’n Adolessent in die huis—Die rol van wysheid
“Ons probeer hard om aan ons seun en dogter leiding te gee, maar dit voel asof ons hulle gedurig oor iets berispe. Soms wonder ons of ons hulle selfvertroue opbou of afbreek. Dit is werklik ’n uitdaging om ’n balans te vind.”—George en Lauren, Australië.
DIT is glad nie maklik om ’n adolessent groot te maak nie. Buiten al die nuwe uitdagings wat hulle kind stel, moet ouers ook hulle eie bekommernisse oor die feit dat hulle seun of dogter grootword, die hoof bied. “Die blote gedagte dat ons kinders eendag nie meer in die huis sal wees nie, maak ons hartseer”, erken Frank, ’n pa in Australië. “Dis nie maklik om te aanvaar dat jy nie meer in beheer van hulle lewe is nie.”
Lia, wat vroeër in hierdie reeks aangehaal is, stem saam. “Dis moeilik om my seun soos ’n jong volwassene te behandel, want ek beskou hom nog steeds as my ou seuntjie”, sê sy. “Dit voel soos gister dat hy vir die eerste keer skool toe gegaan het!”
Dit is dalk moeilik om te aanvaar, maar adolessente is nie meer klein kindertjies nie. Hulle is ‘leerlingvolwassenes’, en hulle ouers is hulle onderwysers en hulle grootste ondersteuners. Maar soos George en Lauren hierbo gesê het, het ouers die mag om ’n kind se selfvertroue op te bou of af te breek. Hoe kan ouers die regte balans vind? Die Bybel bevat nuttige raad (Jesaja 48:17, 18). Kom ons kyk na ’n paar voorbeelde.
Goeie kommunikasie is noodsaaklik
Die Bybel sê vir Christene dat hulle “gou [moet] wees om te hoor” en “stadig om te praat” (Jakobus 1:19). Terwyl dit goeie raad is in jou handelinge met kinders van enige ouderdom, is om te hoor—of te luister—veral belangrik in die geval van adolessente. En dit kan groot inspanning verg.
“Ek moes my kommunikasievermoë verbeter toe my seuns tieners geword het”, sê Peter, ’n pa in Brittanje. “Toe die seuns jonger was, het ek en my vrou vir hulle gesê wat om te doen, en hulle het geluister. Maar noudat hulle ouer is, moet ons met hulle redeneer, dinge bespreek en hulle hulle eie denkvermoëns laat gebruik om sake op te los. Kortom, ons moet die hart bereik.”—2 Timoteus 3:14.
Dit is veral noodsaaklik om te luister wanneer daar konflik is (Spreuke 17:27). Danielle, in Brittanje, het gevind dat dit in haar geval waar is. Sy vertel: “Ek het ’n probleem met een van my dogters gehad omdat sy teëgepraat het elke keer wanneer ek haar gevra het om iets te doen. Maar sy het vir my gesê dat ek altyd op haar skree en haar hiet en gebied. Ons het hierdie konflik uit die weg geruim deur te sit en werklik na mekaar te luister. Sy het beskryf hoe ek met haar praat en hoe dit haar laat voel, en ek het aan haar verduidelik wat ek dink en hoe ek voel.”
Danielle het gevind dat om “gou [te] wees om te hoor”, haar gehelp het om te besef dat daar ’n onderliggende kwessie is. “Nou probeer ek om geduldig te wees met my dogter”, sê sy, “en ek probeer om net met haar te praat wanneer ek nie kwaad is nie.” Sy voeg by: “Ons verhouding is aan die verbeter.”
Spreuke 18:13 sê: “Wanneer iemand op ’n saak antwoord voordat hy dit hoor, is dit dwaasheid van sy kant en ’n vernedering.” Greg, ’n pa in Australië, het gevind dat dit waar is. “Daar ontstaan soms konflikte met ons kinders wanneer ek en my vrou gou is om die Leviete voor te lees, pleks van eers te luister en ons kinders se gevoelens in ag te neem”, sê hy. “Selfs wanneer ons hulle gesindhede glad nie goedkeur nie, het ons gevind dat dit baie belangrik is om hulle toe te laat om hulle gevoelens uit te spreek voordat ons enige nodige teregwysing of raad gee.”
Hoeveel vryheid?
Die kwessie van onafhanklikheid is moontlik die algemeenste oorsaak van konflik tussen ouers en adolessente. Hoeveel vryheid moet ’n tiener gegee word? “Soms voel ek dat as ek my dogter die pinkie gee, sy die hele hand wil vat”, sê een vader.
Dit sal natuurlik slegte gevolge hê om jongmense onbeperkte vryheid te gee. Trouens, die Bybel waarsku: “’n Seun wat aan homself oorgelaat word, sal sy moeder in die skande steek” (Spreuke 29:15). Jongmense van enige ouderdom het besliste riglyne nodig, en ouers moet liefdevol maar konsekwent wees in die toepassing van gesinsreëls (Efesiërs 6:4). Terselfdertyd moet jongmense ’n mate van onafhanklikheid gegee word sodat hulle beter voorbereid sal wees om later in die lewe wyse besluite te neem.
Dink byvoorbeeld aan hoe jy leer loop het. Toe jy ’n baba was, moes jy gedra word. Mettertyd het jy begin kruip en toe begin loop. Om te begin rondbeweeg, kan natuurlik vir ’n klein kindjie gevaarlik wees. Daarom het jou ouers jou goed dopgehou en dalk selfs versperrings opgerig om jou van gevaarlike plekke, soos ’n trap, weg te hou. Hulle het jou nietemin toegelaat om op jou eie rond te beweeg sodat jy mettertyd—nadat jy natuurlik ’n hele paar keer geval het—sou leer om met gemak te loop.
Om onafhanklik te word, behels ’n soortgelyke proses. Aan die begin dra ouers hulle kindertjies as ’t ware. Hulle doen dit deur besluite vir hulle te neem. Later, wanneer hulle kinders ’n mate van volwassenheid openbaar, laat ouers hulle toe om te kruip, om dit so uit te druk. Hulle laat hulle toe om sekere besluite self te neem. Die hele tyd is daar “versperrings” wat jongmense teen leed beskerm. Namate hulle kinders meer volwasse raak, laat ouers hulle toe om op hulle eie te “loop”. Wanneer hulle dan volwassenes is, sal hulle heeltemal in staat wees om ‘hulle eie vrag te dra’.—Galasiërs 6:5.
Leer uit ’n Bybelvoorbeeld
Jesus se ouers het hom as ’n jong seun klaarblyklik ’n mate van onafhanklikheid gegee, maar hy het hulle vertroue nie misbruik nie. Inteendeel, hy het aan sy ouers “onderdanig gebly” terwyl hy “deurentyd toegeneem [het] in wysheid en in grootte en in guns by God en die mense”.—Lukas 2:51, 52.
As ouer kan jy uit hierdie voorbeeld leer en jou kinders geleidelik meer vryheid gee namate hulle toon dat hulle dit kan hanteer. Let op wat sommige ouers oor hulle ondervindinge in hierdie verband gesê het.
“Ek het heeltemal te veel met my kinders se bedrywighede ingemeng. Later het ek vir hulle beginsels geleer en hulle besluite laat neem op grond van wat hulle geleer het. Daarna het ek gesien dat hulle hulle besluite versigtiger begin oorweeg het.”—Soo Hioen, Korea.
“Ek en my man is maar altyd ’n bietjie skrikkerig, maar ons het nie toegelaat dat dit ons kinders verhoed om die vryheid wat hulle tereg verdien het, op ’n verantwoordelike wyse uit te oefen nie.”—Daria, Brasilië.
“Ek het gevind dat dit belangrik is om my tienerseun te prys vir die goeie manier waarop hy die onafhanklikheid gebruik wat ek hom gee. Ek doen ook wat ek hom vra om te doen. Ek sê byvoorbeeld vir hom waarheen ek gaan en wat ek doen. As ek laat gaan wees, laat ek hom weet.”—Anna, Italië.
“In ons huis beklemtoon ons dat onafhanklikheid nie iets is waarop ons seuns geregtig is nie; hulle moet eerder bewys dat hulle daarmee vertrou kan word.”—Peter, Brittanje.
Laat hulle die gevolge dra
Die Bybel sê: “Dit is goed vir ’n man dat hy die juk in sy jeug dra” (Klaagliedere 3:27). Een van die beste maniere waarop ’n jongmens die juk van verantwoordelikheid kan dra, is om deur ondervinding die waarheid van hierdie stelling te leer: “Wat ’n mens saai, dit sal hy ook maai.”—Galasiërs 6:7.
Sommige ouers beskerm hulle tieners, waarskynlik met goeie bedoelings, teen die gevolge van onverstandige optrede. Byvoorbeeld, gestel ’n seun beland in die skuld omdat hy spandabelrig is. Watter les sal hy leer as sy pa en ma dit eenvoudig vir hom afbetaal? Aan die ander kant, watter les sal hy leer as sy ouers hom help om ’n plan uit te werk sodat hy die skuld self kan afbetaal?
As ouers keer dat hulle kinders die gevolge van onverantwoordelike optrede dra, doen hulle hulle beslis geen guns nie. Pleks van hulle vir volwassenheid voor te berei, leer dit hulle bloot dat daar altyd iemand sal wees om hulle uit ’n penarie te help, hulle gemors op te ruim en hulle foute toe te smeer. Dit is baie beter om tieners die geleentheid te gee om te maai wat hulle gesaai het en om te leer hoe om hulle probleme op te los. Dit is ’n belangrike manier waarop hulle “waarnemingsvermoëns . . . geoefen [word] om te onderskei wat reg sowel as verkeerd is”.—Hebreërs 5:14.
“’n Veranderende, ontwikkelende persoon”
Daar bestaan geen twyfel dat ouers van adolessente ’n ontsaglike taak die hoof moet bied nie. Met tye sal hulle waarskynlik trane van frustrasie stort terwyl hulle daarna streef om hulle kinders “in die dissipline en verstandsregulering van Jehovah” op te voed.—Efesiërs 6:4.
Om ’n bekwame ouer te wees, beteken immers nie dat jy jou kind beheer nie, maar dat jy hom die regte waardes leer en dit by hom inskerp (Deuteronomium 6:6-9). Makliker gesê as gedaan? Beslis. “Ons het te doen met ’n veranderende, ontwikkelende persoon”, sê Greg, wat vroeër aangehaal is. “Dit beteken dat ons hierdie nuwe persoon voortdurend moet leer ken en by hom moet aanpas.”
Streef daarna om die Bybelbeginsels toe te pas wat in hierdie artikel bespreek is. Wees redelik in wat jy van jou kinders verwag. Maar moet nooit ophou om die vernaamste rolmodel in hulle lewe te wees nie. Die Bybel sê: “Lei ’n seun op volgens die weg vir hom; ook as hy oud word, sal hy nie daarvan afwyk nie.”—Spreuke 22:6.
[Lokteks op bladsy 7]
Om onafhanklikheid te verkry, is soos om te leer loop—dit is ’n geleidelike proses
[Lokteks op bladsy 8]
As ’n jong seun is Jesus ’n mate van onafhanklikheid gegee
[Venster op bladsy 7]
‘Herbevestig jou gesag’
Die feit dat jou tiener dalk ontsteld is oor die beperkings wat jy stel, beteken nie dat jy jou gesag moet prysgee nie. Onthou, adolessente is onervare en het nog steeds leiding nodig.—Spreuke 22:15.
In sy boek New Parent Power! skryf John Rosemond: “Dit is maklik vir ouers om toe te laat dat hulle geïntimideer word deur hulle kinders se onstuimige emosies en om hulle meer verantwoordelikheid te begin gee as wat hulle kan hanteer, net om konfrontasie te vermy. Presies die teenoorgestelde moet gedoen word. Dit is ’n tyd om eerder jou gesag te herbevestig as om toe te laat dat jou kinders dit ondermyn. Hoewel hulle hierdie idee beslis sal verwerp, is dit ook ’n tyd vir kinders om te weet dat daar ander hande is wat gereed is om die stuurwiel te neem.”
[Venster op bladsy 9]
Meer vryheid
Dikwels wil tieners meer vryheid hê as wat hulle behoort te hê. Terselfdertyd is sommige ouers geneig om minder vryheid te gee as wat hulle kan gee. Iewers tussen die twee uiterstes is daar ’n balans. Hoe kan jy dit vind? Om mee te begin, kyk gerus na die lys hieronder. Op watter gebiede openbaar jou kind verantwoordelike gedrag?
□ Sy keuse van vriende
□ Sy keuse van klere
□ Hy hou by ’n begroting
□ Hy hou by sy inkomtyd
□ Hy voltooi take
□ Hy voltooi sy skoolwerk
□ Hy vra om verskoning vir foute
□ Ander ․․․․․․․․․․․․․․․․․․․․․․․․․․․․․․․․․․․․․․․․․
As jou adolessent reeds op van die gebiede hierbo volwassenheid openbaar, kan jy gerus aan maniere dink waarop jy verdere vertroue in hom kan stel.
[Prent op bladsy 7]
Laat hulle toe om hulle gevoelens uit te spreek voordat jy enige nodige teregwysing of raad gee
[Prent op bladsy 8, 9]
Ouers moet hulle kinders leer om verantwoordelik te wees