Wysheid vir jou hart en gesondheid
“’n Kalm hart is die lewe van die vlees.”—SPREUKE 14:30.
“’n Vreugdevolle hart is ’n goeie geneesmiddel.”—SPREUKE 17:22.
● Koning Salomo van Israel het hierdie eenvoudige maar insigryke woorde sowat drieduisend jaar gelede gespreek.a Maar is dit waar? Wat toon die moderne geneeskunde?
Aangaande ’n kalm hart teenoor ’n hart wat geneig is tot woede, sê die Journal of the American College of Cardiology: “Onlangse bevindings toon dat daar ’n negatiewe verband bestaan tussen woede en vyandigheid en KHS [koronêre hartsiekte].” Die Journal sê dus: “Die suksesvolle voorkoming en behandeling van KHS behels moontlik . . . nie net konvensionele fisiese en medisinale behandeling nie, maar ook sielkundige behandeling wat op die beheer van woede en vyandigheid toegespits is.” Kortom, ’n kalm hart bevorder goeie gesondheid, net soos die Bybel sê.
’n Vreugdevolle hart het ook so ’n positiewe uitwerking. Dr. Derek Cox, ’n gesondheidsamptenaar in Skotland, het in ’n BBC-nuusberig gesê: “As jy gelukkig is, sal jy waarskynlik minder gesondheidsprobleme in die toekoms hê as diegene wat ongelukkig is.” Dieselfde berig het gesê: “Gelukkige mense geniet ook groter beskerming teen dinge soos hartsiekte en beroertes.”
Waarom was die wysheid van Salomo—en dié van die ander Bybelskrywers—die tyd so ver vooruit? Die antwoord is eenvoudig. “God het aan Salomo wysheid en begrip in baie groot mate bly gee” (1 Konings 4:29). Wat meer is, daardie wysheid is in eenvoudige taal neergeskryf sodat almal daarby kan baat vind. En dit is gratis!
Maak gereelde Bybellees gerus ’n deel van jou lewe. Miljoene het reeds tot hulle groot vreugde uitgevind hoe waar die volgende woorde is: “Wanneer wysheid in jou hart kom en kennis vir jou siel aangenaam word, sal denkvermoë oor jou wag hou, sal onderskeidingsvermoë jou beveilig” (Spreuke 2:10, 11). Is dit nie uiters gerusstellend nie?
[Voetnoot]
a In die Bybel verwys die woord “hart” gewoonlik na die hele innerlike persoon, insluitende sy emosies.