Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g 4/09 bl. 23-26
  • Hoe kan ek Bybellees aangenaam maak?

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Hoe kan ek Bybellees aangenaam maak?
  • Ontwaak!—2009
  • Soortgelyke materiaal
  • Hoe kan die Bybel my help? — Deel 2: Maak Bybellees lekker
    Jongmense vra
  • Vind baat by daaglikse Bybellees
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1995
  • Hoe kan die Bybel my help? — Deel 1: Leer ken jou Bybel
    Jongmense vra
  • Kry meer uit jou Bybellees
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan (Studie-uitgawe) – 2023
Sien nog
Ontwaak!—2009
g 4/09 bl. 23-26

Jongmense vra

Hoe kan ek Bybellees aangenaam maak?

Hoe dikwels lees jy die Bybel? (Merk een)

□ Daagliks

□ Weekliks

□ Ander ․․․․․

Voltooi die volgende sin.

Wanneer ek Bybellees nie geniet nie, is dit gewoonlik omdat ek . . . (Merk al die punte wat van toepassing is)

□ Verveeld is

□ Nie verstaan nie

□ Nie konsentreer nie

□ Ander ․․․․․

IS JY nie juis opgewonde daaroor om die Bybel te lees nie? Indien wel, sal jy dalk saamstem met die 18-jarige Will, wat sê: “Dit kan lyk asof die Bybel vervelig is.” Maar hy voeg by: “Dis net as jy nie weet hoe om dit te lees nie.”

Waarom moet jy leer hoe om die Bybel te lees? Wel, sal jy graag meer wil weet oor hoe om

◼ goeie besluite te neem?

◼ ware vriende te hê?

◼ stres te hanteer?

Die Bybel bevat skatte van wysheid oor hierdie en ander onderwerpe. Dit kan wel inspanning verg om hierdie skatte te vind. Maar om jou so in te span, is baie soos ’n skattejag: Hoe moeiliker die soektog is, hoe opwindender is die ontdekking!—Spreuke 2:1-6.

Hoe kan jy skatte in die Bybel ontdek? Die venster aan die regterkant sal jou ’n idee gee van hoe om die Bybel te lees en—aan die ander kant van die bladsy—in watter volgorde om dit te lees. Kyk ook na die wenke op die volgende bladsye en probeer dié toepas waarvan jy hou.

Nog artikels uit die reeks “Jongmense vra” kan gevind word op die webwerf www.watchtower.org/ype

As jy toegang het tot die Internet, kan jy die Bybel lees op die webwerf www.watchtower.org/e/bible

IETS OM OOR TE DINK

Daar is al gesê dat die voordeel wat jy uit iets put, grootliks afhang van wat jy daar insit.

◼ Hoe is dit waar wanneer dit by Bybellees kom?

◼ Wanneer kan jy tyd maak vir persoonlike Bybellees?

[Venster/Prent op bladsy 23]

HOE OM DIE BYBEL TE LEES

Voordat jy lees . . . 

◼ Maak seker dat jou omgewing stil is sodat jy kan konsentreer.

◼ Vra Jehovah om jou te help om te verstaan wat jy lees.

Terwyl jy lees . . . 

◼ Gebruik kaarte en prente van Bybelverslae om jou te help om Bybeltonele te visualiseer.

◼ Kyk wat die agtergrond is, en ontleed die besonderhede.

◼ Lees die voetnote en slaan die kruisverwysings na.

◼ Vra jou vrae soos die volgende af:

FEITE: Wanneer het dit gebeur? Wie het hierdie woorde gesê? Aan wie is die woorde gerig?

BETEKENIS: Hoe sou ek dit aan iemand anders verduidelik?

WAARDE: Waarom het Jehovah God hierdie verslag in sy Woord ingesluit? Wat openbaar dit omtrent sy persoonlikheid of die manier waarop hy dinge doen? Watter lesse kan ek in my lewe toepas?

Nadat jy gelees het . . . 

◼ Doen verdere navorsing. Gebruik hulpmiddele wat deur Jehovah se Getuies uitgegee word, soos Insight on the Scriptures en “Die hele Skrif is deur God geïnspireer en is nuttig”, as dit in jou taal beskikbaar is.

◼ Bid weer. Vertel vir Jehovah wat jy geleer het en hoe jy dit wil gebruik. Dank hom vir sy Woord, die Bybel.

[Venster/Prent op bladsy 24]

IN WATTER VOLGORDE GAAN JY DIE BYBEL LEES?

Moontlikhede . . . 

□ Lees dit van voor tot agter.

□ Lees dit in chronologiese volgorde, hetsy in die volgorde waarin die boeke geskryf is of in die volgorde waarin die gebeurtenisse plaasgevind het.

□ Lees elke dag uit ’n ander deel van die Skrif.

Maandag: Aksiebelaaide geskiedenis (Genesis tot Ester)

Dinsdag: Jesus se lewe en leringe (Matteus tot Johannes)

Woensdag: Die vroeë Christelike godsdiens (Handelinge)

Donderdag: Profesieë en sedelike riglyne (Jesaja tot Maleagi, Openbaring)

Vrydag: Hartroerende gedigte en liedere (Job, Psalms, Hooglied van Salomo)

Saterdag: Wysheid vir die daaglikse lewe (Spreuke, Prediker)

Sondag: Briewe aan die gemeentes (Romeine tot Judas)

Watter volgorde jy ook al kies, maak seker dat jy tred hou met wat jy gelees het! Maak ’n ✔ langs elke hoofstuk wat jy klaar gelees het of hou op die een of ander manier ’n rekord van die hoofstukke wat jy gelees het.

Knip hierdie venster uit en hou dit in jou Bybel!

[Venster/Diagram op bladsy 24]

LAAT DIE BYBEL LEWE!

Raak verdiep in wat jy lees. Byvoorbeeld:

□ Stel ’n stamboom op uit ’n lys name.

□ Maak diagramme. Wanneer jy byvoorbeeld van ’n getroue persoon lees, kan jy daardie persoon se eienskappe en dade verbind met die seëninge wat hy of sy ontvang het.—Spreuke 28:20.

[Diagram]

God se vriend

↑ Gehoorsaam

↑ Getrou

↑ ↑

Abraham

□ Teken prente van die verslag.

□ Teken ’n beelddraaiboek, ’n reeks eenvoudige prente wat die opeenvolging van gebeure illustreer. Beskryf wat in elke toneel gebeur.

□ Bou skaalmodelle, byvoorbeeld van Noag se ark.—Sien byvoorbeeld die Ontwaak! van Januarie 2007, bladsy 22.

□ Lees hardop saam met vriende of familielede. Wenk: Wys een persoon toe om die vertelling te lees. Die ander kan die karakters se woorde lees.

□ Kies ’n verslag en verander dit in ’n nuusberig. Dek die gebeurtenis uit verskillende hoeke deur “onderhoude” met die hoofkarakters en ooggetuies in te sluit.

□ Kies ’n verslag waarin ’n karakter ’n onwyse besluit geneem het, en kom met ’n ander slot vorendag! Dink byvoorbeeld aan die keer toe Petrus Jesus verloën het (Markus 14:66-72). Hoe kon Petrus beter op die druk gereageer het?

□ Kyk of luister na opnames van Bybeldramas.

□ Skryf jou eie drama. Sluit lesse in wat uit die verslag geleer kan word.—Romeine 15:4.

IDEE: Voer hierdie drama saam met ’n groepie van jou vriende op.

[Venster/Prent op bladsy 25]

HOE OM JOUSELF TE MOTIVEER

◼ Stel ’n doelwit! Skryf hieronder ’n datum neer waarop jy met jou Bybelleesprogram wil begin.

․․․․․

◼ Kies ’n deel van die Bybel wat jou interesseer. (Sien die venster “In watter volgorde gaan jy die Bybel lees?”) Skryf dan hieronder neer watter deel van die Bybel jy eerste gaan lees.

․․․․․

◼ Begin met ’n kort tydjie. Selfs net 15 minute van Bybellees is beter as niks. Skryf hieronder neer hoeveel tyd jy hiervoor opsy kan sit.

․․․․․

Wenk: Gebruik ’n studiebybel. Maak aantekeninge daarin. Merk die verse wat vir jou veral betekenisvol is.

[Venster/Prente op bladsy 25]

WAT JOU PORTUURS SÊ

“Ek probeer elke aand voordat ek gaan slaap ’n stukkie in die Bybel lees. Dit gee my iets goeds om oor te dink voordat ek aan die slaap raak.”—Megan.

“Ek konsentreer 15 minute lank op een vers. Ek lees elke voetnoot, slaan elke kruisverwysing na en doen bykomende navorsing. Soms maak ek nie op een slag met ’n vers klaar nie, maar ek kry soveel meer uit my Bybellees wanneer ek dit op hierdie manier doen!”—Corey.

“Ek het die Bybel eenkeer binne 10 maande deurgelees. Teen hierdie pas kon ek tussen verskillende dele van die Bybel ’n verband sien wat ek nog nooit tevore opgelet het nie.”—John.

[Venster op bladsy 25]

JY KAN KIES!

□ Kies ’n gebeurtenis. Die Bybel is propvol opwindende ware verhale. Kies ’n verslag waarin jy belangstel, en lees dit dan van die begin tot die end.

Wenk: Vir idees oor hoe om selfs meer uit ’n verslag te leer, sien bladsy 292 van die boek Vrae wat jongmense vra—Antwoorde wat werk, Deel 2, uitgegee deur Jehovah se Getuies.

□ Kies ’n Evangelie. Lees Matteus (die eerste Evangelie wat geskryf is), Markus (’n aksiebelaaide verslag waarin die gebeure vinnig op mekaar volg), Lukas (wat besondere aandag skenk aan gebed en aan vroue) of Johannes (wat baie dinge meld wat nie in die ander Evangelies gedek word nie).

Wenk: Voordat jy begin lees, kan jy kortliks inligting opsoek oor die Bybelboek en die skrywer daarvan sodat jy beter kan verstaan waarom daardie Evangelie uniek is.

□ Kies ’n psalm. Byvoorbeeld:

As jy eensaam is en voel asof jy geen vriende het nie, lees Psalm 142.

As jou swakhede jou mismoedig laat voel, lees Psalm 51.

As jy die waarde van God se standaarde bevraagteken, lees Psalm 73.

Wenk: Maak ’n lys van die psalms wat jy veral aanmoedigend vind.

[Venster op bladsy 26]

DELF DIEPER

◼ Kyk na die agtergrond. Vind uit wanneer en waar die gebeure in ’n leesgedeelte plaasgevind het, asook wat die omstandighede was.

Voorbeeld: Lees Esegiël 14:14. Omtrent hoe oud was Daniël moontlik toe Jehovah hom as ’n goeie voorbeeld gemeld het saam met Noag en Job?

Leidraad: Esegiël hoofstuk 14 is geskryf net vyf jaar nadat Daniël—waarskynlik as ’n tiener—in ballingskap na Babilon weggevoer is.

Die verborge skat: Was Daniël te jonk om deur Jehovah opgemerk te word vir sy getrouheid? Watter goeie besluite het vir hom seëninge meegebring? (Daniël 1:8-17). Hoe kan Daniël se voorbeeld jou help om goeie besluite te neem?

◼ Ontleed besonderhede. Soms is net een of twee woorde betekenisvol.

Voorbeeld: Vergelyk Matteus 28:7 met Markus 16:7. Waarom het Markus die punt ingesluit dat Jesus binnekort aan die dissipels “en Petrus” sou verskyn?

Leidraad: Markus was nie ’n ooggetuie van hierdie gebeure nie; hy het sy inligting heel moontlik by Petrus gekry.

Die verborge skat: Waarom moes dit vir Petrus gerusstellend gewees het om te hoor dat Jesus hom weer wou sien? (Markus 14:66-72). Hoe het Jesus bewys dat hy ’n ware vriend vir Petrus is? Hoe kan jy Jesus navolg en ’n ware vriend wees?

◼ Doen verdere navorsing. Gebruik Bybellektuur om verduidelikings te vind.

Voorbeeld: Lees Matteus 2:7-15. Wanneer het die sterrewiggelaars Jesus besoek?

Leidraad: Sien Die Wagtoring van 1 Januarie 2008, bladsy 31, uitgegee deur Jehovah se Getuies.

Die verborge skat: Hoe het Jehovah blykbaar in die materiële behoeftes van Jesus se gesin voorsien terwyl hulle in Egipte was? Hoe kan vertroue in God jou help om stresvolle omstandighede die hoof te bied?—Matteus 6:33, 34.

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel