Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g 12/08 bl. 19-21
  • Moet ek stilbly oor my vriend se oortreding?

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Moet ek stilbly oor my vriend se oortreding?
  • Ontwaak!—2008
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Om te praat of stil te bly?
  • “’n Tyd om te praat”
  • Is jy dislojaal?
  • Wat moet ek doen as ’n vriend in die moeilikheid beland?
    Ontwaak!—1996
  • God nooi jou om sy vriend te word
    Jy kán God se vriend wees!
  • Wie is my ware vriende?
    Ontwaak!—2011
  • Waarom het my vriend my seergemaak?
    Ontwaak!—2000
Sien nog
Ontwaak!—2008
g 12/08 bl. 19-21

Jongmense vra

Moet ek stilbly oor my vriend se oortreding?

“Dit was verskriklik moeilik. Hierdie persoon was ’n goeie vriend van my.”—James.a

“Aan die begin was dinge baie gespanne. Ek is soos ’n buitestander behandel omdat ek gaan praat het.”—Ann.

DIE Bybel sê: “Daar is ’n vriend wat sterker aanhang as ’n broer” (Spreuke 18:24). Het jy so ’n vriend? Indien wel, het jy iets spesiaals gevind.

Maar gestel ’n vriend wat sê dat hy ’n Christen is, het iets verkeerds gedoen? Sê nou hy of sy het byvoorbeeld betrokke geraak by onsedelikheid, gerook, as minderjarige gedrink, dwelms misbruik of ’n ander ernstige oortreding begaan? (1 Korintiërs 6:9, 10; 1 Timoteus 1:9, 10). Wat moet jy doen? Moet jy jou vriend konfronteer? Jou ouers vertel? Jou vriend se ouers vertel? Dit by ’n gemeentelike ouer man rapporteer?b Wat sal met julle vriendskap gebeur as jy iets sê? Sal dit beter wees om net stil te bly?

Om te praat of stil te bly?

Almal maak foute. Trouens, die Bybel sê: “Almal het gesondig en skiet te kort aan die heerlikheid van God” (Romeine 3:23). Maar party maak hulle skuldig aan ernstige oortredings. Ander begaan ’n “misstap” wat tot verdere probleme kan lei as dit nie reggestel word nie (Galasiërs 6:1). Kyk na die volgende werklike ondervinding.

◼ ’n Jong Christen genaamd Susan het uitgevind dat haar vriendin, ook ’n Christen, ’n webblad het wat seksueel suggestiewe foto’s en musiek met eksplisiete lirieke bevat.

Dink hieraan: Wat sou jy doen as jy Susan was? Sou jy iets omtrent die situasie doen? Of sou jy besluit dat wat jou vriendin op haar webblad sit, niks met jou of enigiemand anders te doen het nie? As Susan na jou toe gekom het om raad te vra, wat sou jy vir haar gesê het?

․․․․․

Wat Susan besluit het om te doen: Nadat Susan die saak goed deurdink het, het sy besluit om met haar vriendin se ouers te gaan praat. “Ek was bang om hulle te vertel”, sê sy, “want hulle is ook goeie vriende van my. Dit was so moeilik om hulle te vertel dat ek begin huil het.”

Wat dink jy? Het Susan die regte ding gedoen? Of sou dit vir haar beter gewees het om stil te bly?

Hier is ’n paar faktore wat jy kan oorweeg om jou te help om oor die saak te redeneer:

Wat sal ’n ware vriend doen? Spreuke 17:17 sê: “’n Ware metgesel het te alle tye lief en is ’n broer wat gebore word vir die tyd wanneer daar benoudheid is.” Wanneer iemand ’n weg inslaan wat Bybelbeginsels skend, is daardie persoon ‘in benoudheid’, of hy dit nou weet of nie. Terwyl dit ’n fout is om “uitermate wys” te wees deur ’n ophef te maak van onbelangrike dinge, sou ’n ware vriend nie sy oë vir onchristelike gedrag sluit nie (Prediker 7:16). Jy kan eenvoudig nie die situasie ignoreer nie.—Levitikus 5:1.

Sê nou die rolle was omgekeer? Vra jou af: ‘Sou ek wou hê dat iemand my daarvan moet vertel as ek ’n ouer was en my seun of dogter het ’n webblad met seksueel suggestiewe foto’s gehad? Hoe sou ek gevoel het as my seun of dogter ’n vriend gehad het wat weet wat aangaan, maar niks daaroor sê nie?’

Wat van God se standaarde? Dit is beslis nie ’n tyd om stil te bly nie. Dit is eerder ’n tyd om by God se sedelike standaarde te bly soos dit in die Bybel uiteengesit word. Die feit is dat jy jou Skepper se hart bly maak wanneer jy opkom vir wat reg is (Spreuke 27:11). Jy sal ook beter voel omdat jy weet dat jy werklik gedoen het wat die beste vir jou vriend is.—Esegiël 33:8.

“’n Tyd om te praat”

Die Bybel sê dat daar “’n tyd [is] om stil te bly en ’n tyd [is] om te praat” (Prediker 3:7). Jong kinders weet dikwels nie wat in ’n sekere situasie gepas is nie. Wanneer ’n maat iets verkeerds doen, redeneer hulle: ‘Ek wil nie hê my vriend moet in die moeilikheid kom nie’ of ‘Ek wil nie saam met my vriend in die moeilikheid beland nie’. As dit die enigste faktore was om te oorweeg, sou die besluit maklik gewees het—dit sou “’n tyd [wees] om stil te bly”.

Maar wanneer ’n mens grootword, ontwikkel jy ’n meer volwasse beskouing van hierdie dinge. Jy besef dat jou vriend reeds in die moeilikheid is en hulp nodig het—hulp wat jy dalk vir hom kan kry. Maar wat kan jy doen as jy hoor dat ’n vriend betrokke geraak het by gedrag wat Bybelwette of -beginsels skend?

Vind eers uit of wat jy gehoor het, die waarheid is. Dit is moontlik net ’n skinderstorie (Spreuke 14:15). ’n Tiener met die naam Katie sê: “Een van my vriende het leuens oor my begin vertel, en mense wat na aan my was, het gedink dat sy die waarheid praat. Ek was bang dat niemand my ooit sou glo nie!” Die Bybel het voorspel dat Jesus nie sou “teregwys net volgens wat sy ore hoor nie”—of soos die Contemporary English Version dit stel, hy “sal nie . . . na gerugte luister nie” (Jesaja 11:3). Die les? Moenie oorhaastig aanneem dat alles wat jy hoor, waar is nie. Probeer uitvind wat die feite is. Kyk na ’n werklike situasie.

◼ James, wat aan die begin van hierdie artikel genoem is, het gehoor dat sy goeie vriend by ’n partytjie dwelms gebruik het.

Dink hieraan: Wat sou jy gedoen het as jy James was? Hoe kan jy uitvind of wat jy gehoor het, die waarheid is?

․․․․․

Wat James besluit het om te doen. Aan die begin het James gemaak asof hy niks gehoor het en niks weet nie. “Toe het my gewete my begin pla”, sê hy. “Ek het geweet dat ek my vriend oor die saak sal moet konfronteer.”

Wat dink jy? Watter moontlike voordele hou dit in om eers met die persoon te praat wat hom blykbaar aan onchristelike gedrag skuldig gemaak het?

․․․․․

Wat anders kan jy doen as jy ongemaklik daaroor voel om met die persoon oor die saak te praat?

․․․․․

James se vriend het erken dat hy wel dwelms by die partytjie gebruik het. Maar toe het hy James gesmeek om vir niemand daarvan te vertel nie. James wou doen wat reg is. Maar hy wou hê dat sy vriend ook moes doen wat reg is. Hy het dus vir sy vriend gesê dat hy hom ’n week gee om die ouer manne in sy gemeente daarvan te vertel. As hy dit nie doen nie, sou James dit self gaan rapporteer.

Dink jy dat wat James gedoen het, regverdig was? Waarom of waarom nie?

․․․․․

James se vriend het nie na die ouer manne gegaan nie, en daarom het James die saak gaan rapporteer. Maar later het sy vriend tot besinning gekom. Hy is deur die ouer manne gehelp om te sien dat dit nodig is om berou te toon en weer ’n rein verhouding met Jehovah te hê.

Is jy dislojaal?

Nogtans vra jy dalk: ‘Sal dit nie dislojaal van my wees om oor my vriend se oortreding te gaan praat nie? Sal dit nie makliker wees as ek maak asof ek niks weet nie?’ Wat kan jy doen as jy jou in so ’n situasie bevind?

Eerstens moet jy besef dat die maklike ding om te doen, nie altyd liefdevol is nie en dat die liefdevolle ding om te doen, nie altyd maklik is nie. Dit verg moed om ’n vriend se oortreding te rapporteer. Praat gerus in gebed met God oor die saak. Vra hom vir die wysheid en moed wat jy nodig het. Hy sal jou help.—Filippense 4:6.

Tweedens moet jy dink hoe dit jou vriend sal help as jy die saak rapporteer. Om toe te lig: Sê nou jy en jou vriend loop al langs ’n steil heuwelhang, en dan trap hy mis, struikel hy en beland hy op ’n rotslys onder jou? Dit is duidelik dat jou vriend hulp nodig het. Maar gestel hy sê vir jou dat hy eerder self teen die steil rotsbank sal probeer opklim omdat hy verleë voel. Sou jy toelaat dat hy sy lewe so in gevaar stel?

Dit is dieselfde wanneer ’n vriend van die Christelike weg afdwaal. Daardie persoon voel dalk dat hy of sy sonder hulp geestelik kan herstel. Maar dit is dwaas om so te redeneer. Jou vriend voel dalk verleë oor wat gebeur het. Maar jou ‘hulpgeroep’ kan dalk net jou vriend se lewe red!—Jakobus 5:15.

Moet dus nie bang wees om iets te sê as jou vriend by verkeerde gedrag betrokke geraak het nie. Deur vir hom hulp te kry, toon jy lojaliteit aan Jehovah God en aan jou vriend, wat dalk eendag dankbaar sal wees vir jou liefdevolle hulp.

Nog artikels uit die reeks “Jongmense vra” kan gevind word op die webwerf www.watchtower.org/ype

[Voetnote]

a Name in hierdie artikel is verander.

b Onder Jehovah se Getuies gee ouer manne geestelike hulp aan enigiemand wat in ernstige sonde verval het.—Jakobus 5:14-16.

IETS OM OOR TE DINK

◼ Hoe bewys jy dat jy in werklikheid lojaal is aan jou vriend as jy sy verkeerde optrede rapporteer?

◼ Aan watter Bybelkarakters kan jy dink wie se lojaliteit aan ’n vriend getoets is? Wat kan jy by hulle leer?

[Prent op bladsy 20]

As ’n vriend van die Christelike weg afgedwaal het, moet jy seker maak dat hy hulp kry

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel