Oortappingsgeneeskunde—Het dit ’n toekoms?
“Oortappingsgeneeskunde sal nog altyd maar soos ’n wandeling deur ’n tropiese reënwoud wees, waar jy die bekende paadjies duidelik kan sien, maar jy nogtans op jou hoede moet wees en nuwe en verskuilde gevare nog steeds om die volgende draai kan wag om dié te vang wat nie versigtig is nie.”—Ian M. Franklin, professor van oortappingsgeneeskunde.
NADAT die wêreldwye vigs-epidemie in die 1980’s die aandag op bloed gevestig het, is pogings verskerp om die “verskuilde gevare” daarvan uit die weg te ruim. Maar daar is nog steeds groot struikelblokke. In Junie 2005 het die Wêreldgesondheidsorganisasie erken: “Die kans om ’n veilige oortapping te kry . . . , verskil grootliks van land tot land.” Waarom?
In baie lande is daar nie gekoördineerde programme op nasionale vlak om veiligheidstandaarde vir die insameling, toetsing en vervoer van bloed en bloedprodukte te verseker nie. Soms is selfs die manier waarop bloedvoorraad geberg word, gevaarlik—in huishoudelike yskaste wat nie behoorlik in stand gehou word nie, en in koelhouers! Sonder vasgestelde veiligheidstandaarde kan dit pasiënte skaad as hulle bloed ontvang wat van iemand verkry is wat honderde—dalk selfs duisende—kilometers daarvandaan woon.
Siektevrye bloed—’n ontwykende doelwit
Party lande beweer dat hulle bloedvoorraad nog nooit so veilig was nie. Maar daar is nog steeds redes om versigtig te wees. ’n Inligtingsblad wat gesamentlik voorberei is deur drie Amerikaanse bloedagentskappe, sê op die eerste bladsy: “WAARSKUWING: Aangesien heelbloed en bloedkomponente van mensebloed afkomstig is, is daar ’n risiko dat dit moontlik besmetlike agense, byvoorbeeld virusse, kan oordra. . . . Die nougesette keuring van skenkers en beskikbare laboratoriumtoetse skakel nie die gevaar uit nie.”
Peter Carolan, die senior beampte van die Internasionale Federasie van Rooikruis-en-rooihalfmaanverenigings, sê tereg: “Daar kan nooit heeltemal gewaarborg word dat die bloedvoorraad veilig is nie.” Hy voeg by: “Daar sal altyd nuwe infeksies wees waarvoor daar op daardie oomblik nie getoets kan word nie.”
Sê nou ’n nuwe besmetlike agens verskyn—een wat, soos vigs, lank nie in die draer opgespoor kan word nie en maklik deur bloed oorgedra word? In April 2005 het dr. Harvey G. Klein van die Amerikaanse Nasionale Gesondheidsinstitute in ’n toespraak by ’n mediese konferensie in Praag, Tsjeggiese Republiek, dit ’n sorgwekkende moontlikheid genoem. Hy het bygevoeg: “Diegene wat bloedkomponente insamel, sal nouliks beter voorbereid wees om ’n epidemie te voorkom wat deur bloedoortappings oorgedra word, as wat hulle gedurende die vroeë dae van vigs was.”
Foute en oortappingsreaksies
Wat is die grootste oortappingsverwante gevare vir pasiënte in ontwikkelde lande? Foute en immuunreaksies. Die koerant Globe and Mail het aangaande ’n Kanadese studie wat in 2001 gedoen is, berig dat duisende bloedoortappings amper noodlottig was omdat “bloedmonsters van die verkeerde pasiënt verkry is, monsters verkeerd gemerk is en bloed vir die verkeerde pasiënt aangevra is”. Sulke foute het tussen 1995 en 2001 ten minste 441 lewens in die Verenigde State geëis.
Iemand wat ’n ander persoon se bloed ontvang, loop min of meer dieselfde risiko’s as mense wat ’n orgaanoorplanting ondergaan. Immuunreaksies is geneig om vreemde weefsel te verwerp. In sekere gevalle kan bloedoortappings die aktivering van die natuurlike immuunreaksies verhinder. Hierdie onderdrukking van die immuunstelsel maak die pasiënt vatbaar vir naoperatiewe infeksies en virusse wat voorheen onaktief was. Dit is geen wonder nie dat professor Ian M. Franklin, wat aan die begin van die artikel aangehaal is, klinici aanmoedig: “Dink een, twee en drie keer voordat julle oortappings aan pasiënte gee.”
Deskundiges aan die woord
Met hierdie kennis tot hulle beskikking kyk ’n toenemende aantal gesondheidswerkers met kritieser oë na oortappingsgeneeskunde. Die naslaanwerk Dailey’s Notes on Blood sê: “Party geneeshere hou vol dat allogeneïese bloed [bloed van ’n ander persoon] ’n gevaarlike geneesmiddel is en dat die gebruik daarvan verbied sou word as dit aan dieselfde standaarde as ander geneesmiddels moes voldoen.”
Laat in 2004 het professor Bruce Spiess die volgende gesê aangaande die oortapping van ’n primêre bloedkomponent in pasiënte wat ’n hartoperasie ondergaan: “Daar is geen of min [mediese] artikels wat die idee ondersteun dat oortappings die uitslag vir die pasiënt verbeter.” Trouens, hy skryf dat baie van hierdie oortappings “dalk meer kwaad as goed doen in feitlik elke geval buiten trauma” en dat dit “die risiko van longontsteking, infeksies, hartaanvalle en beroertes” vergroot.
Baie is verbaas om uit te vind dat die standaarde om bloed toe te dien nie naastenby so eenvormig is as wat hulle gedink het nie. Dr. Gabriel Pedraza het sy kollegas in Chili onlangs daaraan herinner dat “’n oortapping ’n swak omskrewe prosedure is”, een wat dit “moeilik [maak] om . . . algemeen aanvaarde riglyne te volg”. Dit is geen wonder nie dat Brian McClelland, die direkteur van Edinburg en Skotland se Bloedoortappingsdiens, dokters gevra het om te “onthou dat ’n oortapping ’n oorplanting is en dus nie ’n besluit is wat hulle ligtelik moet opneem nie”. Hy stel voor dat dokters oor die volgende vraag dink: “Sou ek tot die oortapping instem as dit ek of my kind was?”
Om die waarheid te sê, heelwat gesondheidswerkers het ’n soortgelyke gevoel uitgespreek as een hematoloog, wat aan Ontwaak! gesê het: “Spesialiste in oortappingsgeneeskunde, soos ek, hou nie daarvan om bloed te ontvang of toe te dien nie.” As goed opgeleide mense in die mediese gemeenskap so voel, hoe moet pasiënte daaroor voel?
Sal die geneeskunde verander?
‘As oortappingsgeneeskunde soveel gevare inhou’, wonder jy dalk, ‘waarom word bloed nog so baie gebruik, veral aangesien daar alternatiewe is?’ Een rede is dat baie dokters eenvoudig nie behandelingsmetodes wil verander nie of onbewus is van terapieë wat tans as alternatiewe vir oortappings gebruik word. Volgens ’n artikel in die tydskrif Transfusion “neem geneeshere besluite oor oortappings op grond van vorige opleiding, kultuuroordrag en ‘kliniese oordeel’”.
’n Chirurg se vaardighede maak ook ’n verskil. Dr. Beverley Hunt, van Londen, Engeland, skryf dat “bloedverlies [tydens operasies] grootliks van chirurg tot chirurg verskil, en daar is toenemende belangstelling om chirurge op te lei in voldoende chirurgiese hemostase [metodes om bloeding te stop]”. Ander beweer dat alternatiewe vir oortappings te duur is, hoewel verslae in onlangse tye verskyn het wat die teendeel bewys. Nogtans sal baie dokters saamstem met die mediese direkteur dr. Michael Rose, wat sê: “Enige pasiënt wat bloedlose geneeskunde ontvang, ontvang in werklikheid chirurgie van die hoogste gehalte moontlik.”a
Mediese sorg van die hoogste gehalte—is dit nie wat jy wil hê nie? Indien wel, het jy iets in gemeen met die mense wat hierdie tydskrif vir jou gebring het. Lees gerus verder om meer uit te vind oor hulle merkwaardige standpunt ten opsigte van bloedoortappings.
