Waar kan ons leiding vind?
WIE kan vir ons die weg na ware sukses wys—nie sukses op sekulêre gebied nie, maar sukses as ’n persoon? Soos in die vorige artikel gemeld is, moet ware sukses, om die minste te sê, met betroubare sedelike beginsels en ’n edele doel in die lewe verband hou—dinge wat nie van roem, rykdom of mag afhang nie.
Waar kan ons betroubare beginsels en antwoorde op vrae oor die doel van die lewe vind? Kan ons dit in onsself vind? Laat ons eerlik wees—as onvolmaakte mense is ons geneig tot verkeerde begeertes wat ons op die verkeerde weg kan lei (Genesis 8:21). Daarom hou miljoene aan om die nietighede na te jaag wat die Bybel beskryf as “die begeerte van die vlees en die begeerte van die oë en die spoggerige vertoon van ’n mens se lewensmiddele” (1 Johannes 2:16). Dit is nie ware sukses nie, maar ’n namaaksel daarvan wat tot ontnugtering en ongelukkigheid lei. Dit is dan met goeie rede dat baie hulle tot ons Skepper wend vir die antwoorde op die lewe se dieper vrae.a
Moet ons ons tot God wend?
Waarom is dit redelik om ons tot ons Skepper te wend? Hy weet waarom hy ons gevorm het, en daarom weet hy wat ons doel in die lewe behoort te wees. Hy weet ook hoe hy ons gevorm het—fisies, verstandelik en emosioneel. God weet dus wat die heel beste beginsels is waarvolgens mense kan lewe. Wat meer is, God is die verpersoonliking van liefde, en daarom wil hy hê dat ons waarlik gelukkig en suksesvol moet wees (1 Johannes 4:8). Waar kan ons sy liefdevolle leiding vind? In die Heilige Bybel, wat God deur middel van ongeveer 40 menseskrywers, of sekretarisse, aan ons voorsien het (2 Timoteus 3:16, 17).b Maar hoe kan ons vertroue hê in die leiding wat in daardie boek gevind word?
“Die wysheid word deur sy werke [of resultate] geregverdig”, het Jesus Christus, God se vernaamste verteenwoordiger, gesê (Matteus 11:19; Johannes 7:29). Goddelike wysheid lei ons op die weg van sukses en blywende geluk—“die hele weg van wat goed is”—terwyl menslike wysheid wat God buite rekening laat, tot mislukking en ongelukkigheid lei.—Spreuke 2:8, 9; Jeremia 8:9.
Dink aan die hippie-era, wat gedurende die 1960’s op die wêreldtoneel verskyn het. Baie hippies, wat die standaarde en gesag van die ouer geslag verwerp het, het onder meer die gebruik van dwelms, ’n lewe-vir-nou-filosofie en seksuele vryheid bevorder. Maar was daardie lewenswyse werklik wys? Het dit mense ’n ware doel in die lewe gegee, sowel as sedelike standaarde wat werklik innerlike vrede en blywende geluk bevorder? Die geskiedenis toon dat dit mense nie ten goede verander het nie, maar dat dit tot die verdere sedelike agteruitgang van die mensegemeenskap bygedra het.—2 Timoteus 3:1-5.
In teenstelling met menslike filosofieë het Bybelse wysheid die toets van die tyd deurstaan (Jesaja 40:8). Wanneer jy die volgende artikel lees, sal jy heel moontlik sien waarom, aangesien dit ses Bybelbeginsels bespreek wat miljoene mense, van feitlik alle nasies, gehelp het om waarlik gelukkig en suksesvol te wees—ongeag hulle ekonomiese of sosiale stand.
[Voetnote]
a Sien die venster “Opvattings wat die idee van sukses ondermyn”.
b Sien hierdie tydskrif se spesiale uitgawe van November 2007, wat die tema “Die Bybel—Kan jy dit vertrou?” bespreek. Die artikels in hierdie nommer voorsien argeologiese, geskiedkundige, wetenskaplike en ander bewyse dat die Bybel werklik deur God geïnspireer is.
[Venster op bladsy 5]
OPVATTINGS WAT DIE IDEE VAN SUKSES ONDERMYN
Baie mense sê dat daar geen God is nie en dat lewe die gevolg van blinde evolusie is. As hierdie beskouing waar was, sou lewe eenvoudig die resultaat van ’n reeks chemiese en biologiese ongelukke gewees het en sou ons soeke na ’n doel in die lewe en universele beginsels heeltemal tevergeefs gewees het.
Ander glo dat God ons geskep het en toe van ons vergeet het. Hierdie mening impliseer dat ons in werklikheid geestelike weeskinders is; ook in hierdie geval ontneem van standaarde en ’n ware doel in die lewe. Dink hieraan: God het elke lid van die diereryk die instinktiewe wysheid gegee wat hy nodig het om sy plek in die natuur vol te staan. Gevolglik word sy ontsaglike wysheid in die wêreld om ons geopenbaar. Sou daardie selfde Skepper ons vorm en ons dan los om in die donker rond te tas? Hoegenaamd nie!—Romeine 1:19, 20.
Deur te impliseer dat ons soeke na ’n doel in die lewe en universele beginsels tevergeefs is, ondermyn ateïstiese filosofieë die hele idee van sukses.
[Prent op bladsy 5]
Die goeie resultate van die wysheid in die Bybel bewys dat dit betroubaar is