Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g 10/13 bl. 8-11
  • Drie dinge wat geld nie kan koop nie

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Drie dinge wat geld nie kan koop nie
  • Ontwaak!—2013
  • Soortgelyke materiaal
  • ’n Gebalanseerde beskouing van geld
    Ontwaak!—2015
  • Is geld die wortel van alle kwaad?
    Antwoorde op Bybelvrae
  • Hoe om met geld te werk
    Julle gesin kan gelukkig wees
  • Geld
    Ontwaak!—2014
Sien nog
Ontwaak!—2013
g 10/13 bl. 8-11

VOORBLADONDERWERP

Drie dinge wat geld nie kan koop nie

DIT is so ironies: Al loop mense die gevaar om hulle werk, hulle huis en selfs hulle pensioen te verloor, is baie nog steeds behep daarmee om enigiets en alles te kry wat geld kan koop.

Hierdie mense is maklike teikens vir adverteerders, wat aanloklike bemarkingsveldtogte gebruik om ons te probeer oortuig dat ons ’n groter huis, ’n beter motor en klere met ’n sekere handelsmerk moet hê. Geen kontant nie? Geen probleem nie—koop op skuld! Baie se doelwit is om ryk te lyk, al is hulle diep in die skuld.

Die werklikheid moet natuurlik vroeër of later onder die oë gesien word. “Om spoggerige verbruikersgoedere op skuld te koop sodat jy soos ’n wenner kan lyk en voel, is soos om crack-kokaïen te rook om jou gemoedstemming te verbeter”, sê die boek The Narcissism Epidemic. “Albei is aanvanklik goedkoop en werk baie goed—maar net vir ’n baie kort rukkie. Op die lange duur maak albei jou platsak en terneergedruk.”

Die Bybel toon die dwaasheid van wat beskryf word as “die spoggerige vertoon van ’n mens se lewensmiddele” (1 Johannes 2:16). Die feit is dat ’n beheptheid met besittings ons aandag aftrek van die belangrikste dinge in die lewe—die dinge wat geld nie kan koop nie. Kom ons bespreek drie voorbeelde.

1. GESINSEENHEID

Brianne,a ’n tiener in die Verenigde State, meen dat haar pa te veel waarde heg aan sy werk en die geld wat hy maak. “Ons het alles wat ons nodig het, en meer”, sê sy, “maar my pa is nooit by die huis nie omdat hy altyd op reis is. Ek weet dat dit weens sy werk is, maar ek dink hy het ook ’n verantwoordelikheid teenoor sy gesin!”

Iets om oor te dink: Waaroor sal Brianne se pa hom dalk later in sy lewe verwyt? Hoe word sy verhouding met sy dogter geraak deur die feit dat hy te veel klem op materiële dinge lê? Wat het sy gesin nodiger as sy geld?

Bybelbeginsels om in gedagte te hou:

  • “Die liefde vir geld veroorsaak allerhande probleme. Party mense wil so graag geld hê dat hulle . . . baie pyn oor hulleself bring.”—1 Timoteus 6:10, Contemporary English Version.

  • “Dit is beter om groente te eet saam met mense wat jy liefhet as om die heerlikste vleis te eet waar daar haat is.”—Spreuke 15:17, Good News Translation.

Die slotsom: Geld kan nie gesinseenheid koop nie. Hierdie eenheid kan alleenlik verkry word deur tyd saam met jou gesin deur te bring en hulle genoeg liefde en aandag te gee.—Kolossense 3:18-21.

2. WARE VEILIGHEID

“My ma sê altyd vir my dat ek met ’n ryk man moet trou en dat ek beroepsopleiding moet kry sodat ek vir die res van my lewe op ’n goeie werk sal kan terugval”, sê die 17-jarige Sarah. “Al waaraan sy blykbaar dink, is waar haar volgende salaristjek vandaan kom.”

Iets om oor te dink: Watter geldige bekommernisse het jy wanneer jy aan die toekoms dink? Wanneer word ’n geldige bekommernis ’n oordrewe bekommernis? Hoe kan Sarah se ma ’n meer gebalanseerde benadering ten opsigte van finansiële veiligheid openbaar?

Bybelbeginsels om in gedagte te hou:

  • “Hou op om vir julle skatte op die aarde op te gaar, waar mot en roes verteer en waar diewe inbreek en steel.”—Matteus 6:19.

  • “Julle . . . weet [nie] wat julle lewe môre sal wees nie.”—Jakobus 4:14.

Die slotsom: ’n Veilige toekoms behels meer as om geld op te gaar. Geld kan per slot van rekening gesteel word—en dit kan nie siektes genees of die dood verhoed nie (Prediker 7:12). Die Bybel leer dat ons ware veiligheid sal verkry as ons kennis inneem van God en sy voorneme.—Johannes 17:3.

3. VERGENOEGDHEID

“My ouers het my geleer om ’n eenvoudige lewe te lei”, sê die 24-jarige Tanya. “Ek en my tweelingsuster het ’n gelukkige kinderlewe gehad, al het ons die meeste van die tyd net genoeg gehad om van te lewe.”

Iets om oor te dink: Waarom kan dit moeilik wees om vergenoegd te wees met net die allernodigste? Watter voorbeeld stel jy vir jou gesin wanneer dit kom by jou gesindheid teenoor geld?

Bybelbeginsels om in gedagte te hou:

  • “As ons . . . voedsel, klere en onderdak het, sal ons met hierdie dinge tevrede wees.”—1 Timoteus 6:8.

  • “Gelukkig is dié wat bewus is van hulle geestelike behoefte.”—Matteus 5:3.

Die slotsom: Die lewe behels meer as net geld en die dinge wat dit kan koop. Die Bybel sê tereg: “Selfs wanneer iemand oorvloed het, spruit sy lewe nie voort uit die dinge wat hy besit nie” (Lukas 12:15). Ons put die grootste bevrediging uit die lewe as ons antwoorde kry op belangrike vrae soos die volgende:

  • Waarom is ons hier?

  • Wat hou die toekoms in?

  • Hoe kan ek my geestelike behoeftes bevredig?

Die uitgewers van hierdie tydskrif, Jehovah se Getuies, sal jou met graagte help om antwoorde op hierdie vrae te vind.

a Name in hierdie artikel is verander.

Die sleutel tot geluk?

“Oor die algemeen”, sê The Narcissism Epidemic, “is materialistiese mense minder gelukkig en meer terneergedruk. Selfs as mense bloot daarna streef om meer geld te hê, ly hulle geestesgesondheid daaronder; hulle ondervind ook meer fisiese gesondheidsprobleme soos keelseer, rugpyn en hoofpyn en is meer geneig om te veel alkohol te drink en om dwelms te gebruik. Om finansiële sukses na te jaag, maak mense blykbaar baie ongelukkig.”

“Veranderde waardes”

“Toe studente gedurende die 1960’s en die vroeë sewentigerjare gevra is waarom hulle universiteit toe gegaan het, het die meeste gesê dat die belangrikste rede is ‘om geleerdheid te kry’ of ‘om ’n lewensfilosofie te ontwikkel’. ’n Minderheid het gesê dat die hoofrede waarom hulle universiteit toe is, is ‘om baie geld te verdien’. Vanaf die 1990’s het die begeerte ‘om baie geld te verdien’, die belangrikste rede geword waarom die meeste studente universiteit toe gaan . . . Hierdie veranderde waardes onder universiteitstudente val saam met ’n geweldige toename in gevalle van depressie, selfmoord en ander sielkundige probleme onder dié groep.”—The Price of Privilege, deur dr. Madeline Levine.

“Koopterapie”

Dr. Madeline Levine sê dat die besteding van geld “koopterapie” kan word, wat mense ’n mate van vertroosting bied in ’n wêreld waar gesinslede, die gemeenskap en die kerk hulle in die steek gelaat het. “Om te koop, is een manier waarop ons ons omgewing kan beheer”, skryf sy in The Price of Privilege. “Dit plaas ons in beheer van transaksies en verleen ’n gevoel van mag aan die koper. Hierdie soort mag is bedrieglik . . . Die mag word in werklikheid uitgeoefen deur groot maatskappye en hulle adverteerders, wat betaal word om die idee te skep dat verbruikersgoedere betowerende en beskermende mag aan kopers verleen.”

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel