Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g 10/11 bl. 16-20
  • Adolessensie—Voorbereiding vir volwassenheid

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Adolessensie—Voorbereiding vir volwassenheid
  • Ontwaak!—2011
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Van die kinderjare na volwassenheid
  • Pas aan by ’n nuwe “klimaat”
  • Wanneer jou adolessent jou geloof bevraagteken
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2012
  • Wat is ’n ouer se doelwit?
    Ontwaak!—2011
  • Kommunikasie met adolessente
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2008
  • Vrae wat ouers vra
    Vrae wat jongmense vra—Antwoorde wat werk, Deel 1
Sien nog
Ontwaak!—2011
g 10/11 bl. 16-20

Adolessensie—Voorbereiding vir volwassenheid

STEL jou voor dat jy so pas van ’n tropiese eiland na die Noordpoolsirkel gereis het. Sodra jy uit die vliegtuig klim, besef jy dat jy jou in ’n ysige klimaat bevind. Kan jy aanpas? Ja, maar jy sal ’n paar veranderinge moet aanbring.

Jy kom voor ’n soortgelyke situasie te staan wanneer jou kinders adolessente word. Dit voel of die klimaat oornag verander het. Die seun wat heeltyd by jou wou wees, verkies nou die geselskap van sy portuurs. Die dogter wat eens nie kon wag om jou van haar dag te vertel nie, gee jou nou net kort antwoorde.

“Hoe was jou dag by die skool?” vra jy.

“Goed”, antwoord sy.

Stilte.

“Waaraan dink jy?” vra jy.

“Niks”, antwoord sy.

Nog stilte.

Wat het gebeur? Nie lank gelede nie “was dit asof jy te eniger tyd agter die skerms kon inloer om te sien wat in jou kinders se lewe aangaan”, sê die boek Breaking the Code. “Nou kan jy maar net hoop jy kry ’n sitplek in die gehoor, en dit sal waarskynlik nie eers ’n baie goeie sitplek wees nie.”

Moet jy maar net tevrede wees dat jy op so ’n ysige afstand gehou word? Glad nie. Jy kan na aan jou kinders bly terwyl hulle deur adolessensie gaan. Maar jy moet eers verstaan presies wat gedurende hierdie fassinerende, maar soms ook onstuimige, groeistadium gebeur.

Van die kinderjare na volwassenheid

Navorsers het vroeër gedink dat ’n kind se brein byna ten volle ontwikkel het teen die tyd dat hy vyf is. Nou meen hulle dat die grootte van die brein nie veel ná hierdie ouderdom verander nie, hoewel dieselfde nie gesê kan word van die werking van die brein nie. Wanneer jongmense puberteit bereik, begin hormonale veranderinge in hulle plaasvind wat hulle denkwyse verander. Terwyl klein kindertjies byvoorbeeld dinge gewoonlik as konkreet, as swart en wit, beskou, is adolessente geneig om abstrak te dink en om die onderliggende geskilpunte van ’n saak teen mekaar op te weeg (1 Korintiërs 13:11). Hulle vorm hulle eie oortuigings en is nie skaam om dit uit te spreek nie.

Paolo, van Italië, het hierdie verandering in sy adolessent gesien. “Wanneer ek na my tienerseun kyk”, sê hy, “voel dit asof ’n jong man voor my staan, nie meer ’n seun nie. Dit is nie net die fisiese veranderinge nie. Wat my die meeste verbaas, is hoe hy dink. Hy is nie bang om sy mening uit te spreek en dit te verdedig nie!”

Het jy iets soortgelyks in jou adolessent opgemerk? Miskien het hy as ’n kind bloot gedoen wat hy beveel is. “Omdat ek so sê”, was die enigste verduideliking wat hy nodig gehad het. Nou, as ’n adolessent, wil hy redes hê en bevraagteken hy dalk selfs die gesin se waardes. Soms lyk sy uitgesprokenheid na opstandigheid.

Maar moenie tot die slotsom kom dat jou adolessent daarop uit is om jou waardes te ondermyn nie. Hy sukkel miskien net om jou waardes sy waardes te maak, om ’n plek daarvoor in sy lewe te vind. Ter toeligting, stel jou voor dat jy van een huis na ’n ander trek en dat jy jou meubels saamneem. Sal dit maklik wees om ’n plek vir elke meubelstuk in die nuwe huis te vind? Waarskynlik nie. Maar een ding is seker: Jy sal niks weggooi wat vir jou kosbaar is nie.

Jou adolessent kom voor ’n soortgelyke situasie te staan terwyl hy voorberei vir die tyd wanneer hy “sy vader en sy moeder [sal] verlaat” (Genesis 2:24). Daardie dag lê dalk weliswaar nog ver in die toekoms; jou adolessent is nog nie ’n volwassene nie. Maar in sekere sin is hy reeds besig om te pak. Dwarsdeur sy tienerjare ondersoek hy die waardes waarmee hy grootgeword het en besluit hy watter waardes hy sal behou wanneer hy volwasse is.a

Die idee dat jou kind sulke besluite neem, kan skrikwekkend wees. Maar jy kan van een ding seker wees: Wanneer hy ’n volwassene word, sal hy net die waardes behou wat hy as kosbaar beskou. Daarom moet jou adolessent nou—terwyl hy nog in die huis is—die beginsels waarvolgens hy sal lewe, deeglik ondersoek.—Handelinge 17:11.

Dit is in werklikheid voordelig dat jou adolessent dit doen. Onthou: As hy jou standaarde nou aanvaar sonder om dit te bevraagteken, sal hy dalk later ander se standaarde net blindelings aanvaar (Eksodus 23:2). Die Bybel toon dat so ’n jongmens maklik mislei word omdat hy “nie ’n verstandige hart het nie”—’n uitdrukking wat beteken dat hy onder andere ’n gebrek aan onderskeidingsvermoë het (Spreuke 7:7). ’n Jongmens wat geen oortuigings het nie, kan “rondgeslinger word soos deur golwe en hiernatoe en daarnatoe gevoer word deur elke wind van lering deur middel van die bedrieëry van mense”.—Efesiërs 4:14.

Hoe kan jy voorkom dat dit met jou kind gebeur? Maak seker dat hy die volgende drie dinge het:

1 WAARNEMINGSVERMOËNS

Die apostel Paulus het geskryf dat “volwasse mense . . . se waarnemingsvermoëns . . . geoefen is om te onderskei wat reg sowel as verkeerd is” (Hebreërs 5:14). ‘Maar ek het my kind jare gelede al geleer wat reg en wat verkeerd is’, sê jy dalk. En daardie opleiding het hom ongetwyfeld destyds tot voordeel gestrek en hom voorberei vir hierdie volgende groeistadium (2 Timoteus 3:14). Nogtans het Paulus gesê dat mense se waarnemingsvermoëns geoefen moet word. Hoewel klein kindertjies kennis van reg en verkeerd kan verkry, moet adolessente “volgroeid in begripsvermoëns” word (1 Korintiërs 14:20; Spreuke 1:4; 2:11). Jy wil hê dat jou adolessent jou nie net blindelings moet gehoorsaam nie, maar dat hy gesonde redeneervermoë moet gebruik (Romeine 12:1, 2). Hoe kan jy hom help om dit te doen?

Een manier is om hom aan te moedig om sy gevoelens uit te druk. Moet hom nie in die rede val nie, en doen jou bes om nie te oorreageer nie—selfs al sê hy iets wat jy nie wil hoor nie. Die Bybel sê: “Wees [gou] om te hoor, stadig om te praat, stadig om toornig te word” (Jakobus 1:19; Spreuke 18:13). Jesus het ook gesê: “Uit die oorvloed van die hart spreek die mond” (Matteus 12:34). As jy luister, sal jy kan uitvind waaroor jou adolessent werklik besorg is.

Wanneer jy wel praat, moet jy probeer om eerder vrae te gebruik as reguit stellings. Jesus het soms gevra: “Wat dink julle?” Sodoende het hy nie net sy dissipels nie, maar ook hardkoppige persone, aangespoor om te sê hoe hulle voel (Matteus 21:23, 28). Jy kan iets soortgelyks met jou adolessent doen, selfs wanneer hy ’n mening uitspreek wat van joune verskil. Byvoorbeeld:

As jou adolessent sê: “Ek is nie seker of ek aan God glo nie.”

Moet jy nie sê nie: “Ons het jou nie so geleer nie—natuurlik glo jy aan God!”

Jy kan eerder sê: “Waarom voel jy so?”

Waarom moet jy jou adolessent aanspoor om sy gevoelens uit te spreek? Omdat jy, hoewel jy reeds hoor wat hy sê, moet uitvind wat hy dink (Spreuke 20:5). Die kwessie het dalk meer te doen met God se standaarde as met God se bestaan.

’n Jongmens wat byvoorbeeld onder druk verkeer om God se sedelike wette te verbreek, sal dit dalk aanvaarbaar probeer maak deur te besluit om nie aan God te glo nie (Psalm 14:1). ‘As God nie bestaan nie’, redeneer hy moontlik, ‘hoef ek mos nie volgens Bybelstandaarde te lewe nie.’

As dit lyk of jou adolessent so dink, moet hy dalk redeneer oor die vraag: Glo ek werklik dat God se standaarde tot my voordeel is? (Jesaja 48:17, 18). As hy glo dat dit tot sy voordeel is, moet jy hom help om te besef dat dit die moeite werd is om daarvoor standpunt in te neem.—Galasiërs 5:1.

As jou adolessent sê: “Dis dalk julle godsdiens, maar dit beteken nie dat dit myne is nie.”

Moet jy nie sê nie: “Dis ons godsdiens, jy is ons kind en jy sal glo wat ons vir jou sê om te glo.”

Jy kan eerder sê: “Dis nogal ’n sterk stelling. Maar as jy my oortuigings verwerp, het jy seker iets waarmee jy dit kan vervang. Watter oortuigings het jy dan? Volgens watter gedragskode dink jy moet ’n mens lewe?”

Waarom moet jy jou adolessent aanspoor om sy gevoelens uit te spreek? Want as jy so met hom redeneer, kan jy hom help om sy denke te ondersoek. Hy sal dalk verbaas wees om uit te vind dat sy oortuigings dieselfde is as joune en dat hy eintlik oor iets heeltemal anders besorg is.

Byvoorbeeld, miskien weet jou adolessent nie hoe om sy oortuigings aan ander te verduidelik nie (Kolossense 4:6; 1 Petrus 3:15). Of hy voel moontlik aangetrokke tot iemand van die teenoorgestelde geslag wat nie aan dieselfde geloof as hy behoort nie. Vind uit wat die eintlike oorsaak van die probleem is, en help jou adolessent om dit ook te doen. Hoe meer hy sy waarnemingsvermoëns gebruik, hoe beter sal hy vir volwassenheid voorbereid wees.

2 VOLWASSE LEIDING

In party kulture is daar vandag min of geen bewyse van die “storm-en-drang-stadium” wat party sielkundiges beweer gedurende die tienerjare verwag kan word nie. Navorsers het gevind dat jongmense in hierdie gemeenskappe reeds op ’n jong ouderdom deel word van die volwasse lewe. Hulle werk saam met volwassenes, kuier saam met volwassenes, en die verantwoordelikhede van volwassenes word aan hulle toevertrou. Terme soos “jeugkultuur”, “jeugmisdaad” en selfs “adolessensie” bestaan nie.

Dink in teenstelling hiermee aan die ondervinding van jongmense in baie lande wat in stampvol skole gestop word waar hulle slegs betekenisvolle assosiasie met ander jongmense kan geniet. Wanneer hulle by die huis kom, is die huis leeg. Hulle pa en ma werk albei. Hulle familielede woon ver van hulle af. Die groep met wie hulle die maklikste kan assosieer, is hulle portuurs.b Sien jy die gevaar? Die probleem is nie net dat ’n jongmens by die verkeerde groep mense betrokke kan raak nie. Navorsers het gevind dat selfs voorbeeldige jongmense geneig is om onverantwoordelik op te tree as hulle van die volwasse wêreld afgesonder is.

’n Gemeenskap wat jongmense nie van volwassenes afgesonder het nie, was dié van eertydse Israel.c Die Bybel praat byvoorbeeld van Ussia, wat die koning van Juda geword het terwyl hy nog ’n tiener was. Wat het Ussia gehelp om hierdie groot verantwoordelikheid te dra? Blykbaar was dit, ten minste in ’n mate, die invloed van ’n volwassene met die naam Sagaria, wat die Bybel beskryf as ’n “onderrigter in die vrees van die ware God”.—2 Kronieke 26:5.

Het jou adolessent een of meer volwasse mentors wat dieselfde waardes as jy het? Moenie jaloers wees op sulke heilsame vriendskappe nie. Hulle invloed kan jou adolessent help om te doen wat reg is. ’n Bybelspreuk sê: “Hy wat met wyses wandel, sal wys word.”—Spreuke 13:20.

3 ’N VERANTWOORDELIKHEIDSIN

In party lande verbied die wet jongmense om meer as ’n sekere aantal ure per week sekulêr te werk of om sekere soorte werk te doen. Hierdie beperkings is gestel om kinders te beskerm teen gevaarlike werkstoestande—soos dié waaronder kinders in die 18de en 19de eeu tydens die Industriële Revolusie moes werk.

Hoewel wette op kinderarbeid jongmense teen gevaar en mishandeling beskerm, beweer sommige deskundiges dat hierdie beperkings ook verantwoordelikhede van hulle weerhou. Gevolglik het baie tieners, volgens die boek Escaping the Endless Adolescence, die idee gekry dat hulle “die reg het om eise te stel, dat hulle feitlik verdien om dinge te ontvang . . . sonder dat hulle hard daarvoor hoef te werk”. Die skrywers meld dat hierdie gesindheid “blykbaar ’n natuurlike reaksie is op die lewe in ’n wêreld wat baie meer daarop ingestel is om tieners te vermaak as om enigiets van hulle te verwag”.

In teenstelling hiermee praat die Bybel van jongmense wat op ’n jong ouderdom gewigtige verantwoordelikhede aanvaar het. Neem byvoorbeeld Timoteus, wat moontlik net ’n tiener was toe hy die apostel Paulus ontmoet het—’n man wat ’n kragtige invloed op hom gehad het. Eenkeer het Paulus vir Timoteus gesê: ‘Jy moet die gawe van God wat in jou is, soos ’n vuur aanwakker’ (2 Timoteus 1:6). Toe Timoteus moontlik in sy laat tienerjare of vroeë 20’s was, het hy die huis verlaat en saam met die apostel Paulus gereis om te help om gemeentes te stig en die broederskap op te bou. Nadat Paulus omtrent ’n dekade lank saam met Timoteus gewerk het, kon hy vir die Christene in Filippi sê: “Ek het niemand anders met ’n gesindheid soos syne wat opreg na die dinge in verband met julle sal omsien nie.”—Filippense 2:20.

Adolessente is dikwels gretig om verantwoordelikheid te aanvaar, veral wanneer hulle voel dat dit betekenisvolle werk behels wat ’n verskil maak. Dit leer hulle nie net om in die toekoms verantwoordelike volwassenes te wees nie, maar dit bring ook nou reeds hulle goeie eienskappe na vore.

Pas aan by ’n nuwe “klimaat”

As jy die ouer van ’n adolessent is, voel dit waarskynlik vir jou asof jy nou in ’n ander “klimaat” is as net ’n paar jaar gelede, soos aan die begin van hierdie artikel genoem is. Wees verseker dat jy kan aanpas, net soos jy gedurende jou kind se ander groeistadiums gedoen het.

Beskou jou kind se tienerjare as ’n geleentheid vir jou (1) om hom te help om sy waarnemingsvermoëns te ontwikkel, (2) om volwasse leiding te voorsien en (3) om ’n verantwoordelikheidsin by hom in te skerp. Sodoende sal jy jou adolessent vir volwassenheid voorberei.

[Voetnote]

a Een naslaanwerk verwys heel gepas na adolessensie as “een lang afskeid”. Vir meer inligting, sien Die Wagtoring van 1 Mei 2009, bladsye 10-12, uitgegee deur Jehovah se Getuies.

b Tienervermaak handel dikwels oor tieners se begeerte om saam met hulle portuurs te wees en bevorder die idee dat jongmense hulle eie subkultuur het wat volwassenes nie kan verstaan of binnedring nie.

c Die woorde “adolessent” en “tiener” word nie in die Bybel gevind nie. Jongmense onder God se volk in voor-Christelike sowel as Christelike tye het blykbaar op ’n jonger ouderdom deel geword van die volwasse lewe as wat vandag in baie kulture die geval is.

[Venster/Prent op bladsy 20]

“EK KON NIE VIR BETER OUERS GEVRA HET NIE”

Ouers wat Jehovah se Getuies is, leer hulle kinders, deur woord en daad, om in ooreenstemming met Bybelbeginsels te lewe (Efesiërs 6:4). Maar hulle dwing hulle nie om dit te doen nie. Getuie-ouers besef dat elke seun of dogter, wanneer hulle volwassenheid bereik, self moet besluit volgens watter waardes hy of sy wil lewe.

Aislyn, 18, het die waardes aangeneem waarmee sy grootgeword het. “Vir my”, sê sy, “is my godsdiens nie iets wat ek net een dag per week beoefen nie. Dit is my lewenswyse. Dit het ’n uitwerking op alles wat ek doen en op elke besluit wat ek neem—van die vriende wat ek het tot die klasse wat ek loop en die boeke wat ek lees.”

Aislyn het groot waardering vir die opvoeding wat haar Christenouers haar gegee het. “Ek kon nie vir beter ouers gevra het nie”, sê sy, “en ek is gelukkig dat hulle ’n begeerte by my laat posvat het om een van Jehovah se Getuies te wees en te bly. My ouers sal so lank as wat ek lewe, ’n kragtige invloed op my lewe hê.”

[Prent op bladsy 17]

Laat jou adolessent praat

[Prent op bladsy 18]

’n Volwasse mentor kan ’n goeie invloed op jou kind hê

[Prent op bladsy 19]

Betekenisvolle werk help adolessente om verantwoordelike volwassenes te word

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel