Vasbeslote om ryk te wees—Hoe dit jou kan raak
IN ’N wêreld waar meer as 850 miljoen mense honger ly, is dit dalk moeilik om jou voor te stel dat dit ’n probleem kan wees om te veel te besit. Maar het jy opgelet dat die teks wat in die vorige artikel aangehaal is, nie teen geld of rykdom waarsku nie, maar teen die liefde vir geld en die vasbeslotenheid om ryk te wees? Wat gebeur wanneer mense lewe vir rykdom en die dinge wat geld kan koop? Kom ons kyk eerstens na die uitwerking wat dit op hulle kinders het.
Die uitwerking op kinders
Daar word geskat dat die gemiddelde Amerikaanse kind in net een jaar 40 000 televisie-advertensies sien. Voeg hierby die videospeletjies, gesofistikeerde musiekspelers, rekenaarprogramme en ontwerpersklere wat kinders in winkels en hulle vriende se huise sien, en probeer jou dan indink voor watter spervuur van versoeke ouers gevolglik te staan kom. Party ouers gee hulle kinders net wat hulle wil hê. Waarom?
Omdat party ouers nie materiële luukshede gehad het toe hulle jonk was nie, wil hulle graag seker maak dat hulle kinders nie voel dat hulle iets ontsê word terwyl hulle grootword nie. Ander ouers is bang dat hulle kinders hulle nie meer sal liefhê as hulle nee sê nie. “Hulle wil hulle kinders se beste vriend wees en seker maak dat hulle die lewe geniet”, het ’n medestigter van ’n ondersteuningsgroep vir ouers in Boulder, Colorado, VSA, gesê. Ander ouers hoop dat ’n oorvloed geskenke sal vergoed vir al die tyd wat hulle by die werk deurbring, weg van hulle kinders af. En ná ’n lang week van stresvolle werk, sien ’n ouer dalk eenvoudig nie kans vir die stryery wat gewoonlik volg op die antwoord: “Nee, jy kan dit nie kry nie.”
Maar word kinders wat alles kry, deur hulle ouers gehelp of benadeel? Ironies genoeg, ondervinding toon dat bedorwe kinders nie liewer vir hulle ma of pa is nie, maar eerder geneig is om ondankbaar te wees. Hulle waardeer nie eens die geskenke waarvoor hulle so gesoebat het nie. ’n Hoof van ’n hoërskool het gesê: “Ek het al gesien dat kinders wat dadelik kry waarvoor hulle vra, gewoonlik die artikels wat hulle so graag wou hê, ná net twee weke weggooi.”
Wat gebeur met bedorwe kinders wanneer hulle grootword? Volgens die tydskrif Newsweek toon studies dat hulle volwassenes word wat “dit moeilik vind om die lewe se teleurstellings te hanteer”. Omdat hulle nooit geleer het om hard te werk vir wat hulle kry nie, misluk ’n aantal van hulle op skool, by die werk en in die huwelik en bly hulle dan finansieel afhanklik van hulle ouers. Hulle sal dalk ook geneig wees tot angstigheid en depressie.
Bedorwe kinders word dus wel iets ontsê. Hulle word die geleentheid ontsê om waardering vir die waarde van werk te ontwikkel, sowel as ’n gevoel van eiewaarde en die vermoë om innerlik verryk te voel. Die psigoterapeut Jessie O’Neill waarsku: “Deur kinders te leer dat hulle kan kry wat hulle wil hê wanneer hulle dit wil hê, berei jy hulle voor vir ’n leeftyd van ellende.”
Wat gebeur met volwassenes?
As jy getroud is, “ongeag hoe lank julle bymekaar is of hoeveel geld julle het, sal julle volgende uitval waarskynlik oor geld wees”, berig die tydskrif Psychology Today. Dit meld verder dat “die manier waarop ’n egpaar meningsverskille oor geld en teleurstellings hanteer, ’n aanduiding is van die sukses of mislukking van die verhouding op die lange duur “. Dit is duidelik dat ’n paartjie wat te veel waarde heg aan geld en materiële dinge, hulle huwelik in groot gevaar stel. Trouens, daar word geskat dat meningsverskille oor geld ’n vername rol speel in 90 persent van egskeidingsake.
Maar selfs wanneer die paartjie bymekaar bly, kan die gehalte van hulle huwelik daaronder ly as hulle konsentreer op geld en die luukshede wat hulle daarmee kan koop. Byvoorbeeld, ’n egpaar wat in die skuld is, word dalk maklik geïrriteerd en humeurig, terwyl hulle mekaar blameer vir hulle finansiële sorge. In sommige gevalle is elke huweliksmaat so behep met sy of haar materiële besittings dat daar min tyd is vir hulle verhouding. Wat gebeur wanneer een maat iets duurs koop en dit wegsteek van die ander? Dit kweek geheimsinnigheid, skuldgevoelens en wantroue—wat die huwelik stadig maar seker aftakel.
’n Paar volwassenes, hetsy getroud of nie, het letterlik hulle lewe op die altaar van materialisme geoffer. Party in Suid-Afrika het weens die druk om Westerse materialistiese waardes aan te neem, selfmoord probeer pleeg. In die Verenigde State het ’n man sy vrou, sy 12-jarige seun en homself doodgemaak, blykbaar as gevolg van sy finansiële probleme.
Die meeste mense sterf natuurlik nie omdat hulle rykdom najaag nie. Tog kan die lewe hulle verbygaan terwyl hulle in hulle soeke verdiep is. Die gehalte van hulle lewe kan ook daaronder ly as werkstres of finansiële druk paniekaanvalle, slapeloosheid, chroniese hoofpyne of maagsere veroorsaak—gesondheidsprobleme wat ’n mens se lewe kan verkort. En selfs wanneer iemand besef dat hy sy prioriteite moet verander, kan dit te laat wees. Sy huweliksmaat vertrou hom dalk nie meer nie, sy kinders kan reeds emosioneel geskaad wees en sy gesondheid is moontlik verwoes. Van die skade kan miskien herstel word, maar dit sal baie werk verg. Sulke mense het waarlik “hulleself oral met baie pyne deurboor”.—1 Timoteus 6:10.
Wat wil jy hê?
Die meeste mense wil ’n gelukkige gesin, goeie gesondheid, sinvolle werk en genoeg geld hê om gemaklik te kan lewe. Om al vier te hê, vereis balans, en wanneer ’n mens hoofsaaklik oor geld besorg is, word daardie balans versteur. Om weer op koers te kom, moet baie mense ’n laer besoldigde werk, ’n kleiner huis, ’n goedkoper motor of ’n laer sosiale stand aanvaar. Maar hoeveel mense is bereid om sulke luukse ter wille van hoër waardes prys te gee? ‘Ek weet ek het hierdie dinge nie nodig nie’, het een vrou erken, ‘maar dit is so moeilik om dit op te gee!’ Ander wil dit opgee, maar hulle wil nie die eerstes wees wat dit doen nie.
Wat van jou? As jy reeds ’n manier gevind het om geld en materiële dinge op hulle plek te hou, is dit prysenswaardig. Of lees jy dalk nou haastig deur hierdie artikel omdat jou lewenstandaard te veel van jou tyd in beslag neem? Is jy onder diegene wat voel dat jy met minder materiële dinge moet klaarkom ter wille van jou fisiese en emosionele welsyn? Dan moet jy daadwerklik optree voordat materialisme die kans kry om ’n vernietigende uitwerking op jou gesin te hê. Die venster op hierdie bladsy voorsien ’n paar wenke oor hoe jy daarmee kan begin.
Wanneer materiële dinge op hulle plek gehou word, sal elke lid van die gesin fisies en emosioneel daarby baat vind. Christene is egter oor nog iets besorg—hulle wil nie hê dat materiële dinge ’n nadelige uitwerking op hulle verhouding met God moet hê nie. Hoe kan materialisme ’n mens se geestelike gesondheid in gevaar stel, en hoe kan ’n mens voorkom dat dit gebeur? Die volgende artikel sal dit verduidelik.
[Lokteks op bladsy 5]
Bedorwe kinders is dikwels ondankbaar, en toestelle wat hulle graag wou hê, word kort voor lank weggegooi
[Venster/Prent op bladsy 7]
Hoe om balans in jou lewe te kry
Dit sal vasbeslotenheid en noukeurige beplanning verg om met minder klaar te kom. Hier is ’n paar wenke wat party nuttig gevind het.
◼ KYK NA WAT JY HET. Wat hoef jy nie te koop nie? Waarvan kan jy ontslae raak? Tydskrifintekeninge? Musiek-CD’s? Onnodige bykomstighede vir die motor?
◼ VEREENVOUDIG OOR ’N PROEFTYDPERK. As jy ernstige bedenkinge het oor ’n eenvoudiger lewe, kan jy dit gerus ses maande of ’n jaar lank op die proef stel. Kyk self of al die tyd wat jy aan geld en besittings bestee het, jou werklik gelukkiger—of minder gelukkig—maak.
◼ SLUIT JOU KINDERS BY GESINSBESPREKINGS OOR VEREENVOUDIGING IN. Dan sal hulle waarskynlik hulle samewerking gee, en jy sal dit nie so moeilik vind om nee te sê wanneer jy moet nie.
◼ DINK DAARAAN OM JOU KINDERS SAKGELD TE GEE. Hetsy hulle besluit om geld te spaar vir iets wat hulle wil hê, of om daarsonder klaar te kom, hulle sal leer om geduldig te wees en waardering te hê vir wat hulle besit. Hulle sal ook leer hoe om besluite te neem.
◼ LEER TEGNIEKE AAN WAT JOU SAL HELP OM GELD TE SPAAR. Soek na winskopies. Stel ’n begroting op. Begin of sluit aan by ’n saamryklub. Gebruik huishoudelike toestelle minder. Leen boeke by ’n biblioteek eerder as om dit te koop.
◼ VUL DIE LEEMTE. Onthou, die rede waarom jy wil vereenvoudig, is nie bloot om minder te besit nie, maar om aandag te skenk aan belangriker dinge, soos die mense in jou lewe. Doen jy dit?
[Prent op bladsy 6]
Die vasbeslotenheid om ryk te wees, kan spanning in ’n huwelik veroorsaak