Jongmense vra . . .
Hoe kan ek diegene help wat hulp nodig het?
“Ek hoop dat ek werk as ’n elektrisiën sal kry wanneer ek klaar is met skool. Ek wil graag help om Koninkryksale te bou.”—Tristan, 14.
“Ek wil graag 20 dollar [R120] bydra vir die nuwe drukpers. Dis my sakgeld, maar ek wil dit vir julle gee.”—Abby, 9.
IN ’N tyd waarin party vinnig is om te sê dat jongmense net in hulleself belangstel, is daar baie jongmense—onder meer dié wat hierbo aangehaal word—wat toon dat hulle net die teenoorgestelde is. Onder Jehovah se Getuies is daar talle jong mans en vroue wat hulle tyd, energie en middele gebruik om ander te dien (Psalm 110:3). Kyk na ’n paar ander voorbeelde.
Die sewejarige Jirah van Australië het kort ná sy ouma se dood ’n geskenk van R225 van sy oupa ontvang. Wat het Jirah met die geld gemaak? By die volgende gemeentelike vergadering het hy die hele bedrag in die bydraebussie gegooi. Waarom? “Ek het genoeg speelgoed, maar ek het net een ouma gehad”, het Jirah aan sy ma verduidelik. “Ek weet my ouma sou wou hê dat ek hierdie geld as ’n bydrae moet gee, want sy was baie lief vir Jehovah.”
Die vyfjarige Hannah van die Verenigde State is baie lief vir perde. Sy wou ’n speelgoedperd koop wat R450 gekos het. In ’n poging om haar te leer om te spaar, het Hannah se ouers haar van tyd tot tyd geld gegee om in ’n spaarvarkie te sit. Nie lank daarna nie het Hannah meer as genoeg geld gehad om die perd te koop.
Maar ongeveer daardie tyd het die orkaan Katrina verwoesting op die Golfkus aangerig. Hannah was besorg oor die slagoffers en daarom het sy besluit om al haar spaargeld—meer as R600—by te dra om hulle te help. Hannah het na die hoofkwartier van Jehovah se Getuies geskryf: “Ek wil hierdie geld vir julle gee, want ek is lief vir Jehovah en ek wil graag help.” Sien Jehovah sulke dade van vrygewigheid raak? Die Bybel sê: “Moet . . . nie vergeet om goed te doen en mededeelsaam te wees nie, want sulke offerandes is vir God welbehaaglik.”—Hebreërs 13:16.
’n Jong meisie met die naam Tiffany, ook van die Verenigde State, het na die hoofkwartier van Jehovah se Getuies geskryf nadat twee orkane Florida in 2004 getref het. “Ek en my boetie Timothy wil graag $110 [R670] bydra”, het sy geskryf. “Ons huis is nie te erg beskadig nie, maar ons het gesien wat die storms aan ander huise gedoen het. Ons wou help, en daarom het ons ons geld begin spaar. Timothy het $10 [R60] gekry toe hy gehelp het om pleisterbordmure in ’n huis uit te breek, en ek het $100 [R610] gespaar.” Tiffany is 13 jaar oud, en haar broer Timothy is maar net 7! Wat gebeur wanneer ons ander se belange voor ons eie stel? Spreuke 11:25 sê: “Wie ander ryklik verkwik, sal ook ryklik verkwik word.”
’n Groepie jong Getuies in die Verenigde State, tussen 4 en 15 jaar oud, het gehoor dat medegelowiges in Afrika Koninkryksale nodig het. Hulle het dus besluit om iets te doen. “Ons het by ’n werfverkoping koekies en muffins verkoop, en ons het $106,54 [R647,76] gemaak. Ons het vir die mense gesê dat die geld gebruik sal word vir vergaderplekke in Afrika waar mense van die Bybel kan leer. Baie het gunstig daarop gereageer. Dit het ons nege uur geneem, maar dit was die moeite werd—dit was vir Jehovah!”
Jy kan help
Die jongmense wie se ondervindinge hierbo verskyn, het die waarheid van Jesus se woorde geleer: “Dit verskaf groter geluk om te gee as om te ontvang” (Handelinge 20:35). Jy kan ook ontdek hoeveel vreugde dit verskaf om te gee. Hoe?
Het jy berigte gehoor van medegelowiges wat in nood verkeer? Was daar byvoorbeeld ’n natuurramp? Probeer jou indink hoe dit moet voel om jou huis en jou besittings te verloor of selfs ’n geliefde aan die dood af te staan. Die apostel Paulus het geskryf dat Christene “nie uit persoonlike belangstelling ’n oog op net [hulle] eie sake [moet] hou nie, maar ook uit persoonlike belangstelling op dié van die ander” (Filippense 2:4). Selfs al woon jy ver van waar ’n natuurramp plaasgevind het, kan jy dalk ’n bydrae maak om Jehovah se Getuies met hulle noodlenigingspogings te help.a
Daar is ander maniere waarop jy diegene kan help wat hulp nodig het. Byvoorbeeld, as jy een van Jehovah se Getuies is, kyk gerus in julle Koninkryksaal rond. Is daar enige bejaardes of ander wat hulp nodig het? Kan jy hulle met takies help? Die apostel Paulus het aan die Romeine geskryf: “In broederliefde moet julle tere geneentheid vir mekaar hê. Neem die leiding in eerbetoning aan mekaar” (Romeine 12:10). Wanneer jy sien dat daar ’n behoefte is, kan jy die inisiatief neem. Wees bereid om selfs nederige takies te doen. En onthou dat daar ’n noue verband is tussen diens aan ander en diens aan God. Die Bybel sê: “Hy wat aan die geringe guns betoon, leen aan Jehovah, en Hy sal hom vir sy handelswyse beloon.”—Spreuke 19:17.
Die beste manier waarop jy ander kan help, is natuurlik deur hulle te vertel wat jy van God se Woord, die Bybel, weet. Jesus het gesê: “Dít beteken die ewige lewe, dat hulle kennis inneem van u, die enigste ware God, en van die een wat u uitgestuur het, Jesus Christus” (Johannes 17:3). Mense moet nou, meer as ooit tevore, die lewegewende boodskap van die waarheid uit die Bybel hoor. Hou dus aan om ’n gereelde en ywerige deelname aan die predikingswerk te hê, vol vertroue dat jou “arbeid . . . nie tevergeefs is nie”.—1 Korintiërs 15:58.
Nog artikels uit die “Jongmense vra . . . ”-reeks kan gevind word op die webwerf www.watchtower.org/ypa
[Voetnoot]
a Bydraes vir ’n spesifieke noodlenigingspoging word baie waardeer. Dit is egter beter om sulke bydraes vir die wêreldwye werk van Jehovah se Getuies te maak, aangesien geld uit hierdie fonds geneem word wanneer dit nodig is.
IETS OM OOR TE DINK
◼ Kan jy aan iemand dink wat hulp nodig het?
◼ Wat kan jy doen om te help?
[Lokteks op bladsy 25]
“Moet . . . nie vergeet om goed te doen en mededeelsaam te wees nie, want sulke offerandes is vir God welbehaaglik.”—Hebreërs 13:16
[Venster/Prente op bladsy 24, 25]
WAAROM MOET JY LEER OM TE GEE?
“Ek het gesien hoe my ouers hulle tyd en energie gebruik om Jehovah en hulle naaste te dien, en dit het gemaak dat ek my lewe ook so wou lei. My pa het vir my gesê: ‘Wat jy ook al vir Jehovah doen, ongeag hoe klein dit is, bly vir ewig. Jehovah lewe vir ewig, en hy sal dit vir ewig onthou. Maar om net vir jouself te lewe, is nutteloos. Wanneer jy sterf, sterf dit wat jy gedoen het, saam met jou.’”—Kentaro, 24, Japan.
“Ek moet erken, die laaste ding wat ek op ’n Saterdagmiddag wou doen, was om bejaarde mense met takies in en om die huis te help. Ek wou net pret hê en saam met my vriende wees. Maar wanneer ek wel tyd saam met bejaardes deurgebring het, het ek dit eintlik geniet. Ek het hulle toe leer ken as mense soos ek, wat ook eens op ’n tyd jonk was. Dit het my gemotiveer om hulle te help.”—John, 27, Engeland.
“Toe ek jonger was, het ek gehelp om die Koninkryksaal skoon te maak en aan baie ander bedrywighede deelgeneem. Ek het dit ook geniet om fisiese werk vir ander in die gemeente te doen. Wanneer jy iemand help, sien jy hoe gelukkig dit hulle maak. Ek het byvoorbeeld eenkeer saam met ander gegaan om muurpapier in ’n bejaarde suster se woonstel op te plak. Sy was so bly daaroor! Wanneer jy iemand gelukkig maak, word jy ook gelukkig.”—Hermann, 23, Frankryk.
[Prent op bladsy 24]
Talle jongmense maak geldelike bydraes om rampslagoffers te help