Massavermaak in die eerste eeu
Tallose beserings en baie sterftes, insluitende dié van ’n paar kinders, is veroorsaak deur die onluste tussen mededingende sportgeesdriftiges van twee naburige stede in Suid-Italië. As gevolg van hierdie tragedie, het die owerheid gelas dat die amfiteater vir tien jaar gesluit word.
BERIGTE van sulke onluste is niks buitengewoons in vandag se koerante nie. Maar hierdie spesifieke voorval het amper 2 000 jaar gelede tydens die bewind van keiser Nero plaasgevind. Die Romeinse geskiedkundige Tacitus het hierdie onluste beskryf, wat tydens ’n gladiatorgeveg in die amfiteater van Pompeji plaasgevind het toe die Pompejane met sportgeesdriftiges van die naburige stad Nuceria gebots het.
In die eerste eeu het vermaak ’n stewige houvas op die massas gehad. In die belangrike stede van die Romeinse Ryk was daar teaters, amfiteaters en sirkusse, en party het al drie gehad. “Die spele”, sê Atlas of the Roman World, “het geweldige gevaar en opgewondenheid . . . [en] oorvloedige bloedvergieting behels.” Strydwadrywers het kleure gedra waaraan hulle maklik uitgeken kon word, en elke span het ’n sekere groep in die gemeenskap verteenwoordig, hetsy dit polities of maatskaplik was. Ondersteuners het rasend van opgewondenheid geraak wanneer hulle gunstelingspan verskyn het. Strydwadrywers het so gewild geword dat mense hulle huise met hulle portrette versier het, en die strydwadrywers is groot somme geld betaal.
Stede het bloedige gladiatorgevegte en gevegte tussen mense en diere gereël, waartydens die mense soms ongewapen was. Volgens die geskiedkundige Will Durant is “veroordeelde misdadigers, wat soms in velle geklee was om hulle soos diere te laat lyk, vir wilde diere gegooi wat vir die geleentheid uitgehonger is; die dood het in sulke gevalle met die grootste moontlike pyn gepaardgegaan”.
Diegene wat sulke goddelose vermaak geniet het, was waarlik “verstandelik in duisternis” en het “alle sedelikheidsgevoel verloor” (Efesiërs 4:17-19). In die tweede eeu het Tertullianus geskryf: “Onder [Christene] word niks ooit gesê of gesien of gehoor wat enigiets te doen het met die waansin van die sirkus, die onbeskeidenheid van die teater [en] die gruwels van die arena nie.” Vandag sorg ware Christene ook dat hulle blootstelling aan gewelddadige vermaak vermy, wat die medium ook al is—leesstof, televisie of rekenaarspeletjies—en hulle onthou dat Jehovah “elkeen wat geweld liefhet”, haat.—Psalm 11:5.
[[Prent op bladsy 30]
Mosaïek van ’n seëvierende strydwadrywer
[[Prent op bladsy 30]
Fresko van ’n man wat teen ’n leeuwyfie veg
[[Prent op bladsy 30]
Eerste-eeuse Romeinse teater
[Erkenning]
Ciudad de Mérida
[Foto-erkenning op bladsy 30]
Bo en links onder: Museo Nacional de Arte Romano, Mérida