Wat jy moet weet omtrent energiebesparing
ONS het elektrisiteit en brandstof nodig om ons huise te verhit en te verkoel, om ons voertuie te gebruik en om baie van ons daaglikse take te verrig. Maar tog veroorsaak hierdie hulpbronne ernstige uitdagings vir mense regoor die wêreld.
Dit is vir Gary, van Suid-Afrika, ’n groot probleem dat “brandstof al hoe duurder word”. Jennifer, van die Filippyne, is bekommerd oor die beskikbaarheid van elektrisiteit, aangesien “kragonderbrekings ’n algemene probleem is”. In baie wêrelddele besoedel die vervaardiging van energie die omgewing. Fernando, van El Salvador, is “besorg oor watter uitwerking dit op die natuur het”.
Jy wonder dalk: ‘Hoe kan ek hierdie uitdagings oorkom?’
Ons almal kan kies om energie wyslik te gebruik. Maak dit ’n verskil as jy energie bespaar en dit doeltreffend gebruik? Beslis. As jy dit doen, sal jy geld spaar. Jy sal ook die omgewing beskerm as jy nie energie onnodig gebruik nie.
Kom ons kyk na drie gebiede waarop ons energie wyslik kan gebruik: ons huis, vervoer en daaglikse bedrywighede.
HUIS
Gebruik lugversorging spaarsaam. Stel jou lugversorging gedurende die winter sowat twee grade laer. ’n Studie in ’n Europese land het gewys dat dit die beste manier is om krag te spaar oor ’n tydperk van een jaar. Derek, wat in Kanada woon, stem saam. Hy sê: “Om krag te spaar trek ons gesin eerder truie aan as om die verwarmer hoër te stel.”
Dit geld ook vir gebiede waar dit warmer is. Rodolfo, van die Filippyne, gebruik sy lugversorging spaarsaam deur die termostaat te verstel. Hoekom? Hy sê: “Ons spaar geld en elektrisiteit.”
Hou vensters en deure toe wanneer jy jou huis verhit of verkoel.a Ons kan krag spaar as ons warm en koue lug binnehou. As jy byvoorbeeld op ’n koue dag die deur ooplos, sal dit baie meer elektrisiteit verg om die vertrek warm te hou.
Ons kan meer doen om energie te bespaar as om net vensters en deure toe te hou. Party mense het selfs ’n stap verder gegaan deur beter isolasiemateriaal en spesiale vensters te installeer.
Gebruik gloeilampe wat energie bespaar. “In plaas daarvan om die gewone gloeilampe te gebruik, gebruik ons nou gloeilampe wat energie bespaar”, sê Jennifer, wat vroeër genoem is. Alhoewel hierdie tipe gloeilampe gewoonlik duurder is, sal dit jou later geld spaar omdat dit minder energie gebruik.
VERVOER
Gebruik openbare vervoer as dit moontlik is. “Ek ry met die trein of met my fiets werk toe wanneer ek kan”, sê Andrew, van Groot-Brittanje. Die boek Energy: What Everyone Needs to Know sê: “Treine wat kort afstande dek en busse gebruik drie keer minder energie per persoon as karre.”
Beplan vooruit. Dit kan dalk die hoeveelheid kere wat jy op en af moet ry, verminder. En op hierdie manier sal jy minder brandstof gebruik en tyd en geld spaar.
Jethro, van die Filippyne, sit elke maand ’n sekere hoeveelheid geld opsy vir brandstof. Hy sê: “Dit help my om my roetes beter te beplan.”
DAAGLIKSE BEDRYWIGHEDE
Gebruik minder warm water. Volgens een studie “maak die verhitting van huishoudelike water gemiddeld 1,3% uit van al die elektrisiteit wat in Australiese stede gebruik word. Dit beteken dat 27% van huishoudelike krag in hierdie land net vir die verhitting van water gebruik word.”
Ons spaar krag as ons minder warm water gebruik, aangesien elektrisiteit nodig is om water te verhit. Daarom sê Victor, van Suid-Afrika: “Ons probeer om so min warm water as moontlik te gebruik wanneer ons stort.” Volgens die wetenskaplike Steven Kenway is daar drie voordele as ons minder warm water gebruik: “Dit spaar water en elektrisiteit, dit verlig die druk op die verskaffers van hierdie dienste en dit help gesinne om geld te spaar.”
Skakel dit af. Dit geld vir ligte, huishoudelike toestelle en ander elektroniese toestelle, soos TV’s en rekenaars. Maar baie van hierdie toestelle gebruik nog steeds krag al is dit afgeskakel. Party kenners stel voor dat jy die prop by die muur uittrek of ’n multi-prop gebruik met afsonderlike skakelaars wat jy kan afskakel om verder krag te spaar. Fernando, wat vroeër aangehaal is, het hierdie gewoonte aangeleer. Hy sê: “As ek ’n lig of toestel nie gebruik nie, sit ek dit af of prop ek dit uit.”
Ons het nie beheer oor die prys van elektrisiteit en brandstof of oor hoe die vervaardiging daarvan die omgewing beskadig nie. Maar ons kan kies om energie wyslik te gebruik. Dit is wat baie mense regoor die wêreld probeer doen. Om energie te bespaar moet ’n mens dalk meer moeite doen en beplan, maar dink aan al die voordele. Valeria, van Mexiko, sê: “Ek spaar geld en beskerm die omgewing.”
a Maak seker dat jy jou lugversorging veilig gebruik deur die vervaardiger se instruksies noukeurig te volg. Party toestelle het byvoorbeeld spesifieke riglyne dat die deur of venster oopgehou moet word vir vars lug.