Herodes die Grote—’n Meesterbouer
MEER as 2 000 jaar gelede het hy omtrent drie dekades lank regeer. Sy koninkryk was in Judea gesetel en het van die omliggende gebiede ingesluit. In die geskiedenis staan hy bekend as Herodes die Grote.
Herodes word dikwels onthou as ’n jaloerse moordenaar, nie net van sy familielede nie, maar ook van hulpelose seuntjies. Toe sterrewiggelaars uit die Ooste vir hom gesê het dat ’n toekomstige koning gebore is, het Herodes gemaak asof hy aan die kind eer wou bewys. Hy het hulle gevra om die kind te vind en dan na hom terug te keer. Maar toe God die sterrewiggelaars gewaarsku het om nie terug te keer nie, het Herodes beveel dat al die seuntjies van twee jaar en jonger in Betlehem, die stad waar die sterrewiggelaars Jesus gevind het, sowel as die omliggende gebiede, vermoor moet word.—Matteus 2:1-18.
Vroeër in sy lewe het Herodes egter die guns van baie gewen weens sy merkwaardige bouprojekte. Hy het tempels, amfiteaters, hippodrome en akwadukte gebou, sowel as paleisagtige vestings met weelderige badhuise. Sy projekte was waarlik indrukwekkend—selfs vir hedendaagse ingenieurs wat die ruïnes bestudeer.
Herodes het dramatiese liggings gekies en die argitektuur by die landskap laat inskakel. Sy paleise is versier met gedetailleerde fresko’s, ryk stukadoorswerk en mosaïekvloere. Hy het ook badhuise in die Romeinse styl in Judea geopen, met warm baddens, lou baddens en ondervloerse verhittingstelsels. Hy het in werklikheid hele stede gebou, waarvan een ’n mensgemaakte hawe gehad het.
Sesarea—’n Hawestad
Herodes het een van die grootste hawens in die Romeinse wêreld in Sesarea gebou. Argeoloë is verbaas oor hoe groot dit was. Daar was ankerplek vir honderd skepe, wat as ’n stille getuienis dien van die feit dat Sesarea ’n internasionale handelsentrum geword het.
Die piere en keerwalle is volgens die mees gevorderde tegnieke van die tyd gebou. Maar die kolossale boublokke van ongeveer 15 meter by 3 meter by 3 meter wat deur die Joodse geskiedskrywer Flavius Josefus beskryf word, het geleerdes laat kopkrap omdat hulle nie geweet het hoe dit vir werkers moontlik was om dit te beweeg nie. In onlangse tye het duikers ontdek dat Herodes blokke gebruik het wat eintlik van beton gemaak was. Om die piere en keerwalle te bou, het werkers beton in houtrame gegiet en dit dan onder die water laat sak en geanker.
In die goed beplande hawestad was daar ’n tempel wat aan keiser Augustus gewy is, ’n paleis, ’n hippodroom, ’n teater met sitplek vir 4 000 en ’n ondergrondse rioolstelsel. Akwadukte en tonnels het varswater na Sesarea gelei van fonteine in die Karmel-bergreeks, sowat 6 kilometer daarvandaan.
Jerusalem en Herodes se tempel
Herodes se grootste projek was die tempel wat hy in Jerusalem gebou het. Die oorspronklike tempel wat daar gestaan het, is deur koning Salomo gebou volgens die bouplanne wat sy vader, Dawid, deur inspirasie van God ontvang het (1 Konings 6:1; 1 Kronieke 28:11, 12). Daardie tempel is sowat 420 jaar later deur die Babiloniërs vernietig en is omtrent 90 jaar daarna vervang met ’n redelik beskeie gebou wat deur Juda se goewerneur Serubbabel opgerig is.
Aangaande die tempel wat Herodes op dieselfde plek gebou het, het Josefus geskryf: Dit was “aan alle kante bedek met yslike goudplate; die oomblik dat die son opgekom het, het dit so geskitter dat mense wat daarna probeer kyk het, noodgedwonge moes wegkyk, soos van sonstrale af. Vir vreemdelinge wat soontoe gereis het, het dit van ver af soos ’n sneeubedekte berg gelyk; want alles wat nie met goud bedek was nie, was spierwit.”
Duisende mans het gehelp met die bou van die tempel se keermure, wat aan die westekant omtrent 500 meter lank was. Die enorme klippe is sonder messelklei in posisie geplaas. Een het byna 400 ton geweeg en was volgens een geleerde “die grootste in die hele antieke wêreld”. Geen wonder dat Jesus se dissipels beïndruk was nie! (Markus 13:1). Aan die bokant van die mure was daar ’n ontsaglike platform wat die Tempelberg genoem is—die grootste mensgemaakte platform in die antieke wêreld. Meer as 20 rugbyvelde kon daarop pas!
Herodes het ook ander geboue in Jerusalem laat bou. Een was die vesting van Antonia, langs die tempel wat hy vroeër gebou het. Herodes het ook ’n paleis laat bou, sowel as drie unieke, hoë torings by die ingang van die stad.
Samaria en Jerigo
Herodes het die antieke stad Samaria as ’n geskenk van keiser Augustus ontvang en dit tot Sebaste hernoem. Hy het die stad met verskeie geboue verfraai, insluitende een wat moontlik ’n stadion omring met kolonnades was. Hy het ook etlike groot geboue opgerig wat met swierige fresko’s versier is.
Jerigo lê omtrent 250 meter onder seevlak in die Jordaanvallei en het ’n subtropiese klimaat. Dit het omtrent 1 000 hektaar beslaan en soos ’n tuinstad gelyk. Daar het Herodes ’n winterpaleis gebou. Hy het drie paleise in een groot woning gekombineer, en elke gebou het ontvangsale, baddens, tuine en swembaddens gehad. Geen wonder dat hy Jerigo as ’n winterwoning verkies het nie!
Uitsonderlike paleisvestings
Maar Herodes het nog ’n winterwoning gehad. Hy het ’n vesting laat bou op die rotsagtige plato wat as Masada bekend staan en 400 meter bo die Dooie See uitrys. Daar het hy ’n elegante paleis op drie vlakke met ’n terras en swembaddens gebou, asook nog ’n paleis wat ’n Romeinse badhuis met verhittingspype in die mure en ’n spoeltoilet gehad het!
In daardie onherbergsame woestyngebied het Herodes ’n plek geskep wat ’n mens ’n koninklike gesondheidsoord kan noem. Hy het dit toegerus met twaalf reservoirs wat ongeveer 40 000 000 liter water kon hou. Aangesien die vesting ook ’n doeltreffende stelsel gehad het om reënwater op te vang en te berg, was daar oorgenoeg water om gewasse te kweek en vir swembaddens en baddens.
Nog een van Herodes se merkwaardige ingenieursprestasies was sy paleisvesting Herodium, wat omtrent vyf kilometer suidoos van Betlehem op ’n prominente heuwel geleë was. Dit het twee hoofdele gehad: Bo- en Onder-Herodium. Die boonste deel het ’n imponerende paleisvesting ingesluit met ’n oostelike toring van vyf verdiepings—nou ’n ruïne—wat eens die landskap oorheers het. Twee jaar gelede het internasionale nuusagentskappe berig dat ruïnes van Herodes se graf op die boonste hange van Herodium gevind is en gesê dat dit Josefus se eerste-eeuse verslag bevestig, waarin hy sê dat Herodes daar begrawe is.
Onder-Herodium was vroeër ’n kompleks wat bestaan het uit kantore asook bygeboue van die paleis. Die fokuspunt was ’n tuin in die Romeinse styl—versier met kolomme—wat aangelê is rondom ’n yslike poel met ’n dekoratiewe eiland in die middel. Die poel was byna twee keer so groot soos ’n hedendaagse Olimpiese swembad. Dit het gedien as ’n reservoir, maar is ook gebruik om in te swem en selfs om op te roei. Die water is via ’n akwaduk soontoe gelei van ’n fontein wat vyf kilometer daarvandaan was.
’n Paar jaar gelede het ’n besoeker die volgende van die omliggende landskap gesê: “Na die ooste kon ons so ver as die Dooie See sien. Hier voor ons was die wildernis van Judea, waar Dawid daarin geslaag het om sy agtervolger, Saul, te ontwyk. Toe ons sien hoe onherbergsaam die gebied is, het ons verstaan hoe hy dit kon regkry, veral aangesien hy die gebied waarskynlik van jongs af baie goed geken het. Ons het ook gedink dat Dawid moontlik dikwels hierdie selfde heuwel uitgeklim het om, soos ons, die pragtige uitsig te geniet terwyl hy sy skape laat wei het.”
Etlike boeke is al oor Herodes se bouprojekte geskryf. Daar word baie bespiegel oor die rede waarom hy so ’n uitgebreide bouprogram begin het. Party het gesê dat hy dit gedoen het om roem te verwerf of om in die politieke arena guns te wen. Wat die beweegrede ook al was, hierdie kort oorsig bevestig die feit dat Herodes die Grote, buiten dat hy ’n genadelose tiran was, ook ’n meesterbouer was.
[Prent op bladsy 25]
SESAREA
’n Kunstenaarsvoorstelling
[Prent op bladsy 25]
PALEIS IN JERUSALEM
Model
[Prent op bladsy 25]
HERODES SE TEMPEL
Model
[Prent op bladsy 26]
MASADA
Ruïnes van die paleis wat op drie vlakke gebou is
[Erkenning]
Pictorial Archive (Near Eastern History) Est.
[Prent op bladsy 26]
HERODIUM
’n Kunstenaarsvoorstelling
[Foto-erkennings op bladsy 25]
Sesarea: Hiram Henriquez/National Geographic Stock; Paleis: Courtesy of Israel Museum, Jerusalem, and Todd Bolen/Bible Places.com