Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g 1/07 bl. 20-22
  • Noag se ark en skeepsbou

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Noag se ark en skeepsbou
  • Ontwaak!—2007
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Die ontwerp van die ark
  • Goeie seevaardigheid
  • Veilig en gerieflik
  • Agt oorleef tot in ’n nuwe wêreld
    Lesse wat jy kan leer uit die Bybel
  • Wat is die verbondsark?
    Antwoorde op Bybelvrae
  • Noag se ark
    Lesse wat jy kan leer uit die Bybel
  • Die groot Vloed
    My boek met Bybelverhale
Sien nog
Ontwaak!—2007
g 1/07 bl. 20-22

Noag se ark en skeepsbou

EK HET meer as 40 jaar lank as ’n skeepsboukundige en -ingenieur gewerk. My werk het die ontwerp van vaartuie van verskeie vorms en groottes behels, tesame met die meganiese en ander stelsels wat hulle aandryf. In 1963, terwyl ek in Brits-Columbië, Kanada, gewoon het, het een van Jehovah se Getuies vir my gewys dat die Bybelboek Genesis Noag se ark as ’n lang houtkis beskryf. Hierdie beskrywing het my nuuskierigheid geprikkel, en ek het besluit om verder ondersoek in te stel.

Die Genesisverslag toon dat God besluit het om die aarde van goddeloosheid te reinig deur die planeet met water te laat oorstroom. Hy het vir Noag gesê om ’n ark te bou om homself, sy gesin en verteenwoordigers van die diereryk deur hierdie groot Vloed heen te bewaar. God het vir Noag gesê om die ark 300 el lank, 50 el breed en 30 el hoog te maak (Genesis 6:15). Volgens een konserwatiewe skatting was die ark dus sowat 134 meter lank, 22 meter breed en 13 meter hoog.a Dit het dus ’n totale volume van omtrent 40 000 kubieke meter gehad, wat beteken dat dit amper net soveel water verplaas het as die luukse passasierskip Titanic.

Die ontwerp van die ark

Die ark het drie dekke gehad, wat dit versterk het en dit ’n totale vloerruimte van omtrent 8 900 vierkante meter gegee het. Dit is van harsagtige—en dus waterbestande—hout gemaak, moontlik sipreshout, en was binne- en buitekant met teer verseël (Genesis 6:14-16). Daar word nie vir ons gesê hoe Noag die hout aan mekaar vasgeheg het nie. Maar selfs voordat die Bybel die Vloedverslag meld, praat dit van smeders van koper- en ystergereedskap (Genesis 4:22). Hoe dit ook al sy, daar word vandag nog van houtpenne gebruik gemaak om party houtskepe te bou.

Die ark het kompartemente gehad, ’n deur aan die kant, en ’n een el hoë tsoʹhar, wat dalk ’n geweldak was, moontlik met openinge onderaan vir ventilasie en lig. Die Genesisverslag sê egter glad nie dat die ark ’n kiel, ’n boeg, seile, roeispane of ’n roer gehad het nie. Trouens, dieselfde Hebreeuse woord vir “ark” word gebruik om die pikbedekte mandjie te beskryf wat deur die moeder van die kindjie Moses gebruik is om hom op die waters van die Nyl te laat dryf.—Eksodus 2:3, 10.

Goeie seevaardigheid

Die lengte van die ark was ses keer sy breedte en tien keer sy hoogte. Baie moderne skepe word volgens soortgelyke verhoudings gebou, hoewel die lengte-tot-breedte-verhouding bepaal word afhangende van die krag wat benodig word om die skip deur die water aan te dryf. Die ark daarenteen moes net kon dryf. Hoe goed sou dit gevaar het?

Die manier waarop vaartuie op wind en golwe reageer, word seevaardigheid genoem. Dit hou ook verband met die verhoudings waarvolgens ’n vaartuig gebou is. Die Bybel beskryf die ontsaglike stortreën wat die Vloed veroorsaak het, en sê ook dat God later ’n wind laat waai het (Genesis 7:11, 12, 17-20; 8:1). Die Skrif sê nie hoe sterk die golwe en wind was nie, maar die wind sowel as die golwe was heel moontlik kragtig en veranderlik, net soos dit vandag die geval kan wees. Hoe langer en sterker die wind waai, hoe hoër en verder uitmekaar is die golwe. Daarbenewens kon enige seismiese werking sterk golwe voortgebring het.

Die verhoudings waarvolgens die ark gebou is, het tot die stabiliteit daarvan bygedra en voorkom dat dit omslaan. Die ark is ook ontwerp om die kragte te weerstaan wat dit in ’n onstuimige see in sy lengte kon laat hei. As dit baie erg gehei het—wanneer elke golf een ent van die vaartuig lig en dit dan afwaarts laat duik—sou dit baie ongerieflik gewees het vir die mense en diere aan boord. Hierdie heibeweging onderwerp ’n vaartuig ook aan groot spanning. Die struktuur moet sterk genoeg wees om nie in die middel te buig wanneer groot golwe albei ente van die vaartuig tegelykertyd lig nie. Maar wanneer ’n groot golf die vaartuig in die middel oplig en daar geen ondersteuning op die ente is nie, sal die voor- en agterstewe moontlik ondertoe buig. God het vir Noag gesê om ’n lengte-tot-hoogte-verhouding van 10 tot 1 te gebruik. Skeepsbouers het eers later en slegs uit bittere ondervinding geleer dat so ’n verhouding hierdie spanning kan weerstaan.

Veilig en gerieflik

Omdat die ark kisvormig was, was sy dryfvermoë van die een ent tot die ander dieselfde. Die gewig daarvan sou dan ook eweredig versprei wees. Noag het waarskynlik seker gemaak dat die vrag—insluitende die diere en meer as ’n jaar se voedselvoorraad—eweredig versprei is. ’n Goeie verspreiding van gewig beperk die bykomende spanning wat die vrag op die struktuur van ’n vaartuig plaas, tot ’n minimum. Twee belangrike faktore het dit dus vir die ark en sy passasiers moontlik gemaak om deur die wêreldwye Vloed heen behoue te bly—die goddelike oorsprong van die ark se ontwerp en Jehovah se beskermende sorg. God het ongetwyfeld toegesien dat die ark op ’n veilige en gepaste plek tot rus kom.

My deeglike ondersoek van hierdie onderwerp het my tot die slotsom laat kom dat die Bybelverslag oor Noag se ark realisties is en konsekwent is met vandag se skeepsboupraktyk. Daar is natuurlik baie besonderhede van die ark en die Vloed wat nie in die Genesisverslag gemeld word nie. Ek hoop dat ek eendag, ná die opstanding, Noag hier op die aarde kan ontmoet, te midde van die mense- en dierefamilies wie se bestaan moontlik gemaak is deur die ark waaraan hy so lank en hard gewerk het (Handelinge 24:15; Hebreërs 11:7). Eerstens sal ek hom en sy gesin bedank. Dan sal ek hom met baie vrae bestook.—Bygedra.

[Voetnoot]

a Die el is ’n maateenheid uit die ou tyd wat min of meer gelyk is aan die afstand vanaf die elmboog tot by die vingerpunte. Blykbaar is die el in die tyd van Israel oor die algemeen op ongeveer 44,5 sentimeter vasgestel.

[Venster/Prent op bladsy 22]

’N SKAALMODEL VAN DIE ARK

Jy kan jou eie skaalmodel van die ark maak en toets deur die bygaande patroon te gebruik. (Jy kan ’n groter model bou deur die patroon hieronder na verhouding te vergroot.) Gewone papier kan redelik waterdig gemaak word deur dit met was of vetkryt te bedek. Die papier kan dan gevou word en die hoeke met kleefband of gom vasgeplak word. Plaas ballas op die vloer van jou model—soos byvoorbeeld ’n paar muntstukke wat eweredig versprei is en met kleefband of gom vasgeplak is—totdat tussen ’n derde en die helfte van die model onderwater is wanneer dit dryf.

Om die seevaardigheid van die ark te demonstreer, kan jy jou voltooide model in die middel van ’n bad water plaas, sodat die model in sy lengte in die bad lê. Probeer dan om klein, eweredige golwe te maak deur aan die een kant van die bad liggies en ritmies in die water te druk met ’n melkkartonnetjie of iets soortgelyks wat dwars gehou word.

[Efano]

(Sien publikasie vir oorspronklike teksuitleg)

VOU IN VOU IN

VOU IN VOU IN

[Prent]

Die verhoudings waarvolgens die ark gebou is, was soortgelyk aan dié van ’n diepseevaartuig

[Diagram/Prente op bladsy 20, 21]

(Sien publikasie vir oorspronklike teksuitleg)

Voorkant

Sykant

Bokant

Voorkant

Sykant

Bokant

[Prente]

Die ark het amper net soveel water as die “Titanic” verplaas

[Erkennings]

Plan van die Titanic: Courtesy Dr. Robert Hahn/www.titanic-plan.com; foto: Courtesy of The Mariners’ Museum, Newport News, VA

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel