Help jongmense om die uitdaging die hoof te bied
DIE wêreld, sy lewenswyses en sy giere was nog altyd aan die verander. Vandag is veranderinge selfs opvallender, hoofsaaklik as gevolg van moderne tegnologie. Wat gister in was, is vandag uit, en wat vandag gewild is, sal môre ouderwets wees. Hierdie vinnige veranderinge het ’n merkbare uitwerking op jongmense.
’n Sosiale revolusie
In onlangse jare het tegnologie ’n revolusie begin wat ’n verreikende invloed op jongmense gehad het. Byvoorbeeld, in baie lande het die selfoon en die rekenaar ’n sosiale lewenslyn vir adolessente geword. Webwerwe waar sosiale netwerke opgebou kan word, het ’n hele nuwe wêreld van moontlikhede geskep. “Jy kan feitlik sonder vriende in die werklike wêreld wees en dan ewe skielik honderde vriende op die Internet hê”, sê ’n 19-jarige meisie in Australië.
Min mense sou ontken dat die selfoon en die Internet baie voordele inhou. Maar vir baie mense het hierdie middele blykbaar verslawend geword. Die universiteitsprofessor Donald Roberts sê dat sommige studente “nie eers die paar minute tussen hulle 10-uur- en 11-uur-klas sonder hulle selfoon kan klaarkom nie”. Hy sê: “Dit lyk vir my asof hulle amper ongemaklik voel as hulle nie gestimuleer word nie—asof hulle dink: ‘Ek kan die stilte nie verdra nie.’”
Sommige jongmense erken selfs dat hulle voel asof hulle verslaaf is. “Ek is heeltemal verslaaf aan kitsboodskappe en my selfoon, want dis hoe ek in aanraking bly met my vriende”, sê 16-jarige Stephanie. “Wanneer ek by die huis kom, gaan ek onmiddellik op die Internet en bly ek aanlyn . . . soms tot drie-uur in die oggend.” Stephanie se maandelikse telefoonrekening is tussen R760 en R3 800. “Ek skuld my ouers al meer as $2 000 [R15 000] vir ekstra koste”, sê sy. “Maar ek is so gewoond daaraan om altyd my selfoon by my te hê dat ek nie ’n normale lewe daarsonder kan lei nie.”
Die probleme kan meer as net finansieel wees. Terwyl die antropoloog Elinor Ochs ’n studie oor gesinslewe gedoen het, het sy gevind dat die huweliksmaat en kinders van ’n werkende ouer dikwels so verdiep is in wat hulle doen, dat hulle 2 uit 3 keer nie eers groet wanneer hy van die werk af kom nie! Hulle aandag was net op hulle elektroniese toestelle. “Ons het ook gesien hoe moeilik dit vir ouers is om die kind se wêreld binne te dring”, sê Ochs. Sy voeg by dat daar tydens die studie gesien is dat ouers hulle eintlik onttrek van kinders wat verdiep was in wat hulle gedoen het.
Sosiale netwerke op die Internet—Onskadelik?
Baie ouers en opvoeders is bekommerd oor die hoeveelheid tyd wat jongmense daaraan bestee om sogenaamde sosiale netwerke op die Internet te besoek. Dit is Internetwebwerwe wat lede toelaat om ’n webblad te skep en prente, video’s en dagboeke, wat blogs genoem word, daarop te sit.
Een aantrekkingskrag van sulke webwerwe is dat dit lede in staat stel om met vriende in aanraking te bly. ’n Ander is dat ’n jongmens die geleentheid kry om uiting te gee aan sy identiteit, om “’n indruk te maak”, deur so ’n webblad te skep. Die aantrekkingskrag is verstaanbaar, want adolessensie is ’n tyd wanneer ’n mens jouself leer ken en jou gevoelens op ’n manier uitdruk wat tot ander spreek en hulle ontroer.
Een probleem wat egter ontstaan, is dat sommige mense ’n webwerfpersona skep wat weerspieël wie hulle wil wees en nie wie hulle is nie. “Daar’s ’n kind in een van my klasse wat sê dat hy 21 is en in Las Vegas woon”, sê ’n 15-jarige seun. Albei jongmense woon omtrent 1 600 kilometer van daardie Amerikaanse stad af.
Sulke oneerlikheid is baie algemeen. “Jy kan enigiets op die Internet doen”, sê ’n 18-jarige Australiese meisie. “Jy kan ’n heel ander mens word, want niemand ken jou werklik nie. Jy voel selfversekerd. Jy kan dinge opmaak sodat jy interessanter klink. Jy kan foto’s van jouself opsit waarin jy klere dra of dinge doen wat jy nooit in die werklike lewe sou dra of doen nie. Jy kan dinge skryf wat jy nooit self sou sê nie. Jy voel asof jy met enigiets kan wegkom omdat jou ware identiteit versteek is. Niemand weet wie jy werklik is nie.”
Soos met enige vorm van kommunikasie, kan sosiale netwerke op die Internet regmatige gebruike hê of dit kan misbruik word. Weet jy as ’n ouer wat jou kinders op die Internet doen? Maak jy seker dat jou kinders hulle tyd verstandig gebruik? (Efesiërs 5:15, 16).a Wat meer is, die misbruik van die Internet kan ’n jongmens aan ’n aantal ernstige gevare blootstel. Wat is sommige hiervan?
Die donker kant van die kuberruimte
Die anonimiteit van die Internet maak dit ’n jagveld vir pedofiele. Jongmense kan onwetend in ’n strik trap as hulle persoonlike inligting op die Internet uitgee of instem om iemand te ontmoet met wie hulle in verbinding is. Sommige mense beweer dat “kinders ernstiger gevaar loop om in hulle eie huis of op die speelgrond mishandel of gemolesteer te word”, sê die boek Parenting 911. “Maar vir die meeste ouers is daar iets verraderliks omtrent die feit dat seksuele uitbuiters hulle huis deur ’n skerm kan binnedring en hulle kinders se onskuld kan wegneem.”
Daar is ook ander maniere waarop kommunikasietegnologie misbruik word. Sommige jongmense het hulle skuldig gemaak aan “kuberafknouery”—aanhoudende tergery, uitsluiting, teistering of dreigemente op die Internet. Webwerwe is al geskep bloot om iemand te verneder, terwyl e-pos, kletskamers en so meer middele geword het om mense te belaster. Die direkteur van ’n groep wat die veiligheid van Internetgebruikers probeer verseker, meen dat tot 80 persent van kinders tussen die ouderdomme van 10 en 14 al direk of indirek deur kuberafknouery geraak is.
Afknouery is weliswaar niks nuuts nie. Maar nou kan gerugte, skinderpraatjies en laster baie wyer en oneindig vinniger versprei word. Dit word dikwels ook baie gemener. In sommige gevalle is ’n selfoon met ’n ingeboude kamera gebruik om, moontlik in ’n verkleekamer of stort by die skool, onbetaamlike foto’s en video’s te neem wat iemand in die verleentheid kan stel. Hierdie beelde is dan op die Internet gesit en na ’n aantal gretige ontvangers gestuur.
Toenemende openbare besorgdheid
Sulke voorvalle het die Departement van Justisie en Openbare Veiligheid in New Jersey, VSA, beweeg om ’n brief aan ouers en voogde te stuur wat hulle aanspoor om “ons te help om iets te doen omtrent ’n sorgwekkende situasie wat kop uitsteek betreffende die misbruik van die Internet onder kinders, tydens en ná skool”. Die brief het veral kommer uitgespreek oor die feit dat persoonlike inligting en foto’s op die Internet gesit word. Webwerwe wat sulke besonderhede beskikbaar stel, is dikwels soos magnete vir gewetenlose jongmense en volwassenes. “As ’n ouer”, het die brief gesê, “moet jy weet dat hierdie kwessies ’n wesenlike probleem is en dat jy ’n belangrike rol in jou kinders se veiligheid kan speel deur meer ingelig te wees en meer betrokke te raak by jou kinders se gebruik van die Internet.”
Dit is egter verbasend hoe min sommige ouers weet omtrent wat hulle kinders op die Internet doen. Een moeder, wat haar 16-jarige dogter se bedrywighede op die Internet deeglik monitor, sê: “Ouers sal heeltemal geskok en verleë wees as hulle weet watter inligting hulle kinders op die Internet sit en wat hulle daar bespreek.” Volgens ’n deskundige op die gebied van Internetveiligheid sit party jongmense foto’s op die Internet wat seksueel baie suggestief is.
Negatiewe gevolge
Is al hierdie kommer maar net die paranoia van oorbesorgde volwassenes wat vergeet het hoe dit is om ’n tiener te wees? Die statistiek dui aan dat dit nie die geval is nie. Let op die volgende: In sommige gebiede het bykans ’n derde van seuns en meisies tussen 15 en 17 jaar al geslagsomgang gehad. Meer as die helfte van tieners tussen 13 en 19 sê dat hulle al orale seks gehad het.
Het die tegnologie tot hierdie ontnugterende statistiek bygedra? Beslis. “Selfone en die Internet, wat tieners ’n ongeëwenaarde vlak van privaatheid bied, maak dit soveel makliker om ‘bymekaar te kom’”, sê ’n verslag in die New York Times Magazine.b Trouens, om ’n geheime ontmoeting met iemand van die teenoorgestelde geslag te reël, verg niks meer as om ’n paar woorde op die rekenaar in te tik nie. Tydens een opname het meer as 4 uit 5 meisies erken dat hulle nie so versigtig is soos hulle moet wees wanneer hulle op die Internet is nie.
