Kinders onder stres
◼ “Ek het nie genoeg tyd gehad nie. Ek’s moeg”, het Pablo, ’n agtjarige seuntjie, gesê toe sy onderwyseres hom oor sy huiswerk gevra het. Soos hierdie leepoogseuntjie in Spanje, moet baie kinders lang, uitputtende dae verduur, wat 12 uur of meer van klasse en huiswerk kan insluit. Waarom sulke lang dae?
Party ouers laat hulle kinders aan naskoolse bedrywighede deelneem om hulle besig te hou totdat hulle van die werk af kom. Ander dwing hulle kinders om ’n veeleisende rooster te volg omdat hulle wil hê dat hulle op skool moet presteer en ’n suksesvolle loopbaan moet hê. Met dié doel stuur baie Suid-Koreaanse ouers hulle tieners na “drilskole”, waar hulle moordende roosters moet volg, soms van halfagt die oggend tot middernag of later en vir tot sewe dae per week. “Hulle obsessie om hulle kinders in top-universiteite te kry, is niks anders as ‘’n oorlog’ nie”, sê ’n berig in die New York Times.
Die Spaanse weekblad Mujer hoy sê: “‘Veeleisende ouers’ wil die beste vir hulle kinders hê, maar hulle stel ook uiters hoë standaarde vir hulle.” Om aan hulle ouers se verwagtinge te voldoen, vereis kinders dalk te veel van hulleself, wat baie stresvol kan wees. “Volgens ons waarnemings is jongmense oorlaai”, sê Antonio Cano, president van die Spaanse Vereniging vir die Bestudering van Angs en Stres. Volgens ’n ander gesaghebbende ondervind 40 persent van die kinders in Spanje onder 15 jaar te veel stres. Sulke druk kan ’n tol eis, en selfs tot selfmoord ly. Byvoorbeeld, in Suid-Korea “is selfmoord naas verkeersongelukke die algemeenste doodsoorsaak onder jongmense tussen 10 en 19 jaar”, sê The New York Times.
Jongmense moet natuurlik hard werk op skool, en ouers moet hulle al die hulp gee wat hulle kan, aangesien hierdie jare net een keer kom. Maar “kinders is nie volwassenes nie. Hulle kan nie sulke lang, uitputtende dae hanteer nie”, sê Irene Arrimadas, ’n onderwyseres. Liefdevolle ouers is bewus hiervan en maak seker dat hulle kinders genoeg tyd het om te rus en aan heilsame gesinsbedrywighede deel te neem. Die wyse koning Salomo het getoon hoe belangrik balans is toe hy geskryf het: “’n Hand vol rus is beter as ’n dubbele hand vol harde werk en ’n gejaag na die wind.”—Prediker 4:6.a
[Voetnoot]
a Vir ’n breedvoerige bespreking van die druk waarvoor baie kinders te staan kom, sien die reeks “Onder druk—Binne en buite die klaskamer”, in die Ontwaak! van April 2009.