Die Bybel se beskouing
Is God ’n werklike persoon?
WEENS die indrukwekkende natuur om ons heen glo baie mense in ’n bonatuurlike mag, ’n godheid. Is jy beïndruk deur die kompleksiteit van die heelal? Staan jy verstom oor die natuurwonders van ons planeet en die ingewikkelde ontwerp van die menseliggaam?
Indien wel, glo jy dalk ook in ’n goddelike mag. Party godsdienste leer dat so ’n wese in die berge, die bome, die lug en ander stoflike dinge in die heelal woon. Ander glo dat voorvadergeeste, waarvan party welwillend en ander boos is, ’n samestelling van geheimsinnige kragte vorm wat een Opperwese uitmaak—God!
In albei gevalle glo baie mense dat hierdie bonatuurlike mag geen persoonlikheid het nie. Party mense vind dit moeilik om te glo dat God gedagtes, emosies, voornemens en begeertes het. Is God ’n werklike persoon? Die Bybel, een van die oudste en wyds verspreide heilige boeke, voorsien ’n duidelike antwoord.
Die menslike natuur gee ’n aanduiding van God se natuur
Die Bybel leer dat die mens geskep is om God se eienskappe te weerspieël. Genesis 1:27 sê: “God het mense geskep en hulle gemaak om soos hy te wees.”—Today’s English Version.
Hierdie woorde beteken natuurlik nie dat die eerste mense presiese replikas van God was nie. Die Bybel sê dat God ’n onsigbare gees is, terwyl mense van stoflike aardse elemente gemaak is (Genesis 2:7; Johannes 4:24). Afgesien van hierdie basiese verskil tussen God en mense, behoort ’n ondersoek van menslike eienskappe lig te werp op die ware natuur van God.
Die mens het die vermoë om mag uit te oefen en om weldeurdagte en doelbewuste dade te verrig. Die dryfkrag agter hierdie dade kan eienskappe soos goedhartigheid, denkvermoë, praktiese wysheid en ’n sin vir geregtigheid wees. Mense het emosies wat wissel van tere liefde tot haat en woede. Verskillende kombinasies van hierdie eienskappe maak dat ons effens van mekaar verskil. Ja, elkeen van ons het ’n unieke persoonlikheid. Mense is persone.
Is dit logies dat God ons as komplekse persone sou skep as hy self ’n onpersoonlike mag was wat doelloos in ’n geesteryk rondsweef? As mense na God se beeld gemaak is, sal God se natuur in baie opsigte soortgelyk wees aan die menslike natuur. Beskou die volgende.
God het ’n persoonlike naam. Die Bybel sê in Jesaja 42:8: “Ek is Jehovah. Dit is my naam.” God wil hê dat mense sy naam moet ken. Die Bybel sê ook: “Mag Jehovah se naam geloof word, van nou af en tot onbepaalde tyd. Van die opgang van die son tot sy ondergang moet Jehovah se naam geloof word” (Psalm 113:2, 3). Deur God se naam dikwels te gebruik, behandel sy aanbidders hom dus as ’n persoon.
God is uniek. Die Bybel leer dat God waarlik uniek is (1 Korintiërs 8:5, 6). “U [is] inderdaad groot, o Soewereine Heer Jehovah; want daar is geen ander soos u nie, en daar is geen God behalwe u . . . nie”, sê die Bybel (2 Samuel 7:22). Die Skrif sê ook dat Jehovah “die ware God is in die hemel daar bo en op die aarde hier onder. Daar is geen ander nie.”—Deuteronomium 4:39.
Jehovah God haat slegtheid. Net ’n persoon kan iets haat. Die Bybel sê vir ons dat die Skepper dinge haat soos “trotse oë, ’n valse tong en hande wat onskuldige bloed vergiet, ’n hart wat skadelike planne beraam, voete wat haastig is om na slegtheid te hardloop, ’n valse getuie wat leuens uitstrooi en iemand wat twis onder broers saai” (Spreuke 6:16-19). Let op dat God gedrag haat wat ander mense benadeel. Hieruit leer ons dat God ons welsyn op die hart dra en dat hy dinge haat wat skadelik is vir ons.
Jehovah is ’n liefdevolle God. Die Bybel verduidelik dat God baie lief is vir “die mense van hierdie wêreld” (Johannes 3:16, Contemporary English Version). Hy word daarin uitgebeeld as iemand met die persoonlikheid van ’n tere vader wat die beste vir sy mensekinders wil hê (Jesaja 64:8). Mense kan baie seëninge ontvang deur God as hulle liefdevolle Vader te erken.
Jy kan God se vriend wees
Dit is duidelik dat die Bybel leer dat die Skepper ’n individu is, wat ’n naam en ’n persoonlikheid het. Hy het die vermoë om mag uit te oefen en om weldeurdagte en doelbewuste dade te verrig, en die dryfkrag agter hierdie dade is verhewe eienskappe soos goedhartigheid, wysheid en ’n sin vir geregtigheid. Hy is nie afsydig of onbereikbaar nie. Inteendeel, hy sê: “Ek, Jehovah jou God, gryp jou regterhand vas, ek wat vir jou sê: ‘Moenie bang wees nie. Ek sal jou help.’”—Jesaja 41:13.
God het ’n voorneme met die mensdom. Die Bybel sê: “Die regverdiges sal die aarde besit, en hulle sal vir ewig daarop woon” (Psalm 37:29). Die wete dat Jehovah uniek is en sy eie identiteit het, maak dit vir ons makliker om ’n persoonlike verhouding met hom aan te kweek en die seëninge te geniet wat hy belowe aan dié wat sy vriende word.—Deuteronomium 6:4, 5; 1 Petrus 5:6, 7.
HET JY AL GEWONDER?
● Het God ’n persoonlike naam?—Jesaja 42:8.
● Is daar baie gode?—1 Korintiërs 8:5, 6.
● Kan mense ’n persoonlike verhouding met die ware God geniet?—1 Petrus 5:6, 7.
[Prent op bladsy 29]
Is dit logies dat God ons as komplekse persone sou skep as hy self ’n onpersoonlike mag was?