Jongmense vra
Waarom nie net ’n einde aan alles maak nie?
Elke jaar probeer miljoene jongmense hulle lewe neem. Duisende slaag daarin. Weens die algemeenheid van tienerselfmoord voel die uitgewers van “Ontwaak!” dat dit belangrik is om hierdie onderwerp te bespreek.
“LAAT my sterf. Dit sou vir my beter wees om dood te wees as om te lewe.” Wie se woorde was dit? Iemand wat nie in God geglo het nie? Iemand wat God verlaat het? Iemand wat deur God verlaat is? Nie een van die bogenoemde nie. Die spreker was die godvresende maar hewig ontstelde man Jona (Jona 4:3, Today’s English Version).a Die Bybel sê nie dat Jona op die punt was om sy lewe te neem nie. Maar sy desperate woorde bring ’n insiggewende feit aan die lig—selfs ’n kneg van God kan soms deur angstigheid oorweldig word.—Psalm 34:19.
Party jongmense ervaar sulke intense wanhoop dat hulle geen rede sien om te bly lewe nie. Hulle voel dalk soos die 16-jarige Laura,b wat sê: “Ek sukkel al jare lank van tyd tot tyd met depressie. Ek oorweeg dit dikwels om selfmoord te pleeg.” Wat kan jy doen as jy iemand ken wat gesê het dat hyc ’n einde aan alles wil maak—of as jy al self daaraan gedink het? Kom ons kyk eers van naderby na die redes waarom sulke gedagtes kan ontstaan.
Agter die wanhoop
Waarom sal enigiemand dit oorweeg om sy lewe te neem? Daar kan verskeie faktore wees. Om maar een ding te noem, ons lewe in “kritieke tye . . . wat moeilik is om deur te kom”, en baie adolessente vind die druk van die lewe besonder moeilik om te verwerk (2 Timoteus 3:1). Dan is daar ook menslike onvolmaaktheid wat kan veroorsaak dat party uiters negatiewe gedagtes oor hulleself en die wêreld om hulle koester (Romeine 7:22-24). Soms is dit omdat hulle mishandel word. In ander gevalle is ’n mediese probleem moontlik daarby betrokke. Na raming het meer as 90 persent van diegene in een land wat hulle lewe geneem het, aan die een of ander geestesiekte gely.d
Niemand is natuurlik immuun teen teëspoed nie. Trouens, die Bybel sê dat “die hele skepping . . . voortdurend saam kreun en saam pyn ly” (Romeine 8:22). Dit sluit jongmense in. Om die waarheid te sê, jongmense kan diep getref word deur negatiewe gebeure, soos die volgende:
◼ Die dood van ’n familielid, vriend of troeteldier
◼ Gesinskonflik
◼ Akademiese mislukking
◼ ’n Mislukte romanse
◼ Mishandeling (waaronder fisiese mishandeling of seksuele molestering)
Alle jongmense kom natuurlik vroeër of later voor een of meer van die situasies te staan wat hierbo genoem word. Waarom is party beter toegerus om die storm te trotseer as ander? Kenners sê dat jongmense wat die handdoek wil ingooi, heeltemal hulpeloos en hopeloos voel. Met ander woorde, hierdie jongmense glo dat daar niks is wat hulle kan doen om hulle lot te verbeter nie, en hulle sien geen uitkoms nie. “Heel dikwels”, het dr. Kathleen McCoy vir Ontwaak! gesê, “wil hierdie jongmense nie werklik sterf nie. Hulle wil net hê dat die pyn moet ophou.”
Geen uitkoms nie?
Dalk ken jy iemand wat ‘wil hê dat die pyn moet ophou’—in so ’n mate dat hy al gesê het dat hy ’n einde aan alles wil maak. Wat kan jy doen as dit die geval is?
As ’n vriend so ongelukkig is dat hy wil sterf, moet jy hom aanspoor om hulp te kry. Praat met ’n verantwoordelike volwassene, ongeag hoe jou vriend daaroor voel. Moenie bekommerd wees dat dit die einde van julle vriendskap sal beteken nie. Deur nie daaroor stil te bly nie, toon jy dat jy ’n “ware metgesel” is, een wat “gebore [is] vir die tyd wanneer daar benoudheid is” (Spreuke 17:17). Jy red dalk heel moontlik daardie persoon se lewe!
Maar sê nou jy het dit al self oorweeg om ’n einde aan alles te maak? “Soek hulp”, sê dr. McCoy. “Vertel vir iemand hoe jy voel—’n ouer, ’n ander familielid, ’n vriend, ’n onderwyser, ’n godsdiensbedienaar—iemand wat omgee, wat jou ernstig sal opneem, na jou sal luister en sal toesien dat ander belangrike mense in jou lewe luister na wat jy sê.”
Jy het niks om te verloor as jy oor jou probleme praat nie, trouens, dit kan jou net help. Kyk na ’n Bybelse voorbeeld. Op een stadium in sy lewe het die regverdige man Job gesê: “My siel het beslis ’n weersin in my lewe.” Maar toe het hy bygevoeg: “Ek sal uiting gee aan my besorgdheid oor myself. Ek sal in die bitterheid van my siel praat!” (Job 10:1). Job was wanhopig, en hy moes praat oor sy pyn. Dalk sal jy verligting vind deur ’n volwasse vriend in jou vertroue te neem.
Christene wat in benoudheid verkeer, het ’n verdere hulpmiddel—gemeentelike ouer manne (Jakobus 5:14, 15). Om oor jou probleme te praat, sal dit natuurlik nie laat verdwyn nie. Maar dit kan jou help om dit in perspektief te plaas, en die ondersteuning van ’n vertroueling is dalk net wat jy nodig het om praktiese oplossings te vind.
Dinge verander
Wanneer jy in benoudheid verkeer, moet jy onthou: Ongeag hoe hopeloos ’n situasie dalk lyk, met verloop van tyd sal dinge verander. Die psalmis Dawid, wat teëspoed geken het, het in gebed gesê: “Ek het moeg geword van my gesug; die hele nag deur laat ek my slaapbank swem; met my trane laat ek my divan oorstroom” (Psalm 6:6). Tog het hy in ’n ander psalm geskryf: “U het my getreur vir my in gedans verander.”—Psalm 30:11.
Dawid het uit ondervinding geweet dat die lewe se probleme kom en gaan. Ja, party lyk dalk oorweldigend—ten minste op die oomblik. Maar wees geduldig. Dinge verander, dikwels ten goede. In sommige gevalle kom daar verligting, dalk op onvoorspelbare maniere. In ander gevalle vind jy moontlik dat jy die probleem kan hanteer op ’n manier waaraan jy nie vroeër gedink het nie. Die punt is dat probleme wat benoudheid veroorsaak, nie vir ewig dieselfde sal bly nie.—2 Korintiërs 4:17.
Die waarde van gebed
Gebed is die belangrikste vorm van kommunikasie wat jy kan hê. Jy kan soos Dawid bid: “Deurvors my, o God, en ken my hart. Ondersoek my, en ken my verontrustende gedagtes, en kyk of daar in my enigsins ’n pynlike weg is, en lei my op die weg van onbepaalde tyd.”—Psalm 139:23, 24.
Gebed is nie bloot ’n kruk nie. Dit is ware kommunikasie met jou hemelse Vader, wat wil hê dat jy ‘jou hart voor hom moet uitstort’ (Psalm 62:8). Kyk na die volgende basiese waarhede oor God:
◼ Hy is bewus van die omstandighede wat tot jou benoudheid bydra.—Psalm 103:14.
◼ Hy ken jou beter as wat jy jouself ken.—1 Johannes 3:20.
◼ ‘Hy sorg vir jou.’—1 Petrus 5:7.
◼ In sy nuwe wêreld sal God “elke traan van [jou] oë afvee”.—Openbaring 21:4.
Wanneer daar ’n gesondheidsprobleem is
Soos vroeër gemeld is, is selfmoordgedagtes dikwels die gevolg van die een of ander siekte. As dit met jou die geval is, moet jy nie skaam voel om hulp te vra nie. Jesus het erken dat diegene wat siek is, ’n geneesheer nodig het (Matteus 9:12). Die goeie nuus is dat talle toestande behandel kan word. En behandeling kan jou help om baie beter te voel!
Die Bybel belowe dat in God se nuwe wêreld “geen inwoner sal sê: ‘Ek is siek’ nie” (Jesaja 33:24). Doen intussen jou bes om die lewe se uitdagings die hoof te bied. Dit is presies wat Heidi, wat in Duitsland woon, gedoen het. “Met tye was my depressie so erg dat ek net wou sterf”, sê sy, “maar nou kan ek weer ’n normale lewe lei, danksy volharding in gebed en die behandeling wat ek ontvang het.” Dit kan ook met jou die geval wees!e
’n Toekomstige artikel in die “Jongmense vra”-reeks sal handel oor hoe om die dood van ’n broer of suster te verwerk wat selfmoord gepleeg het
Nog artikels uit die reeks “Jongmense vra” kan gevind word op die webwerf www.watchtower.org/ype
[Voetnote]
a Rebekka, Moses, Elia en Job het soortgelyke dinge gesê.—Genesis 25:22; 27:46; Numeri 11:15; 1 Konings 19:4; Job 3:21; 14:13.
b Name in hierdie artikel is verander.
c Hoewel die manlike voornaamwoord gebruik word, is hierdie inligting natuurlik op jongmense van albei geslagte van toepassing.
d Dit is egter belangrik om daarop te let dat die meeste jongmense wat aan ’n geestesiekte ly, nie selfmoord pleeg nie.
e Vir meer inligting oor hoe om gevoelens van benoudheid die hoof te bied, sien die reeks “Hulp vir tieners met depressie”, in die Ontwaak! van 8 September 2001, en die reeks “Verstaan gemoedsversteurings”, in die nommer van 8 Januarie 2004.
IETS OM OOR TE DINK
◼ Daar is al gesê dat selfmoord nie jou probleme oplos nie; dit maak dit net iemand anders s’n. Hoe is dit waar?
◼ Met wie kan jy praat as jy baie angstig voel?
[Venster/Prent op bladsy 29]
’N WOORDJIE AAN OUERS
In sommige wêrelddele is selfmoord onder jongmense ontstellend algemeen. In die Verenigde State is selfmoord byvoorbeeld die derde grootste doodsoorsaak onder jongmense tussen die ouderdomme van 15 en 25, en gedurende die afgelope twee dekades het die selfmoordsyfer onder dié tussen die ouderdomme van 10 en 14 verdubbel. Diegene wat in die grootste gevaar verkeer, is onder meer jongmense wat aan ’n geestesiekte ly, dié wat ’n familiegeskiedenis van selfmoord het en dié wat al in die verlede selfmoord probeer pleeg het. Waarskuwingstekens dat ’n jongmens dit moontlik oorweeg om sy lewe te neem, sluit die volgende in:
◼ Hy onttrek hom van sy familie en vriende
◼ Sy eet- en slaapgewoontes verander
◼ Hy verloor belangstelling in aktiwiteite wat hy voorheen geniet het
◼ Sy persoonlikheid verander opvallend
◼ Hy misbruik dwelms of alkohol
◼ Hy gee kosbare besittings weg
◼ Hy praat oor die dood of is behep met onderwerpe wat daarmee verband hou
Dr. Kathleen McCoy het vir Ontwaak! gesê dat een van die grootste foute wat ’n ouer kan maak, is om sulke waarskuwingstekens te ignoreer. “Niemand wil dink dat daar dalk iets fout is met hulle kind nie”, sê sy, “en daarom ontken sommige ouers dit. Hulle sê vir hulleself: ‘Dis net ’n stadium waardeur sy gaan’ of ‘Dit sal verbygaan’ of ‘Sy was nog altyd ’n bietjie dramaties’. Dit is gevaarlik. Alle gevaartekens moet ernstig opgeneem word.”
Moenie skaam voel om hulp te kry vir jou seun of dogter as hy of sy aan ernstige depressie of ’n ander geestesiekte ly nie. En as jy vermoed dat jou tiener daaraan dink om ’n einde aan alles te maak, vra hom daaroor uit. Die idee dat dit iemand sal aanmoedig om selfmoord te pleeg as jy daaroor praat, is onwaar. Baie jongmense is verlig wanneer ouers die onderwerp aanroer. As jou tiener dus erken dat hy selfmoordgedagtes het, moet jy uitvind of hy al ’n selfmoordplan beraam het en indien wel, hoe gedetailleerd die plan is. Hoe meer gedetailleerd die plan is, hoe dringender is dit dat jy ingryp.f
Moenie aanneem dat die depressie vanself sal weggaan nie. En as dit wel lyk asof dit weggaan, moenie dink dat die probleem opgelos is nie. Sommige deskundiges sê dat dit die gevaarlikste tyd is. Waarom? “’n Tiener wat ernstige depressie het, het dalk nie die energie om sy selfmoordplan deur te voer nie”, sê dr. McCoy. “Wanneer hy nie meer so depressief is nie, het die tiener dalk genoeg energie om dit te doen.”
Dit is inderdaad tragies dat sommige jongmense dit oorweeg om ’n einde aan alles te maak omdat hulle so wanhopig is. Deur te let op die tekens en daarop te reageer, kan ouers en ander volwassenes wat omgee, “vertroostend met die terneergedrukte siele [praat]” en soos ’n skuilplek vir jongmense wees.—1 Tessalonisense 5:14.
[Voetnoot]
f Kenners waarsku ook dat huishoudings met voorskrifmedisyne wat dodelik kan wees of gelaaide vuurwapens wat toeganklik is, veral in gevaar verkeer. Aangaande die laasgenoemde sê die Amerikaanse Stigting vir die Voorkoming van Selfmoord: “Hoewel die meeste vuurwapeneienaars na bewering ’n vuurwapen vir ‘beskerming’ of ‘selfverdediging’ besit, is 83 persent van vuurwapenverwante sterftes in hierdie huise die gevolg van ’n selfmoord, dikwels deur iemand anders as die vuurwapeneienaar.”
[Prent op bladsy 28]
Gebed is die belangrikste vorm van kommunikasie