Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • su hfst. 2 bl. 13-20
  • Die geskille wat ons toekoms bepaal

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Die geskille wat ons toekoms bepaal
  • Oorlewing tot in ’n nuwe aarde
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • DIE GESKIL OOR SOEWEREINITEIT
  • AAN WATTER KANT SAL JY JOU SKAAR?
  • AL DIE NASIES STUUR OP ARMAGEDDON AF
  • ’n Geskil wat jou raak
    Ware vrede en veiligheid—Hoe kan jy dit vind?
  • Wat is God se voorneme met die aarde?
    Wat leer die Bybel werklik?
  • Heersers in die geesteryk
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1995
  • ’n Veilige toekoms—Hoe jy dit kan vind
    ‘n Veilige toekoms—Hoe jy dit kan vind
Sien nog
Oorlewing tot in ’n nuwe aarde
su hfst. 2 bl. 13-20

Hoofstuk 2

Die geskille wat ons toekoms bepaal

1. (a) Watter geskille oorheers tans die denke van baie mense, en waarheen wend hulle hulle vir oplossings? (b) Wat verloor hulle dikwels uit die oog?

IN DIE laaste jare is brandende geskille wat ons toekoms raak die een na die ander aan ons opgedwing. Toestande is so benard dat mense oral wanhopig verligting soek. Hulle glo dalk aan God maar dink nogtans dat, indien die situasie hier op aarde gaan verbeter, mense dit sal moet bewerkstellig. Party probeer dit deur middel van bestaande regerings of deur massabetogings teen die besluite van daardie regerings doen. Ander glo dat revolusie die enigste uitweg is. Hulle meen dat nuwe wette, ander regeerders of selfs ’n algehele bewindsverandering sekerlik toestande sal verbeter. Maar wat toon die feite? Nadat hy duisende jare lank probeer het, kon die mens nie eens een regering tot stand bring wat onpartydige geregtigheid, ware veiligheid en blywende geluk aan al sy onderdane verskaf het nie. Waarom nie?

2. Waarom is toestande in die wêreld so benard?

2 Hoe edel die doelstellings van maghebbers ook al is, alle menseregerings word gemanipuleer deur magte buite die beheer van die ampsbekleërs. Deur wie? Deur bomenslike geeste, Satan die Duiwel en sy demone. Baie mense spot weliswaar met die idee dat sulke geespersone bestaan. Maar nie Jesus Christus nie. Hy het die agtergrond van Satan persoonlik geken en het hom „die owerste van hierdie wêreld” genoem (Johannes 12:31). Die Bybel beskryf die aardwye politieke stelsel in simboliese taal as ’n dier en sê: „Die draak [Satan] het hom sy krag gegee en sy troon en groot mag.” (Openbaring 13:1, 2; vergelyk Daniël 7:2-8, 12, 23-26.) En aangaande ons dag het die Bybel voorspel: „Wee die bewoners van die aarde . . . want die duiwel het na julle neergedaal” (Openbaring 12:12). Daar is geen ander bevredigende verklaring vir die chaos waarin die samelewing gedompel is nie. Maar hoe het dit gebeur? Wat kan ons doen om verligting te kry?

DIE GESKIL OOR SOEWEREINITEIT

3. Wat toon Genesis 2:16, 17 ten opsigte van die mensdom se behoorlike verhouding met God?

3 Die eerste hoofstukke van die Bybel deel ons mee dat toe Jehovah God die eerste mensepaar, Adam en Eva, geskep en hulle in die tuin van Eden geplaas het, hy hulle ingelig het aangaande hulle verhouding met hom. Hy was hulle Vader, hulle ruimhartige Versorger, ook die Universele Soewerein. Vir hulle eie beswil moes hulle besef dat hulle voortgesette lewe van gehoorsaamheid aan God afgehang het.—Genesis 2:16, 17; vergelyk Handelinge 17:24, 25.

4. (a) Waar het Satan vandaan gekom? (b) Watter verkeerde begeerte het by hom posgevat?

4 Op daardie tydstip was die hele skepping volmaak. Anders as die diere is engele en mense met ’n vrye wil begaaf. Maar kort na die skepping van die mens het een van die engele misbruik gemaak van die wonderlike vermoë om persoonlike besluite te neem en teen Jehovah se soewereiniteit gerebelleer. Aldus het hy van homself ’n teenstander of versetpleger gemaak, wat dan ook die letterlike betekenis van die naam Satan is. (Vergelyk Jakobus 1:14, 15; Openbaring 12:9.) Deur ambisie aangevuur, het Satan probeer om die eerste mensepaar van Jehovah God af te rokkel en om hulle onder sy eie invloed te bring. Hy het in hulle die potensiaal gesien vir ’n aarde vol mense wat hom as hulle god eer. (Vergelyk Jesaja 14:12-14; Lukas 4:5-7.) Die verhaal van wat in Eden gebeur het, is nie blote verdigsel nie. Jesus Christus het dit as ’n geskiedkundige feit aanvaar.—Mattheüs 19:4, 5.

5. (a) Watter geskille is in Eden geopper? (b) Wie is daardeur geraak?

5 Jesus het van die Duiwel gesê: „Hy staan nie aan die kant van die waarheid nie . . . hy is ’n leuenaar en die vader van die leuen” (Johannes 8:44, NAV). Die Duiwel se eerste opgetekende leuen was aan Eva toe hy God se waaragtigheid bevraagteken het. Hy het haar aangespoor om God se wet te verwerp en geredeneer dat dit voordelig sou wees indien elkeen sy eie standaarde in die lewe stel. (Genesis 3:1-5; vergelyk Jeremia 10:23.) So is Jehovah se soewereiniteit daar in Eden uitgedaag. Soos latere gebeure getoon het, is alle intelligente skepsele se onkreukbaarheid teenoor God ook bevraagteken. Het hulle God gedien omdat hulle hom waarlik liefhet, of kon hulle oorgehaal word om hom die rug toe te keer? (Job 1:7-12; 2:3-5; Lukas 22:31). Hierdie geskille sou almal in die hemel en op aarde raak. Hoe het die Universele Soewerein opgetree?

6. Waarom het Jehovah nie dadelik die rebelle vernietig nie?

6 In plaas daarvan om die rebelle dadelik te vernietig, het Jehovah in sy wysheid ’n sekere tydperk toegelaat waarin die geskille eens en vir altyd besleg kon word. Dit het God gedoen, nie om iets aan homself te bewys nie, maar om skepsele met ’n vrye wil die kans te gee om met hulle eie oë die slegte vrugte van opstand teen sy soewereiniteit te sien, asook om aan hulle die geleentheid te gee om self kleur te beken met betrekking tot hierdie belangrike sake. As die geskille eers besleg is, sal niemand ooit weer toegelaat word om die rus te verstoor nie.

7. (a) Hoe het menseregerings ontstaan? (b) Hoe het hulle gevaar?

7 As die mensdom se Skepper was Jehovah God ook hulle regmatige Heerser (Openbaring 4:11). Mettertyd het Satan en sy demone egter in mense die begeerte aangeblaas om nie alleen hulle eie standaarde ten opsigte van goed en kwaad te stel nie, maar ook om oor hulle medemens te heers. Nimrod was die eerste wat homself tot koning verhef het; hy het oor stede in Mesopotamië geregeer. Hy was „’n geweldige jagter [van diere sowel as van mense] in verset teen Jehovah” (Genesis 10:8-12, NW). Van die dae van Nimrod af tot vandag toe is elke denkbare soort menseregering op die proef gestel. Maar soos elke student van die geskiedenis weet, het hulle in die geheel net verdorwenheid en bloedvergieting gebring.—Prediker 8:9.

8. Waarom het Jesus geweier om by die wêreld se politieke stelsel betrokke te raak?

8 Toe Jesus Christus op aarde was, het Satan probeer om selfs hom onder sy invloed te kry. Hy het Jesus „al die koninkryke van die wêreld” aangebied in ruil vir een daad van aanbidding. Jesus het geweier (Lukas 4:1-13). Later wou die mense hom koning maak, maar Jesus het van hulle weggegaan (Johannes 6:15). Hy het geweet wat die wêreld se politieke stelsel was en het besef dat dit nie God se wil is dat hy dit probeer verbeter nie.

9. (a) Wat moet gedoen word, wat net God se Koninkryk kan doen, om die mensdom se probleme op te los? (b) Wat is daardie Koninkryk?

9 Jesus was in elke opsig lojaal aan Jehovah, sy God en Vader. Hy het sy Vader se weë liefgehad en altyd gedoen wat hom welgevallig is (Johannes 8:29). Hy het geweet dat die oplossings vir die mensdom se probleme deur middel van God se Koninkryk sou kom—’n regte regering wat uit die hemel sou regeer en die regverdige en liefdevolle leiding sou verskaf wat die mensdom nodig het. Daardie Koninkryk alleen kan die invloed van Satan en sy demone verwyder. Dit alleen kan mense van alle rasse en nasies verenig tot een wêreldwye gesin wat in vrede leef. Dit alleen kan die mensdom van slawerny aan sonde en die dood verlos. Dit alleen kan blywende geluk vir die mensdom bring. Hierdie Koninkryk is nie ’n reëling wat deur politici ingestel en deur geestelikes geseën is nie. Ware Christene neem nie vleeslike wapens op om die belange daarvan te bevorder nie. Dit is God se eie regering, met ’n volmaakte, hemelse Koning wat deur God self op die troon geplaas is. Dit is die Koninkryk waaroor Jesus gepreek het en waarvoor hy sy volgelinge geleer bid het.—Daniël 2:44; Openbaring 20:1, 2; 21:3, 4.

AAN WATTER KANT SAL JY JOU SKAAR?

10. (a) Wat is die groot geskil wat elkeen van ons onder die oë moet sien? (b) Wat moet ons nou daaromtrent doen?

10 Die geskil wat jy onder die oë moet sien, is dít: Erken jy dat Jehovah God, die Skepper van die heelal, ook die regmatige Soewerein, die Opperheerser, van die heelal is? Het jy die tyd afgestaan om jou van sy voorneme en sy vereistes te vergewis soos dit in die Bybel uiteengesit word? Is jy uit liefde aan hom gehoorsaam omdat jy sy posisie eerbiedig en sy weë waardeer?—Psalm 24:1, 10; Johannes 17:3; 1 Johannes 5:3.

11. Waarom sal ons nie gelukkig wees as ons ’n ander weg kies nie?

11 Is mense wat ’n ander weg kies gelukkiger? Wat was die gevolge van Satan se argument dat mense beter daaraan toe sal wees as hulle hulle onafhanklikheid laat geld in plaas van na God te luister? Mense se weiering om te erken dat God die aarde besit en dat alle mense, as afstammelinge van die eerste mensepaar, eintlik broers is, het gelei tot die slagting van minstens 99 miljoen manne, vroue en kinders in oorloë in hierdie eeu alleen. Mense se versuim om die Bybel se morele standaarde toe te pas, het aanleiding gegee tot gebroke gesinne, epidemies geslagsiekte, allerhande kwale weens dwelmverslawing, en gewelddadigheid. Selfs persone wat ’n gewelddadige einde vryspring, kom voor die dood te staan weens die sonde wat hulle van Adam geërf het. Al die getuienis toon dat mense hulleself en ander net skaad wanneer hulle die wyse en liefdevolle vereistes van die Skepper ignoreer. (Romeine 5:12; vergelyk Jesaja 48:17, 18.) Dit is tog sekerlik nie die soort lewe wat jy wil hê nie. Jy kan iets veel beters kies.

12. (a) Watter hartlike uitnodiging rig die Bybel aan ons? (b) Wat sal ons ondervind wanneer ons God se Woord progressief in ons lewens toepas?

12 Die Bybel rig die volgende hartlike uitnodiging: „Smaak en sien dat [Jehovah] goed is; welgeluksalig is die man wat by Hom skuil!” (Psalm 34:9). Om dit te doen, moet jy Jehovah leer ken en dan sy raad toepas. Wanneer jy dit doen, sal jou lewe ware betekenis aanneem. In plaas daarvan om te gryp na kort oomblikke van genot wat jou kan help om tydelik jou probleme te vergeet maar wat dikwels later hartseer veroorsaak, sal jy leer hoe om die probleme van die lewe met welslae aan te pak en blywende vreugde te smaak (Spreuke 3:5, 6; 4:10-13; 1:29-33). Jy sal ook die vooruitsig hê om die wonderlike seëninge te geniet wat deur middel van God se Koninkryk sal kom. As dit die soort lewe is waarna jy hunker, is dit lewensbelangrik dat jy nou optree. Waarom?

AL DIE NASIES STUUR OP ARMAGEDDON AF

13. Waarom is dit belangrik dat ons ons nou onwrikbaar aan Jehovah se kant skaar?

13 Jehovah sal nie vir ewig mense en organisasies duld wat, hetsy moedswillig of onverskillig, Satan se leiding volg nie. Hy sal nie toelaat dat hulle aanhou om sy wet te veronagsaam, die aarde te verniel en die lewe vir ander te bederf nie. Daar kom ’n dag van afrekening, en die Bybel noem dit „die groot dag van [Jehovah]”.—Sefanja 1:2, 3, 14-18.

14. Waarheen word al die nasies nou versamel?

14 In ’n openbaring van gebeure wat gedurende die laaste dae van die huidige stelsel sou plaasvind, het Jesus Christus onthul dat „geeste van duiwels” sou „uitgaan na die konings van die aarde en die hele wêreld, om hulle te versamel vir die oorlog van daardie groot dag van die almagtige God”. Soos daardie openbaring getoon het, het hulle „hul versamel op die plek wat in Hebreeus genoem word Armageddon”. Daardie versamelwerk word nou gedoen!—Openbaring 16:14, 16.

15, 16. (a) Wat is Armageddon? (b) Waarom is dit nodig?

15 Die Armageddon waarvan die Bybel praat, is nie iets wat deur ’n verbod op kernwapens verhoed kan word nie. Internasionale onderhandelinge sal dit nie afwend nie. Die naam is skynbaar ontleen aan die eertydse stad Megiddo, maar veel meer is by die saak betrokke as ’n plek in die Midde-Ooste. Op aanstigting van die onsigbare „owerste van hierdie wêreld” word al die nasies, ondanks hulle uiteenlopende politieke ideologieë, na ’n wêreldsituasie versamel wat blyk gee van hulle verset teen Jehovah God. „Die konings van die aarde en die hele wêreld”, tesame met al hulle volgelinge, word gedwing om standpunt in te neem. Onmiddellik voor Armageddon sal hulle teenstand teen God se Koninkryk en almal wat dit verkondig aardwyd baie hewiger word. Of hulle die bestaan van Satan erken of nie, ‚die hele wêreld lê in die mag van die Bose’, soos God se Woord sê. Die hele bose wêreld en almal wat daarop vertrou, ja, almal wat die wêreld se weë navolg, moet weg.—1 Johannes 5:19; 2:15-17.

16 Hierdie wêreld is deur en deur verdorwe. Nie net berugte misdadigers nie maar gewone mense toon weinig eerbied vir die wet en bitter min respek vir die persoon en eiendom van hulle medemens. Hulle weier veral om ag te slaan op wat God self in sy Woord, die Bybel, sê. Hulle ontsien nie sy soewereiniteit nie. Dit is nodig dat God optree om sy naam te suiwer van die blaam wat daarop gewerp is, asook om die weg te baan vir ’n paradysaarde waar liefhebbers van geregtigheid ware vrede en veiligheid sal kan geniet.

17. (a) Hoe groot sal die vernietiging wees? (b) Wie sal die uitslag bepaal?

17 Wanneer vernietiging kom, sal daar geen twyfel bestaan dat dit van Jehovah afkomstig is nie. Oral sal daar groot verwoesting wees. Die nasies sal weet dat dit Jehovah is wat optree wanneer sy teregstellingsmagte tot aksie oorgaan. Wanneer regeringsgesag in duie stort, sal elke man se hand teen sy naaste wees. Uit die hemel sal God se eie Seun die uitslag bepaal.—Openbaring 6:16, 17; 19:11-13; Sagaria 14:13.

18. Wie sal die oorlewendes wees?

18 Anders as die gevolge van ’n kernoorlog wat deur mense gevoer word, sal hierdie vernietiging selektief wees. Maar wie sal die oorlewendes wees? Sal dit almal wees wat die een of ander godsdiens bely, of miskien almal wat sê dat hulle Christene is? Jesus het getoon dat baie sulke persone in werklikheid „die ongeregtigheid werk” (Mattheüs 7:21-23). Die oorlewendes tot in die „nuwe aarde” sal slegs diegene wees wat werklik ’n intieme verhouding met Jehovah en sy koninklike Seun, Christus Jesus, opgebou het. Deur hulle lewenswyse en hulle getuienis aangaande die Koninkryk sal hulle bewys het dat hulle waarlik ‚God ken’ en dat hulle ‚aan die evangelie van onse Here Jesus gehoorsaam is’. Lewer jy bewys daarvan dat jy so ’n persoon is?—2 Thessalonicense 1:8; Johannes 17:3; Sefanja 2:2, 3.

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel