Ons beskou die wêreld
Van die 95,2 miljoen ton seediere wat elke jaar gevang word, word omtrent 38,5 miljoen ton as onbruikbaar beskou. “Visbevolkings sal nie kan herstel so lank as wat ons 40 persent van wat ons uit die see neem, weggooi nie”, sê Karoline Schacht, ’n visserydeskundige van die Wêreld-Natuurfonds.—BERLINER MORGENPOST, DUITSLAND.
“Dit lyk dalk of beeste, skape en bokke onskuldige slagoffers is van die mens se liefde vir vleis, maar . . . wêreldwyd is die winde wat vee opbreek, verantwoordelik vir 18 persent van kweekhuisgasse [hoofsaaklik metaan] wat vrygestel word—meer as alle vervoermiddele tesame.”—NEW SCIENTIST, BRITTANJE.
Prehistoriese supergom
Wetenskaplikes wat in KwaZulu-Natal werk, het ’n supergom ontdek wat duisende jare oud is. “Die gom . . . is net so goed soos die gom wat vandag in hardewarewinkels gevind word”, sê The Star, ’n Johannesburgse koerant. Eertydse jagters het die gom blykbaar gebruik om punte aan pyle en spiese vas te maak. Wetenskaplikes se pogings om die eertydse formule na te maak—met rooiklip, dierevet, akasiagom en sand—en om die temperatuur net reg te hou sodat die kleefstof langs ’n vuur kan droog word, het die wetenskaplikes “groter respek” gegee vir die mense wat dit gebruik het.
Minder slaap, meer verkoues
“Dit is byna drie keer waarskynliker dat mense wat minder as sewe uur per nag slaap, ’n verkoue sal kry as mense wat gemiddeld agt uur of langer slaap”, sê ’n verslag van die Carnegie Mellon-universiteit, Pittsburgh, Pennsilvanië, VSA. En dit is “vyf en ’n half keer waarskynliker dat [dié] wat selfs net 8 persent van die tyd wakker lê”, ’n verkoue sal kry as dié wat beter slaap. “Hoewel die verband tussen slaap en die immuunstelsel goed gedokumenteer is, is dít die eerste bewyse dat selfs betreklik klein slaapversteurings die liggaam se reaksie op verkouevirusse kan beïnvloed”, het Sheldon Cohen, die hoofsamesteller van die studie, gesê. “Dit voorsien net nog ’n rede waarom mense tyd in hulle rooster moet inruim om ’n hele nag se rus te kry.”
Oorgenoeg nuwe landbougrond
“Daar is genoeg plek in die wêreld om die ekstra voedsel te produseer wat nodig is om die toenemende bevolking te voed”, sê die tydskrif New Scientist. “En teen alle verwagting in kan die meeste daarvan in Afrika verbou word.” Die tydskrif haal ’n verslag oor landbouvooruitsigte aan wat deur die Organisasie vir Ekonomiese Samewerking en Ontwikkeling sowel as die Verenigde Nasies se Voedsel- en Landbou-organisasie gepubliseer is. Volgens die verslag kan die hoeveelheid grond wat tans regoor die wêreld vir landbou gebruik word, meer as verdubbel word. “Meer as die helfte van die ekstra grond wat beskikbaar is”, sê die verslag, “is in Afrika en Latyns-Amerika.”