Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g 2/10 bl. 22-25
  • Is geloof in God redelik?

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Is geloof in God redelik?
  • Ontwaak!—2010
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Is jou geloof op vaste bewyse gegrond?
  • Blinde toeval of doelgerigte ontwerp?
  • DNS en die mensebrein
  • Geloof gegrond op bewyse
  • Waar het die instruksies vandaan gekom?
    Vyf belangrike vrae oor—Die oorsprong van lewe
  • Jou selle​—⁠Lewende biblioteke!
    Ontwaak!—2015
  • Ondersoek die bewyse
    Ontwaak!—2011
  • Waarom sommige wetenskaplikes in God glo
    Ontwaak!—2004
Sien nog
Ontwaak!—2010
g 2/10 bl. 22-25

Is geloof in God redelik?

HET jy al gewonder waarom alles van atomiese deeltjies tot uitgestrekte sterrestelsels deur presiese wiskundige wette beheer word? Het jy al oor die lewe self nagedink—die verskeidenheid, kompleksiteit en verstommende ontwerp daarvan? Baie meen dat die heelal en die lewe daarin aan ’n groot kosmiese ongeluk en aan evolusie toegeskryf kan word. Ander gee ’n intelligente Skepper die eer. Watter beskouing dink jy is die redelikste?

Albei beskouings vereis natuurlik geloof. Die opvatting dat daar ’n God is, verg geloof. Soos die Bybel sê: “Geen mens het God ooit gesien nie” (Johannes 1:18). Geen mens het eweneens gesien hoe die heelal gevorm is of lewe begin het nie. Ook het niemand nog ooit gesien dat een lewensvorm in ’n hoër lewensvorm of selfs in ’n ander lewensvorm evolueer nie. Die fossielverslag toon dat die vernaamste diergroepe skielik verskyn het en feitlik onveranderd gebly het.a Die sleutelvraag is dus: Watter geloof het ’n vaste grondslag—geloof in evolusie of geloof in ’n Skepper?

Is jou geloof op vaste bewyse gegrond?

Ware “geloof” is volgens die Bybel “die duidelike bewys van werklikhede hoewel hulle nie gesien word nie” (Hebreërs 11:1). The New English Bible vertaal hierdie vers soos volg: “Geloof . . . maak ons seker van werklikhede wat ons nie sien nie.” Jy kan ongetwyfeld dink aan ’n aantal onsigbare werklikhede waarin jy vas glo.

Ter toeligting: Talle gerespekteerde geskiedkundiges glo dat Aleksander die Grote, Julius Caesar en Jesus Christus eens op ’n tyd gelewe het. Is die geloof van hierdie geskiedkundiges redelik? Ja, want hulle kan verwys na betroubare geskiedkundige bewyse.

Wetenskaplikes glo ook in onsigbare werklikhede weens die “duidelike bewys” dat hierdie werklikhede bestaan. Byvoorbeeld, die 19de-eeuse Russiese skeikundige Dmitri Mendelejef is gefassineer deur die verhouding tussen die elemente, die basiese boustene van die heelal. Hy het besef dat hulle sekere dinge in gemeen het en gegroepeer kan word volgens atoomgewig sowel as chemiese eienskappe. Weens sy geloof in die orde van die groepe het hy die periodieke tabel van die elemente saamgestel en het hy die bestaan van ’n aantal elemente wat destyds nog onbekend was, korrek voorspel.

Argeoloë maak gevolgtrekkings omtrent vroeëre beskawings, dikwels op grond van items wat duisende jare begrawe was. Veronderstel byvoorbeeld dat ’n argeoloog tientalle sorgvuldig gekapte klipblokke opgrawe wat presies dieselfde grootte het en netjies bo-op mekaar gepak is. Hulle is ook in ’n spesifieke geometriese patroon gerangskik wat nie in die natuur voorkom nie. Tot watter gevolgtrekking sou die argeoloog kom? Sou hy sy vonds toeskryf aan die toeval? Heel waarskynlik nie. Hy sou dit eerder vertolk as ’n bewys van mensebedrywighede in die verlede, en dít sou ’n redelike gevolgtrekking wees.

Moet ons nie, om konsekwent te wees, dieselfde redenasie toepas wanneer dit kom by die ontwerp wat in die sigbare wêreld gesien kan word nie? Baie mense het hierdie beskouing aanvaar, insluitende gerespekteerde wetenskaplikes.

Blinde toeval of doelgerigte ontwerp?

Jare gelede het die Britse wiskundige, fisikus en sterrekundige sir James Jeans geskryf dat die heelal, in die lig van toenemende wetenskaplike kennis, “al hoe meer na ’n groot gedagte eerder as ’n groot masjien begin lyk”. Hy het ook gesê dat “die heelal blykbaar deur ’n ware wiskundige ontwerp is” en dat dit “van ’n mag getuig wat dit ontwerp het of dit beheer en wat iets in gemeen het met ons eie verstand”.

Sedert Jeans hierdie woorde neergeskryf het, het ander wetenskaplikes tot ’n soortgelyke slotsom gekom. “Die algemene organisasie in die heelal dui vir talle hedendaagse sterrekundiges op ’n element van ontwerp”, het die fisikus Paul Davies geskryf. Een van die beroemdste fisici en wiskundiges van alle tye, Albert Einstein, het geskryf: “Die feit dat [die sigbare wêreld] verstaan kan word, is ’n wonderwerk.” Vir baie sluit hierdie wonderwerk die lewe self in, van die basiese boustene daarvan tot die verstommende mensebrein.

DNS en die mensebrein

DNS is die genetiese materiaal van alle sellulêre organismes en is die molekulêre grondslag vir oorerwing.b Hierdie komplekse suur is al vergelyk met ’n bloudruk of ’n resep, want DNS is propvol inligting wat gekodeer is in chemiese vorm en geberg word in ’n molekulêre omgewing wat hierdie kode kan ontsyfer en daarop kan reageer. Hoeveel inligting word in DNS geberg? As die basiese eenhede, wat nukleotiede genoem word, in letters van die alfabet omgesit sou word, sou hulle “meer as ’n miljoen bladsye van ’n gewone boek vul”, sê een naslaanwerk.

In die meeste organismes is DNS saamgebondel in draadvormige liggaampies wat chromosome genoem word en veilig in elke sel se kern geberg word. Die kern het weer ’n gemiddelde deursnee van omtrent vyf mikrometer. Dink net—al die inligting wat nodig was om jou unieke liggaam voort te bring, word gevind in piepklein pakkies wat slegs onder ’n mikroskoop bestudeer kan word! Soos een wetenskaplike tereg gesê het, het lewende organismes “verreweg die kompakste inligtingsberging- en herwinningstelsel wat aan die mens bekend is”. Dit is nogal betekenisvol wanneer ’n mens dit vergelyk met die geheuekapasiteit van rekenaarskyfies, DVD’s, ensovoorts! Wat meer is, die geheime van DNS is nog glad nie heeltemal ontrafel nie. “Elke ontdekking bring ’n nuwe kompleksiteit aan die lig”, sê die tydskrif New Scientist.c

Is dit redelik om hierdie volmaakte ontwerp en organisasie aan blinde toeval toe te skryf? Sou jy, as jy op ’n uiters tegniese handboek afkom wat ’n miljoen bladsye het en in ’n doeltreffende, slim kode geskryf is, tot die slotsom kom dat die boek homself op die een of ander manier geskryf het? Sê nou hierdie boek is so klein dat jy ’n kragtige mikroskoop nodig het om dit te lees? En gestel dit bevat presiese instruksies vir die vervaardiging van ’n selfherstellende, selfdupliserende, intelligente masjien met miljarde onderdele, waarvan almal presies op die regte tyd en op die regte manier aanmekaargesit moet word. Die idee dat so ’n boek sommer vanself ontstaan het, sou nie eens in ’n mens se gedagte opkom nie.

Nadat die Britse filosoof Antony Flew, wat vroeër ’n groot voorstander van ateïsme was, huidige navorsing oor die interne werking van die sel ondersoek het, het hy gesê: “Die bykans ongelooflike kompleksiteit van die reëlings wat nodig is om (lewe) voort te bring, [toon] dat intelligensie betrokke moes wees.” Flew glo daaraan om “die argument te volg ongeag waarheen dit lei”. In sy geval het dit tot ’n volkome verandering in sy denkwyse gelei, sodat hy nou in God glo.

Baie wetenskaplikes is ook verstom oor die mensebrein. Die brein, wat ’n produk van DNS is, is al beskryf as “die ingewikkeldste voorwerp in die heelal”. Selfs die mees gevorderde superrekenaar lyk uiters primitief naas hierdie pienkgrys massa wat omtrent 1,3 kilogram weeg en uit neurone en ander strukture bestaan. Een neurowetenskaplike meen dat hoe meer wetenskaplikes oor die brein en die verstand leer, “hoe wonderliker en ondeurgrondeliker word dit”.

Dink hieraan: Die brein stel ons in staat om asem te haal, te lag, te huil, raaisels op te los, rekenaars te bou, fiets te ry, gedigte te skryf en met ’n gevoel van eerbiedige ontsag na die naghemel te kyk. Is dit redelik—oftewel konsekwent—om hierdie vermoëns aan blinde evolusionêre kragte toe te skryf?

Geloof gegrond op bewyse

Moet ons, om onsself te verstaan, as ’t ware afkyk na ape en ander diere, soos evolusioniste doen? Of moet ons opkyk na God vir antwoorde? Ons het weliswaar sekere dinge met diere in gemeen. Ons moet byvoorbeeld eet, drink en slaap en ons kan voortplant. Maar ons is in baie opsigte uniek. Dit is net redelik om tot die slotsom te kom dat ons unieke menslike eienskappe van ’n Wese kom wat hoër is as ons—dit wil sê van God. Die Bybel stel hierdie gedagte kort en bondig, waar dit sê dat God die mensdom “na sy beeld” gevorm het, in sedelike en geestelike sin (Genesis 1:27). Dink gerus na oor God se eienskappe, waarvan party in Deuteronomium 32:4; Jakobus 3:17, 18 en 1 Johannes 4:7, 8 opgeteken is.

Ons Skepper het ons die “intellektuele vermoë” gegee om die wêreld om ons te ondersoek en om bevredigende antwoorde op ons vrae te kry (1 Johannes 5:20). In dié verband het die fisikus en Nobelpryswenner William D. Phillips geskryf: “Wanneer ek die orde, verstaanbaarheid en prag van die heelal ondersoek, bring dit my tot die gevolgtrekking dat ’n hoër intelligensie die dinge wat ek sien, ontwerp het. My wetenskaplike waardering vir die samehang en die wonderlike eenvoud van die fisika versterk my geloof in God.”

Sowat tweeduisend jaar gelede het ’n oplettende waarnemer van die sigbare wêreld geskryf: “[God se] onsigbare eienskappe word van die wêreld se skepping af duidelik gesien, omdat hulle waargeneem word in die dinge wat gemaak is, ja, sy ewige krag en Godheid” (Romeine 1:20). Die skrywer—die Christenapostel Paulus—was ’n intelligente man en hooggeleerd in die Mosaïese Wet. Sy geloof, wat op rede gegrond was, het God vir hom ’n werklikheid gemaak, terwyl sy skerp sin van geregtigheid hom beweeg het om God die verskuldigde eer vir sy skeppingswerke te gee.

Dit is ons opregte hoop dat jy ook sal sien dat dit glad nie onredelik is om in God te glo nie. Trouens, mag jy soos Paulus meer doen as om net te glo dat Hy bestaan. Mag jy—soos miljoene ander—ook besef dat Jehovah God ’n geespersoon is met innemende eienskappe wat weerklank vind in die mensehart en ons tot hom aantrek.—Psalm 83:18; Johannes 6:44; Jakobus 4:8.

[Voetnote]

a Sien “Is evolusie ’n feit?” in die Ontwaak! van September 2006.

b DNS staan vir deoksiribonukleïensuur.

c Toe Charles Darwin sy idees oor evolusie geformuleer het, het hy geen idee gehad van hoe kompleks die lewende sel is nie.

[Venster op bladsy 24]

REGVERDIG GODSDIENSEUWELS ’N GEBREK AAN GELOOF IN GOD?

Baie mense glo nie in ’n Skepper nie as gevolg van die welbekende misbruike en verdorwenhede waardeur die geskiedenis van baie godsdienste beklad is. Is dit ’n goeie rede om nie in God te glo nie? Nee. “Die gruweldade van georganiseerde godsdiens”, sê Roy Abraham Varghese in sy voorwoord by Antony Flew se boek There Is a God, “het hoegenaamd geen betrekking op die bestaan van God nie, net soos die bedreiging wat die geweldige toename in kernwapens inhou, geen betrekking het op die vraag of E=mc2d nie.”

[Voetnoot]

d Energie is gelyk aan massa maal die snelheid van lig kwadraat.

[Prente op bladsy 23]

As strukturele ontwerp uit die ou tyd aan mense toegeskryf word, aan wie skryf ons die ontwerp in die natuur toe?

[Prent op bladsy 23]

Albert Einstein

[Prente op bladsy 24, 25]

DNS is soos ’n mikroskopiese boek wat presiese instruksies vir intelligente lewe bevat

[Prente op bladsy 25]

Die mensebrein is al beskryf as “die ingewikkeldste voorwerp in die heelal”

[Foto-erkenning op bladsy 22]

© The Print Collector/age fotostock

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel