Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g 5/09 bl. 11
  • ’n Kwitansie wat die Bybelverslag steun

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • ’n Kwitansie wat die Bybelverslag steun
  • Ontwaak!—2009
  • Soortgelyke materiaal
  • Die Bybel—’n Boek van akkurate profesie, Deel 2
    Ontwaak!—2012
  • Wanneer is eertydse Jerusalem vernietig?—Deel twee
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2011
  • Deel 3—Magtige Babilon—die derde groot wêreldmoondheid
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1988
  • Bybelboek nommer 24—Jeremia
    “Die hele Skrif is deur God geïnspireer en is nuttig”
Sien nog
Ontwaak!—2009
g 5/09 bl. 11

’n Kwitansie wat die Bybelverslag steun

◼ ’n Kleitablet wat 5,5 sentimeter breed is, is in die 1870’s naby hedendaagse Bagdad, Irak, opgegrawe. In 2007 het Michael Jursa, ’n professor aan die Universiteit van Wene, in Oostenryk, op die tablet afgekom terwyl hy by die Britse Museum navorsing gedoen het. Jursa het die naam Nebo-Sarsegim (Nabu-Sjarrussu-Ukin, in sy Babiloniese vorm) herken, die naam van ’n Babiloniese amptenaar wat in die Bybel in Jeremia 39:3 gemeld word.a

Nebo-Sarsegim was een van koning Nebukadnesar se bevelvoerders en, volgens die tablet, was hy “die hoofeunug” toe Jerusalem in 607 v.G.J. vernietig is. Verder het net een man op enige gegewe tyd die titel hoofeunug gedra, wat kragtige bewys lewer dat hierdie Sarsegim dieselfde man is as wat in die Bybel gemeld word.

Die tablet is ’n kwitansie vir ’n besending goud wat Nebo-Sarsegim gelewer het aan die tempel van Mardoek, of Merodag, die hoofgod van Babilon, wie se naam ook in die Bybel gemeld word (Jeremia 50:2). Die kwitansie is gedateer die 10de jaar, 11de maand en 18de dag van Nebukadnesar se bewind. Die besending goud het egter niks te doen gehad met die plundering van Jerusalem nie, wat jare later plaasgevind het (2 Konings 25:8-10, 13-15). Dit is nogtans “baie uitsonderlik om iets soos hierdie tablet te vind, waarop ons kan sien hoe ’n persoon wat in die Bybel gemeld word, ’n alledaagse betaling aan die tempel in Babilon maak, en wat die presiese datum verstrek”, het professor Jursa gesê. Die tablet, wat beskou word as een van die betekenisvolste ontdekkings in hedendaagse Bybelargeologie, “steun die siening dat die geskiedkundige boeke van die Ou Testament op feite gegrond is”, sê die Britse koerant Telegraph.

Die akkuraatheid van die Bybel hang egter nie van argeologie af nie. Veel kragtiger bewyse kan in die Bybel self gevind word, veral in die profesieë daarvan (2 Petrus 1:21). Byvoorbeeld, meer as 100 jaar voor die tyd het Jehovah God deur middel van die profeet Jesaja voorspel dat al die skatte in Jerusalem “na Babilon weggevoer [sal] word” (Jesaja 39:6, 7). Net so het God deur die profeet Jeremia voorspel: “Ek sal al die opgegaarde goed van hierdie stad [Jerusalem] . . . in die hand van hulle vyande gee. En hulle sal hulle beslis plunder en saamneem . . . na Babilon.”—Jeremia 20:4, 5.

Nebo-Sarsegim was een van daardie vyande, en daarom was hy ook ’n ooggetuie van die vervulling van Bybelprofesie. Trouens, of hy dit nou besef het of nie, hy het in werklikheid ’n aandeel aan daardie vervulling gehad.

[Voetnoot]

a In Jeremia 39:3 lui die Nuwe Wêreld-vertaling: “Samgar-Nebo, Sarsegim, Rabsaris” na aanleiding van die punktuasie in die Hebreeuse Masoretiese teks. Maar die Hebreeuse konsonante-teks kan ook weergegee word as: “Samgar, Nebo-Sarsegim die Rabsaris [of, die hoofhofbeampte]” wat met die spykerskriftablet ooreenkom.

[Foto-erkenning op bladsy 11]

Copyright The Trustees of the British Museum

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel