Wat is die heel kosbaarste vloeistof?
“Bloed is net so belangrik vir gesondheidsorg as wat olie vir die vervoerwese is.”—Arthur Caplan, die hoof van die sentrum vir die bio-etiek by die Universiteit van Pennsilvanië.
OLIE. Is dit die kosbaarste vloeistof? Baie mense dink dalk so omdat brandstofpryse deesdae dikwels die hoogte inskiet. Maar in werklikheid dra elkeen van ons ’n paar liter vloeistof rond wat baie waardevoller is. Dink daaraan: Terwyl miljarde vate olie elke jaar uit die aarde gehaal word om in die mensdom se behoefte aan brandstof te voorsien, word omtrent 90 miljoen eenhede bloed van mense afgetap in die hoop om siekes te help.a Hierdie ongelooflike syfer verteenwoordig die bloedvolume van ongeveer 8 000- 000 mense.
Tog lyk dit of daar, net soos met olie, nie genoeg bloed is nie. Mediese gemeenskappe regoor die wêreld waarsku teen tekorte aan bloed. (Sien die venster “Desperate maatreëls”.) Wat maak bloed so kosbaar?
’n Unieke orgaan
Omdat bloed so ongelooflik kompleks is, word dit dikwels met ’n liggaamsorgaan vergelyk. “Bloed is een van baie organe—uiters wonderlik en uniek”, het dr. Bruce Lenes aan Ontwaak! gesê. Dit is inderdaad uniek! Een handboek beskryf bloed as “die enigste orgaan in die liggaam wat ’n vloeistof is”. Dieselfde naslaanwerk noem bloed “’n lewende vervoerstelsel”. Wat beteken dit?
“Die bloedsomloopstelsel is soos die kanale van Venesië”, sê die wetenskaplike N. Leigh Anderson. Hy sê verder: “Dit vervoer al die goeie dinge, en dit vervoer ook baie gemors.” Terwyl bloed deur ons 100 000 kilometer lange bloedsomloopstelsel vloei, kom dit in aanraking met amper al die weefsel in ons liggaam, insluitende die hart, niere, lewer en longe—noodsaaklike organe wat bloed verwerk en daarvan afhanklik is.
Bloed bring talle “goeie dinge” na die selle in jou liggaam, soos suurstof, voedingstowwe en verdedigingsmiddele, maar dit verwyder ook “gemors”, soos giftige koolstofdioksied, die inhoud van beskadigde en sterwende selle, asook ander afvalstowwe. Die rol wat bloed speel in die verwydering van afvalstowwe, help om te verklaar waarom dit gevaarlik kan wees om in aanraking te kom met bloed nadat dit die liggaam verlaat het. En niemand kan ooit waarborg dat al die “gemors” in bloed geïdentifiseer en verwyder is voordat dit vir iemand anders gegee word nie.
Bloed verrig ongetwyfeld lewensnoodsaaklike funksies. Daarom het dit in die mediese gemeenskap gebruiklik geword om vir pasiënte wat bloed verloor het, bloedoortappings te gee. Baie dokters sal sê dat dit hierdie geneeskundige gebruik is wat bloed so kosbaar maak. Maar dinge is aan die verander in die mediese veld. In sekere sin is ’n stille omwenteling besig om plaas te vind. Baie dokters en chirurge is nie meer so gretig om bloedoortappings te gee soos in die verlede nie. Waarom nie?
[Voetnoot]
a Elke eenheid bevat 450 milliliter bloed.
[Venster/Prent op bladsy 4]
Desperate maatreëls
Mediese deskundiges skat dat daar elke jaar ’n verdere 200 miljoen eenhede geskenkte bloed wêreldwyd benodig word. Die bevolking van ontwikkelende lande verteenwoordig 82 persent van die mense op aarde, en tog kom minder as 40 persent van alle geskenkte bloed uit hierdie gebiede. Baie hospitale in hierdie lande kom sonder bloed klaar. The Nation, ’n koerant in Kenia, berig: ‘Elke dag word amper die helfte van die operasies wat ’n bloedoortapping vereis, gekanselleer of uitgestel weens ’n tekort aan bloed.’
Tekorte aan bloed is ook algemeen in ryk lande. Namate bevolkings ouer geword en mediese tegnieke verbeter het, het operasies toegeneem. Daarbenewens word al hoe meer bloedskenkers deesdae afgewys weens hulle hoërisiko-lewenstyl of omdat hulle na plekke gereis het waar hulle dalk aan siektes of parasiete blootgestel is.
Dit lyk of daar ’n atmosfeer van desperaatheid onder diegene is wat verantwoordelik is om bloed te berg. Jongmense, wat gewoonlik ’n minder gevaarlike lewenstyl het, is soms ’n teikengroep omdat hulle as ’n veilige bron van bloed beskou word. Skoolkinders voorsien byvoorbeeld op die oomblik 70 persent van die bloed in Zimbabwe. Bloedinsamelingsentrums bly langer oop, en in party lande word hulle selfs toegelaat om vergoeding aan te bied om skenkers te werf en te behou. Gedurende ’n veldtog in die Tsjeggiese Republiek is mense genooi om hulle dors met liters bier te les in ruil vir hulle bloed! In een deel van Indië het die owerheid onlangs van deur tot deur gegaan op soek na skenkers wat dalk gewillig sou wees om ’n uitgeputte bloedvoorraad te help aanvul.