[Voetnoot]
a Sien die venster “Alternatiewe vir bloedoortappings”, op bladsy 8.
[Lokteks op bladsy 6]
“Dink een, twee en drie keer voordat julle oortappings aan pasiënte gee.”—Professor Ian M. Franklin
[Lokteks op bladsy 6]
“Sou ek tot die oortapping instem as dit ek of my kind was?”—Brian McClelland
[Venster/Prent op bladsy 7]
Sterftes weens TRALI
Oortappingsverwante akute longbeserings (TRALI), wat vir die eerste keer in die vroeë 1990’s gerapporteer is, is ’n lewensgevaarlike immuunreaksie ná ’n bloedoortapping. Dit is nou bekend dat TRALI elke jaar honderde lewens eis. Maar deskundiges vermoed dat die getal veel hoër is omdat baie gesondheidswerkers nie die simptome herken nie. Hoewel dit nie duidelik is wat die oorsaak van die reaksie is nie, lyk dit, volgens die tydskrif New Scientist, of die bloed wat dit veroorsaak, “hoofsaaklik afkomstig is van mense wat in die verlede aan ’n verskeidenheid bloedgroepe blootgestel is, soos . . . mense wat al meer as een oortapping ontvang het”. Een verslag sê dat TRALI nou amper boaan die lys is van oorsake van oortappingsverwante sterftes in die Verenigde State en Brittanje, wat dit “’n groter probleem vir bloedbanke maak as welbekende siektes soos MIV”.
[Venster/Diagram op bladsy 8, 9]
Die samestelling van BLOED
Bloedskenkers gee gewoonlik heelbloed. Maar in baie gevalle skenk hulle plasma. Hoewel heelbloedoortappings in party lande toegedien word, word bloed meer dikwels in sy primêre komponente verdeel voordat dit getoets en in oortappingsgeneeskunde gebruik word. Let op na die vier primêre komponente, hulle funksie en hoeveel persent van die totale bloedvolume elkeen uitmaak.
PLASMA maak tussen 52 en 62 persent van heelbloed uit. Dit is ’n strooikleurige vloeistof waarin bloedselle, proteïene en ander stowwe gesuspendeer is en vervoer word.
Water maak 91,5 persent van plasma uit. Proteïene, waaruit plasmafraksies verkry word, maak 7 persent van die plasma uit (insluitende albumien, wat omtrent 4 persent van die plasma uitmaak; globuliene, omtrent 3 persent; en fibrinogeen, minder as 1 persent). Die oorblywende 1,5 persent van die plasma bestaan uit ander stowwe, soos voedingstowwe, hormone, asemhalingsgasse, elektroliete, vitamiene en stikstofhoudende afvalstowwe.
WITBLOEDSELLE (leukosiete) maak minder as 1 persent van heelbloed uit. Dit val potensieel skadelike indringer-organismes aan en vernietig hulle.
BLOEDPLAATJIES (trombosiete) maak minder as 1 persent van heelbloed uit. Dit vorm klonte, wat bloedverlies uit wonde keer.
ROOIBLOED- SELLE (eritrosiete) maak tussen 38 en 48 persent van heelbloed uit. Hierdie selle hou weefsel aan die lewe deur dit van suurstof te voorsien en koolstofdioksied weg te dra.
Net soos bloedplasma ’n bron van verskeie fraksies kan wees, kan ander primêre komponente verwerk word om kleiner dele, of fraksies, te isoleer. Hemoglobien is byvoorbeeld ’n fraksie van die rooibloedsel.
[Diagram]
PLASMA
WATER 91,5%
PROTEÏENE 7%
ALBUMIENE
GLOBULIENE
FIBRINOGEEN
ANDER STOWWE 1,5%
VOEDINGSTOWWE
HORMONE
ASEMHALINGSGASSE
ELEKTROLIETE
VITAMIENE
STIKSTOFHOUDENDE AFVALSTOWWE
[Erkenning]
Bladsy 9: Bloedkomponente in sirkels: Hierdie projek is in sy geheel of gedeeltelik gefinansier deur staatsfondse van die Nasionale Kankerinstituut, Nasionale Gesondheidsinstitute, op kontrak N01-CO-12400. Die inhoud van hierdie publikasie weerspieël nie noodwendig die beskouings of beleide van die Departement van Gesondheid en Menslike Dienste nie, en verwysings na handelsname, kommersiële produkte of organisasies beteken nie dat dit deur die Amerikaanse regering ondersteun word nie.
[Venster/Prent op bladsy 8, 9]
Alternatiewe vir bloedoortappings
Oor die afgelope ses jaar het Hospitaalskakelkomitees van Jehovah se Getuies oor die hele wêreld tienduisende eksemplare van die videoprogram Transfusion-Alternative Strategies—Simple, Safe, Effective in omtrent 25 tale onder mense in die mediese gemeenskap versprei.b In die program bespreek wêreldbekende geneeshere effektiewe strategieë wat tans gebruik word om pasiënte sonder bloedoortappings te behandel. Mense neem kennis daarvan. Nadat die Nasionale Bloeddiens (NBS) in die Verenigde Koninkryk byvoorbeeld laat in 2001 die program gesien het, het hulle ’n brief en ’n eksemplaar van hierdie video aan alle bloedbankbestuurders en konsulterende hematoloë regoor die land gestuur. Hulle is aangemoedig om na die program te kyk weens “toenemende erkenning dat dit een van die doelwitte van goeie kliniese sorg is om, waar moontlik, ’n bloedoortapping te vermy”. Die brief het erken dat “die algemene boodskap [in die video] prysenswaardig is en dat die NBS dit sterk ondersteun”.
[Voetnoot]
b Tree gerus in verbinding met een van Jehovah se Getuies om die videoprogram Transfusion Alternatives—Documentary Series te sien wat deur Jehovah se Getuies uitgegee word.
[Venster/Prent op bladsy 9]
Fraksionering—Die gebruik van bloed se kleiner bestanddele in die geneeskunde
Die wetenskap en tegnologie maak dit moontlik om elemente van bloed te identifiseer en te isoleer deur ’n proses wat fraksionering genoem word. Ter toeligting: Seewater, wat bestaan uit 96,5 persent water, kan deur fraksioneringsprosesse verdeel word om die oorblywende stowwe daarin, soos magnesium, broom en natuurlik sout, op te vang. Bloedplasma, wat meer as die helfte van die volume van heelbloed uitmaak, bestaan ook uit meer as 90 persent water en kan verwerk word om fraksies te oes, insluitende proteïene, soos albumien, fibrinogeen en verskeie globuliene.
’n Dokter sal dalk gekonsentreerde hoeveelhede van ’n plasmafraksie aanbeveel as deel van ’n behandeling of terapie. ’n Voorbeeld hiervan is proteïenryke kriopresipitaat, wat verkry word deur plasma te vries en dan te ontdooi. Hierdie onoplosbare deel van plasma is ryk aan stollingsfaktore en word gewoonlik vir pasiënte gegee om bloeding te stop. Ander behandelings behels dalk ’n produk wat ’n bloedfraksie bevat, hetsy in uiters klein hoeveelhede of as ’n primêre bestanddeel.c Party plasmaproteïene word gebruik in roetine-inspuitings wat kan help om immuniteit te versterk ná blootstelling aan besmetlike agense. Byna al die bloedfraksies wat vir mediese doeleindes gebruik word, bestaan uit proteïene wat van bloedplasma afkomstig is.
Volgens Science News “het wetenskaplikes nog net ’n paar honderd van die geskatte duisende proteïene geïdentifiseer wat gewoonlik deur ’n mens se bloedstroom vloei”. Namate bloed in die toekoms beter verstaan word, sal nuwe produkte wat van hierdie proteïene gemaak word, dalk beskikbaar word.
[Voetnoot]
c Fraksies van dierebloed word ook in party produkte gebruik.
[Prent op bladsy 6, 7]
Party gesondheidswerkers is baie versigtig om nie in aanraking met bloed te kom nie