Die belangrikheid daarvan om geneentheid te toon
“GEE hulle baie drukkies!” het ’n professor in kinderpsigiatrie vir ’n nuwe moeder gesê kort nadat sy aan ’n tweeling geboorte gegee het. Sy het hom raad gevra oor die beste manier om haar kinders groot te maak. “Liefde en geneentheid moet op baie maniere betoon word”, het die professor bygevoeg, “soos deur drukkies en soentjies, liefdevolle woorde en dade, begrip, vreugde, vrygewigheid, vergifnis en, wanneer nodig, deur weldeurdagte dissipline. Ons moet nooit aanneem dat ons kinders weet ons het hulle lief nie.”
Tiffany Field, die direkteur van ’n navorsingsinstituut by die Universiteit van Miami, Florida, VSA, waar die uitwerking van aanraking bestudeer word, stem blykbaar saam met die aanbeveling hierbo. “Aanraking is net so noodsaaklik as dieet en oefening vir die groei en welsyn van ’n kind”, sê sy.
Het volwassenes ook ’n behoefte aan fisiese blyke van geneentheid? Ja. Die kliniese sielkundige Claude Steiner se navorsing het hom tot die gevolgtrekking laat kom dat mondelinge en fisiese aanmoediging noodsaaklik is vir ons emosionele welsyn, ongeag ons ouderdom. Laura, ’n verpleegster wat na ’n groot groep bejaardes omsien, sê: “Ek het gesien dat blyke van geneentheid teenoor bejaardes werklik ’n verskil maak. Wanneer jy hulle liefdevol behandel en aan hulle raak, wen jy hulle vertroue, en hulle volg jou instruksies gewillig. Daarbenewens toon sulke liefdevolle behandeling respek vir hulle waardigheid.”
Wat meer is, om geneentheid te betoon, is vir die gewer net so voordelig as vir die ontvanger. Soos Jesus Christus eenkeer gesê het: “Dit verskaf groter geluk om te gee as om te ontvang” (Handelinge 20:35). Dit is lonend wanneer geneentheid getoon word veral teenoor diegene wat bekommerd, terneergedruk of onveilig voel. Daar is baie voorbeelde in die Bybel van mense wat hierdie soort hulp ontvang het.
Stel jou voor hoe vertroostend dit was vir “’n man vol melaatsheid”, ’n uitgeworpene uit die samelewing, toe Jesus Christus van alle mense hom medelydend aangeraak het!—Lukas 5:12, 13; Matteus 8:1-3.
Dink net hoeveel sterker die bejaarde profeet Daniël moes gevoel het toe ’n engel van God hom met hartlike bemoediging versterk het en hom drie keer aangeraak het. Hierdie liefdevolle aanrakings en opbouende woorde was net wat Daniël nodig gehad het om hom te help om van sy fisiese en verstandelike uitputting te herstel.—Daniël 10:9-11, 15, 16, 18, 19.
By een geleentheid het dierbare vriende van die apostel Paulus sowat 50 kilometer van Efese na Milete gereis om hom te ontmoet. Daar het Paulus vir hulle gesê dat hulle hom moontlik nie weer sou sien nie. Hoe moes dit die apostel Paulus tog bemoedig het toe sy lojale vriende “hom omhels en ’n afskeidsoen gegee het”!—Handelinge 20:36, 37, Today’s English Version.
Die Bybel sowel as hedendaagse navorsing spoor ons dus aan om geneentheid teenoor mekaar te betoon. As hierdie behoefte bevredig word, bring dit fisiese en emosionele voordele mee. Dit is duidelik dat kinders nie die enigstes is wat opregte, gepaste blyke van geneentheid nodig het nie.