Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g 4/07 bl. 8-10
  • Hierdie wêreld—Waarop stuur dit af?

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Hierdie wêreld—Waarop stuur dit af?
  • Ontwaak!—2007
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • “Die laaste dae” waarvan?
  • Wat Jesus oor die einde gesê het
  • Die stryd wat ons voer
  • ’n Sedelik onberispelike gemeenskap
  • God se voorneme gaan binnekort verwesenlik word
    Wat is die doel van die lewe—Hoe kan jy dit vind?
  • Hoe ons weet dat ons in “die laaste dae” lewe
    Gee God werklik vir ons om?
  • Vier vrae oor die einde word beantwoord
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2010
  • Sal hierdie wêreld bly voortbestaan?
    Sal hierdie wêreld bly voortbestaan?
Sien nog
Ontwaak!—2007
g 4/07 bl. 8-10

Hierdie wêreld—Waarop stuur dit af?

DIE BYBEL het die huidige sedelike verval lank vooruit voorspel en dit soos volg beskryf: “In die laaste dae [sal daar] kritieke tye . . . wees wat moeilik is om deur te kom. Want mense sal liefhebbers van hulleself wees, liefhebbers van geld, . . . ongehoorsaam aan ouers, ondankbaar, dislojaal, sonder natuurlike geneentheid, . . . wreedaardig, sonder liefde vir die goeie, verraaiers, eiesinnig, opgeblase van trots, liefhebbers van genot eerder as liefhebbers van God, wat ’n vorm van godvrugtige toegewydheid het maar die krag daarvan verloën.”—2 Timoteus 3:1-5.

Jy sal dalk saamstem dat hierdie Bybelprofesie ’n akkurate beskrywing is van vandag se wêreld. Maar dit is amper 2 000 jaar gelede opgeteken! Die profesie word ingelei met die woorde: “In die laaste dae.” Wat beteken die uitdrukking “die laaste dae”?

“Die laaste dae” waarvan?

“Die laaste dae” het ’n baie algemene uitdrukking geword. In Engels alleen is dit al in honderde boektitels gebruik. Neem byvoorbeeld die onlangse boek The Last Days of Innocence—America at War, 1917-1918. Die voorwoord stel dit duidelik dat die boek, wanneer dit die term “die laaste dae” gebruik, na ’n spesifieke tyd verwys, een waartydens daar ’n geweldige agteruitgang in sedes was.

“In 1914”, verduidelik die voorwoord, “het die land vinniger verander as op enige ander tyd in sy geskiedenis.” Ja, in die jaar 1914 is die hele wêreld in oorlog gedompel, iets wat nooit voorheen gebeur het nie. Die boek sê: “Dit was algehele oorlog, nie oorlog tussen leërmagte nie, maar tussen nasies.” Soos ons sal sien, het hierdie oorlog plaasgevind aan die begin van wat die Bybel “die laaste dae” noem.

Die Bybel leer dat hierdie wêreld voor sy einde ’n spesifieke tydperk sou deurgaan wat “die laaste dae” genoem word. Trouens, die Bybel sê dat ’n wêreld voorheen bestaan het wat reeds verbygegaan, of geëindig het, en verduidelik: “Die wêreld van daardie tyd [is] vernietig toe dit met water oorstroom is.” Na watter tyd en wêreld verwys dit? Dit was die eertydse “wêreld van goddelose mense” wat in die dae van die man Noag bestaan het. Vandag se wêreld gaan ook tot ’n einde kom. Maar diegene wat God dien, sal die einde oorleef, net soos Noag en sy gesin oorleef het.—2 Petrus 2:5; 3:6; Genesis 7:21-24; 1 Johannes 2:17.

Wat Jesus oor die einde gesê het

Jesus Christus het ook gepraat van “die dae van Noag”, toe “die vloed gekom en hulle almal weggesleur het”. Hy het toestande voor die Vloed—kort voor die einde van daardie wêreld—vergelyk met dié wat sou heers gedurende die tyd wat hy geïdentifiseer het as “die voleinding van die stelsel van dinge” (Matteus 24:3, 37-39). ’n Ander Bybelvertaling gebruik die uitdrukking “die einde van hierdie wêreld”.—Nuwe Afrikaanse Bybelvertaling.

Jesus het voorspel hoe die lewe op aarde net voor die einde van die wêreld sou wees. Aangaande oorlog het hy gesê: “Nasie sal teen nasie opstaan en koninkryk teen koninkryk.” Volgens geskiedkundiges het dit van 1914 af begin gebeur. Daarom het die voorwoord van die bogenoemde boek gesê dat 1914 die begin aangedui het van “algehele oorlog, . . . nie tussen leërmagte nie, maar tussen nasies”.

In sy profesie het Jesus bygevoeg: “Daar sal voedseltekorte en aardbewings op die een plek na die ander wees. Al hierdie dinge is ’n begin van weë van benoudheid.” Hy het verder gesê dat daar onder andere ’n “toename in wetteloosheid” sou wees (Matteus 24:7-14). Ons het dit sonder twyfel in ons dag sien plaasvind. Vandag se sedelike verval is so erg dat dit Bybelprofesieë vervul!