Sommige wat op die Internet soek na ’n metgesel of seks sonder enige emosionele verbintenis, kry meer as wat hulle verwag het. ‘Ons het ’n toename in seksuele aanrandings gesien’, sê Jennifer Welch van die Polisiedepartement van Novato in Kalifornië. Sy sê dat baie slagoffers eers op die Internet met hulle toekomstige aanvaller in aanraking kom en dan instem om die persoon te ontmoet.
Pasop vir die “wysheid van die wêreld”!
Tieneradviesrubrieke in koerante en tydskrifte neem ’n permissiewe standpunt in wanneer dit kom by jongmense en seks. Hoewel hulle onthouding en sedelike reinheid goedkeur, is hulle hoofdoel om “veilige” seks eerder as geen seks te bevorder. ‘Ons kan hulle nie keer nie’, redeneer hulle blykbaar, ‘maar ons kan hulle ten minste leer om verantwoordelik te wees.’
In ’n artikel op ’n gerespekteerde webwerf vir tieners het die antwoord op die vraag of ’n persoon seks moet hê of nie basies van drie faktore afgehang: (1) die risiko van swangerskap, (2) die risiko dat ’n seksueel oordraagbare siekte opgedoen kan word en (3) die belangrikheid daarvan om te besluit of albei persone emosioneel gereed is vir die ondervinding. “Op die ou end is dit jou besluit”, sê die webwerf. Daar word net terloops genoem dat die saak met ’n ouer bespreek kan word. En daar word glad nie gesê of sulke seks reg of verkeerd is nie.
As jy ’n ouer is, wil jy tog sekerlik hê dat jou kinders deur iets beters gelei word as die veranderlike en dwase “wysheid van die wêreld” (1 Korintiërs 1:20). Hoe kan jy hulle help om hulle weg deur adolessensie te vind en die gevare te vermy wat in hierdie artikel bespreek is? Die antwoord is dalk nie so eenvoudig soos om die rekenaar af te skakel of die telefoon weg te neem nie. Oppervlakkige oplossings bereik byna nooit die hart nie (Spreuke 4:23). Dink ook daaraan dat jou kinders moontlik middele soos die selfoon en die Internet gebruik om in sekere behoeftes te voorsien waarin jy as ’n ouer dalk baie doeltreffender kan voorsien. Wat is sommige van hierdie behoeftes?
[Voetnote]
a Dit sal raadsaam wees vir ouers om vertroud te word met die webwerwe wat hulle kinders besoek, eerder as om die Internet eenvoudig te veroordeel. Sodoende kan kinders gehelp word om ‘hulle waarnemingsvermoëns te oefen om te onderskei wat reg sowel as verkeerd is’ (Hebreërs 5:14). Sulke ouerlike onderrigting sal kinders baie help terwyl hulle grootword.
b Die term “bymekaarkom” kan enigiets van tyd saam deurbring tot geslagsomgang beteken. In hierdie konteks verwys dit na seks vir fisiese bevrediging sonder enige emosionele verbintenis.
[Lokteks op bladsy 4]
“Wanneer ek by die huis kom, gaan ek onmiddellik op die Internet en bly ek aanlyn . . . soms tot drie-uur in die oggend”
[Lokteks op bladsy 5]
“Jy kan enigiets op die Internet doen. Jy kan ’n heel ander mens word, want niemand ken jou werklik nie”
[Lokteks op bladsy 7]
“Ouers sal heeltemal geskok en verleë wees as hulle weet watter inligting hulle kinders op die Internet sit en wat hulle daar bespreek”
[Venster/Prent op bladsy 6]
Sosiale netwerke Een meisie se verhaal
“Ek het ons skool se webblad begin gebruik om met medestudente en onderwysers te kommunikeer. Aan die begin het ek een uur per week daaraan bestee. Kort voor lank was ek elke dag op die Internet. Ek het so verslaaf gevoel dat ek aan die Internet gedink het selfs wanneer ek nie aanlyn was nie. Ek kon op niks anders konsentreer nie. Ek het agtergeraak met my skoolwerk, ek het nie by die Christelike vergaderinge geluister nie en ek het selfs my werklike vriende geïgnoreer. My ouers het uiteindelik agtergekom wat aangaan en my gebruik van die Internet beperk. Dit was vir my moeilik. Ek was baie kwaad. Maar nou is ek bly dat dinge so uitgewerk het, en ek het baie goed aangepas. Ek wil nooit weer voel asof ek verslaaf is nie!”—Bianca.