’n Toekoms waarvan jy seker kan wees!
Jy het by ’n vurk in die pad gekom. Een teken sê: “Plaas jou toekoms in die hande van mense en hulle beloftes.” Die ander een sê: “Vertrou op God en sy Koninkryk.” Watter weg sal jy kies?
DIE wyse keuse is om op God te vertrou. “Wat die een betref wat na my luister”, sê hy, “hy sal in veiligheid woon en nie deur vrees vir rampspoed versteur word nie” (Spreuke 1:33). Ons luister na ons Skepper deur ag te slaan op die leringe wat die Bybel bevat, in die wete dat dit betroubaar is (2 Timoteus 3:16). Is sulke vertroue gegrond? Beslis! Soos ons byvoorbeeld in die tweede artikel in hierdie reeks gesien het, gee net die Bybel ’n akkurate verduideliking van waarom mense hulleself nie met welslae kan regeer nie. Stem jy nie saam dat wat die Bybel sê, met die feite ooreenstem nie?
Bybelprofesieë is net so akkuraat. Die Bybel het byvoorbeeld die droewige toestande voorspel wat kenmerkend is van die teenswoordige “laaste dae”. Ons kan dit met ons eie oë sien (Matteus 24:3-7; 2 Timoteus 3:1-5). Die Bybel het selfs voorspel dat mense die welstand van die planeet sou bedreig. God sal “die verderwers van die aarde . . . verderf”, sê Openbaring 11:18.
Toe daardie woorde sowat 2 000 jaar gelede geskryf is, sou verskynsels soos die besoedeling van die lug, see en grond, aardverwarming en die grootskaalse uitsterwing van spesies wat veroorsaak is deur mense, ondenkbaar gewees het. Maar nie nou nie! Ja, God lieg nooit nie. Sy geskrewe Woord word altyd in die fynste besonderhede vervul (Titus 1:2; Hebreërs 6:18).a Trouens, God bied sy naam as waarborg dat sy woord vervul sal word.
’n Naam waarop jy kan vertrou
Net soos ’n handtekening ’n tjek geldig maak, is God se persoonlike naam—Jehovah—’n waarborg van al die beloftes wat in die Bybel opgeteken staan.b “In sy heilige naam het ons ons vertroue gestel”, het ’n Bybelskrywer gesê wat God se liefdevolle sorg dikwels ondervind het.—Psalm 33:21; 34:4, 6.
Spreuke 18:10 verbind God se naam met sy vaderlike sorg en sê: “Die naam van Jehovah is ’n sterk toring. Die regverdige hardloop daarin en word beskerm.” Romeine 10:13 sê eweneens: “Elkeen wat die naam van Jehovah aanroep, sal gered word.” God se persoonlike naam is natuurlik nie ’n towerspreuk wat boosheid verdryf nie. Dit is eerder God self wat redding voorsien, en diegene wat hom aanroep, soos hierdie teks sê, doen dit omdat hulle hom volkome vertrou en sy onberispelike reputasie goed ken. Psalm 91:14 sê: “Omdat hy sy geneentheid op my [Jehovah] gerig het, sal ek ook aan hom ontkoming verskaf. Ek sal hom beskerm omdat hy my naam leer ken het.”
Vra jou af: ‘In wie stel ek my vertroue—in God of in die mens?’ Jehovah se Getuies kies God en sy Koninkryk, nie uit irrasionele sentiment of blinde liggelowigheid nie, maar op grond van sterk oortuiging wat spruit uit juiste kennis van die Bybel (Hebreërs 11:1; 1 Johannes 4:1). Gevolglik vrees hulle nie die toekoms nie, maar hulle “verbly [hulle] in die hoop” wat vir hulle in die vooruitsig gestel is. Hulle nooi jou om ook in hierdie helder hoop te deel.—Romeine 12:12.
[Voetnote]
a Sien hierdie tydskrif se spesiale uitgawe van November 2007. Daardie hele tydskrif bespreek die vraag “Kan jy die Bybel vertrou?”
b Sien die bygaande venster “’n Naam sowel as ’n waarborg”.
[Lokteks op bladsy 9]
Net soos ’n handtekening ’n tjek geldig maak, is God se naam ’n waarborg van al die beloftes in die Bybel
[Venster op bladsy 9]
’N NAAM SOWEL AS ’N WAARBORG
God se naam, Jehovah, is nie bloot ’n etiket nie.c Hoe so? Daardie naam beteken “Hy laat word”. Eenvoudig gestel, God het die liefde, die krag en die wysheid om te word wat hy ook al dink nodig is om sy voorneme te verwesenlik en sy woord te vervul. Hy kan byvoorbeeld ’n Redder van die regverdiges, ’n Vernietiger van die goddeloses, ’n Hoorder van gebed of ’n liefdevolle Vader word—wat hy ook al besluit om te word.
“Ek [is] God”, sê Jehovah, “wat van die begin af die uiteinde verkondig, . . . wat sê: ‘My besluit sal bly staan, en alles wat my behaag, sal ek doen’” (Jesaja 46:9, 10). Omdat God altyd getrou is aan homself en omdat sy naam, of reputasie, daarby betrokke is, sal sy geskrewe Woord beslis vervul word. “God is nie ’n mens dat hy leuens sou vertel nie.”—Numeri 23:19.
[Voetnoot]
c Die naam Jehovah verskil heeltemal van die titels Almagtige, Skepper, God en Here. Dit kom ongeveer seweduisend keer in die oorspronklike teks van die Heilige Bybel voor. God het homself daardie naam gegee. Eksodus 3:15 sê: “Jehovah . . . is my naam vir ewig.”—American Standard Version.