Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g 12/07 bl. 22-25
  • Iets beters as “volmaakte golwe”

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Iets beters as “volmaakte golwe”
  • Ontwaak!—2007
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Bewus van ’n geestelike behoefte
  • “Het jy enige vrae oor die Bybel?”
  • Die groen Bybel
  • Vasbeslote om Jehovah te dien
  • Diens by Bethel in Brooklyn
  • Diens in ander lande
  • Hoe ons ons prioriteite in orde hou
  • Ons het ’n moordenaar se bom oorleef
    Ontwaak!—1992
  • “Soek eers die koninkryk”
    Jehovah se Getuies—Verkondigers van God se Koninkryk
  • Betheldiens—Meer vrywilligers is nodig
    Ons Koninkryksbediening—1995
  • ’n Ope uitnodiging!
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2010
Sien nog
Ontwaak!—2007
g 12/07 bl. 22-25

Iets beters as “volmaakte golwe”

Soos vertel deur Karl Heinz Schwoerer

Ek is in 1952 in Pittsburgh, Pennsilvanië, VSA, gebore, maar het in New Smyrna Beach, Florida, grootgeword. As tiener was ek baie lief daarvoor om branderplank te ry. Om die waarheid te sê, dit het die belangrikste ding in my lewe geword.

IN 1970 het ek my ingeskryf by die Embry-Riddle-universiteit vir Lugvaartkunde in Daytona Beach, Florida, met die doel om ’n kommersiële vlieënier te word. Maar ek het al hoe meer teleurgesteld geraak in die regering, wat op daardie stadium ’n oorlog in Viëtnam gevoer het wat na my mening onregverdig was. Ek was baie ontevrede met die hele stelsel van dinge, soos ander jongmense van daardie tyd ook was, en ek het my studies opgeskop en ’n hippielewenswyse begin volg. Ek het lang hare gehad en dwelms gebruik.

Kort voor lank het ek Susan ontmoet, ’n avontuurlustige meisie wat ’n besonder talentvolle skilder en fotograaf was. Ek het uitgewerk dat, as ons ons lewe eenvoudig hou, ek ses tot agt maande in Florida in die konstruksiebedryf kon werk en dat ons die res van die jaar op die strande van die Pasifiese kus van Mexiko en Sentraal-Amerika kon kampeer.

Bewus van ’n geestelike behoefte

’n Sorgvrye lewe op asemrowende tropiese strande—terwyl Sue skilder en foto’s neem en ek branderplank ry—was beslis baie lekker. Maar ná ’n paar jaar het ons begin besef dat ons lewe onbevredigend is. Dit het gevoel asof daar ’n leemte is. In die middel van 1975, terwyl ons op die Pasifiese kus van Costa Rica gewoon het, het ek dus na geestelike verligting begin soek. Ek het boeke gelees oor Oosterse godsdienste en filosofieë, wat destyds gewild was.

Aangesien die boeke wat ek gelees het, dikwels uit die Bybel aangehaal het om te bewys dat hulle leerstellings waar is, het ek geredeneer dat die Bybel die grondslag vir waarheid moet wees. Ek het dus ’n paar hallusinogene sampioene verruil vir ’n ou King James-vertaling van die Bybel. Ek het elke middag, nadat ek die hele oggend lank branderplank gery het, die Bybel gesit en lees. Maar ondanks my groot belangstelling in die Bybel kon ek dit nie juis verstaan nie.

“Het jy enige vrae oor die Bybel?”

In Augustus 1975, terwyl ek en Sue op pad was van Costa Rica na die Verenigde State, het ons stilgehou by ’n apteek in El Salvador om medisyne te koop. Aangesien ons gesukkel het om met die apteker te kommunikeer, het ’n klant met die naam Jenny aangebied om ons te help. Sy was ’n 16-jarige Amerikaanse meisie wat vlot Spaans gepraat het. Sy het gemeld dat sy en haar ouers Jehovah se Getuies is en dat hulle na El Salvador getrek het om mense omtrent die Bybel te leer.

Jenny het gevra: “Het jy enige vrae oor die Bybel?”

“Ja, ek het!” het ek geantwoord. Ten spyte van ons hippievoorkoms het Jenny ons dadelik na haar huis genooi om haar ouers, Joe en Nancy Trembley, te ontmoet. Ons het haar uitnodiging aanvaar. Ons het die hele middag Bybelvrae gevra en was baie beïndruk deur die manier waarop Joe en Nancy ons vrae beantwoord het. Hulle het elke keer gesê: “Blaai na hierdie teks in jou Bybel en lees dit.”

Toe ons ons kom kry, was dit laat in die aand, en hulle het ons dus genooi om by hulle oor te slaap. Maar hulle het nie toegelaat dat ek en Sue in dieselfde slaapkamer slaap nie, aangesien ons nie getroud was nie. Sue en Jenny het tot laatnag wakker gebly en etlike Bybelonderwerpe bespreek—van Adam tot Armageddon.

Die groen Bybel

Die volgende dag, voordat ons die dorp verlaat het, het Joe en Nancy vir ons baie eksemplare van die Wagtoring en Ontwaak! gegee, sowel as ’n paar boeke en ’n Bybel. Die Bybel was die Engelse uitgawe van die Nuwe Wêreld-vertaling van die Heilige Skrif, wat destyds ’n groen harde band gehad het. Joe het ons ook die Koninkryksaal gaan wys. Dit was ’n eenvoudige, nederige gebou waar Jehovah se Getuies bymekaarkom om die Bybel te bestudeer. ‘Wat ’n teenstelling’, het ek gedink, ‘met die vertonerige kerke van die Christendom, waar mense so min uit die Bybel leer!’

Later daardie dag, toe ons stilgehou het by die kontrolepunt voordat ons die grens na Guatemala oorgesteek het, het die groen Bybel verwarring onder die beamptes veroorsaak. Hulle is verwar omdat hulle dit herken het as ’n Bybel wat gewoonlik deur Jehovah se Getuies gebruik word. Maar ons het beslis nie soos Getuies gelyk nie. Ten spyte van ons voorkoms het die beamptes ons ná ’n paar minute laat gaan. Dit het ons dronkgeslaan, want hulle het gewoonlik ons motor en ons besittings vir dwelms of gesmokkelde goedere deursoek. Ons het die groen Bybel dus as ’n gelukbringer begin beskou.

Namate ons aangehou het om die Bybel en Bybelstudiehulpe te lees, het ons daarvan oortuig geword dat ons die waarheid omtrent God gevind het. Terwyl ons deur Mexiko gery het, het ek uitgesien na twee weke se branderry by Puerto Escondido—my gunstelingplek om branderplank te ry. Ek was vasbeslote om, nadat ek daardie “volmaakte golwe” geniet het, na Florida terug te keer en een van Jehovah se knegte te word.

Die volgende twee weke het ek elke oggend branderplank gery. In die middae het ek my Bybel saam met Bybelstudiehulpe op die strand gelees. Die groen Bybel het die aandag getrek van ’n agtjarige meisie, wat daarop aangedring het dat ons een aand saam met haar iewers moet gaan. Ons kon nie verstaan waarheen sy wou hê ons moet gaan nie, maar ons het verstaan dat dit iets te doen het met die groen Bybel. Ons het geweier, maar sy het aanhou vra. Ná ’n paar dae het ons uiteindelik besluit om saam met haar te gaan. Sy het ons na die Koninkryksaal van Jehovah se Getuies geneem, ’n klein bamboesgebou met ’n grasdak. Almal daar het ons met die hand gegroet en omhels asof ons ou vriende is.

Ons was beïndruk deur die respekvolle gedrag van almal wat teenwoordig was. Party kinders het tydens die vergadering na ons gestaar, waarskynlik omdat hulle nog nooit mense met sulke lang blonde hare gesien het nie. Hulle ouers moes hulle herhaaldelik herinner om op die program te konsentreer. Tog het Jehovah ’n jong persoon soos hulle gebruik om ons te kry om ons eerste vergadering by te woon.

Vasbeslote om Jehovah te dien

Ná twee weke van volmaakte golwe het ek my branderplanke verkoop, en ons het reguit na Florida gery. Daar het ons begin om die Bybel saam met Jehovah se Getuies te studeer en al die gemeentelike vergaderinge by te woon. Aangesien ons vasbeslote was om Jehovah te dien, het ons opgehou om saam te lewe en noue omgang met ons voormalige vriende te hê. Ek het my baard afgeskeer en my hare laat sny, en Sue het ’n paar rokke gekoop. Vier maande later is ons getroud, en in April 1976 is ons gedoop as ’n simbool van ons toewyding om God te dien.

Nou het ons lewe ’n doel gehad. Ons was dankbaar teenoor Jehovah vir al ons seëninge en was gretig om na ’n Spaanssprekende land terug te keer om die goeie nuus van God se Koninkryk daar te verkondig. Maar Christen- ouer manne in ons gemeente het ons aangeraai: “Moenie nou al gaan nie. Bou eers julle geestelikheid op sodat julle iets kan hê om die mense daar te bied.” Ons het hulle raad aanvaar, en daarna was ons doelwit om te dien as pioniers, soos voltydse bedienaars van Jehovah se Getuies genoem word.

Sue het in Januarie 1978 begin pionier. Ek wou ook pionier, maar ek het nog baie studieskuld gehad. Ek het met ’n eenvoudige oplossing vorendag gekom. Ek sou my bankrot verklaar, en dan sou ek kon pionier.

Die ouer manne het my wyslik van hierdie plan afgeraai en het verduidelik dat dit nie in ooreenstemming met Bybelbeginsels sou wees nie, wat vereis dat ons “in alles eerlik” moet wees (Hebreërs 13:18). Ek het dus aangehou werk om my skuld te vereffen. Uiteindelik, in September 1979, het ek my doelwit bereik om saam met Sue te begin pionier. Aangesien ons ons lewe eenvoudig gehou het, was dit daarna net vir my nodig om ’n paar dae per week te werk om die pot aan die kook te hou.

Diens by Bethel in Brooklyn

In April 1980, nadat ons minder as ’n jaar saam gepionier het, het ons ’n groot verrassing gekry. Vroeër, in reaksie op ’n versoek om meer konstruksiewerkers, het ons aansoekvorms ingestuur om te dien by Bethel, die wêreldhoofkwartier van Jehovah se Getuies in Brooklyn, New York. Ons het toe ’n uitnodiging gekry om binne 30 dae soontoe te gaan! Ons het gemengde gevoelens gehad, aangesien ons die pionierdiens soveel geniet het. Omdat ons onseker was oor wat ons moes doen, het ons met twee ouer manne daaroor gepraat, en hulle het ons help besef watter groot voorreg aan ons gebied word. Hulle het ons aangeraai: “Gaan en probeer om ’n jaar lank in Bethel te dien.” Ons het dus al ons besittings verkoop en Brooklyn toe gegaan.

Nadat ek twee jaar lank konstruksiewerk gedoen het, is ek genooi om in die Bou-ingenieurskantoor te werk, waar ek opgelei is in struktuurontwerp. Sue het ’n jaar lank in die Boekbindery gewerk en is toe genooi om in die Grafiesekunsafdeling te werk. Jaarliks, op ons huweliksherdenking, het ons gedink aan die afgelope jaar, ons omstandighede en begeertes opgeweeg en opnuut besluit om aan te hou om by Bethel te dien.

Met die verloop van jare het ons ’n paar wonderlike, hegte vriende gemaak. Wat meer is, aangesien Bethel dit vir ons moontlik gemaak het om Jehovah en ons wêreldwye broederskap op ’n baie betekenisvolle manier te dien, is ons steeds vasbeslote om aan te bly. In 1989 het ons Spaans begin leer, en ons is na ’n Spaanse gemeente in Brooklyn toegewys. Gevolglik het ons gevoel asof ons dubbel bevoorreg was—ons kon by Bethel sowel as in ’n anderstalige gemeente dien.

By een geleentheid het Jenny, wat vroeër gemeld is, ons by Bethel in Brooklyn besoek, en dit was interessant om te hoor hoe sy die storie vertel het van die dag toe ons in El Salvador ontmoet het. Sy was by ’n Bybelstudie en het begin siek voel. Op pad huis toe het sy besluit om medisyne te kry. Om die een of ander rede het sy nie na die apteek gegaan waarheen sy al voorheen gegaan het nie, maar na die een waar ons was.

Diens in ander lande

In 1999 het my opsiener by Bethel my op ’n dag verras met die vraag: “Sal jy bereid wees om na die takkantoor in Australië te gaan om drie maande lank aan ’n projek in die Streekingenieurskantoor te werk?”

“Ja”, het ek sonder aarseling gesê. Kort voor lank was ons op pad na Australië, waar ons drie jaar lank gedien het. Ons het dit geniet om te help met die ontwerp van takfasiliteite vir etlike lande in die Ooste en die Stille Suidsee. Toe ons in 2003 na Brooklyn teruggekeer het, het nog ’n verrassing op ons gewag. Ons het weer ’n buitelandse toewysing gekry—om in die Streekkoninkryksaalkantoor te dien by die takkantoor in Brasilië, ’n ent buite die groot stad São Paulo.

Dit is waar ons nog steeds dien. Die kantoor hou toesig oor die bou van Koninkryksale in die meeste Suid-Amerikaanse lande. My toewysing behels dat ek reis om met hierdie bouwerk te help en om diegene wat aan al hierdie projekte werk, aan te moedig—en Sue gaan saam met my.

Hoe ons ons prioriteite in orde hou

Ek moet erken, ek geniet dit nog steeds om branderplank te ry, maar ek het iets beters as “volmaakte golwe” gevind. Ek het branderry dus op die regte plek gehou, as ’n vorm van ontspanning. Met die liefdevolle ondersteuning van Sue het ek op iets belangrikers gekonsentreer, om ons liefdevolle God, Jehovah, te dien.

Om ons lewe en vaardighede te gebruik om Koninkryksbelange en die rein aanbidding van Jehovah God te bevorder, is nou vir ons van die grootste belang. Ons het geleer dat die belangrikste ding nie is waar ons Jehovah dien nie, maar dat ons hom heelhartig dien, ongeag waar ons is.—Kolossense 3:23.

[Lokteks op bladsy 25]

“Ek geniet dit nog steeds om branderplank te ry, maar ek het iets beters as ‘volmaakte golwe’ gevind”

[Prent op bladsy 22, 23]

’n Foto van my terwyl ek branderplank ry, wat vir ’n “Summer Surf Festival”- plakkaat gebruik is

[Prent op bladsy 23]

Toe ek 13 was

[Prent op bladsy 23]

My hippielewenswyse was vir my onbevredigend

[Prente op bladsy 25]

Bo: Ek help met die bou van Koninkryksale

Regs: Saam met Sue vandag

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel