Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g 8/11 bl. 22-23
  • Ondersteun God hedendaagse oorloë?

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Ondersteun God hedendaagse oorloë?
  • Ontwaak!—2011
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Drie belangrike verskille
  • Waarom die verandering van Israel na die Christengemeente?
  • Is dit moontlik om jou vyande lief te hê?
    Ontwaak!—2009
  • Neutrale Christene in die laaste dae
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2002
  • Is oorlog versoenbaar met die Christelike godsdiens?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2009
  • Hoe om afgeskeie van die wêreld te bly
    ‘Hou julle in God se liefde’
Sien nog
Ontwaak!—2011
g 8/11 bl. 22-23

Die Bybel se beskouing

Ondersteun God hedendaagse oorloë?

KONING DAWID van eertydse Israel het oor sy rol as krygsman gesê: “[God] leer my hande om oorlog te voer, en my arms het ’n koperboog gespan.”—Psalm 18:34.

Die apostel Paulus het aangaande Christene geskryf: “Hoewel ons in die vlees wandel, voer ons nie die stryd volgens wat ons in die vlees is nie. Want die wapens van ons stryd is nie vleeslik nie.”—2 Korintiërs 10:3, 4.

Weerspreek hierdie tekste mekaar? Of is daar geldige redes waarom God die oorlogvoering van eertydse Israel goedgekeur het, maar oorlogvoering deur Christene afkeur? Het God se beskouing van oorlogvoering verander? Die antwoorde word duidelik wanneer ons drie vername verskille tussen Israel en die ware Christengemeente ondersoek.

Drie belangrike verskille

1. Eertydse Israel was ’n nasie wie se landsgrense deur God vasgestel is, en hulle was omring deur nasies wat dikwels vyandig was. Daarom het God sy volk beveel om hulle land te verdedig en het hy hulle selfs oorwinnings oor hulle vyande gegee (Rigters 11:32, 33). Daarenteen het die Christengemeente geen grense nie, en die lede daarvan kan in alle lande gevind word. As Christus se volgelinge in een land dus aan oorlogvoering teen ’n ander land sou deelneem, sou hulle veg teen medegelowiges—hulle geestelike broers en susters—vir wie hulle lief moet wees en selfs moet sterf, soos Jesus beveel het.—Matteus 5:44; Johannes 15:12, 13.

2. Eertydse Israel het ’n mensekoning gehad wie se troon in Jerusalem was. Maar ware Christene het Jesus Christus as heerser, wat nou ’n magtige geesskepsel is en wie se troon in die hemel is (Daniël 7:13, 14). Jesus self het gesê: “My koninkryk is geen deel van hierdie wêreld nie. As my koninkryk ’n deel van hierdie wêreld was, sou my dienaars geveg het sodat ek nie aan die Jode oorgelewer word nie. Maar my koninkryk is nou eenmaal nie uit hierdie bron nie” (Johannes 18:36). Geen politieke koninkryk, of regering, op die aarde kan dus beweer dat hulle aan Christus behoort nie. Wat beteken dit vir Jesus se “dienaars”, of volgelinge? Die derde punt verduidelik.

3. Soos ander nasies het eertydse Israel dikwels boodskappers uitgestuur, oftewel ambassadeurs of gesante soos ons dit vandag noem (2 Konings 18:13-15; Lukas 19:12-14). Christus het dit ook gedoen, maar daar is twee belangrike verskille. Eerstens dien al sy volgelinge as ambassadeurs of gesante. Die apostel Paulus kon dus namens sy mede-Christene skryf: “Ons is dus ambassadeurs wat as plaasvervangers vir Christus optree” (2 Korintiërs 5:20). As vreedsame ambassadeurs het hulle nie die wapen opgeneem nie. Tweedens praat Jesus se volgelinge met almal wat bereid is om na hulle boodskap te luister. Jesus het gesê: “Hierdie goeie nuus van die koninkryk sal in die hele bewoonde aarde verkondig word as ’n getuienis vir al die nasies” (Matteus 24:14). Hy het ook gesê: “Gaan dus en maak dissipels van mense van al die nasies, . . . en leer hulle om alles te onderhou wat ek julle beveel het.”—Matteus 28:19, 20.

Ongelukkig word Christus se dienaars nie altyd hartlik verwelkom nie. Om hierdie rede het Paulus aan die Christenevangeliedienaar Timoteus geskryf: “Dra as ’n goeie soldaat van Christus Jesus jou deel in die lyding van kwaad” (2 Timoteus 2:3). Timoteus se wapens was natuurlik geestelik en het God se geskrewe Woord ingesluit, wat “die swaard van die gees” genoem word.—Efesiërs 6:11-17.

Waarom die verandering van Israel na die Christengemeente?

Die nasie Israel het sowat 1 500 jaar lank ’n spesiale verhouding met God geniet, wat gegrond was op ’n verbond, of kontrak (Eksodus 19:5). Hierdie verbond, waarvan Moses die middelaar was, het die Tien Gebooie en ander wette ingesluit, wat ware aanbidding en hoë sedelike standaarde bevorder het (Eksodus 19:3, 7, 9; 20:1-17). Maar ongelukkig het Israel as ’n nasie ontrou aan God geword en selfs sover gegaan om sy profete dood te maak.—2 Kronieke 36:15, 16; Lukas 11:47, 48.

Uiteindelik het Jehovah sy Seun, Jesus Christus, gestuur, wat as ’n Jood gebore is. Pleks van hom as die Messias te verwelkom, het die Joodse nasie as ’n geheel hom verwerp. Daarom het God sy eeue oue verbond met Israel beëindig, en die figuurlike muur wat die Jode van die nie-Jode geskei het, is verwyder (Efesiërs 2:13-18; Kolossense 2:14).a God het die Christengemeente omstreeks dieselfde tyd gestig en Jesus as die Hoof daarvan aangestel. Wat meer is, voor die einde van die eerste eeu het daardie gemeente uit mense van verskillende nasies bestaan. “In elke nasie is die mens wat [God] vrees en regverdigheid beoefen, vir hom aanneemlik”, het die Joodse apostel Petrus gesê.—Handelinge 10:35.

Jehovah se Getuies volg die voorbeeld van die vroeë Christene. Gevolglik is die Getuies bekend vir hulle openbare bediening en hulle neutraliteit ten opsigte van politieke aangeleenthede en vleeslike oorlogvoering (Matteus 26:52; Handelinge 5:42). Ja, hulle laat nie toe dat enigiets hulle aandag aflei van die verkondiging van die goeie nuus van God se Koninkryk nie—die enigste regering wat boosheid uit die weg sal ruim en blywende vrede op die aarde sal bewerkstellig. Met hierdie kosbare hoop in gedagte het die apostel Paulus geskryf: “As plaasvervangers vir Christus smeek ons: ‘Raak met God versoen’” (2 Korintiërs 5:20). Hierdie uitnodiging is vandag selfs dringender as tevore, want ons nader die einde van “die laaste dae” van die teenswoordige goddelose wêreld.—2 Timoteus 3:1-5.

[Voetnoot]

a Die woord “Jood” was aanvanklik van toepassing op iemand wat aan die Israelitiese stam Juda behoort het. Later het die naam na alle Hebreërs verwys.—Esra 4:12.

HET JY AL GEWONDER?

● Watter voortreflike eienskap moet Christene aan mekaar betoon?—Johannes 13:34, 35.

● Wat is ’n ware Christen se vernaamste “wapen”?—Efesiërs 6:17.

● Watter belangrike boodskap verkondig Christus se verteenwoordigers?—Matteus 24:14; 2 Korintiërs 5:20.

[Prent op bladsy 23]

Jehovah se Getuies bestaan uit ’n multinasionale broederskap en bly neutraal in die oorloë van die nasies

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel