Wat is die redelikste beskouing?
GEEN mens het gesien hoe lewe op aarde ontstaan het nie. En niemand het nog ooit een lewensvorm in ’n ander lewensvorm sien evolueer—byvoorbeeld ’n reptiel in ’n soogdier nie.a Ons moet dus op die beskikbare getuienis vertrou om gevolgtrekkings oor die oorsprong van die lewe te maak. En ons moet glo wat die getuienis vir ons sê eerder as om dit te dwing om te sê wat ons wil hoor.
Maar baie ateïste beskou die wetenskap deur die lens van materialisme—’n filosofie wat die oorsprong van lewe uitsluitlik aan materiële oorsake toeskryf. “Ons het ons reeds verbind . . . tot materialisme”, het die evolusionis Richard C. Lewontin geskryf. “Hierdie materialisme is absoluut, want ons kan nie toelaat dat God ’n voet in die deur kry nie.” Materialiste hang dus die enigste alternatief aan wat hulle het—evolusie.
Godsdienstige mense kan ook vooropgesette menings hê wat hulle ’n negatiewe gesindheid teenoor die wetenskap gee. Soos vroeër gemeld is, klou party kreasioniste byvoorbeeld vas aan die verkeerde idee dat God die wêreld ’n paar duisend jaar gelede binne ses letterlike dae geskep het. Omdat hulle hulle reeds tot hierdie beskouing verbind het, probeer hulle die getuienis dwing om te pas by hulle uiters letterlike interpretasie van die Bybel. (Sien die venster “Hoe lank is ’n ‘dag’?” op bladsy 9.) Mense wat sulke uiterste interpretasies van die Bybel of die wetenskap het, vind nie bevredigende antwoorde wanneer hulle bewyse vir hulle geloof soek nie.
Watter beskouing pas by al die feite?
Party evolusioniste glo die volgende aangaande die komplekse molekules waaruit lewende organismes bestaan:
1. Die nodige elemente het op die een of ander manier gekombineer om eenvoudige molekules te vorm.
2. Hierdie molekules het hulle toe in presies die regte volgorde gerangskik om DNS, RNS of proteïen te vorm met die vermoë om die inligting te berg wat nodig is om die funksies te verrig wat noodsaaklik is vir lewe.
3. Die molekules het hulle op die een of ander manier gerangskik in die spesifieke volgorde wat nodig is om te repliseer. Sonder replisering kan daar nie evolusionêre ontwikkeling of hoegenaamd enige lewe wees nie.
Hoe het die molekules wat noodsaaklik is vir lewe, ontstaan en hulle verstommende vermoëns verkry sonder dat ’n intelligente ontwerper betrokke was? Evolusionêre navorsing voorsien nie voldoende verduidelikings of bevredigende antwoorde op vrae oor die oorsprong van lewe nie. Diegene wat ontken dat lewe die gevolg is van ’n doelgerigte daad van ’n Skepper, skryf in werklikheid goddelike kragte toe aan redelose molekules en natuurkragte.
Maar wat toon die feite? Die beskikbare getuienis toon dat molekules nie in komplekse lewensvorme ontwikkel nie, maar dat die teendeel waar is: Fisiese wette bepaal dat komplekse dinge—masjiene, huise en selfs lewende selle—mettertyd agteruitgaan.b Tog sê evolusioniste dat die teenoorgestelde kan gebeur. Die boek Evolution for Dummies sê byvoorbeeld dat evolusie plaasgevind het omdat die aarde “ontsettend baie energie van die son af kry en dat hierdie energie vir die toename in kompleksiteit verantwoordelik is”.
Een ding is seker, energie is nodig om wanorde in orde te omskep—soos om van bakstene, hout en spykers ’n huis te maak. Maar daardie energie moet versigtig beheer en presies gerig word omdat onbeheerste energie eerder agteruitgang bespoedig, net soos die energie van die son en die weer die agteruitgang van ’n gebou kan bespoedig.c Diegene wat aan evolusie glo, kan nie ’n bevredigende verduideliking voorsien van hoe energie op so ’n wyse gerig kan word dat komplekse dinge ontstaan nie.
Wanneer ons lewe en die heelal egter beskou as die werk van ’n wyse Skepper, wat ’n “oorvloed van dinamiese energie” het, kan ons nie net die kompleksiteit van inligtingstelsels wat in lewende dinge voorkom, verklaar nie, maar ook die fyn ingestelde kragte wat materie beheer, van ontsaglike sterrestelsels tot piepklein atome.d—Jesaja 40:26.
Geloof in ’n Skepper stem ook ooreen met die beskouing, wat nou algemeen aanvaar word, dat die fisiese heelal ’n begin gehad het. “In die begin het God die hemel en die aarde geskep”, sê Genesis 1:1.
Met elke nuwe ontdekking word dit al hoe moeiliker om die filosofie van materialisme te verdedig, ’n feit wat party ateïste beweeg het om hulle beskouing te hersien.e Trouens, party voormalige ateïste het tot die slotsom gekom dat die wonders van die heelal sigbare bewyse is van die “onsigbare eienskappe” en “ewige krag” van ons Skepper, Jehovah God (Romeine 1:20). Sal jy dit oorweeg om hierdie saak verder te ondersoek? Geen onderwerp kan van groter belang wees nie.f
[Voetnote]
a Hoewel die bioloog Ernst Mayr vas geglo het aan evolusie, het hy erken dat “die fossielverslag vol gapings is”, aangesien nuwe soorte organismes skielik daarin verskyn.
b Sulke agteruitgang is die gevolg van wat wetenskaplikes die tweede wet van termodinamika noem. Eenvoudig gestel, hierdie wet sê dat orde van nature in wanorde verval.
c Mutasies, wat veroorsaak kan word deur dinge soos straling en sekere chemikalieë, kan DNS verander. Maar dit het nie nuwe spesies tot gevolg nie.—Sien die artikel “Is evolusie ’n feit?” in die Ontwaak! van September 2006.
d Sien die boek Is daar ’n Skepper wat vir jou omgee?, uitgegee deur Jehovah se Getuies.
e Sien die artikel “Ek is as ’n ateïs grootgemaak”, in die Ontwaak! van November 2010.
f Vir bykomende inligting oor die kwessie van die skepping teenoor evolusie, sien die brosjures Is lewe geskep? en Vyf belangrike vrae oor die oorsprong van lewe, uitgegee deur Jehovah se Getuies.
[Venster op bladsy 8]
EVOLUEER MENSE OF GAAN HULLE AGTERUIT?
Party wetenskaplikes is baie bekommerd dat die menslike genoom in werklikheid agteruitgaan as gevolg van toenemende mutasies, of onvolmaakthede. As dit waar is, sal dit die beskouing dat ons evolueer, oftewel verbeter, ondermyn. Maar as God die menslike genoom geskep het, waarom het dit dan defekte? Die Bybel sê vir ons wat die wetenskap nie kan nie—dat menslike onvolmaaktheid die gevolg is van sonde, of ongehoorsaamheid aan God. ‘Deur een mens [Adam] het die sonde in die wêreld ingekom en die dood deur die sonde’, sê Romeine 5:12. ’n Genoom wat agteruitgaan, getuig dus teen die evolusieleer, maar ten gunste van die Bybel. Beteken dit dat die genoom vir altyd sal agteruitgaan? Nee! God het belowe dat hy in menseaangeleenthede sal ingryp en al die skade wat deur ons eerste ouers veroorsaak is, ongedaan sal maak. Ja, ons Skepper, nie redelose evolusie nie, sal ons genoom vervolmaak.—Openbaring 21:3, 4.
[Venster op bladsy 9]
HOE LANK IS ’N “DAG”?
In die Bybel kan die woord “dag” na verskillende tydperke verwys. In Genesis 2:4 word daar byvoorbeeld na die hele skeppingstydperk van ses “dae” verwys as “die dag toe Jehovah God die aarde en die hemel gemaak het”. Elke dag het klaarblyklik ’n baie lang tyd geduur. Interessant genoeg, hoewel die Bybel spesifiek die einde van elk van die eerste ses “dae” noem, maak dit geen melding van die einde van die sewende dag nie. Waarom nie? Daardie dag duur nog steeds voort.—Genesis 2:3; Hebreërs 4:4-6, 11.
[Prent op bladsy 8]
As dinge nie in stand gehou word nie, gaan dit van nature agteruit
[Prent op bladsye 8, 9]
God se krag en sy ander eienskappe kan duidelik in die heelal gesien word