Tree op en verbeter jou gesondheid
ONTHOU jy vir Ram, wat in die eerste artikel van hierdie reeks genoem is? Soos baie ander mense regoor die wêreld het Ram nie besef hoe belangrik goeie eetgewoontes en ander daaglikse gewoontes vir ’n mens se gesondheid is nie. Hy vertel: “Die Ontwaak!-artikel ‘Voedsame kos binne jou bereik’ (8 Mei 2002) het my gehelp om te verstaan waarom ons moet let op wat ons eet.”
Ram verduidelik: “Ons het as ’n gesin probeer toepas wat ons in die artikel geleer het. Ná ’n ruk het ons gevind dat ons immuunstelsels sterker was. Voordat ons aan ons dieet aandag begin skenk het, het ons taamlik gereeld verkoue gekry, maar nou kry ons dit selde. Ons het ook in die Ontwaak!-artikel ‘Ses maniere om jou gesondheid te beskerm’ (22 September 2003) geleer dat daar goedkoop en maklike maniere is om skoon drinkwater te verkry.
“’n Ander Ontwaak!-artikel het my gehelp om die gesondheid van my gesin te verbeter. Dit was getiteld ‘Seep—’n “doen-dit-self-entstof”’ en het in die Ontwaak! van 22 November 2003 verskyn. Nadat ons hierdie artikel gelees het, het ons die wenke daarin begin toepas. Nou kry ons nie meer ooginfeksies nie.
“Waar ons woon, is mense glad nie besorg oor die groot swerms vlieë en muskiete nie. Maar ons gesin het in die video The Bible—Its Power in Your Lifea geleer dat ons van sulke insekte moet wegbly. Ook hierdie kennis help ons om gesond te bly.”
Moenie moed verloor nie! Ongeag watter veranderinge jy moet maak, jy sal moontlik suksesvoller wees as jy geleidelik begin en nie vir jou onbereikbare doelwitte stel nie. Byvoorbeeld, probeer eerder om minder ongesonde kosse te eet as om dit heeltemal uit te sny. Probeer om ’n bietjie vroeër te gaan slaap en om ’n bietjie meer oefening te doen. Om iets te doen, is beter as om niks te doen nie. Dit neem gewoonlik tyd—weke of maande—voordat ’n nuwe goeie gewoonte ’n tweede natuur word. As jy intussen vind dat jou ekstra inspanning nie onmiddellik vrugte afwerp nie, moet jy nie moed verloor nie. As jy ten spyte van terugslae volhard, sal jou gesondheid waarskynlik verbeter.
In hierdie onvolmaakte wêreld kan niemand volmaakte gesondheid geniet nie. Wanneer jy siek word, is dit moontlik nie weens agterlosigheid van jou kant nie, maar weens die ingebore swakheid van die mens. Moet jou dus nie onnodig kwel oor jou gesondheid, of enigiets anders nie. “Wie van julle kan deur hom te kwel ’n el by sy lewensduur voeg?” het Jesus gevra (Lukas 12:25). Probeer eerder om dinge te vermy wat jou lewe onnodig verkort en die gehalte daarvan negatief beïnvloed. As jy dit doen, kan dit jou help om die beste gesondheid moontlik te geniet tot die dag in God se nuwe wêreld wanneer “geen inwoner sal sê: ‘Ek is siek’ nie”.—Jesaja 33:24.
a Uitgegee deur Jehovah se Getuies.