Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g 12/13 bl. 12-13
  • Hoe om ’n goeie luisteraar te wees

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Hoe om ’n goeie luisteraar te wees
  • Ontwaak!—2013
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • DIE UITDAGING
  • Behandel jou maat met respek
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2011
  • Wanneer meningsverskille in die huwelik ontstaan
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2005
  • Hoe om probleme op te los
    Julle gesin kan gelukkig wees
  • Julle huwelik kan gered word!
    Ontwaak!—2001
Sien nog
Ontwaak!—2013
g 12/13 bl. 12-13

HULP VIR DIE GESIN | DIE HUWELIK

Hoe om ’n goeie luisteraar te wees

DIE UITDAGING

“Jy luister nie na my nie!” sê jou huweliksmaat. ‘Maar ek het geluister’, sê jy vir jouself. Dit is egter duidelik dat wat jy gehoor het, verskil van wat jou huweliksmaat gesê het. Gevolglik ontstaan daar weer ’n rusie.

Jy kan hierdie rusies vermy. Maar eers moet jy verstaan waarom jy belangrike besonderhede dalk nie hoor wanneer jou maat praat nie—al dink jy dat jy luister.

WAAROM DIT GEBEUR

Jou aandag is afgelei, jy is moeg, of albei. Die kinders skreeu, die televisie raas en jy dink aan ’n probleem wat jy by die werk gehad het. Nou begin jou huweliksmaat met jou praat—iets oor gaste wat vanaand kom. Jy knik, maar het jy werklik gehoor wat gesê is? Waarskynlik nie.

Jy maak jou eie afleidings. Dit is al ’n skadelike vorm van “gedagtelesery” genoem. Jy maak die afleiding dat daar ’n versteekte boodskap agter jou huweliksmaat se woorde is, maar in werklikheid lei jy dalk te veel daaruit af. Gestel byvoorbeeld dat jou huweliksmaat sê: “Jy het hierdie week baie oortyd gewerk.” Omdat jy dink dat jy gekritiseer word, sê jy: “Dis nie my skuld nie! Ek moet oortyd werk omdat jy soveel geld uitgee.” “Ek het nie gesê dis jou skuld nie!” skreeu jou maat—wat eintlik net wou voorstel dat julle ’n rustige naweek saam deurbring.

Jy wil dadelik oplossings vind. “Soms wil ek net sê hoe ek voel”, sê Marcie,a “maar Mike wil vir my sê wat die oplossing is. Ek soek nie ’n oplossing nie. Ek wil net hê hy moet weet hoe ek voel.” Wat is die probleem? Mike probeer so hard om aan ’n oplossing te dink dat hy waarskynlik die res van Marcie se woorde of ’n deel daarvan nie hoor nie.

Hoe kan jy ’n beter luisteraar word, ongeag die oorsaak van die probleem?

WAT JY KAN DOEN

Luister met volle aandag. Jou huweliksmaat wil iets belangriks sê, maar is jy gereed om te luister? Miskien nie. Jou aandag is dalk nou op iets anders toegespits. Dan moet jy nie voorgee dat jy luister nie. Indien moontlik moet jy ophou met dit waarmee jy besig is en met volle aandag na jou maat luister, of jy kan jou maat vra om te wag totdat jy wel kan luister.—Bybelbeginsel: Jakobus 1:19.

Maak beurte om te praat. Wanneer dit jou beurt is om te luister, moet jy die drang weerstaan om jou maat te onderbreek of te sê dat jy nie saamstem nie. Jy sal jou beurt kry om te praat. Vir eers moet jy net luister.—Bybelbeginsel: Spreuke 18:13.

Vra vrae. Dit sal jou help om te verstaan wat jou maat bedoel. Marcie, wat vroeër aangehaal is, sê: “Ek hou daarvan as Mike vrae vra. Dit wys vir my dat hy belangstel in wat ek sê.”

Let op die boodskap, nie net die woorde nie. Let op watter boodskap jou maat se lyftaal, oë en stemtoon oordra. “Dis reg” beteken dalk eintlik “Dis nie reg nie”—afhangende van hoe dit gesê word. “Jy bied nooit aan om my te help nie” beteken dalk eintlik “Dit voel of ek nie vir jou belangrik is nie”. Probeer onderskei wat die ware boodskap is, al sê jou maat dit nie uitdruklik nie. Anders sal julle dalk stry oor wat gesê is in plaas daarvan om te konsentreer op wat bedoel is.

Hou aan luister. Moenie ophou luister of wegloop nie, al hou jy nie van wat jy hoor nie. Sê nou jou maat kritiseer jou? “Hou aan luister”, sê Gregory, wat al meer as 60 jaar getroud is. “Skenk opreg aandag aan wat jou maat sê. Dit verg volwassenheid, maar dit is die moeite werd.”—Bybelbeginsel: Spreuke 18:15.

Stel opreg belang in jou maat. Om aandagtig te luister, is nie bloot ’n tegniek nie, maar is ’n blyk van liefde. Wanneer jy opreg belangstel in wat jou maat sê, is dit makliker en natuurliker om te luister. Sodoende gee jy gehoor aan die Bybel se vermaning: “Let op ander se belange, nie net op julle eie nie.”—Filippense 2:4, Good News Translation.

a Name in hierdie artikel is verander.

SLEUTELTEKSTE

  • “Wees [gou] om te hoor, stadig om te praat.”—Jakobus 1:19.

  • “Wanneer iemand op ’n saak antwoord voordat hy dit hoor, is dit dwaasheid van sy kant en ’n vernedering.”—Spreuke 18:13.

  • “Die oor van die wyses probeer kennis vind.”—Spreuke 18:15.

WANNEER JY PRAAT

Sal jou huweliksmaat hoor wat jy sê as jy praat terwyl hy of sy in ’n ander vertrek is of op iets anders konsentreer? Dit sal dalk beter wees om eers jou maat se volle aandag te kry of om vir die regte geleentheid te wag.—1 Petrus 3:8.

Beskou ’n Bybelse voorbeeld: Toe Jesus ’n belangrike gedagte oor nederigheid wou oordra, het hy nie dadelik daaroor gepraat nie. Hy het vir die regte geleentheid gewag. Toe het hy sy apostels na hom toe geroep en met hulle daaroor gepraat.—Markus 9:33-35; 12:41-44.

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel