Waar kan jy antwoorde vind?
EEN oogmerk van godsdiens is om mense die doel van die lewe te leer. Maar baie mense het gevind dat hulle geestelike behoeftes nie deur die leerstellings van hulle godsdiens bevredig word nie. Denise, wat as ’n Katoliek grootgemaak is, sê: “Die Baltimore-kategismus vra onder andere: ‘Waarom het God ons gemaak?’ en antwoord: ‘God het ons gemaak om Sy goedheid te toon en om in Sy ewige geluk in die hemel te deel.’
“Dit het nie ’n duidelike rede verskaf vir waarom ek hier is nie”, het Denise verder gesê. “As ek net wag om hemel toe te gaan, wat is ek veronderstel om in die tussentyd te doen?” Denise se ondervinding is nie ongewoon nie. Volgens een opname meen twee derdes van diegene met wie daar ’n onderhoud gevoer is, dat die meeste kerke en sinagoges nie daarin slaag om mense te help om ’n doel in die lewe te vind nie.
Baie mense soek dus elders na antwoorde—in die wetenskap of verskillende filosofieë soos die humanisme, die nihilisme en die eksistensialisme. Waarom hou mense aan om te soek, hoewel min blykbaar antwoorde vind?
Inherent geestelik
Dr. Kevin S. Seybold noem dit “die blykbaar universele neiging van mense om iets te aanbid”. Trouens, in onlangse jare het ’n aantal wetenskaplikes tot die slotsom gekom dat mense ’n inherente neiging het om na ’n dieper betekenis in die lewe te soek. Party glo in werklikheid dat genetiese en ander fisiologiese bewyse aandui dat mense ’n natuurlike behoefte het om met ’n hoër mag in aanraking te kom.
Hoewel daar in akademiese kringe oor die begrip geestelikheid gedebatteer word, het die meeste mense nie konsensus onder wetenskaplikes nodig om te glo dat mense ’n geestelike behoefte het nie. Dit is ons geestelikheid wat die vrae in ons verstand laat opkom wat party mense fundamentele vrae noem: Waarom is ons hier? Wat moet ons met ons lewe doen? Is ons teenoor ’n almagtige Skepper aanspreeklik?
As jy tyd maak om die natuur noukeurig waar te neem, sal jy van die antwoorde op hierdie vrae vind. Dink byvoorbeeld aan die verbysterende kompleksiteite wat in die natuur gevind word, van eensellige organismes tot galaksieswerms wat miljoene ligjare ver is. Vertel hulle ons nie dat daar ’n intelligente Ontwerper, of Skepper, is nie? Die Bybel sê: “Want [God se] onsigbare eienskappe word van die wêreld se skepping af duidelik gesien, omdat hulle waargeneem word in die dinge wat gemaak is, ja, sy ewige krag en Godheid, sodat hulle onverskoonbaar is.”—Romeine 1:20.
Bevredig jou geestelike behoefte
Die Bybel sê die volgende oor die manier waarop God mense gemaak het: “Hy het selfs die ewigheid in hulle verstande geplaas” (Prediker 3:11, Byington). Ons ingebore begeerte is om te lewe, nie te sterf nie. Ons soek van nature na die doel van die lewe, na antwoorde op ons vrae.
Om na antwoorde te soek, is in werklikheid deel van menswees. Nadat hy melding gemaak het van die mens se wetenskaplike en tegnologiese prestasies, het ’n redakteur van The Wall Street Journal geskryf: “Die vrae oor wie ons is en waarom ons bestaan en waarheen ons op pad is, bly nog steeds onbeantwoord.” Dit sal verstandig wees om antwoorde by die beste bron te gaan soek. Die Bybel meld daardie Bron en sê: “Ons is deur [God] gemaak, nie deur onsself nie.”—Psalm 100:3.
Is dit nie net redelik dat ons, as ons ons geestelike behoefte wil bevredig, ons wend tot die Een wat vir sulke skeppingswonders verantwoordelik is nie? Jesus Christus het aanbeveel dat ons juis dit doen. Hy het geweet dat slegs die Bron van lewe—ons Skepper—ons geestelike behoefte kan bevredig.—Psalm 36:5, 9; Matteus 5:3, 6.
Ja, ’n betroubare antwoord op die vraag: Waarom is ons hier? is noodsaaklik as ons ons geestelike behoefte wil bevredig. Kom ons kyk na ons Skepper se verkwikkende beskouing van hierdie saak.