Iets kosbaarder as ons teenswoordige lewe
Soos vertel deur Moerat Ibatoellin
In 1987 het die Russiese Departement van Gesondheid my na Uganda, Afrika, gestuur. Ek het ingestem om vier jaar lank daar as ’n dokter te werk. Ek wou eintlik nooit na Rusland terugkeer nie. Ek wou eerder ondervinding opdoen wat my sou help om te werk in ’n land soos Australië, Kanada of die Verenigde State van Amerika. Maar teen 1991 het my planne verander, en ek het na Rusland teruggekeer. Kom ek verduidelik waarom.
EK IS in 1953 gebore in die stad Kazan’, die hoofstad van die Republiek van Tatarstan in Sentraal-Rusland. My ouers is Tataars, en die grootste deel van die Tataarse bevolking is Moslem. Ek onthou dat ek as kind gesien het hoe my oupa en ouma kniel en tot Allah bid. Hulle kinders, insluitende my ouers, het vir ons gesê om hulle nie te pla nie en om die vertrek te verlaat. My ouers het verleë vir ons ooggeknip, aangesien hulle Kommunisme aangeneem het en op daardie stadium ateïste was.
Toe ek vier jaar oud was, was ek een van die slagoffers van die laaste polio-epidemie in die Sowjetunie. Ek het baie herinneringe van hoe ek as kind vir mediese ondersoeke na hospitale en sanatoriums geneem is. Ek kan onthou hoe my oupa gebid het dat ek gesond moet word. Ek wou gesond wees soos ander kinders, en daarom het ek, ondanks ’n gebreklike been, aan sokker, hokkie en ander sportsoorte deelgeneem.
Namate ek ouer geword het, het ek die begeerte ontwikkel om ’n dokter te wees. Ek was nie godsdienstig nie, maar ek was ook nie ’n ateïs nie. Ek het eenvoudig nie aan God gedink nie. Teen daardie tyd was ek krities oor die Kommunistiese ideologie en het ek dikwels met my pa en my oom gestry. My oom was ’n universiteitsdosent in filosofie, en my pa het vir die Geheime Polisie, wat as die KGB bekend gestaan het, gewerk. Toe ek my opleiding as ’n dokter voltooi het, het ek die doelwit gestel om ’n goeie neurochirurg te word en na ’n ander land te emigreer.
Op soek na ’n beter lewe
In 1984 het ek my doktorale proefskrif oor die diagnose van breingewasse voltooi. Toe is ek in 1987 na ’n hospitaal in Mulago, Uganda, gestuur. Ek het saam met my vrou Dilbar en ons kinders, Roestem en Alisa, wat toe sewe en vier jaar oud was, na hierdie pragtige land getrek. By die kliniek het ek hard gewerk en moes ek operasies doen op pasiënte wat met MIV besmet is. Ek het dikwels na ander klinieke regoor die land gereis, aangesien daar destyds net twee neurochirurge in Uganda was.
Op ’n dag het ek en Dilbar, in ’n boekwinkel in Uganda, vir die eerste keer ’n Russiese Bybel gesien. Ons het ’n hele paar gekoop om na vriende in die Sowjetunie te stuur omdat dit destyds byna onmoontlik was om Bybels daar te koop. Ons het ’n paar hoofstukke uit die Bybel gelees, maar dit was vir ons so moeilik om te verstaan dat ons gou tou opgegooi het.
Ons het egter drie jaar lank verskillende kerke in Uganda besoek en probeer verstaan wat die plaaslike mense glo en wat hulle motiveer. Ek het ook besluit om die Koran in sy oorspronklike taal te bestudeer. Trouens, ek en Roestem het Arabiese klasse begin bywoon. Ná ’n paar maande kon ons ’n gesprek in eenvoudige Arabies voer.
Omtrent daardie tyd het ons die sendelinge en Bybelonderrigters Heinz en Marianne Wertholz ontmoet, wat oorspronklik van Duitsland en Oostenryk gekom het. Gedurende ons eerste gesprek het ons glad nie godsdiens bespreek nie. Ons was soos enige ander Europeërs wat mekaar in Afrika ontmoet. Ons het hulle gevra waarom hulle in Uganda is, en hulle het vir ons gesê dat hulle sendelinge van Jehovah se Getuies is en dat hulle in die land is om mense te help om die Bybel te studeer.
Toe het ek onthou dat ek gedurende ’n filosofiekursus by die universiteit wat ek in Rusland bygewoon het, geleer het dat die Getuies ’n sekte is en dat hulle hulle kinders offer en hulle bloed drink. Ek het vir Heinz en Marianne hiervan vertel, want ek kon nie glo dat hulle so iets sou goedkeur nie. Ek en Dilbar het albei ’n eksemplaar van die boek Jy kan vir ewig in die Paradys op aarde lewe aanvaar, en ons het amper die hele boek binne net ’n paar uur verslind. Toe ek opgehou lees het en vir Dilbar gevra het wat sy dink, het sy gesê dat sy so opgewonde is oor wat sy lees dat sy hoendervleis het! Ek het vir haar gesê dat ek ook so voel.
Daarna wou ons graag weer met Heinz en Marianne praat. Toe ons hulle weer sien, het ons baie onderwerpe bespreek. Wat ons omtrent die Bybel geleer het, het ons harte verder geraak. Dit het ons beweeg om ons vriende en kollegas te vertel van wat ons leer. Dit het mense ingesluit soos die Russiese ambassadeur, konsuls van Rusland en ander lande asook ’n verteenwoordiger van die Vatikaan. Hy het ons verbaas deur te sê dat die Ou Testament “net ’n mite” is.
Ons keer terug na ons vaderland
’n Maand voordat ons in 1991 na Rusland teruggekeer het, het ek en Dilbar besluit om Jehovah se Getuies te word. Ons het gedink dat ons, wanneer ons na Kazan’ terugkeer, onmiddellik sou voortgaan om die vergaderinge by te woon. Maar tot ons groot teleurstelling het ons drie maande lank sonder welslae na ’n Koninkryksaal gesoek en geen teken van medegelowiges gesien nie! Ons het dus besluit om van deur tot deur te gaan, soos Jehovah se Getuies regoor die wêreld doen, al moes ons dit op ons eie doen. Dit het daartoe gelei dat ons ’n paar Bybelstudies begin het, insluitende een met ’n vrou wat later ’n Getuie geword het.
Toe het ons ’n besoek ontvang van ’n bejaarde Getuie wat ons adres by die Getuies in Uganda gekry het. Daarna het ons by ’n groep van 15 aangesluit wat in ’n klein eenvertrekwoonstel vergaderinge gehou het. Heinz en Marianne het met ons in aanraking gebly en ons selfs in Kazan’ kom besoek. Later het ons hulle besoek in Bulgarye, die volgende land waarna hulle gestuur is en waar hulle tot vandag toe as sendelinge dien.
Goeie resultate in my vaderland
Ek vertel my kollegas in die hospitale waar ek in Rusland werk, by elke geleentheid van Bybelwaarhede. Met verloop van tyd het baie van hulle, insluitende ’n aantal van my mediese kollegas, gunstig gereageer en Jehovah se Getuies geword. In 1992, die jaar nadat ons in Kazan’ aangekom het, het die groep Getuies daar tot 45 vermeerder; en die volgende jaar tot meer as 100. Vandag is daar in Kazan’ sewe gemeentes van Getuies—vyf Russiessprekende gemeentes, een Tataarssprekende gemeente en een gebaretaalgemeente. Daar is ook Armeense en Engelse groepe.
In 1993 het ek ’n mediese konferensie in die stad New York bygewoon en het ek die geleentheid gehad om die wêreldhoofkwartier van Jehovah se Getuies in Brooklyn te besoek. Ek het Lloyd Barry ontmoet, wat gehelp het om die predikingswerk van Jehovah se Getuies regoor die wêreld te organiseer. Ondanks sy besige program het hy tyd ingeruim om met my te gesels.
Ons het die behoefte aan Bybellektuur in Tataars bespreek. ’n Paar jaar later is ’n Tataarse vertaalspan in Rusland gevorm, en lektuur het in Tataars beskikbaar geword. Hoe verheug was ons tog om ná verloop van tyd gereeld Die Wagtoring, ’n tydskrif wat vir Bybelstudie bedoel is, te ontvang! Kort daarna is die eerste Tataarse gemeente gevorm.
Die gebruik van bloedbesparingsmetodes
Al God se sedewette is my belangrik, insluitende die een in Handelinge 15:20 waar God se knegte beveel word om “hulle te onthou . . . van bloed”. Vers 29 voeg by dat God se knegte hulle “voortdurend [moet] onthou van afgodsoffers en van bloed en van wat verwurg is en van hoerery”.
Wanneer Jehovah se Getuies dus mediese hulp soek, vra hulle dokters om hulle beskouing van bloedlose mediese behandeling te respekteer. Ek het ’n tyd lank saam met ’n Hospitaalskakelkomitee van die Getuies in Kazan’ gewerk.a In 1997, toe die eenjarige Pawel van die stad Nowosibirsk onmiddellik ’n operasie nodig gehad het, het sy ma ons gevra om te help. Destyds was daar min ervare dokters in Rusland wat bereid was om bloedlose operasies te doen. Ons het ingestem om ’n dokter te help vind wat alternatiewe behandelings sou gebruik.
Ons het kort voor lank ’n hartkliniek in Kazan’ gevind waar die dokters ingestem het om op die jong Pawel te opereer. Op 31 Maart 1997 het dokters ’n baie suksesvolle bloedlose operasie gedoen om sy ernstige hartaandoening, wat die tetralogie van Fallot genoem word, reg te stel. Op 3 April het die koerant Vetsjernjaja Kazan berig: “Die seuntjie voel redelik goed en het nie meer hartmedikasie nodig nie . . . Pawlik [’n verkleiningsvorm van Pawel] se ma kon vir die eerste keer in elf maande weer asem skep.” Pawel het binne ’n kort rukkie van die operasie herstel en sy eerste treetjies in die hospitaalgang gegee.
Pawel geniet nou goeie gesondheid en lei ’n normale lewe. Hy hou daarvan om te swem, te ysskaats en sokker te speel. Hy is in graad agt, en hy en sy ma is deel van die gemeente van Jehovah se Getuies in die stad Nowosibirsk. Ná hierdie ondervinding het dokters by dieselfde kliniek suksesvolle bloedlose operasies gedoen op etlike hartpasiënte wat Jehovah se Getuies is. Vooruitgang op mediese gebied word steeds in Tatarstan gemaak, en bloedlose operasies het iets algemeens geword.
Die werk wat ek vandag doen
Ek en my vrou, sowel as ander Getuies, werk by ’n kliniek wat hipertegnologiese mediese oplossings bied vir pasiënte met neurologiese en kardiologiese probleme. Ons doen verskeie operasies, veral op pasiënte wat van bloedbesparingsmetodes gebruik wil maak. Ek werk as ’n neuroradioloog en doen verdere navorsing oor ingreepsvrye bloedlose neurochirurgie. As ’n professor in die Departement van Neurologie en Neurochirurgie by die Mediese Staatsuniversiteit van Kazan’ gee ek lesings vir mediese studente en dokters en probeer ek hulle help om die voordele van bloedlose behandeling in te sien.b
My vrou werk as ’n ultraklankspesialis saam met my in die kliniek. Ons geniet ons werk omdat ons mense kan help. Maar ons put die meeste bevrediging daaruit om te sien hoe Bybelwaarhede mense geestelik genees. Dit verbly ons hart om ander te vertel van God se belofte dat daar binnekort op aarde “geen inwoner sal [wees wat] sê: ‘Ek is siek’ nie.”—Jesaja 33:24.
[Voetnote]
a Hospitaalskakelkomitees is groepe wat bestaan uit Jehovah se Getuies en wat samewerking tussen hospitale en pasiënte help bevorder wanneer ’n bloedoortapping ’n kwessie word.
b Bloedlose behandelingsmetodes is alternatiewe vir bloedoortappings. Weens die gevare wat bloedoortappings inhou, word bloedlose behandeling en bloedlose operasies regoor die wêreld al hoe gewilder. Bloedoortappings hou die risiko van MIV en ander infeksies in, asook van allergiese reaksies.
[Prent op bladsy 12]
Toe ek as ’n dokter in Afrika gewerk het
[Prent op bladsy 13]
In 1990, toe ek en my vrou die Bybel saam met Jehovah se Getuies begin studeer het
[Prent op bladsy 14]
In 1993, toe ek Lloyd Barry tydens ’n besoek aan Brooklyn, New York, ontmoet het
[Prent op bladsy 15]
Pawel en sy ma, vandag
[Prent op bladsy 15]
In die bediening saam met my vrou, Dilbar