Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g 2/13 bl. 6-9
  • Immigrasie—Drome en die werklikheid

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Immigrasie—Drome en die werklikheid
  • Ontwaak!—2013
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Op soek na ’n beter lewe
  • Om daar te kom en gevestig te raak
  • ’n Verenigde gesin—belangriker as geld
  • “Ek het meer vrae as antwoorde gehad”
    Die Bybel verander lewens
  • ’n Soeke na foute het tot die waarheid gelei
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2008
  • Niemand kan twee here dien nie
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2014
  • Sê vir hulle dat jy lief is vir hulle
    Ondervindinge van Jehovah se Getuies
Sien nog
Ontwaak!—2013
g 2/13 bl. 6-9

VOORBLADONDERWERP

Immigrasie—Drome en die werklikheid

Op soek na ’n beter lewe

GEORGE was desperaat. Hy kon nie sy gesin van genoeg kos voorsien nie. Sy bure het siek geword, en dit het gelyk asof party verhonger. ’n Paar honderd kilometer suid was daar egter ’n welvarender land. ‘Ek sal soontoe trek, werk kry en my gesin dan na my toe laat kom’, het hy gedink.

Patricia het ook van ’n nuwe lewe in ’n ander land gedroom. Sy het geen werk gehad nie, en min geleenthede om haar lot te verbeter. Sy en haar kêrel het besluit om van Nigerië deur Algerië te reis na Spanje, onbewus van hoe moeilik die reis deur die Saharawoestyn sou wees. “Ek was swanger”, het sy gesê, “en ek was vasbeslote om my kind ’n beter lewe te gee.”

Rachel wou ’n nuwe begin in Europa maak. Sy het haar werk in die Filippyne verloor, en familielede het haar verseker dat sy oorsee maklik werk sou kry as ’n huishulp. Daarom het sy geld geleen vir ’n vliegkaartjie en afskeid geneem van haar man en dogter met die belofte: “Ons sal mekaar binnekort weer sien.”

Daar word geskat dat meer as 200 miljoen mense soos George, Patricia en Rachel in onlangse dekades na ’n ander land getrek het. Hoewel party weens oorloë, natuurrampe of vervolging gevlug het, het die meeste weens ekonomiese redes getrek. Voor watter probleme het immigrante al in hulle nuwe land te staan gekom? Vind almal die beter lewe waarna hulle soek? Hoe vaar kinders as ’n ouer hulle verlaat om ’n beter inkomste te probeer verdien? Kyk na die volgende antwoorde op hierdie vrae.

’N EERTYDSE IMMIGRANT

“Om te emigreer, . . . is die oudste maatreël teen armoede”, het die ekonoom J.K. Galbraith geskryf. Dit is wat die aartsvader Jakob gedoen het, van wie die nasie Israel afgestam het. Weens ’n hongersnood in Kanaän het Jakob en sy uitgebreide familie van byna 70 mense na Egipte getrek, waar hulle baie lank gebly het (Genesis 42:1-5; 45:9-11; 46:26, 27). Trouens, Jakob het daar gesterf, en sy nakomelinge het omtrent 200 jaar in Egipte gebly voordat hulle na Kanaän teruggekeer het.

Om daar te kom en gevestig te raak

Die eerste uitdaging wat dit inhou om na ’n ander land te trek, is dikwels die reis self. George, wat in die eerste artikel genoem word, het honderde kilometers gereis met min voedsel. “Die reis was ’n nagmerrie”, vertel hy. Baie emigrante bereik nie eens hulle bestemming nie.

Patricia wou by Spanje uitkom. Sy het agterop ’n oop vragmotor deur die Saharawoestyn gereis. “Die reis van Nigerië na Algerië het ’n week geneem, en ons was 25 mense wat styf teen mekaar agterop die vragmotor moes sit. Op pad het ons baie lyke gesien, asook mense wat doelloos in die woestyn ronddwaal terwyl hulle op die dood wag. Blykbaar word passasiers soms harteloos deur vragmotorbestuurders langs die pad agtergelaat.”

In teenstelling met George en Patricia kon Rachel na Europa vlieg, waar sy werk as ’n huishulp gekry het. Maar sy het nie besef hoeveel sy haar tweejarige dogtertjie sou mis nie. “Elke keer wanneer ek ’n ma met haar jong kind gesien het, was ek siek van verlange”, vertel sy.

George het gesukkel om in sy nuwe land aan te pas. Maande het verbygegaan voordat hy geld huis toe kon stuur. “Baie nagte het ek gehuil van eensaamheid en frustrasie”, erken hy.

Ná etlike maande in Algerië het Patricia die Marokkaanse grens bereik. “Daar”, sê sy, “is my babadogtertjie gebore. Ek moes wegkruip vir mans wat buitelandse vroue ontvoer en hulle dwing om prostitute te word. Uiteindelik het ek genoeg geld bymekaargemaak vir die gevaarlike seereis na Spanje. Die boot was in ’n slegte toestand en nie toegerus vir die groot aantal passasiers nie. Ons moes water met ons skoene uit die boot skep! Toe ons die Spaanse kus bereik het, het ek nie die krag gehad om tot op die strand te stap nie.”

Mense wat beplan om te immigreer, moet natuurlik nie net dink aan die risiko’s wat die reis kan inhou nie. Hulle moet ook dink aan groot taal- en kultuurverskille in die nuwe land, asook die koste en wetlike komplikasies wat dit inhou om ’n burger of permanente inwoner daar te word. Onwettige immigrante sukkel dikwels om goeie werk, gepaste behuising, opvoeding of gesondheidsorg te kry. Hulle vind dit dalk ook moeilik om ’n bestuurderslisensie te kry of ’n bankrekening te open. En alte dikwels word onwettige immigrante uitgebuit, moontlik as ’n bron van goedkoop arbeid.

Nog ’n faktor om te oorweeg, is geld. Kan ons werklik ons vertroue daarin stel? Die Bybel gee ons hierdie goeie raad: “Wees wys genoeg om jou nie af te sloof om ryk te probeer word nie. Jou geld kan in ’n oogwink verdwyn, asof dit vlerke kry en wegvlieg soos ’n arend” (Spreuke 23:4, 5, Good News Translation). Hou ook in gedagte dat ons ’n groter behoefte het aan dinge wat geld nie kan koop nie—naamlik liefde, emosionele sekerheid en ’n verenigde gesin. Hoe tragies is dit tog wanneer ouers toelaat dat die begeerte na geld hulle liefde vir mekaar of hulle “natuurlike geneentheid” vir hulle kinders ondermyn!—2 Timoteus 3:1-3.

As mense het ons ook ’n geestelike behoefte (Matteus 5:3). Gevolglik sal verantwoordelike ouers alles in hulle vermoë doen om hulle godgegewe verantwoordelikheid na te kom om hulle kinders van God, sy voorneme en sy standaarde te leer.—Efesiërs 6:4.

“ONS WENS HULLE HET ’N ANDER BESLUIT GENEEM”

“Ek is die oudste van drie dogters, en ek was nege toe my ma na Europa vertrek het”, sê Airen, wat in die Filippyne gewoon het. “Sy het ons beter kos, beter skoolopleiding en ’n beter huis belowe. Ek onthou nog die dag toe sy weg is. Sy het my ’n drukkie gegee en vir my gesê om na my sussies, Rhea en Shullamite, om te sien. Ek het lank gehuil.

“Vier jaar later het my pa ons verlaat om na my ma toe te gaan. Toe hy nog by ons was, het ek hom probeer volg oral waarheen hy gegaan het. Toe hy vir ons totsiens gesê het, het ek en my sussies aan hom vasgeklou totdat hy op die bus geklim het. Ek was weer eens ontroosbaar en het baie gehuil.”

Shullamite, die jongste van die drie dogters, vertel: “Toe Airen nege was, het sy in werklikheid my ma geword. Ek het met haar gepraat oor my probleme, en sy het my geleer hoe om my klere te was, my bed op te maak, ensovoorts. Wanneer ons ouers ons gebel het, het ek soms vir hulle probeer verduidelik hoe ek voel, maar ek kon my nie mooi uitdruk nie. Ek dink nie hulle het altyd verstaan nie.

“Mense het my dikwels gevra of ek my ouers mis. ‘Wel, ja’, het ek gewoonlik geantwoord. Maar om eerlik te wees, ek kon my ma eintlik nie onthou nie. Sy het ons verlaat toe ek vier was, en ek het gewoond geraak aan die feit dat sy nie daar is nie.”

“Toe ek 16 was”, sê Airen, “het ek en my susters uiteindelik vertrek om met ons ouers herenig te word. Ek was so opgewonde! Maar nadat ons daar aangekom het, het ek besef dat ons van hulle vervreemd geraak het.”

Rhea voeg by: “Ek het met niemand oor my probleme gepraat nie. Ek was van nature skugter en het dit moeilik gevind om my liefde vir ander te toon. In die Filippyne het ons by ons oom en tannie gebly, wat self drie kinders gehad het. Hoewel ons familielede goed vir ons gesorg het, was hulle vir ons nie soos regte ouers nie.”

Ten slotte sê Airen: “Ons het nie gely toe ons gesin arm was nie—ons het altyd genoeg kos gehad. Maar ek en my susters het wel gely toe ons ouers ons agtergelaat het. Ons gesin is nou al byna vyf jaar herenig, maar die jare dat ons geskei was, het ’n letsel gelaat. Ons weet dat ons ouers ons liefhet, maar ons wens hulle het ’n ander besluit geneem.”

’n Verenigde gesin—belangriker as geld

Die verhale van immigrante verskil dalk, maar in ’n sekere opsig is baie verhale dieselfde, soos gesien kan word uit die voorbeelde van George, Rachel en Patricia, wat vroeër in hierdie reeks artikels genoem word. Die gesin ly wanneer ’n ouer weggaan of die een huweliksmaat die ander een agterlaat, en baie jare kan verloop voordat die gesin herenig word. In die geval van George se gesin het dit meer as vier jaar geneem.

Rachel het uiteindelik na die Filippyne teruggevlieg om haar dogter te gaan haal nadat hulle byna vyf jaar geskei was. Patricia het Spanje bereik met haar babadogtertjie in haar arms. “Sy is al familie wat ek het, en daarom probeer ek goed vir haar sorg”, sê Patricia.

Baie immigrante bly in hulle nuwe land ten spyte van eensaamheid, finansiële probleme en lang tye weg van hulle gesin. Omdat hulle soveel moeite gedoen het om te verhuis, het min die moed om te erken dat dinge nie uitgewerk het nie en om terug te keer huis toe, waar hulle moontlik bespot en verneder sal word.

Allan, van die Filippyne, het wel die moed gehad om terug te keer. Hy het ’n goeie werk in Spanje gevind, maar het 18 maande later teruggegaan huis toe. “Ek het te veel verlang na my vrou en my dogtertjie”, sê hy. “Ek het besluit om nooit weer in ’n ander land te gaan werk tensy ons as ’n gesin kon immigreer nie. En dit is wat ons uiteindelik gedoen het. ’n Mens se gesin is baie belangriker as geld.”

Daar is nog iets wat belangriker is as geld, soos Patricia agtergekom het. Sy het in Spanje aangekom met ’n eksemplaar van die “Nuwe Testament”, of Christelike Griekse Geskrifte. “Ek het die boek as ’n gelukbringer beskou”, het sy gesê. “Toe het ek in aanraking gekom met ’n vrou wat een van Jehovah se Getuies is. Voorheen het ek nie daarin belanggestel om met lede van dié godsdiens te praat nie. Daarom het ek die Getuie baie vrae gevra om te bewys dat haar oortuigings verkeerd is. Maar in teenstelling met wat ek verwag het, kon sy haar oortuigings verdedig en my vrae regstreeks uit die Bybel beantwoord.”

Patricia het geleer dat blywende geluk en ’n vaste hoop vir die toekoms nie afhang van waar ’n mens woon of van hoeveel geld jy het nie, maar van kennis omtrent God en sy voorneme vir ons (Johannes 17:3). Patricia het onder andere geleer dat die ware God ’n naam het—Jehovah (Psalm 83:18). Sy het ook in die Bybel gelees dat God binnekort alle armoede uit die weg sal ruim deur middel van sy Koninkryksregering in die hande van Jesus Christus (Daniël 7:13, 14). “[Jesus] sal die arme verlos wat om hulp roep, ook die geteisterde en elkeen wat geen helper het nie. Van onderdrukking en van geweld sal hy hulle siel verlos”, sê Psalm 72:12, 14.

Neem gerus die tyd om die Bybel te ondersoek. Hierdie boek van goddelike wysheid kan jou help om die regte prioriteite te stel, wyse besluite te neem en enige huidige beproewinge met vreugde en hoop te verduur.—Spreuke 2:6-9, 20, 21.

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel