Die Bybel se beskouing
Is “om ’n goeie mens te wees”, al wat tel?
“EK LEI my lewe op die beste manier wat ek kan en probeer om ’n goeie mens te wees”, sê ’n jong vrou genaamd Allison. Soos sy, glo baie mense dat so ’n benadering tot die lewe al is wat God vereis.
Ander voel oortuig dat God nie omgee nie, selfs al sondig hulle ernstig, solank hulle oor die algemeen ’n goeie lewe lei. Hulle glo dat God meer geneig is om te vergewe as om te veroordeel.
Wat dit beteken “om ’n goeie mens te wees”, verskil natuurlik van persoon tot persoon. Maar wat sê die Bybel? Wat moet ons doen om God se goedkeuring weg te dra? Wat beteken dit om in God se oë ’n goeie mens te wees?
Ons moet ons Skepper se leiding aanvaar
As ons Skepper het Jehovah God die reg om vir ons sedelike leiding te gee (Openbaring 4:11). In die Bybel voorsien God wette en beginsels om ons gedrag en aanbidding te rig. God het vir sy volk gesê: “Gehoorsaam my stem, en julle moet die dinge doen volgens alles wat ek julle beveel; en julle sal beslis my volk word en ek sal julle God word.”—Jeremia 11:4.
Om uit God se standpunt “’n goeie mens te wees”, vereis dus dat jy leer wat sy standaarde is en dat jy aanpassings in jou lewe maak om daaraan te voldoen. Stel jou voor dat jy iemand se vriend wil word. Jy sal natuurlik wil weet hoe daardie persoon graag behandel wil word, en dan sal jy op ’n manier optree waarvan hy of sy hou. Die Bybel toon dat ons, soos die aartsvader Abraham, Jehovah se vriend kan word—dit wil sê iemand wat sy goedkeuring wegdra (Jakobus 2:23). Wat meer is, aangesien God se standaarde baie hoër is as ons s’n, kan ons nie verwag dat hy veranderinge moet aanbring om by ons persoonlike waardes aan te pas nie.—Jesaja 55:8, 9.
Die belangrikheid van gehoorsaamheid
Sal God werklik ontevrede met ons wees as ons “minder belangrike” gebooie verontagsaam? Sommige redeneer dalk dat gehoorsaamheid aan sekere “minder belangrike” gebooie nie saak maak nie. Maar geen wet wat van God af kom, kan as onbelangrik afgemaak word nie. Let op dat die Bybel in 1 Johannes 5:3 geen onderskeid tref nie wanneer dit sê: “Dít is wat die liefde vir God beteken, dat ons sy gebooie bewaar.” Wanneer ons ons bes doen om al God se wette te gehoorsaam, bewys ons ons onselfsugtige liefde vir hom.—Matteus 22:37.
Jehovah is nie ’n veeleisende perfeksionis nie. As ons werklik spyt is oor ons foute en hard probeer om dit nie te herhaal nie, sal hy ons vryelik vergewe (Psalm 103:12-14; Handelinge 3:19). Maar kan ons sekere wette opsetlik ignoreer en dink dat ons daarvoor kan vergoed deur ons gehoorsaamheid in ander sake? ’n Bybelse voorbeeld toon dat ons dit nie kan doen nie.
Koning Saul van Israel het gekies om net sekere gebooie van God te gehoorsaam. Toe hy teen die Amalekiete oorlog gevoer het, is hy beveel om nie hulle vee te spaar nie. Hy moes “hulle doodmaak”. Hoewel hy ander instruksies gevolg het, was Saul ongehoorsaam en het hy “die beste van die kleinvee en die beeste” gespaar. Waarom? Hy en die res van die volk wou dit vir hulleself hê.—1 Samuel 15:2-9.
Toe die profeet Samuel vir Saul gevra het waarom hy nie God se bevel gehoorsaam het nie, het Saul beswaar gemaak en beweer dat hy wel gehoorsaam was. Hy het al die goeie dinge opgenoem wat hy en die volk gedoen het, insluitende dat hulle offerandes aan God gebring het. Samuel het gevra: “Skep Jehovah soveel behae in brandoffers en offerandes as in gehoorsaamheid aan die stem van Jehovah? Kyk! Om gehoorsaam te wees, is beter as ’n offerande, om aandag te skenk beter as die vet van ramme” (1 Samuel 15:17-22). Ons kan dus nie vir ongehoorsaamheid aan God in sekere sake vergoed deur offerandes te bring of ander goeie werke te doen nie.
God se standaarde—’n bewys van sy liefde
Jehovah is liefdevol en verwag nie dat ons moet raai hoe om hom te behaag nie. In die Bybel gee hy duidelike sedelike leiding en sê as ’t ware: “Dit is die weg. Wandel daarop” (Jesaja 30:21). Wanneer ons sy leiding volg, vermy ons die frustrasie en onsekerheid wat ervaar word wanneer ’n mens deur die teenstellende sedelike menings van mense moet sif. En ons kan seker wees dat God se leiding altyd vir ons beswil is en dat dit ‘ons leer om onsself te bevoordeel’.—Jesaja 48:17, 18.
Watter gevaar hou dit in om self te besluit wat dit beteken “om ’n goeie mens te wees”? Ons het almal ’n oorgeërfde neiging om selfsugtig op te tree. Ons eie harte kan ons bedrieg (Jeremia 17:9). Ons kan godgegewe vereistes wat ons as moeilik of beperkend beskou, maklik as onbelangrik afmaak.
Byvoorbeeld, twee ongetroude mense kan besluit om geslagsomgang te hê en kan redeneer dat dit geheel en al ’n persoonlike besluit is, aangesien niemand anders daarby betrokke is nie. Hulle besef dalk dat hulle dade nie aan Bybelstandaarde voldoen nie, maar hulle redeneer dat God nie daarteen beswaar sal maak nie, solank “niemand seerkry nie”. Hulle begeertes kan hulle verblind vir die erns en gevolge van hulle dade. Die Bybel waarsku: “Daar is ’n weg wat vir ’n mens reg lyk, maar die einde daarvan is later die weë van die dood.”—Spreuke 14:12.
Al Jehovah se wette weerspieël sy liefde vir mense en sy begeerte om te sien dat ons lyding vermy. Om God se standaarde van geslagsedelikheid of ander gedrag te verontagsaam, het nie vir mense groter geluk en sukses in die lewe meegebring nie. Baie het hulle lewe grootliks daardeur gekompliseer. Aan die ander kant help God se wette ons in ons pogings om ’n goeie lewe te lei en om te voorkom dat ons onsself en ander onnodig leed aandoen.—Psalm 19:7-11.
As jy opreg begeer om ’n goeie mens in God se oë te wees, moet jy alles in jou vermoë doen om sy leiding te volg. Jy sal self ondervind dat ‘Jehovah se gebooie nie swaar is nie’.—1 Johannes 5:3.
HET JY AL GEWONDER?
◼ Waarom moet ons ons Skepper se leiding aanvaar?—Openbaring 4:11.
◼ Moet ons al God se gebooie gehoorsaam?—1 Johannes 5:3.
◼ Waarom is dit nie verstandig van ons om ons eie sedelike standaarde te stel nie?—Spreuke 14:12; Jeremia 17:9.
[Prent op bladsy 21]
Het jy God se beskouing van sedelikheid?