Watter hoop vir die armes?
DAAR is niks daarmee verkeerd om hard te werk om ’n bestaan te maak nie, solank diegene wat hard werk, ’n ordentlike loon verdien. Let op die kommentare van ’n Bybelskrywer: “Ek het te wete gekom dat daar . . . niks beters is nie as om bly te wees . . . en ook dat elke mens eet en inderdaad drink en die goeie sien vir al sy harde werk. Dit is die gawe van God.”—Prediker 3:12, 13.
Soos ons egter gesien het, vereis die wêreld se ekonomiese stelsel dat mense hard werk, maar dikwels ontvang werkers nie voldoende vergoeding nie. Baie bly arm en sukkel om van dag tot dag kop bo water te hou. Die lewe wat hulle lei, gee hulle selde rede om “bly te wees” en “die goeie [te] sien”. Die rykdom van die wêreld het merkwaardige vlakke bereik, maar moontlik die helfte van die mensdom deel nie in hierdie oorvloed nie.
God stel belang in die armes
Die mensdom se Skepper, Jehovah God, is nie gelukkig met hierdie stand van sake nie. Jehovah het medelye met die armes. Ons lees in die Bybel: “[God] sal die geroep van die geteisterdes gewis nie vergeet nie” (Psalm 9:12). Jehovah is ’n God wat vir die armes omgee.
Die Bybel sê aangaande Jehovah: “Aan u vertrou die ongelukkige, die vaderlose seun, homself toe. U het sy helper geword” (Psalm 10:14). Let op hoe hierdie Bybelvers na die geteisterdes verwys as individue.a Ja, God sien elkeen raak en neem sy of haar behoeftes in ag. Elke persoon is vir hom kosbaar en verdien sy aandag. Jehovah nooi mense van alle ekonomiese stande om van hom te leer en sy vriende te wees.
Iets wat mense by God leer, is om medelye en empatie teenoor ander te betoon. Jehovah se Getuies beskou hulleself as ’n groot geestelike gesin. Hulle sien mekaar se waarde as individue—ware Christelike liefde floreer onder hulle. Die Here Jesus Christus het eenkeer vir sy volgelinge gesê: “Julle [is] almal broers” (Matteus 23:8). Almal wat ware aanbidding begin beoefen, word dus deel van ’n broederskap wat geen onderskeid tref tussen mense op grond van hulle ekonomiese stand nie. Hulle gee om vir mekaar en bou mekaar in moeilike tye op.
Die Bybel bevat beginsels wat die gevolge van armoede draagliker kan maak. Die Skrif toon dat God die besoedeling van die liggaam—soos deur die gebruik van tabak—asook die misbruik van alkohol veroordeel (Spreuke 20:1; 2 Korintiërs 7:1). Iemand wat volgens hierdie beginsels lewe, spaar geld wat andersins op skadelike gewoontes verkwis sou word. Hy vermy siekte wat deur rook en dronkenskap veroorsaak word en die gevolglike onkoste van mediese behandeling. Die Bybel leer mense ook om ’n materialistiese denkwyse en gierigheid te verwerp (Markus 4:19; Efesiërs 5:3). Iemand wat God se Woord in hierdie sake respekteer, verkwis ook nie sy geld aan dobbelary nie.
Die Bybel voorsien beginsels vir die daaglikse lewe wat prakties is, selfs wanneer iemand in volslae armoede lewe. Let op die volgende ondervinding:
’n Fabriekwerker in ’n land met ’n hoë werkloosheidsyfer het haar werk op die spel geplaas deur tyd van die werk af te vra sodat sy Christelike vergaderinge kon bywoon. Haar toesighouer kon haar maklik afgedank het. Maar hy het haar en die ander werknemers verras deur haar versoek toe te staan. Bowendien het die toesighouer vir haar gesê dat hy wil hê sy moet aanhou om by sy fabriek te werk, en hy het haar geprys as “’n voorbeeldige werker”. Waarom?
Daardie werker, een van Jehovah se Getuies, het volgens Bybelbeginsels gelewe. Omdat sy haar ‘in alles eerlik wou gedra’, het sy nie leuens vertel of gesteel nie en het sy sodoende ’n goeie reputasie as ’n eerlike persoon opgebou (Hebreërs 13:18). In gehoorsaamheid aan die geïnspireerde beginsel in Kolossense 3:22, 23 het sy haar werk ‘met haar hele siel’ gedoen. Dit beteken dat sy haar werkgewer gehoorsaam het en dat sy seker gemaak het dat sy ’n volle dag se werk gedoen het vir elke dag waarvoor sy betaal is.
Ons lewe natuurlik onder ’n ekonomiese stelsel waarin selfsug hoogty vier en wins van die allergrootste belang is. Sommige wat diep respek vir Bybelbeginsels het, sal moontlik nog steeds sukkel om die voedsel, klere en behuising te bekom wat hulle nodig het. Maar hulle het ’n skoon gewete voor hulle Skepper en sien met vertroue uit na beter tye in die toekoms, danksy Jehovah, “die God wat hoop gee”.—Romeine 15:13.
’n Permanente oplossing vir armoede
Die Bybel toon hoe sterk Jehovah diegene afkeur wat die onregverdige onderdrukking van die armes bevorder. God se geïnspireerde Woord sê: “Wee dié wat skadelike voorskrifte verorden en dié wat, deur voortdurend te skryf, pure moeite neergeskryf het, om die geringes van ’n regsaak weg te stoot en om die geteisterdes . . . van geregtigheid te beroof, sodat die weduwees hulle buit kan word en sodat hulle selfs die vaderlose seuns kan plunder!” (Jesaja 10:1, 2). Hetsy hulle die armes doelbewus verwaarloos of dit onwetend doen, diegene wat die ekonomiese werking van die mensegemeenskap van vandag beheer, is deel van ’n onderdrukkende stelsel wat God die Almagtige gaan vervang.
Die profeet Jesaja vra sulke onderdrukkers ’n ernstige vraag: “Wat sal julle doen op die dag dat daar aandag aan julle geskenk word en by die verwoesting, wanneer dit van ver af kom?” (Jesaja 10:3). Jehovah sal hulle bedrywighede stopsit deur die onregverdige stelsel wat hulle ondersteun, te vernietig.
Maar God se voorneme behels meer as om teen onderdrukkers op te tree. Hy sal regskapenes ’n lewe vry van ongeregtigheid gee. Hy sal, deur middel van ’n verhewe regeringsvorm, verseker dat alle mense bevredigende, gelukkige lewens vry van armoede lei. Om gedurende daardie tyd voorspoedig te wees, sal jy nie ’n groot erfporsie, goeie konneksies of sakevernuf hoef te hê nie. Hoe kan ons daarvan seker wees dat sulke veranderinge sal plaasvind?
Jesus Christus, die een wat Jehovah aangestel het om oor die mensdom te heers, het na daardie wonderlike toekoms as die “herskepping” verwys (Matteus 19:28). Hierdie woord dra die gedagte van ’n hernuwing, ’n nuwe begin van menselewe oor. Deur die term “herskepping” te gebruik, het Jesus beklemtoon dat Jehovah aan regverdige mense ’n geleentheid sal gee om te lewe soos ons liefdevolle Skepper wil hê ons moet. Een van die talle maniere waarop hy die mensdom in daardie tyd sal seën, is deur die ekonomiese las waaronder so baie mense gebuk gaan, permanent te verwyder.
Die Bybel sê in ’n profesie aangaande die heerskappy van Jesus Christus: “Hy sal die arme verlos wat om hulp roep, ook die geteisterde en elkeen wat geen helper het nie. Hy sal jammer voel vir die geringe en die arme, en die siel van die armes sal hy red. Van onderdrukking en van geweld sal hy hulle siel verlos, en hulle bloed sal kosbaar wees in sy oë.”—Psalm 72:12-14.
Jy kan hierdie wonderlike toekoms geniet. Maar om aan God se vereistes vir lewe in daardie nuwe wêreld te voldoen, is dit noodsaaklik dat jy eers leer wat die wil van die ware God is en dit dan doen. Maak wyse besluite wat op kennis van God se Woord gegrond is. Lewe in afwagting van die wonderlike toekoms wat God vir die hele mensdom in die vooruitsig stel. Jy sal nie teleurgestel word nie. God se Woord belowe: “Die arme sal nie vir altyd vergeet word nie, ook sal die hoop van die sagmoediges nooit vergaan nie.”—Psalm 9:18.
[Voetnoot]
a Twee ander Bybelverse wat beklemtoon dat God besorg is oor mense wat ly, is Psalm 35:10 en Psalm 113:7.
[Lokteks op bladsy 9]
Jy kan ’n wonderlike toekoms geniet
[Venster/Prent op bladsy 10]
Moet ek verhuis na waar toestande beter is?
God se Woord sê nie vir mense waar hulle moet woon of moet werk nie. Maar Bybelbeginsels kan ’n mens help om te besluit of dit raadsaam is om weens ekonomiese redes na ’n ander land te verhuis. Let op die volgende vrae en die skriftuurlike beginsels wat van toepassing is.
1. Word ek deur ongegronde gerugte gelok? Spreuke 14:15 sê: “Iemand wat onervare is, glo elke woord, maar die skerpsinnige gee ag op sy voetstappe.” Nadat ’n man van Oos-Europa na ’n welvarende land verhuis het, het hy gesê: “Ek het gehoor dat geld hier soos bossies groei. Ek soek nog na die bossies.”
2. Het ek ’n gebalanseerde beskouing van my gesin se behoeftes? Verwar ek behoeftes met onrealistiese begeertes? Gesinshoofde is verplig om in die materiële behoeftes van hulle vrou en kinders te voorsien (1 Timoteus 5:8). Maar vaders is ook voor God verantwoordelik om hulle kinders sedelik en geestelik op te voed (Deuteronomium 6:6, 7; Efesiërs 6:4). As ’n vader trek, sal hy dalk meer op materiële gebied kan voorsien. Maar hy kan nie die sedelike en geestelike opleiding voorsien wat sy kinders nodig het as hy hulle vir weke, maande of jare op ’n slag nie sien nie.
3. Besef ek dat ek en my vrou aan die gevaar van egbreuk blootgestel word as ons lank uitmekaar is? God se Woord waarsku egpare om mekaar se seksuele behoeftes in ag te neem.—1 Korintiërs 7:5.
4. Besef ek dat dit tot ernstige probleme met die regeringsowerheid kan lei as ek ’n land onwettig binnegaan? Ware Christene staan onder verpligting om die landswette te gehoorsaam.—Romeine 13:1-7.
[Prente op bladsy 8]
Bybelbeginsels is prakties, hetsy ons ryk of arm is
[Foto-erkenning op bladsy 7]
Bo: © Trygve Bolstad/Panos Pictures