Wees voorbereid op die struikelblokke
“Ek het besluit om op te hou rook ter wille van ons pasgebore baba se gesondheid. Daarom het ek ’n ‘rook verbode’-teken in ons huis opgesit. Net een uur later het die lus vir nikotien my soos ’n tsoenami oorweldig, en ek het ’n sigaret opgesteek.”—Josjimitsoe, Japan.
SOOS Josjimitsoe se ondervinding toon, sal iemand wat rook wil opgee, voor struikelblokke te staan kom. Wat meer is, studies toon dat byna 90 persent van diegene wat struikel, bly lê deurdat hulle hulle rookgewoonte hervat. As jy dus rook probeer opgee, is die kanse groter dat jy suksesvol sal wees as jy op die struikelblokke voorbereid is. Watter struikelblokke is redelik algemeen?
Die drang na nikotien: Dit is gewoonlik drie dae ná jou laaste sigaret die ergste, en dit bedaar ná omtrent twee weke. Gedurende hierdie tyd “kom die lus in vlae; dit is nie konstant nie”, sê ’n eksroker. Maar selfs jare later kan jy skielik lus word om te rook. As dit gebeur, moet jy nie sommer ingee nie. Wag sowat vyf minute, en die begeerte behoort te verdwyn.
Ander onttrekkingsimptome: Aanvanklik vind mense dit moeiliker om wakker te bly of te konsentreer en sit hulle dalk makliker gewig aan. Hulle kan ook pyn, ’n gejeuk, gesweet en hoesbuie ervaar, asook gemoedsveranderinge soos ongeduldigheid, ’n geneigdheid tot woede of selfs depressie. Die meeste simptome bedaar egter binne vier tot ses weke.
Gedurende hierdie kritieke tyd kan jy ’n paar praktiese dinge doen wat jou sal help. Byvoorbeeld:
● Ruim meer tyd in om te slaap.
● Drink baie water of sap. Eet gesonde kos.
● Doen matige oefening.
● Haal diep asem, en stel jou voor hoe skoon lug jou longe vul.
Snellers: Dit is bedrywighede of gevoelens wat die drang om te rook, kan laat ontstaan. Byvoorbeeld, dalk het jy gewoonlik ’n sigaret gerook wanneer jy iets gedrink het. As dit die geval was, moet jy nie iets tydsaam sit en drink wanneer jy rook opgee nie. Ná verloop van tyd sal jy natuurlik weer iets rustig kan sit en drink.
Nietemin kan sielkundige assosiasies voortduur lank nadat jou liggaam nikotienvry is. “Negentien jaar nadat ek opgehou rook het”, erken Torben, wat vroeër aangehaal is, “kom ek nog steeds gedurende koffiepouses in die versoeking om te rook.” Maar oor die algemeen sal die idee dat rook en sekere bedrywighede saamgaan, mettertyd vervaag en nie meer so kragtig wees nie.
Met alkohol is die situasie anders. Trouens, terwyl jy rook probeer opgee, sal jy jou moontlik van alkohol moet onthou en plekke moet vermy waar dit bedien word, want ’n hoë persentasie van mense ondervind terugslae wanneer hulle drink. Waarom?
● Selfs klein hoeveelhede alkohol vergroot die genot wat nikotien verskaf.
● Gesellige drankgebruik en rook gaan dikwels hand aan hand.
● Alkohol belemmer oordeel en verlaag inhibisies. Die Bybel sê tereg: “Wyn . . . neem die goeie beweegrede weg.”—Hosea 4:11.
Metgeselle: Wees selektief. Byvoorbeeld, vermy onnodige omgang met mense wat rook of wat jou moontlik sal nooi om dit te doen. Bly ook weg van mense wat jou pogings om op te hou rook, probeer ondermyn, deur jou dalk daaroor te terg.
Emosies: Volgens ’n studie het byna twee derdes van mense wat ’n terugslag ondervind het, net voor hulle terugslag gespanne of kwaad gevoel. As ’n sekere gevoel die drang by jou laat ontstaan om te rook, moet jy jou aandag daarvan aflei—dalk deur water te drink, kougom te kou of ’n entjie te gaan stap. Probeer jou verstand met positiewe gedagtes vul deur miskien tot God te bid of ’n paar bladsye in die Bybel te lees.—Psalm 19:14.
Rasionalisasies om te vermy
● Ek sal net een trek neem.
Werklikheid: Net een trek kan tot 50 persent van sekere nikotienreseptors in jou brein drie uur lank bevredig. Die gevolg is dikwels ’n algehele terugslag.
● Rook help my om stres te verwerk.
Werklikheid: Studies toon dat nikotien eintlik streshormoonvlakke verhoog. Enige skynbare verligting van stres kan hoofsaaklik toegeskryf word aan die tydelike afname in onttrekkingsimptome.
● Ek rook al te lank om op te hou.
Werklikheid: Pessimisme ondermyn wilskrag. Die Bybel sê: “Was jy mismoedig in die dag van benoudheid? Jou krag sal gering wees” (Spreuke 24:10). Vermy dus pessimistiese denke. Enigiemand wat werklik wil ophou rook en wat praktiese beginsels toepas, soos dié wat in hierdie tydskrif gemeld word, kan suksesvol wees.
● Die onttrekkingsimptome is te erg vir my.
Werklikheid: Onttrekkingsimptome is weliswaar sterk, maar dit sal binne net ’n paar weke bedaar. Bly dus doelgerig! As ’n begeerte om te rook, maande of jare later weer by jou opkom, sal ook dit verbygaan, waarskynlik binne net ’n paar minute—as jy nie ’n sigaret aansteek nie.
● Ek ly aan ’n geestesiekte.
Werklikheid: As jy behandel word vir ’n geestestoestand, soos depressie of skisofrenie, kan jy jou dokter vra om jou te help om rook op te gee. Hy of sy sal jou moontlik graag wil bystaan, dalk deur jou behandeling aan te pas om te vergoed vir die uitwerking wat jou besluit op jou siekte of op jou medikasie kan hê.
● As ek ’n terugslag het, sal dit voel of ek ’n mislukking is.
Werklikheid: As jy struikel en ’n sigaret aansteek—soos die geval is met baie mense wanneer hulle rook probeer opgee—is jou situasie nie hopeloos nie. Staan eenvoudig op en probeer weer. As ’n mens val, beteken dit nie dat jy misluk het nie. As jy bly lê, het jy misluk. Hou dus aan probeer. Uiteindelik sal jy suksesvol wees!
Kyk na die ondervinding van Romualdo, wat 26 jaar lank gerook het en meer as 30 jaar gelede opgehou het. “Ek kan nie onthou hoeveel terugslae ek gehad het nie”, skryf hy. “Elke keer het ek aaklig gevoel, asof daar nie meer hoop vir my is nie. Maar nadat ek my vas voorgeneem het om ’n goeie verhouding met Jehovah God te hê en hom herhaaldelik om hulp gesmeek het, kon ek uiteindelik vir goed ophou rook.”
In die laaste artikel van hierdie reeks, sal ons nog ’n paar praktiese wenke bespreek wat jou kan help om ’n gelukkige eksroker te word.
[Venster/Prent op bladsy 7]
DODELIK IN AL SY VORME
Tabak word op baie maniere gebruik. Party tabakprodukte word selfs in gesondheids- en kruiewinkels verkoop. Nietemin is “alle vorme van tabak dodelik”, sê die Wêreldgesondheidsorganisasie. Daar is ’n hele aantal tabakverwante siektes, soos kanker en hartvatsiekte, wat die dood tot gevolg kan hê. Moeders wat rook, kan ook hulle ongebore babas benadeel. In watter vorme kom tabakprodukte gewoonlik voor?
Bidi’s: Hierdie klein, handgemaakte sigarette word algemeen in Asiatiese lande gebruik. Bidi’s stel heelwat meer teer, nikotien en koolstofmonoksied vry as gewone sigarette.
Sigare: Dit word gemaak van kerftabak wat styf toegedraai word in tabakblare of in papier wat van tabak gemaak is. Omdat die tabak van sigare effens alkalies is in vergelyking met die suur tabak van sigarette, kan nikotien deur die mond geabsorbeer word, al is die sigaar nie aangesteek nie.
Kreteks, of naeltjiesigarette: Dit bevat gewoonlik omtrent 60 persent tabak en 40 persent naeltjies. Dit stel meer teer, nikotien en koolstofmonoksied vry as gewone sigarette.
Pype: Om pyp te rook, is nie ’n veilige alternatief vir sigarette nie omdat albei gewoontes tot baie van dieselfde soort kankers en ander siektes kan lei.
Rooklose tabak: Dit sluit pruimtabak en snuif in, asook gegeurde gutkha, wat in Suidoos-Asië gebruik word. Nikotien word deur die mond in die bloedstroom geabsorbeer. Om rooklose tabak te gebruik, is net so gevaarlik as om ander tabak te gebruik.
Waterpype (bonge, hookahs, nargiles, sjisjas): Met hierdie toestelle word tabakrook deur water getrek voordat dit ingeasem word. Maar die proses verminder nie noodwendig die hoeveelheid gifstowwe, insluitende kankerwekkende stowwe, wat in die longe beland nie.
[Venster/Prent op bladsy 8]
HOE OM IEMAND TE HELP OM OP TE HOU ROOK
● Wees positief. Om te prys en te beloon, werk beter as om te neul en te preek. “Ek dink jy sal dit kan doen as jy weer probeer”, vermag meer as: “Jy het al weer misluk!”
● Wees vergewensgesind. As iemand wat rook probeer opgee, sy woede of frustrasie op jou uithaal, moet jy jou bes doen om dit oor te sien. Gebruik vriendelike uitdrukkings soos: “Ek weet dit is moeilik, maar ek is so trots op jou omdat jy dit doen.” Moet nooit sê: “Ek het meer van jou gehou toe jy gerook het!” nie.
● Wees ’n ware vriend. Die Bybel sê: “’n Ware metgesel het te alle tye lief en is ’n broer wat gebore word vir die tyd wanneer daar benoudheid is” (Spreuke 17:17). Ja, probeer “te alle tye” geduldig en liefdevol wees teenoor iemand wat rook probeer opgee—ongeag watter tyd van die dag dit is of in watter bui die persoon is.