weer eens het ek voor die versoeking geswig en begin steel. Toe ek nie meer my diefstal kon wegsteek nie, het ek vir omtrent ’n jaar na ’n ander stad in Ecuador gevlug. Ek het die land probeer verlaat, maar ek kon dit nie regkry nie, en daarom het ek teruggegaan huis toe.
Paul het my weer gevind, en ons het ons studie hervat. Hierdie keer het ek my voorgeneem om Bybelbeginsels in my lewe toe te pas en Jehovah te dien. Daarom het ek Paul vertel van my vorige oneerlikheid, en hy was baie reguit met die raad wat hy my gegee het. Hy het my na Bybelverse verwys soos Efesiërs 4:28, wat sê: “Laat die steler nie meer steel nie, maar laat hom liewer hard werk.” Ek het besef dat ek met die waarheid moes uitkom en die gevolge moes dra.
Terwyl ek oor my situasie nagedink het, het ek vir myself begin werk as ’n kunstenaar. Eendag het ’n man na my ateljee toe gekom en gesê dat hy in ’n skildery belangstel. Maar hy was ’n speurder en het ’n lasbrief vir my inhegtenisneming gehad. Ek het dus weer eens voor die hof verskyn en in die tronk beland. Paul het my besoek, en ek het hom belowe: “Jy sal nie spyt wees oor die moeite wat jy doen om my te help om die Bybel te verstaan nie.” Terwyl ek in die tronk was, het ons my studie voortgesit.
Ek het my opregtheid bewys
Toe ek vrygelaat is, het ek my voorgeneem om Jehovah met my hele hart te dien, en oor die volgende twee jaar het ek my opregtheid bewys. In 1988 is ek as een van Jehovah se Getuies gedoop. Omdat ek graag iets wou doen om te vergoed vir die tyd wat ek vermors het, het ek die voltydse diens betree as ’n pionierbedienaar en ’n spesiale poging aangewend om lede van jeugbendes te bereik.
Een bende het dikwels graffiti op ons Koninkryksaal geskryf. Omdat ek die lede geken het en geweet het waar hulle woon, het ek hulle besoek, die doel van die Koninkryksaal aan hulle verduidelik en hulle vriendelik gevra om ons eiendom te respekteer. Ons het daarna nie weer ’n probleem met graffiti gehad nie.
Later, terwyl ons die saal opgeknap en ou verf afgekrap het, het ’n jong Getuie met die naam Fernando graffiti ontdek wat gesê het “Die padda” (La Rana, in Spaans). “Dit was ek!” het hy uitgeroep. Fernando het as ’n bendelid sy bynaam op die gebou geverf. Nou het hy dit verwyder!
Toe ek Fernando vir die eerste keer gesien het, was hy onder die invloed van dwelms. Sy ma het hom na twee rehabilitasiesentrums gestuur, maar dit het nie gehelp nie. Daarom het sy moed opgegee met hom, weggetrek en hom alleen in die huis agtergelaat. Fernando het alles van waarde verkoop—selfs die deure, vensters en die huis se dak—om vir sy dwelmgewoonte te betaal. Ek het hom eendag op straat genader, vir hom ’n koeldrank gegee en hom ’n Bybelstudie aangebied. Hy het dit aanvaar en tot my groot vreugde gunstig op die waarheid gereageer. Hy het die bende verlaat, met sy dwelmgewoonte gebreek, Christelike vergaderinge begin bywoon en is kort voor lank gedoop.
Wanneer ek en Fernando saam van deur tot deur getuig het, het mense ons dikwels herken en uitgeroep “Die padda!” of “Superman!” en ons gevra wat ons doen. Hulle was verbaas om te sien dat ’n gewese bendelid en ’n voormalige dief hulle met die Bybel in die hand besoek.
By een geleentheid het ek vir ’n man getuig terwyl Fernando met een van die man se bure gepraat het. Die man het na Fernando gewys en vir my gesê: “Sien jy daardie ou? Hy het eenkeer ’n vuurwapen teen my kop gehou.” Ek het hom verseker dat Fernando sy ou weë agtergelaat het en nou in harmonie met Bybelbeginsels leef. Trouens, toe Fernando klaar was, het ek hom nader geroep en hom voorgestel. “Jong man”, het die huisbewoner gesê, “ek wil jou prys vir die veranderinge wat jy in jou lewe gemaak het.”
Ek kan nie onthou hoeveel keer mense iets soortgelyks vir my en Fernando gesê het nie. Sulke kommentare baan die weg vir ’n goeie getuienis wat al tot ’n aantal Bybelstudies gelei het. Ja, ek en Fernando voel albei geëerd om as Jehovah se Getuies geïdentifiseer te word.
’n Mylpaal in my lewe
In 2001, toe ek 50 jaar oud geword het, was ek aangenaam verras toe ek ’n uitnodiging ontvang het na ’n klas van die Bedieningsopleidingskool in Peru. Hierdie skool bied bekwame Getuies agt weke van indiepte- geestelike onderrigting om hulle in hulle bediening te help.
Ek het elke aspek van die skool geniet, behalwe een—om toesprake te hou, wat vir my skrikaanjaend was. Baie van die jonger studente het uitstekende toesprake gehou, en dit het gelyk of hulle baie selfvertroue het. Maar toe ek op die verhoog moes gaan om my eerste toespraak te hou, het minderwaardigheidsgevoelens wat my sedert my kinderdae geteister het, teruggekeer. My knieë het lam geraak, my klam hande het geskud en my stem het gebewe. Jehovah het my egter ondersteun deur middel van liefdevolle broers en sy heilige gees. Een van die instrukteurs het selfs persoonlike belangstelling in my getoon en my ná skool gehelp om my toesprake voor te berei. Bowenal het hy my geleer om op Jehovah te vertrou. Teen die einde van die kursus het ek dit vir die eerste keer in my lewe werklik geniet om ’n gehoor toe te spreek.
My vertroue is grootliks beproef tydens ’n streekbyeenkoms van Jehovah se Getuies in Guayaquil. Ek het voor 25 000 mense vertel hoe ek ’n Getuie geword het. Maar terwyl ek gepraat het, is ek oorweldig deur die voorreg om so baie mense aan te moedig, en my stem het begin bewe. Later het een van die byeenkomsgangers na my toe gekom en gesê: “Broer González, toe jy jou ondervinding vertel het, het almal in die gehoor trane in hulle oë gehad.” Wat ek meer as enigiets anders wou hê, was dat my verhaal ’n bron van aanmoediging moet wees vir dié wat sukkel om hulle ou weë te verander.
Ek dien nou as ’n ouer man en ’n gewone pionier en het die vreugde gehad om 16 mense te help om tot ’n juiste kennis van Bybelwaarheid te kom. Ek is verheug dat my ouers en vier van my susters ook hulle lewens aan Jehovah toegewy het. My ma het in 2001 getrou aan God gesterf. Ek kan Jehovah nie genoeg bedank dat hy my toegelaat het om hom te leer ken nie, en ek weet van geen beter manier om my dankbaarheid te betoon as om ander te nooi om ook nader aan hom te kom nie.—Jakobus 4:8.
[Prent op bladsy 12]
Fernando, “Die padda”, ’n voormalige bendelid wat ek gehelp het
[Prent op bladsy 12]
Paul Sánchez, die sendeling wat die Bybel met my gestudeer het
[Prent op bladsy 13]
Vicente González vandag