Hoe moet ons ons lewens gedurende so ’n verdorwe tydperk lei? Let op wat die apostel Paulus aan Christene in Rome geskryf het oor sedelike agteruitgang. Hy het gepraat van die “skandelike geslagsdrifte” van mense en gesê: “Ook hulle vroue het die natuurlike gebruik van hulleself verander in een wat teen die natuur is; en net so het ook die mans die natuurlike gebruik van die vrou laat vaar en hewig in hulle wellus teenoor mekaar ontbrand, mans met mans, en onwelvoeglikheid bedryf.”—Romeine 1:26, 27.

Geskiedkundiges sê dat, terwyl die mensegemeenskap destyds al hoe verder op sedelike gebied agteruitgegaan het, “die klein Christengemeenskappe die genotsugtige heidense wêreld gekwel het met hulle vroomheid en hulle welvoeglikheid”. Dit behoort ons tot nadenke te stem en te laat vra: ‘Wat van my en dié wat ek as vriende kies? Is ons opvallend anders, sedelik onberispelik, in teenstelling met dié wat onsedelik lewe?’—1 Petrus 4:3, 4.

Die stryd wat ons voer

Die Bybel leer dat ons, ondanks die onsedelikheid om ons, “onberispelik en onskuldig . . . , kinders van God sonder ’n smet te midde van ’n verdorwe en verdraaide geslag” moet wees. Om dit te doen, moet ons “’n stewige greep op die woord van die lewe” behou (Filippense 2:15, 16). Hierdie Bybelse stelling toon hoe Christene smetloos kan bly wat sedelike verderf betref—hulle moet streng hou by die leringe van God se Woord en erken dat die sedelike standaarde daarin die beste lewenswyse verteenwoordig.

“Die god van hierdie stelsel van dinge”, Satan die Duiwel, probeer om mense aan sy kant te kry (2 Korintiërs 4:4). Die Bybel sê vir ons dat hy ‘aanhou om hom in ’n engel van lig te verander’. Sy bedienaars, diegene wat hom dien deur soos hom op te tree, doen dit ook (2 Korintiërs 11:14, 15). Hulle belowe vryheid en pret, maar volgens die Bybel “voer hulle self ’n bestaan as slawe van verderflikheid”.—2 Petrus 2:19.

Moenie vir een oomblik dink dat diegene wat God se sedelike standaarde ignoreer, die rampspoedige gevolge daarvan sal vryspring nie. Die Bybelpsalmis het geskryf: “Redding is ver van die goddeloses, want hulle het [God se] voorskrifte nie gesoek nie” (Psalm 119:155; Spreuke 5:22, 23). Is ons daarvan oortuig? As ons is, moet ons ons verstand en hart beskerm teen propaganda wat ’n permissiewe lewenswyse bevorder.

Daar is egter baie mense wat onverstandig redeneer en sê: ‘As wat ek doen, nie onwettig is nie, is niks daarmee verkeerd nie.’ Maar dit is nie die geval nie. Ons hemelse Vader voorsien liefdevol sedelike leiding, nie om jou lewe vervelig of beperkend te maak nie, maar om jou te beskerm. Hy “leer [jou] om jouself te bevoordeel”. Hy wil hê dat jy rampspoed moet vermy en ’n gelukkige lewe moet hê. Ja, soos die Bybel leer, ‘hou dit belofte in vir die teenswoordige en die toekomstige lewe’ as ons God dien. Dít is “die werklike lewe”, ewige lewe in sy beloofde nuwe wêreld!—Jesaja 48:17, 18; 1 Timoteus 4:8; 6:19.

Vergelyk dus die voordele daarvan om Bybelleringe te volg met die hartseer wat diegene uiteindelik oorval wat dit nie doen nie. Om God se guns te wen deur na hom te luister, is waarlik die beste lewenswyse! “Wat die een betref wat na my luister”, belowe God, “hy sal in veiligheid woon en nie deur vrees vir rampspoed versteur word nie.”—Spreuke 1:33.

’n Sedelik onberispelike gemeenskap

Die Bybel sê dat ‘die goddelose nie meer daar sal wees’ wanneer hierdie wêreld verbygaan nie. Dit sê ook: “Die regskapenes sal op die aarde woon, en die onberispelikes sal daarop oorbly” (Psalm 37:10, 11; Spreuke 2:20-22). Die aarde sal dus gereinig word van alles wat onsedelik is, insluitende diegene wat weier om volgens die heilsame leringe van ons Skepper te lewe. Liefhebbers van God sal die hele aarde dan geleidelik omskep in ’n aardse paradys, soortgelyk aan die een waarin God die eerste mensepaar gesit het.—Genesis 2:7-9.

Dink net hoe genotvol dit sal wees om op so ’n gereinigde, pragtige Paradysaarde te lewe! Diegene wat die voorreg sal hê om dit te sien, sal miljarde verresenes insluit. Verheug jou in God se beloftes: “Die regverdiges sal die aarde besit, en hulle sal vir ewig daarop woon.” “[God] sal elke traan van hulle oë afvee, en die dood sal daar nie meer wees nie, en ook verdriet en angsgeroep en pyn sal daar nie meer wees nie. Die vorige dinge het verbygegaan.”—Psalm 37:29; Openbaring 21:3, 4.

[Lokteks op bladsy 9]

Toe ’n wêreld geëindig het, was daar godvresende oorlewendes

[Prent op bladsy 10]

Nadat hierdie wêreld geëindig het, sal die aarde ’n paradys word

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel