Waarom vrees ons die dood?
“Die dood is die verskriklikste van alle dinge; want dit is die einde.”—Aristoteles.
HAAR kennisse het haar beskou as ’n vroom vrou, ’n ware gelowige. Sommige het haar selfs “’n pilaar van haar kerk” genoem. Sy is geleer dat die dood nie werklik die einde is nie, maar dat dit eerder ’n oorgang is na die hiernamaals. Toe haar eie dood egter nader kom, is sy deur vrees oorweldig. Die vrou is geteister deur twyfelgedagtes en het haar geestelike raadgewer gevra: “Daar is so baie [opvattings oor wat by die dood gebeur]; hoe weet ’n mens watter een is reg?”
Feitlik elke godsdiens en gemeenskap glo dat mense ná die dood voortbestaan, of dat hulle weer sal bestaan. Watter van al die bestaande opvattings is waar? Baie mense twyfel of die hiernamaals hoegenaamd bestaan. Wat van jou? Is jy geleer dat menselewe ná die dood voortgaan? Glo jy dat dit gebeur? Vrees jy die dood?
Die vrees om nie meer te bestaan nie
In onlangse dekades is baie boeke en wetenskaplike verslae oor die vrees vir die dood geskryf. Nogtans verkies die meeste mense om nie aan die dood te dink nie. Maar die werklikheid van die dood dwing ons om vroeër of later daaroor te dink. Menselewe is baie verganklik—gemiddeld meer as 160 000 mense sterf daagliks! Elke mens, sonder uitsondering, is onderworpe aan die dood, en hierdie werklikheid maak baie mense bevrees.
Deskundiges het die vrees vir die dood in verskeie kategorieë verdeel. Dit sluit die vrees vir pyn in sowel as die vrees vir die onbekende, die vrees om geliefdes aan die dood af te staan en die vrees vir die negatiewe gevolge wat jou dood moontlik op oorlewendes sal hê.
Van al hierdie vrese is die vrees om op te hou bestaan die grootste. Ondanks hulle godsdiensoortuigings maak die idee dat die dood die lewe finaal beëindig baie mense bang. En die wetenskap voed hierdie vrees. Die meeste funksies van die menseliggaam kan immers nou in wetenskaplike terme verduidelik word. Geen bioloog, fisikus of chemikus het al ooit bewyse van ’n onsigbare entiteit wat die dood van die fisiese liggaam kan oorleef, binne-in ons gevind nie. Baie wetenskaplikes verduidelik die dood dus as bloot ’n biologiese proses.
Daarom is dit glad nie verbasend nie dat baie mense wat op die oog af sterk in die hiernamaals glo, dalk in werklikheid baie bevrees is dat hulle by die dood sal ophou bestaan. Interessant genoeg, in sy geskrifte het eertydse koning Salomo ’n finaliteit aan mensedood toegeskryf wat sommige dalk as angswekkend sal beskou.
“Stof”—Die finale bestemming?
In die 3 000 jaar oue boek Prediker het Salomo geskryf: “Die lewendes is daarvan bewus dat hulle sal sterf, maar die dooies is van niks bewus nie, en ook word hulle nie meer beloon nie, want hulle word nie meer onthou nie. Hulle liefde en hulle haat en hulle jaloesie het nou tot ’n einde gekom.” Hy het bygevoeg: “Alles wat jou hand vind om te doen, doen dit met jou mag, want daar is geen werk of denkvermoë of kennis of wysheid in die plek van die dooies waarheen jy gaan nie.”—Prediker 9:5, 6, 10, The Bible in Basic English.
Salomo het onder inspirasie gesê dat “die lot van die mensekinders en die lot van die diere dieselfde is. Die een se dood is soos die ander se dood . . . Die mens is nie hoër as die diere nie . . . Almal gaan na een plek, almal kom uit die stof en almal word weer stof.”—Prediker 3:19, 20, The Bible in Basic English.
Hoewel die woorde hierbo deur koning Salomo geskryf is, is dit deur God geïnspireer, en dit vorm deel van sy geskrewe Woord, die Bybel. Hierdie tekste, tesame met baie ander in die Bybel, ondersteun nie die algemene opvatting dat iets binne-in ons ná die dood in ’n ander vorm voortleef nie (Genesis 2:7; 3:19; Esegiël 18:4). Sê God dan vir ons dat “stof”, of niebestaan, die uiteinde van alle mense is? Beslis nie!
Die Bybel leer nie dat enige deel van ’n mens ná die dood voortleef nie. Maar dit bied wel ’n kristalhelder hoop vir dié wat sterf. In die volgende artikel sal ons sien waarom jy nie hoef te vrees dat die dood ’n mens se lewe finaal beëindig nie.
[Venster op bladsy 3]
’N ONVERMYDELIKE VYAND
Die dood is al die mens se vyand genoem. Dit is ’n werklike vyand, en die bewyse daarvan kan oral om ons gesien word. Volgens een skatting sterf 59 miljoen mense elke jaar—gemiddeld 2 elke sekonde. Hoe eis die dood sy slagoffers?
◼ Elke 102 sekondes sterf iemand as ’n slagoffer van oorlog.
◼ Elke 61 sekondes word iemand vermoor.
◼ Elke 39 sekondes pleeg iemand selfmoord.
◼ Elke 26 sekondes sterf iemand in ’n verkeersongeluk.
◼ Elke drie sekondes sterf iemand weens hongerverwante oorsake.
◼ Elke drie sekondes gaan ’n kind onder die ouderdom van vyf dood.
[Venster op bladsy 3]
’N NUTTELOSE STREWE
Op 9 November 1949 het James Kidd, ’n 70-jarige mynwerker in ’n kopermyn, in die berge van Arizona, VSA, verdwyn. Etlike jare later, nadat hy wetlik dood verklaar is, is sy testament, wat in potlood geskryf is, saam met sy beleggings ontdek wat honderdduisende dollars werd was. In sy testament het Kidd bepaal dat sy geld gebruik moet word vir navorsing om “wetenskaplike bewyse [te vind] van ’n siel in die menseliggaam, wat dit by die dood verlaat”.
Kort daarna het meer as 100 beweerde navorsers en wetenskaplikes aansoek gedoen om die fondse te kry. Daar was maande lank hofsake en duisende bewerings van bewyse dat ’n onsigbare siel bestaan. Op die ou end het die regter die geld aan twee gerespekteerde navorsingsorganisasies toegeken. Meer as ’n halfeeu later het daardie navorsers nog steeds nie vorendag gekom met “wetenskaplike bewyse van ’n siel in die menseliggaam, wat dit by die dood verlaat” nie.