Hoe die Bybel ons bereik het
Die feit dat die Bybel ongeskonde tot in ons dag behoue gebly het, is niks minder as ’n wonderwerk nie. Die opskrifstelling daarvan is meer as 1 900 jaar gelede voltooi. Dit is geskryf op bederfbare materiale—papier wat van papirusriete gemaak is en perkament wat van dierevel gemaak is—en is oorspronklik opgeteken in tale wat min mense vandag praat. Daarbenewens het invloedryke manne, van keisers tot godsdiensleiers, hard probeer om die Bybel te vernietig.
HOE het hierdie merkwaardige geskrif so lank behoue gebly en op die ou end die mensdom se bekendste boek geword? Kyk na net twee faktore.
Veelvoudige afskrifte bewaar die tekste
Die bewaarders van die vroegste Bybeltekste, die Israeliete, het die oorspronklike boekrolle versigtig bewaar en etlike afskrifte daarvan gemaak. Vir Israel se konings is daar byvoorbeeld gesê om “’n afskrif van hierdie wet . . . uit dié wat in die bewaring is van die priesters, die Leviete”, te maak.—Deuteronomium 17:18.
Baie Israeliete was lief daarvoor om die Skrif te lees en het erken dat dit God se Woord is. Afskrifte van die teks is dus met die uiterste noukeurigheid deur hoogs opgeleide kopiïste gemaak. Een godvresende kopiïs genaamd Esra word beskryf as “’n vaardige kopiïs van die wet van Moses, wat Jehovah, die God van Israel, gegee het” (Esra 7:6). Die Masorete, wat tussen die sesde en tiende eeu G.J. afskrifte gemaak het van die Hebreeuse Geskrifte, of “Ou Testament”, het selfs die letters in die teks getel om foute te vermy. Hierdie noukeurige oorskrywing het gehelp om te verseker dat die teks akkuraat is en dat die Bybel behoue gebly het ondanks desperate en volgehoue pogings deur vyande om dit te vernietig.
In 168 v.G.J. het die Siriese heerser Antiogos IV byvoorbeeld al die afskrifte van die Hebreeuse Geskrifte wat hy in Palestina kon vind, probeer vernietig. ’n Joodse geskiedkundige bron sê: “Alle boekrolle van die wet wat hulle gevind het, het hulle opgeskeur en verbrand.” The Jewish Encyclopedia sê: “Die beamptes wat hierdie bevele ontvang het, het dit streng uitgevoer . . . Enigiemand wat ’n heilige boek besit het . . . is met die dood gestraf.” Maar afskrifte van die Skrif het behoue gebly onder Jode in Palestina sowel as dié wat in ander lande gewoon het.
Kort nadat die skrywers van die Christelike Griekse Geskrifte, of “Nuwe Testament”, hulle geskrifte voltooi het, is daar etlike afskrifte van hulle geïnspireerde briewe, profesieë en geskiedkundige verslae gemaak. Byvoorbeeld, Johannes het sy Evangelie in of naby Efese geskryf. Maar ’n fragment van daardie Evangelie, deel van ’n afskrif wat volgens deskundiges gemaak is minder as 50 jaar nadat hy sy verslag geskryf het, is honderde kilometers daarvandaan in Egipte gevind. Daardie ontdekking het getoon dat Christene wat in verafgeleë lande gewoon het, afskrifte gehad het van wat destyds die jongste geïnspireerde geskrifte was.
Die wye verspreiding van God se Woord het ook daartoe bygedra dat dit tot eeue ná die tyd van Christus behoue gebly het. Byvoorbeeld, met dagbreek op die oggend van 23 Februarie van die jaar 303 G.J. het die Romeinse keiser Diokletianus glo gestaan en toekyk terwyl sy soldate die deure van ’n kerk afbreek en afskrifte van die Skrif verbrand. Diokletianus het gedink dat hy die Christelike godsdiens kon uitroei deur die heilige geskrifte daarvan te vernietig. Die volgende dag het hy beveel dat alle afskrifte van die Bybel in die hele Romeinse Ryk in die openbaar verbrand moet word. Maar afskrifte het behoue gebly en meer afskrifte is gemaak. Trouens, groot gedeeltes van twee afskrifte van die Bybel in Grieks wat waarskynlik nie lank ná Diokletianus se vervolging gemaak is nie, het tot vandag toe behoue gebly. Die een is in Rome; die ander in die Britse Biblioteek in Londen, Engeland.
Hoewel geen oorspronklike manuskripte van die Bybel al gevind is nie, het duisende handgeskrewe afskrifte van die hele Bybel of dele daarvan tot in ons dag behoue gebly. Sommige daarvan is baie oud. Is die boodskap wat die oorspronklike tekste bevat het, verander toe dit oorgeskryf is? Die geleerde W. H. Green het aangaande die Hebreeuse Geskrifte gesê: “Daar kan met sekerheid gesê word dat geen ander werk van die ou tyd so akkuraat oorgedra is nie.” Aangaande die Christelike Griekse Geskrifte het ’n vooraanstaande kenner op die gebied van Bybelmanuskripte, sir Frederic Kenyon, geskryf: “Die tydperk tussen die datum van die oorspronklike samestelling en die vroegste bestaande getuienis word dus so gering dat dit feitlik onbeduidend is, en die laaste grond vir enige twyfel dat die Skrif aan ons oorgelewer is wesenlik soos dit geskrywe is, is nou uit die weg geruim. Die egtheid sowel as die algemene getrouheid van die boeke van die Nuwe Testament kan as ’n finaal bevestigde saak beskou word.” Hy het ook gesê: “Daar kan nie te sterk aangevoer word dat die teks van die Bybel in wese juis is nie. . . . Dit kan van geen ander antieke boek ter wêreld gesê word nie.”
Bybelvertaling
Nog ’n vername faktor wat die Bybel gehelp het om die mensdom se bekendste boek te word, is die feit dat dit in baie tale beskikbaar is. Hierdie feit stem ooreen met God se voorneme dat mense van alle nasies en tale hom moet leer ken en “met gees en waarheid” moet aanbid.—Johannes 4:23, 24; Miga 4:2.
Die eerste vertaling van die Hebreeuse Geskrifte waarvan ons weet, is die Septuagint-vertaling in Grieks. Dit was bedoel vir Griekssprekende Jode wat buite Palestina gewoon het en is omtrent twee eeue voor Jesus se aardse bediening voltooi. Die hele Bybel, insluitende die Christelike Griekse Geskrifte, is binne ’n paar eeue nadat dit voltooi is, in baie tale vertaal. Maar later het konings en selfs priesters, wat eintlik alles in hulle vermoë moes gedoen het om die Bybel in die hande van mense te kry, presies die teenoorgestelde gedoen. Hulle het probeer om hulle kuddes in geestelike duisternis te hou deur nie toe te laat dat God se Woord in die volkstale vertaal word nie.
Ten spyte van teenstand deur die Kerk en Staat het moedige manne hulle lewens gewaag om die Bybel in die taal van die gewone mense te vertaal. Byvoorbeeld, in 1530 het die Engelsman William Tyndale, wat aan Oxford gestudeer het, ’n uitgawe van die Pentateug, die eerste vyf boeke van die Hebreeuse Geskrifte, voltooi. Ondanks hewige teenstand het hy die eerste persoon geword wat die Bybel uit Hebreeus direk in Engels vertaal het. Tyndale was ook die eerste Engelse vertaler wat die naam Jehovah gebruik het. Die Spaanse Bybelgeleerde Casiodoro de Reina se lewe was voortdurend in gevaar weens Katolieke vervolgers terwyl hy aan ’n vroeë Spaanse vertaling van die Bybel gewerk het. Hy het gereis na Engeland, Duitsland, Frankryk, Holland en Switserland terwyl hy gewerk het om sy vertaling te voltooi.a
Vandag word die Bybel steeds in al hoe meer tale vertaal, en miljoene eksemplare word gepubliseer. Die feit dat dit behoue gebly het en op die ou end die mensdom se bekendste boek geword het, bewys die waarheid van die apostel Petrus se geïnspireerde stelling: “Die gras verdor en die blom val af, maar die woord van Jehovah bly vir ewig.”—1 Petrus 1:24, 25.
[Voetnoot]
a Reina se vertaling is in 1569 vertaal en is in 1602 deur Cipriano de Valera hersien.
[Venster/Prente op bladsy 14]
WATTER VERTALING MOET EK LEES?
In baie tale is daar verskeie Bybelvertalings. Sommige vertalings gebruik moeilik verstaanbare, verouderde taal. Ander is vrye, geparafraseerde vertalings waarin die oogmerk eerder leesbaarheid as akkuraatheid is. Nog ander is letterlike, feitlik woord-vir-woord-vertalings.
Die Engelse uitgawe van die Nuwe Wêreld-vertaling van die Heilige Skrif, uitgegee deur Jehovah se Getuies, is direk uit die oorspronklike tale deur ’n anonieme komitee vertaal. Hierdie vertaling was op sy beurt die hoofteks wat gebruik is vir vertalings in ongeveer 60 ander tale. Die vertalers vir daardie tale het egter dikwels die teks in die oorspronklike tale geraadpleeg. Die oogmerk van die Nuwe Wêreld-vertaling is om die teks van die oorspronklike taal letterlik weer te gee, tensy so ’n vertaling die betekenis sou verberg. Die vertalers probeer om die Bybel vir lesers van vandag so verstaanbaar te maak as wat die oorspronklike teks vir lesers in Bybeltye was.
Sommige taalkundiges het moderne Bybelvertalings—insluitende die Nuwe Wêreld-vertaling—ondersoek vir voorbeelde van onakkuraatheid of vooroordeel. Een van hierdie geleerdes is Jason David BeDuhn, ’n medeprofessor in die godsdienswetenskap aan die Universiteit van Noord-Arizona in die Verenigde State. In 2003 het hy ’n studie van 200 bladsye gepubliseer oor nege van “die Bybels wat die algemeenste in die Engelssprekende wêreld gebruik word”.b Sy studie het etlike Skrifgedeeltes ondersoek waaroor meningsverskille bestaan, want dit is waar “vooroordeel waarskynlik die vertaling sou beïnvloed”. Vir elke Skrifgedeelte het hy die Griekse teks vergelyk met die vertalings in elke Engelse vertaling, en hy het gesoek na bevooroordeelde pogings om die betekenis te verander. Tot watter slotsom het hy gekom?
BeDuhn wys daarop dat die algemene publiek en baie Bybelgeleerdes aanneem dat die verskille in die Engelse uitgawe van die Nuwe Wêreld-vertaling (NW) weens die vertalers se godsdiensvooroordeel is. Hy sê egter: “Die meeste van die verskille bestaan weens die groter akkuraatheid van die NW as ’n letterlike, konserwatiewe vertaling.” Hoewel BeDuhn nie met sekere vertalings in die Nuwe Wêreld-vertaling saamstem nie, sê hy dat hierdie vertaling “die akkuraatste is van die vertalings wat vergelyk is”. Hy noem dit ’n “besonder goeie” vertaling.
Dr. Benjamin Kedar, ’n Hebraïkus in Israel, het ’n soortgelyke kommentaar gemaak oor die Engelse uitgawe van die Nuwe Wêreld-vertaling. Hy het in 1989 gesê: “Hierdie werk weerspieël ’n opregte poging om so ’n akkuraat moontlike begrip van die teks weer te gee. . . . Ek het nog nooit in die Nuwe Wêreld-vertaling enige bevooroordeelde poging ontdek om meer uit die teks af te lei as wat dit bevat nie.”
Vra jou af: ‘Wat is my doel wanneer ek die Bybel lees? Wil ek hê dit moet lekker lees maar minder akkuraat wees? Of wil ek gedagtes lees wat die oorspronklike, geïnspireerde teks so getrou moontlik weerspieël?’ (2 Petrus 1:20, 21). Jou doelwit moet jou keuse van ’n vertaling bepaal.
[Voetnoot]
b Ander vertalings buiten die New World Translation was The Amplified New Testament, The Living Bible, The New American Bible With Revised New Testament, New American Standard Bible, The Holy Bible—New International Version, The New Revised Standard Version, The Bible in Today’s English Version en King James Version.
[Prent]
Die “Nuwe Wêreld-vertaling van die Heilige Skrif” is in baie tale beskikbaar
[Prent op bladsy 12, 13]
Masoretiese manuskripte
[Prent op bladsy 13]
’n Fragment wat Lukas 12:7 bevat: “ . . . moenie vrees nie; julle is meer werd as baie mossies”
[Foto-erkennings op bladsy 13]
Bladsy op die voorgrond: National Library of Russia, St. Petersburg; tweede en derde: Bibelmuseum, Münster; agtergrond: © The Trustees of the Chester Beatty Library, Dublin