Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g 11/11 bl. 21-23
  • Die antwoord op my vrae oor ongeregtigheid

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Die antwoord op my vrae oor ongeregtigheid
  • Ontwaak!—2011
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • ’n Nagmerrie begin
  • Die lewe onder Kommunisme
  • “Die gevaarlikste persoon in die vertrek” het my hoop gegee
  • Ek word vrygelaat en vlug na die Weste
  • Ek kyk terug op byna 90 jaar
  • Ons stryd om geestelik sterk te bly
    ie Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2006
  • God is my toevlug en sterkte
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1997
  • Ek wag geduldig op Jehovah van my jeug af
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1997
  • Aangemoedig deur my gesin se lojaliteit aan God
    Ontwaak!—1998
Sien nog
Ontwaak!—2011
g 11/11 bl. 21-23

Die antwoord op my vrae oor ongeregtigheid

Soos vertel deur Ursula Menne

Vandat ek kan onthou, het ek ’n vurige begeerte gehad om te sien dat almal regverdig behandel word. Hierdie begeerte het my selfs in ’n tronk in Kommunistiese Oos-Duitsland laat beland. En dít is waar ek vreemd genoeg die antwoord op my vrae oor ongeregtigheid gevind het. Kom ek verduidelik.

EK IS in 1922 gebore in die Duitse dorp Halle, wat ’n opgetekende geskiedenis van meer as 1 200 jaar het. Halle is sowat 200 kilometer suidwes van Berlyn geleë en was een van die vroegste vestings van Protestantisme. My suster, Käthe, is in 1923 gebore. My pa het in die weermag gedien, en my ma het in die teater gesing.

Ek het my sterk begeerte om onregte reg te stel, van my pa geërf. Toe my pa die weermag verlaat het, het hy ’n winkel gekoop. Die meeste van sy klante was arm, en omdat hy vir hulle jammer gevoel het, het hy hulle op skuld laat koop. Maar weens hierdie groothartigheid het hy bankrot gespeel. Ek moes uit my pa se ondervinding geleer het dat dit baie moeiliker en ingewikkelder is om ongelykheid en ongeregtigheid te bestry as wat dit op die oog af lyk. Maar dit is baie moeilik om die vlam van jeugdige idealisme te blus.

Ek het my kunstalent van my ma geërf, en sy het my en Käthe aan musiek, sang en dans bekend gestel. Ek was ’n lewenslustige kind, en ek en Käthe het ’n wonderlike lewe gehad—maar net tot 1939.

’n Nagmerrie begin

Nadat ek my basiese skoolopleiding voltooi het, het ek ’n balletskool bygewoon, waar ek onder andere Mary Wigman se Ausdruckstanz (uitdrukkingsvolle dans) geleer het. Sy was ’n pionier van die Ekspressionistiese dansstyl, wat vereis dat die kunstenaar sy of haar gevoelens in die vorm van ’n dans uitbeeld. Ek het ook begin skilder. Aanvanklik was my tienerjare dus gelukkig en vol opwinding en dinge om te leer. Maar toe, in 1939, het die Tweede Wêreldoorlog uitgebreek. Nog ’n slag het ons getref toe my pa in 1941 aan tering gesterf het.

Oorlog is ’n nagmerrie. Hoewel ek net 17 jaar oud was toe die oorlog uitgebreek het, het ek gedink dat die wêreld mal geword het. Ek het gesien hoe massas doodgewone mense deur die Nazi-histerie meegesleur word. Ontbering, dood en verwoesting het hierop gevolg. Ons huis is erg beskadig gedurende ’n bomaanval, en deur die loop van die oorlog het ’n hele paar van my familielede hulle lewe verloor.

Toe die oorlog in 1945 geëindig het, was ek, my ma en Käthe nog steeds in Halle. Teen dié tyd was ek al getroud en het ek ’n babadogtertjie gehad, maar ek en my man het huweliksprobleme gehad. Ons het uitmekaar gegaan, en omdat ek my en my dogter moes onderhou, het ek as ’n danseres en skilder begin werk.

Die naoorlogse Duitsland was in vier sektore verdeel, en ons dorp was in die sektor wat onder die beheer van die Sowjetunie was. Ons moes dus almal aan ’n Kommunistiese regime gewoond raak. In 1949 het ons deel van Duitsland, wat dikwels Oos-Duitsland genoem is, die Duitse Demokratiese Republiek (DDR) geword.

Die lewe onder Kommunisme

In hierdie tyd het my ma siek geword, en ek moes vir haar sorg. Ek het kantoorwerk by die munisipaliteit gekry. Intussen het ek in aanraking gekom met andersdenkende studente wat die aandag probeer vestig het op onregte wat gepleeg is. Een jong man is byvoorbeeld ’n universiteitsopleiding geweier omdat sy pa voorheen ’n lid van die Nazi-party was. Ek het hom goed geken omdat ons dikwels saam musiek gespeel het. ‘Hoekom moet hy ly as gevolg van wat sy pa gedoen het?’ het ek gewonder. Ek het al hoe meer betrokke geraak by die andersdenkendes en het besluit om aan openbare betogings deel te neem. By een geleentheid het ek selfs strooibiljette op die trap buite die plaaslike hof geplak.

Party van die briewe wat ek as sekretaresse vir die Streekvredeskomitee moes tik, het ook teen my sin vir geregtigheid ingedruis. Eenkeer het die Komitee planne beraam om Kommunistiese propagandamateriaal na ’n bejaarde man in Wes-Duitsland te stuur in ’n poging om agterdog teen hom te wek. Ek was so kwaad oor hierdie bedrieglike plan dat ek die pakkies in die kantoor weggesteek het. Gevolglik is dit nooit gepos nie.

“Die gevaarlikste persoon in die vertrek” het my hoop gegee

In Junie 1951 het twee mans by my kantoor ingekom en gesê: “Ons neem jou in hegtenis.” Hulle het my na die tronk geneem wat die Roter Ochse, of Rooi Os, genoem is. ’n Jaar later is ek aangekla van ondermynende bedrywighede teen die Staat. ’n Student het my by die Stasi, die geheime polisie, gaan verklap en hulle vertel van my vroeëre protesoptrede met die strooibiljette. Die verhoor was ’n klug, want niemand het geluister toe ek my saak gestel het nie. Ek is tot ses jaar tronkstraf gevonnis. Gedurende dié tyd het ek siek geword en is ek na die tronk se hospitaalsaal geneem, waar daar omtrent 40 ander vroue was. Toe ek al die uiters ongelukkige mense daar sien, het ek paniekerig geword. Ek het na die deur gehardloop en met my vuiste daarop geslaan.

“Wat wil jy hê?” het die wag gevra.

“Ek moet hier uitkom”, het ek geskreeu. “Sit my in alleenopsluiting as jy moet, maar kry my net hier uit!” Hy het my gepleit natuurlik geïgnoreer. Kort daarna het ek opgemerk dat een vrou anders was as die res. In haar oë het ek ’n innerlike kalmte gesien. Daarom het ek langs haar gaan sit.

“Jy beter oppas as jy naby my wil sit”, het sy tot my verbasing gesê. Toe het sy bygevoeg: “Die ander dink dat ek die gevaarlikste persoon in die vertrek is omdat ek een van Jehovah se Getuies is.”

Op daardie stadium het ek nie geweet dat Jehovah se Getuies as vyande van die Kommunistiese Staat beskou word nie. Maar wat ek wel geweet het, was dat twee Bybelstudente (soos die Getuies voorheen genoem is) my pa gereeld besoek het toe ek ’n kind was. Trouens, ek het onthou dat my pa gesê het: “Die Bybelstudente is reg!”

Ek het van verligting gehuil toe ek hierdie dierbare vrou, Berta Brüggemeier, ontmoet het. “Vertel my asseblief van Jehovah”, het ek gesê. Van toe af het ons baie tyd saam deurgebring en dikwels die Bybel saam bespreek. Ek het onder andere geleer dat die ware God, Jehovah, ’n God van liefde, geregtigheid en vrede is. Ek het ook geleer dat hy al die skade wat deur goddelose en wrede mense aangerig is, ongedaan sal maak. “Nog net ’n klein rukkie en die goddelose sal daar nie meer wees nie . . . Maar die sagmoediges sal die aarde besit, en hulle sal hulle inderdaad verlustig in die oorvloed van vrede”, sê Psalm 37:10, 11.

Ek word vrygelaat en vlug na die Weste

Ek is in 1956 vrygelaat, nadat ek net oor die vyf jaar in die tronk was. Vyf dae ná my vrylating het ek uit die DDR gevlug na Wes-Duitsland. Teen daardie tyd het ek twee dogters, Hannelore en Sabine, gehad, wat ek saam met my geneem het. Daar het ek en my man geskei en het ek weer met die Getuies in aanraking gekom. Terwyl ek die Bybel gestudeer het, het ek besef dat ek baie veranderinge sal moet aanbring om my lewe in ooreenstemming met Jehovah se standaarde te bring. Ek het dit gedoen en is in 1958 gedoop.

Later het ek weer getrou, hierdie keer met een van Jehovah se Getuies—Klaus Menne. Ek en Klaus het ’n wonderlike huwelik en twee kinders, Benjamin en Tabia, gehad. Ongelukkig is Klaus omtrent 20 jaar gelede in ’n ongeluk oorlede, en ek het nie weer getrou nie. Maar die opstandingshoop, die wete dat die dooies tot lewe in ’n paradys op aarde opgewek sal word, is vir my baie vertroostend (Lukas 23:43; Handelinge 24:15). Ek is ook baie bly dat al vier my kinders Jehovah dien.

My studie van die Bybel het my geleer dat net Jehovah ware geregtigheid tot stand kan bring. In teenstelling met mense neem hy al ons omstandighede in ag, sowel as ons agtergrond—besonderhede waarvan ander mense dikwels nie bewus is nie. Hierdie kosbare kennis het my gehelp om nou al vrede te vind, veral wanneer ek ongeregtigheid sien of ondervind. Prediker 5:8 sê: “As jy sien dat die armes verdruk word en dat daar geen reg en geregtigheid in ’n gebied is nie, moet jy nie daaroor verbaas wees nie, want oor elke amptenaar is daar ’n hoër gesag, en die hoogste gesag let op hulle almal” (The Revised English Bible). “Die hoogste gesag” is natuurlik ons Skepper. “Alles lê naak en oop en bloot voor die oë van hom aan wie ons rekenskap moet gee”, sê Hebreërs 4:13.

Ek kyk terug op byna 90 jaar

Mense vra my soms hoe dit was om onder ’n Nazi- en ’n Kommunistiese regime te lewe. Dit was nie maklik om onder enige van die twee te lewe nie. En albei regeringsvorme, soos met alle regeringsvorme, het eenvoudig bevestig dat mense hulleself nie kan regeer nie. Die Bybel sê heel tereg “dat die mens oor die mens geheers het tot sy nadeel”.—Prediker 8:9.

Toe ek jonk en naïef was, het ek op mense vertrou om regverdige heerskappy te voorsien. Nou weet ek van beter. Slegs ons Skepper kan ’n wêreld tot stand bring waarin ware geregtigheid heers, en hy sal dit doen deur al die goddeloses te vernietig en heerskappy oor die aarde te gee aan sy Seun, Jesus Christus, wat ander se belange altyd bo sy eie stel. Die Bybel sê aangaande Jesus: “U het regverdigheid liefgehad en u het wetteloosheid gehaat” (Hebreërs 1:9). Ek is so dankbaar dat God my na hierdie wonderlike en regverdige Koning getrek het, onder wie se heerskappy ek graag vir ewig wil lewe!

[Prent op bladsy 23]

Saam met my dogters Hannelore en Sabine, nadat ons in Wes-Duitsland aangekom het

[Prent op bladsy 23]

Vandag, saam met my seun, Benjamin, en sy vrou, Sandra

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel