Ontmoet die tuinier se vriend—die liewenheersbesie
DEUR ONTWAAK!-MEDEWERKER IN BRITTANJE
IN Afrikaans word hierdie klein, kleurvolle insek ’n liewenheersbesie of ’n skilpadbesie genoem. In Engels word dit ’n ladybirda genoem. Hoewel kewers nie almal se gunstelinginsek is nie, hou mense oor die algemeen van liewenheersbesies. Hulle fassineer kinders, en tuiniers en boere verwelkom hulle met ope arms. Wat maak hulle so gewild?
Waarom hulle gewild is
Die meeste spesies van hierdie vriendelike kewertjie eet graag plantluise (links), die klein sagte insekte wat skade in tuin- en landbougewasse aanrig. Party volwasse liewenheersbesies kan ’n paar duisend plantluise in hulle leeftyd opeet—en die kewer se larwes het ook ’n groot eetlus. Daarbenewens eet die kewer ook baie ander lastige insekte, en party hou selfs van skadelike plantswamme. Geen wonder tuiniers en boere verwelkom die liewenheersbesie nie!
In die laat 1800’s is Australiese dopluise per ongeluk van Australië af na Kalifornië, VSA, gebring. Die plaag het so vinnig versprei dat dit die sitrusboorde amper uitgeroei en die bedryf vernietig het. ’n Insektekundige wat geweet het dat hierdie dopluis nie ’n bedreiging vir gewasse in Australië was nie, het daarheen gegaan op soek na die insek se natuurlike vyand. Hy het uitgevind dat dit die vedalia, ’n liewenheersbesie, is. Omtrent 500 van hierdie kewers is na Kalifornië verskeep, en binne ’n jaar was die dopluise feitlik uitgeroei. So is die sitrusboorde gered.
’n Jaar in die lewe van ’n liewenheersbesie
Hierdie aantreklike kewertjie het ’n ronde of ovaal, koepelvormige liggaam en is plat aan die onderkant. Ten spyte van hulle onversadigbare eetlus is die meeste spesies liewenheersbesies korter as 12 millimeter. Harde, blink dekvlerke wat elitra genoem word, beskerm die delikate agtervlerke daaronder en gee die kewer sy kleurvolle patroon. Wanneer die insek vlieg, word die elitra oopgemaak en uit die pad uit gelig. Hoewel liewenheersbesies dikwels as ’n rooi insek met swart kolle uitgebeeld word, het die naastenby 5 000 spesies in werklikheid ’n verskeidenheid kombinasies van kleure en kolle. Party is oranje of geel met swart kolle. Ander is swart met rooi kolle. ’n Paar het nie eers kolle nie. Ander het weer blokkies- en strepiespatrone.
Baie spesies het ’n leeftyd van een jaar. Gedurende die winter hiberneer volwasse kewers in ’n droë, beskutte plek. Wanneer die dae warmer word, word hulle wakker en vlieg dan rond op soek na plante wat vol plantluise is. Na paring lê die wyfie ’n hopie klein, geel eiertjies (regs) aan die onderkant van ’n blaar naby ’n plantluiskolonie. Uit elke eier broei daar ’n sespotige larwe wat meer soos ’n gevaarlike krokodilletjie (links) lyk as soos ’n toekomstige liewenheersbesie. Aangesien die larwe die hele tyd plantluise eet, word hy gou te groot vir sy vel. Nadat hy etlike kere vervel het, heg hy hom aan ’n plant en word hy ’n papie. Binne-in die papie groei die larwe verder totdat dit as ’n volwasse kewer uiteindelik uit die papie klim. Eers is hy sag en bleek en bly hy op die plant terwyl sy liggaam verhard. In een dag verskyn sy kenmerkende patrone.
Vyande leer om die kleurvolle liewenheersbesie te vermy. Wanneer die kewer bedreig word, spuit hy ’n geel, stinkende vloeistof wat sleg smaak, uit sy gewrigte. Roofdiere, soos voëls of spinnekoppe, vergeet nooit hulle eerste onaangename ervaring nie, en die insek se helder kleur dien as ’n blywende herinnering.
’n Liewenheersbesie wat ’n probleem geword het
Een soort liewenheersbesie, wat eers as plaagbestryding gebruik is, is nou so te sê self ’n plaag. Die harlekynliewenheersbesie, wat ook die veelkleurige Asiatiese liewenheersbesie genoem word, is heeltemal onskadelik waar dit saam met ander spesies liewenheersbesies in sy natuurlike habitat in Noordoos-Asië voorkom. Omdat dit ’n buitengewone eetlus vir plantluise en ander plantplae het, is dit onlangs in Noord-Amerika en Europa ingevoer. Ongelukkig het dit inheemse liewenheersbesies bedreig deur al hulle kos te eet. Wat meer is, wanneer sy gunstelingkos opraak—en daar nie natuurlike vyande is om hom onder beheer te hou nie—begin die honger kewer plaaslike liewenheersbesies en ander nuttige insekte opeet. Insektekundiges is bekommerd oor die toekoms omdat hulle vrees dat party liewenheersbesies gaan uitsterf. Die harlekyn maak homself ook ongewild deur ryp vrugte te vreet wat gereed is om geoes te word, en deur huise in die herfs in groot getalle binne te dring om die winterkoue te ontvlug.
’n Paar ander spesies liewenheersbesies eet waardevolle gewasse in plaas van lastige insekte. Maar gelukkig is die oorgrote meerderheid van hulle die tuinier se vriend.
Verwelkom die liewenheersbesie
Hoe kan jy liewenheersbesies na jou tuin lok? Inheemse blomplante voorsien ’n aanloklike bron van stuifmeel en nektar. ’n Lappie onkruid en ’n vlak bak water sal hulle ook lok. Indien moontlik, moet jy nie chemiese plaagdoders gebruik nie. ’n Klompie dooie blare wat tydens die winter aan plante of op die grond gelos word, sal vir hulle ’n snoesige plekkie bied om in te hiberneer. Probeer om nie enige goggas of eiers wat jy in jou tuin vind, dood te maak of te beskadig nie. Jy wis dalk net die volgende geslag liewenheersbesies uit.
Onthou, net ’n paar van hierdie aantreklike insekte sal jou help om tuinplae onder beheer te hou sonder dat jy skadelike plaagdoders hoef te gebruik. As jy vir liewenheersbesies sorg, sal hulle jou daarvoor beloon. Hulle is net nog ’n voorbeeld van ons Skepper se wysheid, soos die psalmis erken het toe hy gesê het: “Hoe talryk is u werke, o Jehovah! U het hulle almal in wysheid gemaak. Die aarde is vol van wat u voortgebring het.”—Psalm 104:24.
[Voetnoot]
a “Ladybird” kom van “Our Lady’s Bird”, wat vernoem is na die Maagd Maria.
[Foto-erkennings op bladsy 16]
Bo: © Waldhäusl/Schauhuber/Naturfoto-Online; linkerkantste twee: Scott Bauer/Agricultural Research Service, USDA; middel: Clemson University - USDA Cooperative Extension Slide Series, www.insectimages.org; eiers: Bradley Higbee, Paramount Farming, www.insectimages.org
[Foto-erkennings op bladsy 17]
Links: Jerry A. Payne, USDA Agricultural Research Service, www.insectimages.org; 2de van links: Whitney Cranshaw, Colorado State University, www.insectimages.org; 3de van links: Louis Tedders, USDA Agricultural Research Service, www.insectimages.org; 4de van links: Russ Ottens, The University of Georgia, www.insectimages.org; liewenheersbesies op blare: Scott Bauer/Agricultural Research Service, USDA