Van ons lesers
Die strik van drankmisbruik—Hou dit vir jou gevaar in? (8 Oktober 2005) Ek het al baie keer briewe van lesers gelees wat gesê het: “Daardie artikel het op net die regte tyd gekom.” Ek het nooit verwag dat ek self so sou voel nie, maar dit is presies wat ek vir myself gesê het terwyl ek hierdie voorbladreeks gelees het. Ek was ’n ruk lank bekommerd oor my daaglikse alkoholinname, hoewel dit nie tot dronkenskap gelei het nie. Toe verskyn hierdie reeks. Nadat ek oor die gevare gelees het, het ek gevoel dat dit tyd is om my van hierdie probleem te bevry.
K. W., Duitsland
Hierdie reeks het die ondervinding van Hilario genoem, wat 30 jaar lank gedrink het en “baie terugslae” gehad het. Hy het gesê dat die gemeentelede “altyd daar [was] om my aan te moedig”. Maar moes hy nie tereggewys of selfs uit die Christengemeente gesit word nie?
R. L., Verenigde State
“Ontwaak!” antwoord: Die kort beskrywing van Hilario se ondervinding sê nie presies wanneer hy ’n gedoopte Christen geword het tydens sy 30 jaar lange stryd teen alkohol nie. Dit sê ook nie of hy ooit deur gemeentelike ouer manne tereggewys is nie. Die artikel sê wel dat Hilario “tydige Bybelraad” gegee is, wat soms tydens ’n regterlike saak gedoen word. Mense wat alkoholisme probeer oorkom, het soms terugslae, soos in Hilario se geval. Vir inligting oor hoe sulke gevalle hanteer word wanneer ’n gedoopte Christen betrokke is, sien asseblief “Die Wagtoring” van 15 Julie 1983, bladsye 8-11.
Jongmense vra . . . Waarom voel ek aangetrokke tot die verkeerde mense? (22 Julie 2005) Hierdie artikel het my gehelp om te sien dat ek nie besluiteloos kan wees wat my doelwitte betref nie. Dit het my finaal laat besluit om slegte omgang te vermy. Ek het nou hegte bande gesmee met baie in die gemeente, jonk en oud, wat my laat voel dat ek geliefd is onder diegene wat Jehovah liefhet en my aanmoedig om voort te gaan op die pad na die lewe.
M. D., Mexiko
Vasbeslote om my doelwit te bereik (22 Junie 2005) Terwyl ek Martha se ondervinding gelees het, het trane oor my wange gerol. Ek ly ook aan epilepsie. Ek is al die afgelope tien jaar ’n voltydse evangeliedienaar en by tye is dit moeilik—veral wanneer ek ’n aanval kry. Martha se verhaal het my meer vasbeslote gemaak om nie tou op te gooi nie. Dit het my baie bemoedig.
J. S., Pole
Ek worstel met dieselfde probleem as Martha. Nadat ek haar verhaal gelees het, het ek ook my dieet begin dophou. Meer as tien jaar lank het ek toegelaat dat epilepsie my daarvan weerhou om Jehovah in ’n voller mate te dien. Maar byna drie jaar gelede het ek besluit om ’n voltydse evangeliedienaar te word, en ek is glad nie spyt daaroor nie. Mag Jehovah julle seën omdat julle sulke aanmoedigende ondervindinge publiseer!
B.C.C., Brasilië
Wat my die meeste in hierdie artikel aangemoedig het, was die feit dat Martha nooit die stryd gewonne gegee het nie. Dit was bemoedigend dat sy, al moes sy haar diens onderbreek, ’n gebalanseerde gesindheid gehad het en vol vertroue was dat Jehovah met ons heelhartige diens tevrede is.
S. H., Japan
Ek het voor ’n soortgelyke situasie as Martha te staan gekom, en ek moet bewus wees van my beperkings. Soos Martha, dien ek as ’n voltydse evangeliedienaar. Haar verhaal was dus vir my baie aanmoedigend.
F. G., Switserland